— HOOFSTUK 1 —
Deon Rousseau sluit sy apteek vanoggend baie vroeër as normaal oop. Hy is diep ingedagte en hoogs ontstoke terwyl hy binnestap en die deur agter hom toestoot, maar nie sluit nie. Gewoonlik wag sy assistente al voor die deur vir hom wanneer hy halfagt soggens daar aankom. Deal Apteek se amptelike werksure is van agtuur soggens tot sesuur saans.
Daar lê steeds ’n frons op Deon se voorkop toe Charl Stolz, sy vennoot, ook vroeër as normaal daar opdaag.
Charl sluit die deur agter hom en stap na die kantoor agter in die apteek.
Terwyl hy nog besig is om binne te stap, vra Charl erg bekommerd: “Wat is fout, Deon?” sonder om eers te groet.
Deon het hom net na vyfuur vanoggend wakker gebel en gevra dat hy hom halfsewe hier by die apteek moet ontmoet. Hy kon in Deon se stem hoor dat daar groot fout is, maar Deon wou dit nie telefonies bespreek nie.
As Charl gedink het dat Deon se stem vanoggend oor die telefoon ontsteld geklink het, is hy nog meer geskok om die uitdrukking op sy vennoot en jarelange vriend se doodsbleek gesig te sien. ’n Benoude gevoel gaan lê onheilspellend in sy binneste en hy berei homself vir die ergste voor.
“Deon?” spreek Charl hom weer aan toe Deon steeds nie op sy eerste vraag reageer nie.
Deon kyk verward op, maar dit lyk of hy nie mooi weet waar hy homself bevind nie.
Hy groet ook nie vir Charl nie, maar sê met ’n skor stem: “Sit!”
Charl gaan sit summier. Sy blik rus bekommerd op Deon se gesig terwyl hy wag dat Deon moet praat.
“Ek het gisteraand ’n droom gehad,” begin Deon met ’n verwilderde uitdrukking in sy groen oë vertel.
Charl vererg hom bloedig vir Deon: Régtig? ’n Droom? Laat hy my nou wraggies so vroeg inkom vir ’n droom! Ek dog iemand is oorlede! Hy spreek liewers nie sy frustrasie hardop uit nie. Dit lyk eerder asof hy nog steeds in ’n droom verkeer, neem Charl blitsvinnig waar toe Deon na ’n vlietende sekonde van stilte weer begin praat.
Sonder om oogkontak met hom te maak, uiter Deon verslae: “Ek het gedroom ek ontmoet my vrou — ”
Charl probeer sy uiterste bes om nie nors te klink toe hy hom in die rede val nie: “Dit is heeltemal normaal om van jou vrou te droom, Deon.”
Deon kap hoogs ontstoke terug terwyl hy Charl waterpas in die oë kyk: “Nee! Jy verstaan nie! Nie Brenda nie.” Sy hart klop steeds onstuimig in sy binneste terwyl hy gebelg byvoeg: “’n Ander een!”
Charl rol sy bruin oë voordat hy hierdie keer kalmer op Deon se woorde reageer. “Dit gebeur ook soms dat ’n mens van ander vrouens droom,” sê Charl en probeer nou maar om sy vriend te paai. Terselfdertyd wend hy ’n ernstige poging aan om homself te kalmeer.
“Nee, wag nou! Laat ek jou van my droom vertel!” praat Deon skielik ongeduldig met Charl omdat hy hom die heeltyd in die rede val en hom sodoende nie kans gee om ononderbroke van sy droom te vertel nie.
Charl skrik effens vir Deon se vreemde, aggressiewe reaksie en sit meteens agteroor in sy stoel.
“Jammer, gaan voort,” vra hy so kalm as moontlik om verskoning.
Deon staar voor hom uit toe hy weer begin praat: “Ek droom baie – jy weet dit tog self – maar gisteraand se droom was anders! Dit was asof iemand vir my gesê het dat ek my aanstaande vrou binnekort gaan ontmoet. Ek onthou nog presies hoe die huis waarin ek op daardie oomblik in my droom was, gelyk het. Die volgende oomblik staan daar toe ’n onbekende vrou in die deurkosyn reg voor my. Sy het net na my gekyk, maar nie ’n woord gepraat nie. Haar blonde hare was in ’n kort hofknapiestyl gesny en die ligblou van haar oë was omlyn met ’n donkerblou randjie, net waar die blou van haar oë aan die wit raak. Sy was effens korter as ek en het ’n fyn liggaamsbou gehad. Die oranje langbroek en bypassende bloes wat sy aangehad het, het dadelik my aandag getrek. In my droom het ek selfs geweet wat haar naam was, sonder dat dit vir my gesê is … en die volgende oomblik het ek geweet dat ons getroud is sonder dat ons getrou het!” Deon sluit die laaste deel van sy sin met ’n driftige klank in sy stem af.
