GROENHEIDE BOEKE

Heideroos Romanse #22: Seeprinses

— HOOFSTUK 1 —

Vir die afgelope twee weke is Seester-gastehuis al die ses-en-twintigjarige Herman Greyling se tuiste. Oudergewoonte stap hy vanaand toe hy die eetsaal binnekom, direk na die opdienarea en skep vir homself kos in. Hy het reeds gesien dat sy by dieselfde tafel as die vorige twee aande sit en eet. Slegs vir ’n oomblik huiwer hy voor hy na haar toe stap.

Terwyl hy sy bord by die oop sitplek reg voor haar op die tafel plaas, vra hy: “Sal jy omgee as ek hier sit?”

Die vyf-en-twintigjarige Naomi Botes moet haarself forseer om nie na die frisgeboude, blondekop man met die mooiste groen oë wat sy nog ooit gesien het, te staar nie. Sy stem is nie heeltemal so diep en grof soos wat sy verwag het dit sou wees nie. Sy probeer haar bes om haar skouers traak-my-nie-agtig op te trek terwyl sy antwoord: “Jy kan maar sit, ek gee nie om nie.”

Sy het al opgemerk dat hy ook in die gastehuis tuisgaan en dat hy ook, net soos sy, alleen is. Sy het drie dae gelede by die enigste gastehuis op die klein vissersdorp, Dolfynbaai, hier in die Oos-Kaap, gearriveer. Dolfynbaai lê nie op enige roete tussen dorpe nie. Om hier uit te kom, moes sy letterlik van die teerpad afdraai, weg van enige ander dorp, en vir kilometers en kilometers aaneen op ’n grondpad ry. Toe sy Dolfynbaai uiteindelik binnery, het sy besef dat dit feitlik onmoontlik is dat enigiemand toevallig hier sal beland. Geen wonder dat niemand van die plek weet nie, het sy nog gedink. Behalwe vir die hengelaars wat hierheen kom, gaan hier absoluut niks aan nie. In die hele dorp is daar slegs een klein kafee wat tegelykertyd die slaghuis, die hardewarewinkel, die poskantoor, die omgewingskantoor, die polisiestasie en die bank ook is. Hier is nie ’n restaurant of kuierplek van enige aard nie. Dit is juis daarom dat Seester-gastehuis nie net ontbyt nie, maar aandetes ook bedien.

Na Herman gaan sit en hulle hulself aan mekaar voorgestel het, vra hy: “Wat bring jou na hierdie afgeleë plek?”

Haar oë gly eers weer oor die verruklike uitsig. Hier waar sy in die eetsaal sit, het sy ’n onbeperkte uitsig oor die see. Die dolfyne swem al weer so naby aan die gastehuis dat sy nie eers ’n verkyker nodig het om hulle behoorlik te kan sien nie. Sy het nou al opgemerk dat hulle elke dag in die branders, wat op die rotse reg voor die gastehuis breek, baljaar. Sy het gehoor dit is juis aan hierdie honderde dolfyne wat die heeljaar hier speel, wat die plek sy naam te danke het. Hierdie gastehuis is letterlik die heel laaste gebou in die dorp en omdat die rotse reg voor die huis is, is die water onmiddellik diep.

Naomi skeur haar blik van die betowerende uitsig los. Toe sy uiteindelik antwoord, klink sy bedroef: “Ek het opdrag gekry om ondersoek te kom instel oor waarom die dolfyne in hierdie omgewing skielik op strepe doodgaan en op die strand uitspoel.”

“Is jy ’n kundige op die gebied?” vra hy duidelik verstom.

“Ek is,” antwoord sy met ’n glimlag om haar lippe. Sy weet nie waarom mense telkens so verbaas is wanneer hulle hoor wat haar beroep is nie – daar is immers talle vroulike marienebioloë.

Die halwe sekonde wat hy huiwer voor hy praat, trek haar aandag. Die uitdrukking in sy groen oë en die toon in sy stem verander drasties: “Kon jy al enigiets wys word?”

Naomi se donkerbruin oë rus vir ’n oomblik ondersoekend op sy gesig. Sy kan nie help om te wonder of hy dalk besig is om haar bekwaamheid in twyfel te trek nie – dit wil amper so voorkom. Sy liggaamshouding en die manier waarop hy die vraag stel, laat haar onverwags verontreg voel.

Haar stemtoon styg effens: “Nee, dit gaan baie langer as drie dae neem om iets wys te word. As dit só maklik en vinnig was om antwoorde te kry, sou dit nie nodig gewees het dat ek hierheen kom nie.”

