— HOOFSTUK 1 —
Die ysblokkies rinkel saggies terwyl Dewald die glas in sy hand ingedagte in die rondte tol. Met ’n afwesige blik gerig op die dansende pare staan hy eenkant met sy elmboog op die kroegtoonbank van die ruim lapa aangeleun.
Die musiek is vrolik en almal op die dansbaan wikkel uitbundig op die maat daarvan, maar in Dewald is dit stil. Op dertig is hy steeds enkellopend en hy verkies dit so.
Dit is Josh Greyling, sy beste vriend sedert hul universiteitsdae, se verjaardag, maar hy sou verkies om nie vanaand hier te wees nie. Dit was ’n lang en moeilike week en hy is moeg. Die ingenieursmaatskappy, met wie hy saam met sy pa, Dewald senior, eienaarskap deel, verg deesdae al sy aandag. Die aanhoudende probleme met die werknemers tap behoorlik al sy energie.
Hy sug sag en sy oë sak na die glas.
My eerste glas, maar hiervan het ek vanaand ook genoeg gehad, dink hy en sit die glas op die toonbank neer.
Die musiek kom tot ’n einde en die meeste pare bly net so staan en wag vir die volgende snit, maar Josh kom hand om die lyf met sy vrou, Nina, na Dewald aangestap.
“A nee a, my vriend! Hoe staan jy dan hier so droëbek eenkant? Gewoonlik is jy ’n haan onder die henne en hier is mos heeltemal genoeg talent beskikbaar om jou besig te hou.” Hy lag joviaal terwyl sy arm na die mense voor hulle dui. “Hier is behoorlik om van te kies en te keur vanaand, of wat praat ek alles?”
Nina glimlag vriendelik na Dewald. “Geniet jy darem die aand, Dewald? Ek het jou nog nie een keer sien dans nie.” Sy knipoog vir hom. “Ek het hoeka gesien hoedat ’n sekere dame om jou draai.” Dan staan sy weg. “Verskoon my asseblief ’n oomblik, manne. Ek wil net gou ’n draai in die kombuis gaan maak.”
Josh kyk weer na Dewald, wat amper ’n koplengte langer as hy is. Hy leun effe nader en sy stem sak. “Ons is nou ewe oud, maar ek is jou ver voor, het selfs al ’n kleinding – en soos dit vir my lyk gaan hy net so besig wees soos hierdie pappa van hom – maar ek hoor dat dit nie meer vir lank gaan wees nie.”
Dewald kyk vraend na hom. “Is dít so? Wat bedoel jy? Vertel my meer.”
Josh lag en klop hom op die skouer. “Nee, ek hoor dat dit nou nie meer lank gaan wees voordat jy ook die strop om jou nek gaan hê nie!”
’n Frons plooi tussen Dewald se oë en hy kyk skerp na sy vriend. “Verduidelik!” grom hy sag.
Josh leun vertroulik nader terwyl sy oë na die verleidelike Celia Mostert op die dansbaan draai. In ’n nousluitende, blink rok, met ’n hals wat niks aan die verbeelding laat nie, ten spyte van die koel lug, dans sy dig teen haar dansmaat.
“Nina sê my dat Celia haar by die spa vertel het dat sy verwag dat jy die groot vraag glo baie binnekort gaan vra. Glo sommer al op haar verjaardag kan verloof raak!”
Dewald is skielik orent. Sy groen oë is meteens donker. “Sê weer?”
Josh se oë rek vraend. “Ag, kom nou, broer! Speel jy nou speletjies? Wil jy vir my sê dat jy niks hiervan weet nie?”
“Verduiwels, Josh Greyling! Lyk dit vir jou of ek my positiewe verloor het? Sal ek nie self weet wat my besluite is nie? Waar de joos kom sy daaraan? Soos jy self weet het ek haar hier by julle ontmoet. Haar ’n paar keer uitgeneem. Maar dit was hoe lank gelede!” Dewald bal sy vuis. “Verdomp!” Hy gryp sy glas op en sluk die res van sy drankie met een teug weg.
“Stadig, vriend. Jy’s behoorlik opgewerk. Nou hoe verstaan ek dit dan nou? Ek is seker dis wat Nina my vertel het en Celia draai nog die hele aand hier soos ’n by op soek na nektar om jou.”
Dewald trek sy asem skerp in. “Ek kan jou verseker Nina het reg gehoor, al was dit nie die waarheid wat sy gehoor het nie. Jy ken my siening oor huwelike.” Hy trek weer sy asem ongeduldig in.
Liewe hemel! Dink die vroumens wragtig dat sy my op so ’n manier gaan dwing om by haar planne in te val? Dat ek maar sal ja en amen net om nie dalk voor die gemeenskap in ’n verleentheid te kom nie?
Hy frons kwaai.
Sy maak gedurig ’n oorlas van haarself en ek het hard probeer om nie ongeskik te wees nie, maar sy sal moet terugkom aarde toe. Dis verseker!