Charl frons terwyl hy antwoord: “Dit ís ’n snaakse droom, maar onthou drome maak nie altyd sin nie. Hoekom ontstel hierdie spesifieke droom jou so baie?”
Meteens is die verwilderde kyk weer terug in Deon se oë terwyl hy ontsenu antwoord: “Omdat dit so werklik gevoel het! Hierdie droom het só eg gevoel dat ek vanoggend, toe ek wakker geskrik het, eers moes kyk wie langs my in my bed lê!” ’n Siddering hardloop teen sy ruggraat af by die herroep van daardie gevoel: As Brenda dít moet weet!
Ingedagte en onnadenkend sê Charl: “Baie mense sê ’n mens droom eintlik maar van iets wat in jou onderbewussyn is.”
Deon is oombliklik briesend vir Charl se gevoellose opmerking en die woede is tasbaar in sy stem toe hy uitroep: “Dit is g’n in my onderbewussyn om ’n ander vrou te kry nie! Ek is baie lief vir Brenda!”
Charl weet dat dit die waarheid is. Deon aanbid as’t ware die grond waarop Brenda loop. Hy het werklik nog nooit na enige ander vrou gekyk nie.
In ’n poging om Deon tot bedaring te roep en om sy eie skuldgevoel oor sy onnadenkende uitlating te sus, sê Charl: “Moet jou nie so ontstel nie. Sê my, het enige droom van jou, selfs al is dit net ’n gedeelte daarvan, al ooit waar geword?”
Deon skud sy kop. Hy klink effens onseker terwyl hy antwoord: “Nee, dit het nie.”
Charl kyk Deon beterweterig aan en die uitdrukking in sy oë vind weerklank in sy stem: “Nou ja? Jy trek jou hierdie droom heeltemal te veel aan. Ek dink jy is net oorwerk en jy het te veel spanning. Tot hoe laat het jy gisteraand weer gewerk voordat jy huis toe gegaan het?”
Deon dink ’n oomblik diep na. Hy sug swaar en toe ontspan hy effens. Hy vryf met sy hand oor sy ligbruin hare: “Ek het agtuur hier klaargemaak. Miskien is die spanning besig om sy tol te eis. Hemel, Charl, ek sê vir jou hierdie droom het my geweldig ontstel. Sjoe, nou voel ek baie beter, dankie.”
Charl staan op om vir hulle elkeen ’n sterk koppie koffie in die klein kombuisie wat langs die kantoor agter in die apteek is, te gaan skink.
Terwyl hy Deon se koffie voor hom neersit, praat hy in ’n gebiedende stemtoon: “Hier, dit sal jou senuwees bedaar! Jy sal moet planmaak met hierdie laataandwerkery van jou. Jy sal jou hardkoppigheid moet laat vaar en toestemming gee dat ons iemand in diens neem om jou werkslading vir jou ligter te maak.”
Vandat hulle twee hierdie apteek gekoop het, is dit Deon se plig om die boeke te doen en die rekeninge te hanteer. Charl is verantwoordelik vir die bestellings van die medisyne en die voorwinkelvoorraad.
Omdat hulle meestal bedags besig is, doen Deon sy deel van die werk na-ure sodat sy aandag nie onderbreek word en hy dalk onnodige foute maak nie. Die laaste jaar en ’n half het dit só besig geword dat hy saans al hoe later met sy werk klaarkry.
Hulle drink hul koffie in stilte. Daarna gesels hulle oor die dag wat voorlê en hoe verskriklik besig dit hierdie week in die apteek is. Gelukkig het hulle twee goedopgeleide aptekersassistente wat vir hulle werk en nog twee ander dames wat die voorwinkel en kasregister hanteer.
Charl kyk op sy horlosie en sien dat dit al kwart voor agt is. Hy spring op en gaan sluit gou-gou die deur oop sodat die dames kan binnekom en vinnig al hulle voorbereidings kan tref voordat hul die deur agtuur vir die publiek oopsluit.
· · ·
Die dag skop teen ’n normale pas af, maar teen middagete is hulle weer so besig dat niemand hul etensuur kan neem nie. Een-een hardloop hulle al om die beurt kombuis toe om darem net vinnig ’n toebroodjie te gaan eet en dan weer verder te werk.