Hy neem ’n hap van sy kos. Terwyl hy tydsaam daaraan kou, kyk hy so stip na haar dat sy later ongemaklik begin voel.

Na hy dit ingesluk het, vra hy: “Hoe lank dink jy gaan jou navorsing duur?”

“Dit is moeilik om te sê. Genoeg van my. Wat doen jy hier?” Toe sy verlede week vir haar plek in die gastehuis bespreek het, het die eienaar, Gideon Bekker, genoem dat hul gaste normaalweg slegs hengelaars is. Daarom het sy, toe sy hom die eerste dag hier by die gastehuis raakgesien het, aangeneem dat hy ’n visserman moet wees, net soos die ander vier mans wat ook hier is. Sy sien daardie vier mans gereeld waar hulle op die rotse of op die strand staan en hengel, maar vir hóm het sy nog nêrens sien visvang nie.

“Ek doen kontrakwerk op ’n paar van die plase in die omgewing,” antwoord hy.

“Wat se kontrakwerk doen jy?” Sy skud haar lang, donkerbruin hare sodat dit agter haar skouers bly lê. Wanneer sy bedags met haar werk besig is, maak sy gewoonlik haar hare vas, maar wanneer sy van diens af is, hou sy daarvan om dit los te dra.

“Ek doen verbeterings aan plaasimplemente en in my vryetyd doen ek vrywillige duikwerk by skeepswrakke. Ek help om skadelike materiaal wat op skeepswrakke is, uit die see te verwyder. Verder hou ek toesig dat niemand die wrakke onwettig plunder nie.”

“Geniet jy jou werk?” vra Naomi weer.

“Ek geniet dit baie. Geniet jy joune?”

“O ja! Dit is so bevredigend en hierdie ondersoek is my kans van ’n leeftyd!”

“Hoe so?”

“My afdelingshoof het my belowe dat as ek dit kan regkry om sonder hulp, en vóór die einde van volgende maand, die oorsaak van hierdie tragedie te kan vasstel, ek saam met die internasionale navorsingspan mag gaan. Hulle is ’n klomp beroemde deskundiges wat Junie, volgende jaar, met ’n in-diepte navorsing oor die volledige lewenssiklus en migrasie van die moordwalvis begin en het plek vir één Suid-Afrikaanse marienebioloog. Hierdie is my kans om deel van daardie legendariese navorsingspan te word.”

’n Hewige frons verskyn byna oombliklik op sy voorkop terwyl hy reageer: “Dit gee jou skaars meer as ses weke.”

“Ja, dit is nogal min tyd, so ek sal moet wikkel.”

“Besef jy dan nie dat jou afdelingshoof ’n onredelike doelwit aan jou gestel het nie?” vra hy. “Jy behoort tog te weet dat ses weke en ’n paar dae nie naastenby genoeg tyd is nie. Enige mens met verstand weet dat hierdie tipe navorsing en ondersoeke soms maande lank kan duur!”

“Dink jy ek is nie in staat om my werk te doen nie?” Die flikkering in haar oë stuur ’n waarskuwing na hom toe uit. Dit is nie vir hóm nodig om haar verder te ontstel nie. Sy het juis nét vanmiddag tot die besef gekom dat sy heel waarskynlik nie in haar opdrag gaan slaag nie. Drie dae is al verby en tot dusver kon sy nog niks buitengewoons raaksien of opspoor nie. Sy het nou al ’n hele paar monsters van die water geneem, so ook van die dolfyne wat op die strand uitgespoel lê. Gideon het gesê dat hy reëlings met iemand sal probeer tref om dit môreoggend of op die laatste, oormôreoggend, na die groter buurdorp toe te neem. Van daar af sal dit eers na die laboratorium toe gestuur kan word. Toe haar afdelingshoof, meneer Fanie Fick, hierdie taak aan haar opgedra het, het sy nie besef dat Dolfynbaai só afgeleë en ontoeganklik is dat dit meer as ’n week gaan neem net om die monsters by die laboratorium uit te kry nie.

Herman se oë rus vir ’n uitgerekte oomblik op haar gesig voor hy met opgetrekte wenkbroue antwoord: “Ek twyfel nie in jou vermoë nie, maar ek dink jy het geen benul waarvoor jy jou ingelaat het nie.”

Naomi vererg haar vir hom, juis omdat hy reg is: sy het vanmiddag eers werklik besef waarin sy haarself begeef het.