Josh frons liggies en kyk Dewald ondersoekend aan. “Jy het dit al voorheen gesê, maar jy het my nog nooit vertel hoekom jy so allergies is teen huwelike nie. Jy jol dan so gereeld met die dames rond. Dalk ’n liefdesteleurstelling gehad waarvan ek niks weet nie?”
Vir ’n oomblik verdonker Dewald se gelaat. Hy kyk ’n na sy vriend en dan dwaal sy oë weg. Sy wenkbroue lig. “Om te jol en te trou is twee verskillende dinge, Josh. Dis maar net my siening. Ek hou van sekerheid en watter waarborg is daar dat jy en Nina oor ’n paar jaar nog steeds getroud sal wees?”
“Hemel, vriend, ek het nooit geweet jy dink só diep nie!” lag Josh. “Maar ek het nog al die tyd gedink dat Celia die uitverkore een gaan wees.” Josh kyk in haar rigting. “Sy is ’n pragtige meisie wat weet wat sy wil hê en sorg dat sy dit kry. Ook glad nie te dom as ’n aspirant-prokureur nie. En ’n heel goeie vriendin vir Nina.”
Dewald haal sy skouers op. “Wel, Josh, sy kan lyk en wees net wie sy wil, maar ek stel nie belang nie.”
Die musiek hou op en Josh kyk weer in haar rigting. “Hier kom sy. Sterkte!” Hy draai om om hom uit die voete te maak, maar Dewald se hand skiet uit.
“O nee, jy bly net hier. Jý het haar genooi.”
Celia kom staan hier digby Dewald. Haar oë liefkoos oor sy gesig, terwyl haar hand teen sy nek streel. Die blou oë is gemaak-kwaai en die granaatrooi lippe pruil hier naby hom. “Sies, jou stoute liefling. As Mohammed dan nie na die berg wil kom nie … ek wag nou al hoe lank, maar jy het nog nie een keer met my gedans nie.” Haar heupe wieg liggies op die musiek se ritme heen en weer. Die mond pruil weer en sy rem aan sy arm. “Hoor net daardie lekker dansnommertjie. Kom ons gaan verf die baan rooi en wys almal hier hoe dit eintlik gedoen moet word!”
Instinktief strek Dewald homself tot sy volle lengte uit om sodoende buite die bereik van daardie lippe te wees. Die blik na haar is beslis nie tegemoetkomend nie. “Jammer, Celia, maar ek is regtig nie vanaand in die luim vir dans nie. Dit was ’n lang week en ek is pootuit.”
Haar hand beweeg sag af na sy borskas. Sy lê haar blonde kop vir ’n oomblik teen sy arm. “Ag, jou arme ding!” Dan lag sy op in sy gesig. “Geen wonder jy hang heelaand al soos ’n vlêrmuis hier aan die kroegtoonbank nie.” Sy rem aan sy arm. “Net enetjie toe, seblief.”
Hy gee toe met ’n sagte sug.
“A nee a, my lief! Ontspan. Dit voel behoorlik of jy ’n laaistok ingesluk het!” kla sy na ’n rukkie.
’n Ligte skuldgevoel stoot in hom op en hy blaas sy asem sag uit. Na ’n rukkie geniet hy tog die ritmiese dans.
Nina kom staan by haar man. “Josh, my lief, die kos is gereed. Ons gaste kan maar kom eet.”
Celia haak vrolik by Dewald in. “O heerlik! Kom, my ou brombeer, ek is so honger soos ’n bees en ek is seker dat jy sommer baie beter gaan voel nadat jy eers geëet het.”
Dewald weier eers beslis om sy arm om Celia te sit en druk sy hande in sy sakke, maar sy hang steeds aan sy arm. Hy besef dan dat hy grof ongemanierd optree, gee teësinnig toe en plaas sy hand teen haar rug.
Hy draai na Nina en wend ’n daadwerklike poging aan om meer gesellig te wees. “Dankie, vriendin, vir al die moeite wat jy gedoen het met die ete. Met die spitbraai wat al heeldag aan die gang is, water my mond behoorlik.”
Die terrein om die swembad voor die lapa is feestelik versier met tafeltjies wat oral rondstaan. Lanterns brand op die tafels met vrolike blomme daarom. Rustige musiek speel nou sag in die agtergrond.
“Kom, Dewald, kom sit julle hier by ons. Hier is genoeg plek,” nooi Josh.
Daar trek Dewald vir Celia ’n stoel uit en gaan dan langs haar sit.
“Hoe lyk dit, broer, sal ons eers weer ons glase gaan hervul voordat ons skep?” nooi Josh.
Dewald kyk na Celia. “Wat sal jy drink?”
Sy leun oor en pruil weer. “Kies jy vanaand vir my, ou grote. Jy ken mos my smaak teen hierdie tyd.”
By die kroeg bestel hy doodluiters vir haar ’n glas koeldrank, vir homself niks. By die tafel sit hy die glas argeloos voor haar neer.