Vyf voor vyf stap Marlize Ackermann Deal Apteek binne en sien dat dit baie besig is. Sy draai in haar spore om en besluit om later terug te kom. Vlugtig lees sy die kennisgewing op die deur en sien dat die apteek om sesuur sluit.
Skuins voor sesuur kom sy weer die apteek binnegestap – dit is nou baie stiller as vroeër. Daar is nog net een persoon wat by die toonbank vir sy medisyne wag en nog twee ander persone wat by die kasregister wag om te betaal.
Sy is nie hier om medisyne te kry nie. Nee, sy het verlede maand na hierdie klein dorpie net buite Pretoria verhuis en is op soek na werk. Stadig en onseker stap sy vorentoe en gaan staan agter die man by die toonbank.
Deon, wat agter in die apteek besig was om ’n hoesmengsel vir die laaste pasiënt te meng, stap vorentoe en plaas die hoesmengsel op die toonbank neer. Moeg en uitgeput van die lang dag se harde werk, kyk hy op om te sien of daar nog mense ingekom het. Die volgende oomblik val sy pen uit sy hand en dit lyk vir Charl of Deon ’n hartaanval kry.
“Wat nou?” roep Charl hard uit.
Deon hardloop sonder ’n woord by die kantoor in en druk die deur vinnig agter hom toe.
Charl storm agterna en sien sy vriend waar hy vooroor gebuig staan en na sy asem snak.
“Wat gaan aan? Hemel, is jy OK? Kry jy ’n hartaanval, of wat?” vra Charl geskok.
Deon is so bleek soos die dood; daarom skrik Charl selfs groter.
“Kan ek help, Mevrou?” vra Thess, een van die assistente, na sy die vorige klant klaar gehelp het.
Terwyl Thess vir Marlize help, stap Elmarie, die ander assistent, solank vorentoe om die voordeur te gaan sluit sodat daar nie nog mense kan inkom nie. Voordat hulle saans huis toe mag gaan, moet hulle eers die geld tel en dit daarna in die kluis gaan bêre. Hulle is teen hierdie tyd al moeg gewerk en hul voete is baie seer van die heeldag se staan.
“Ek wil hoor of julle dalk enige vakante poste het?” vra Marlize vriendelik.
Thess kyk haar vinnig en krities op en af.
“Ek dink nie so nie, maar ek sal by die eienaars van die apteek moet uitvind. Wag asseblief hier,” sê Thess redelik onvriendelik.
In die kantoor kry Deon skaars die woorde oor sy lippe uitgespreek: “Dit is sý!”
Charl is verward. Hulle was vandag weer baie besig. Gevolglik het hy heeltemal vergeet dat Deon vroeër vanoggend nog ontsteld oor sy droom was. Hy snap daarom nie dadelik na wie Deon verwys nie: “Sy? Sy wie?”
Ongeduldig roep Deon uit: “Sý, man! Die vrou van wie ek jou vanoggend vertel het! Sy het presies dieselfde klere as in my droom aan! Haar gesig, haar haarstyl, selfs haar handsak lyk presies soos in my droom!”
Charl kan byna nie glo dat dít waar kan wees nie. Net voor hy op Deon se woorde kan reageer, klop Thess aan die deur.
“Kom maar binne!” antwoord Charl.
Thess steek haar kop by die kantoor in: “Hier is iemand om julle te sien.”
Deon en Charl se oë ontmoet en Charl antwoord haar kalm terwyl hy die verwilderde uitdrukking wat opeens weer terug in Deon se oë is, opmerk: “Ek kom.”
Toe Thess uit is, neem Charl beheer van die situasie: “Bly hier! Ek sal haar gaan help.”
Nuuskierig om die misterieuse vrou te ontmoet, stap Charl skepties vorentoe.
“Goeienaand, Juffrou. Waarmee kan ek help?” vra hy beleefd.
Thess wonder vlugtig hoe Charl dit regkry om so vinnig te weet dat sy nie getroud is nie, aangesien haar arms op hierdie oomblik agter haar rug gevou is en hy nie kan sien of sy ’n trouring aan haar vinger dra nie.
Binne ’n oogwink merk Charl op dat sy ’n oranje langbroek en bypassende bloes aan het. Hy sien haar blonde hofknapiehaarstyl en hy sien haar besondere blou oë. Tevergeefs probeer hy om die klein, geamuseerde glimlaggie wat aan sy mondhoeke pluk, af te skud.
Marlize se vriendelike stem bereik sy ore: “Ek wil net hoor of julle dalk vakante poste het? Ek is op soek na werk. Ek weet julle verkies seker eerder mense wat ondervinding in apteekwerk het, maar ek het ondervinding in boekhou.”
Charl kyk haar ’n oomblik verras aan voordat hy reageer: “Ek sal dit eers met my vennoot moet bespreek. Wat is jou naam en kontaknommer, dan skakel ek jou môreoggend terug?”
“My naam is Marlize Ackermann,” antwoord sy en gee haar selfoonnommer vir Charl.
Toe sy omdraai en uitstap, gly sy oë oor haar terwyl hy haar belangstellend agterna kyk.
Thess sien dit en stamp hom met haar elmboog: “Sies! Mens staar nie ’n vrou so agterna nie, dit is ongeskik!”
Daar verskyn ’n vonkel in sy oë en die fyn glimlaggie wat steeds op sy lippe lê, word effens breër.
“Ag, sy weet nie eers daarvan nie,” is al wat hy traak-my-nie-agtig antwoord voordat hy omdraai en terug kantoor toe stap.
· · ·
Lank nadat die apteek gesluit en almal huis toe is, sit Deon en Charl nog in die kantoor.
“Laat ek raai: haar naam is Marlize, nè?” vra Deon met ’n skynkalmte in sy stem na Charl hom vertel het dat sy daar was om werk te soek.
Charl is nou vir die eerste keer werklik geïnteresseerd in Deon se droomvrou.
“Dit is, ja,” antwoord hy en hy frons effens terwyl hy in verwondering daaraan dink dat dit werklik die eerste keer in sy lewe is wat hy van so iets hoor. “Wel?” bring Charl hul albei se gedagtes terug na die hede: “Gaan ons nou ’n pos skep en vir haar die werk aanbied?”
Deon kyk na Charl asof hy dink dat Charl die kluts heeltemal kwyt is. Selfs die klank in sy stem getuig van skok toe hy uitroep: “Is jy mal?”
Daar pluk weer ’n geamuseerde glimlag aan Charl se mondhoeke terwyl hy ’n poging aanwend om ernstig te klink: “Jy dink seker nie regtig dat sy jou aanstaande vrou is nie, of hoe? Jy weet tog self dat jy nie langer so kan aangaan nie. Jy weet jy het hulp nodig. Dit doen jou gesondheid en jou huwelik niks goed deur elke aand tot wie weet watter tyd hier te sit en die boekhouwerk en betalings op datum te probeer hou nie. Ons het lankal iemand nodig wat jou … ons permanent kan help.”
Hy bly meteens stil en dink vir ’n oomblik baie diep na voordat hy ingedagte verder praat: “Dalk het jou droom jou voorberei om vandag die regte persoon te herken wanneer jy haar sien.” Hoog in sy skik met homself omdat hy skielik presies weet wat aangaan en omdat hy Deon se droom nou helder kan uitlê, praat Charl met selfvertroue verder: “Ons spot tog altyd en sê dat ons met ons werk getroud is en dat die mense hier ons gesin is – juis omdat ons elke dag soveel ure in mekaar se teenwoordigheid deurbring. Kom ons dink ’n slag logies daaroor: dalk verwys jou droomvrou eintlik na jou werksvrou?”
Deon sukkel om sy onstuimige emosies onder beheer te kry terwyl hy Charl se woorde vir ’n oomblik oordink: Dan is dit seker hoekom ek gedroom het dat ons getroud is, maar nie getrou het nie … Dalk is Charl reg. Miskien was dit net ’n snaakse, skewe droom om my voor te berei sodat ek sal weet dat dit die regte besluit is wanneer sy vandag hier instap en vra om hier te kom werk.
Deon se ergste hartkloppings bedaar effens en ’n sug van verligting ontsnap oor sy lippe: “Ek dink jy is heel waarskynlik reg. Wat sal ek tog sonder jou insig doen?”
Charl kyk selfvoldaan na hom terwyl hy sy kop instemmend knik en toe vra: “So, dan kontak ek haar môreoggend om ’n onderhoud met haar te reël? Vir hoe laat dink jy moet ek dit skeduleer – so tien oor ses môreaand? Ons gaan in alle waarskynlikheid nie kans gedurende werksure kry nie, dit is deesdae ’n malhuis.”
Deon knik net sy kop om aan te dui dat hy Charl se voorstel goedkeur. Gelykertyd dink hy: Genade tog, nou voel ek baie beter! Hy was hoogs ontstoke toe hy haar netnou voor hom sien staan. Hemel, wat ’n ervaring! roep hy onwillekeurig in sy gedagtes uit.