Sy kyk met ’n breë lag in sy oë op. “Dankie, my lief,” maar dan kyk sy af en sien wat hy voor haar neergesit het. ’n Frons plooi op haar voorkop en sy kyk op na hom. Hy kan sien hoedat sy veg om haar humeur te beteuel.
Haar lippe plooi weer in ’n glimlag. “O, jou onhebbelike mansmens! Jy hou daarvan om my te terg, nè, maar hierdie dogtertjie is nie vanaand lus vir partytjie-koeldrank nie.” Sy leun oor en loer agter sy rug in. “Laat ek sien of jy toe wel nog my keuse onthou het.”
Hy hou sy gesig vroom en glimlag effentjies. “Jammer, Celia, maar ek kon om die dood nie onthou nie en toe speel ek maar veilig. Sal ons gaan skep?”
Sy hou haar oë afgewend terwyl sy opstaan en hom volg, maar hy kan sien dat sy behoorlik kook.
Stoom maar, sussie, jy sal nog agterkom dat ek nie vir jou speletjies gaan val nie, dink hy wrewelrig.
Hulle het egter skaars begin eet of die wind steek sterk op. Josh kyk bekommerd na die wolke wat al digter saampak. Hy staan op en draai na sy gaste.
“Mense, hierdie is seerseker die laaste reën van die seisoen. Ek stel voor dat ons almal eerder binne die lapa gaan eet. Daar is gelukkig genoeg spasie vir almal. Manne, help asseblief sodat ons al die tafels en stoele verskuif.”
“Ja-nee, Josh. As ons langer hier sit, land my geliefde dalk in die swembad en is ek haar kwyt in hierdie wind!” roep Wouter vrolik, stop sy bord in sy metgesel se hand, gryp hul stoele en vorm die voortou na binne.
Daar sit almal gesellig dig teen mekaar en vloei die kwinkslae vrylik.
Celia speel met die mespunt op haar lippe. Dan leun sy teen Dewald se skouer aan, haar mond digby sy oor. Haar fluistering is sag sodat net hy kan hoor. “Liefding, ek stel voor ons wag tot net so ’n rukkie na die ete en maak dan verskoning. Ons tweetjies kan dan daar by jou plek rustig verder kuier.” Sy lig haar kop en kyk dan direk in sy oë. Haar stem daal. “Ek belowe ek sal jou heerlik laat ontspan.”
Sy blik na haar is net so vas. “Jammer, Celia, maar ek het ander planne.”
Haar mond val eers oop, maar dan pers haar lippe opmekaar. Nou is daar openlike woede in haar oë. Haar asem stoot hard deur haar neus. Sy werk hard om haar stem sag te hou.
“Jy is behoorlik ongeskik en ongesellig vanaand, Dewald! Ek kan nie verstaan wat in jou gevaar het nie! Wat dink jy sal die mense sê as hulle jou gedrag teenoor my moet opmerk?”
Hy kyk luiters terug. “Wat kan die mense sê, Celia? Ons het mos nie saam hierheen gekom nie.”
Haar oë trek onskuldig groot. “Hoe kan jy so sê? Almal weet tog dat ons saam is, Dewald!”
Hy hou sy stem laag, maar die hardheid daarin ontgaan haar nie. “Dis net waar jy die fout maak, Celia!” Hy plaas sy mes en vurk op sy leë bord en hou sy hand na haar uit. “Het jy klaar geëet? Ek sal ons borde gaan bêre.”
Sy het skaars aan haar kos geraak, maar laat hom nors toe om dit by haar te neem. Sy staan vinnig op en verdwyn haastig in die rigting van die kleedkamers.
Dewald besluit skielik dat hy genoeg gehad het en stap na Josh en Nina, bedank hulle en maak verskoning.
Net voordat hy die voordeur bereik, haal Celia hom in.
“Dewald, wag! Laat ek net gou gaan groet. Ek is nou by jou.”
Hy frons vererg. “Ek het mos reeds vir jou gesê dat ek ander planne het, Celia. Totsiens.”
Sy bal haar vuiste langs haar sye. Haar woorde kom sissend. “Hoe durf jy, Dewald! Hoe durf jy my so behandel, en dit ook nog so voor ons vriende? O, die vernedering. Ek sal dit nie toelaat nie! Hoor jy my?”
Die frons op sy gesig bly. Sy stem smalend. “Kom nou, Celia! Jy kan nou maar ontspan. Almal sit buite in die lapa. Hier is geen vriende om jou lawaai aan te hoor nie. Ek het geen verpligting teenoor jou nie, so waarvoor moet ek nou skuldig voel?”
Sonder meer draai hy om, maak die deur oop, gaan uit, trek die deur weer agter hom toe en stap na sy motor.
Agter hom gaan die deur weer oop. Haar stem is vol woede. “Dewald, kom terug! … Dewald! Niemand laat my in die steek en kom daarmee weg nie! Hiervoor gaan jy nog spyt wees Dewald! Dit belowe ek jou!”
Dewald trek sonder om in haar rigting te kyk, weg en verdwyn in die straat af.
Die verbrande vroumens! Wie dink sy is sy altemit om my te dreig?