“Ek sal aan jou bewys dat ek dit kan doen!” sê sy vies. Sy staan op en begin solank van hom af wegstap. As hy maar weet hoe ongelukkig en teleurgesteld sy oor die hele gedoente is. Selfs al vermoed sy dat sy moontlik nie haar sperdatum gaan haal nie, is sy nou een maal hier en sal sy die ondersoek moet afhandel. Sedert sy vanmiddag tot daardie besef gekom het, kon sy nie ophou om oor die saak te tob nie. Hoe meer sy daaroor dink, hoe meer is sy daarvan oortuig dat daar sweerlik niemand anders in haar kantoor was wat vir hierdie ondersoek kans gesien het nie. Haar kollegas het waarskynlik presies geweet waar Dolfynbaai geleë is en hoe moeilik die ondersoek sou wees. Dit het haar geweldig omgekrap toe sy begin wonder het of haar kollegas en haar hoof nie dalk almal saam hierdie plan beraam het nie. Fanie het haar met ’n slap riem gevang en sy het soos ’n beginner daarvoor geval.

“Jy is niks aan my verskuldig nie!” roep hy agter haar aan.

Toe dit duidelik word dat sy nie op sy uitlating gaan reageer nie, staan hy ook op en stap na sy kamer toe waar hy sy kollega, Andrea Harper, kontak.

“Dit is nou ’n verrassing, Herman!” groet sy. “Ons het dan netnou net met mekaar gesels.”

“Naand, Andrea.”

“Wat is fout?” vra sy dadelik.

“Ek het tydens aandete met Naomi gaan kennis maak.”

“En?”

“Sy is hier om ondersoek in te stel oor die dood van die dolfyne, net soos ek vermoed en jy netnou gesê het. Van die begin af het haar teenwoordigheid my onrustig gemaak. Veral toe ek sien sy dwaal op die strand tussen die uitgespoelde dolfyne rond en dat sy die hengelaars uitvra. Ek het gehoop my voorgevoel is verkeerd en dat sy net nuuskierig is, of dat sy met ’n ander ondersoek besig is.”

“Dan glo jy my nou dat sy opdrag gekry het om jou in jou taak te laat faal? Dit het netnou nie geklink of jy my vertrou nie.”

“Natuurlik vertrou ek jou. Daarom dat ek besluit het om haar te gaan ontmoet.” Hy bly ’n oomblik stil voor hy vra: “Hoe dink jy het sy haar opdrag – om my in my taak te laat faal, ontvang?”

“Ai, Herman! Ek het jou dan netnou al gesê,” sê sy, maar verduidelik dit nogtans weer aan hom: “Meneer Smit het jóú immers opdrag gegee om ondersoek te gaan instel oor waarom die dolfyne in Dolfynbaai sommer net doodgaan. Daarmee saam het hy jou beloof dat as jy die saak binne vier maande oplos, jy die bevoorregte Suid-Afrikaner sal wees wat volgende jaar saam met die beroemde, internasionale navorsingspan vertrek. Al wat jou kan diskwalifiseer, is as jy nie jou sperdatum haal nie, of as iemand anders dit regkry om die raaisel voor jou op te los. Meneer Smit het jou nog die versekering gegee dat jy die enigste persoon sal wees wat die navorsing gaan behartig. Ek het jou dan netnou gesê dat ek persoonlik gehoor het toe meneer Smit met ’n ander tak gereël het om iemand met die naam Naomi Botes Dolfynbaai toe te stuur en dat sy opdrag moet kry om die kwessie voor die einde van volgende maand op te los. Wat dus beteken dat sy jou gaan voorspring!”

“Ja, dit het ek, maar dink jy sy weet van my? Dit het nie vir my gelyk of sy bewus is van die feit dat ek ook opdrag gekry het om die skielike dood van die dolfyne te ondersoek nie. Ek het amper die idee gekry dat sy glo dat sy die enigste persoon is wat hierdie ondersoek gaan behartig. Wat dink jy het haar afdelingshoof haar alles vertel?”

“Dit is moeilik om te sê, Herman. Ek weet nie wat hy haar alles sou vertel nie.”

Meteens klink hy kwaad: “Wel, Naomi moet net nie dink sy gaan my uitoorlê nie! As haar afdelingshoof dink dat sy die ondersoek in ’n bietjie meer as ses weke kan afhandel, kan ek ook! Game on, girl!”

“Dis die gees, Herman.”

· · ·

“Goeiemôre, Naomi,” groet Henry haar die volgende oggend toe hy by haar tafel verbyloop.

“Goeiemôre, Henry. Hoeveel vis het jy gister gevang?”

Hy gee sy gebruiklike antwoord: “Minder as my toelaatbare kwota vir die dag.”

Sy glimlag maar net omdat hy altyd so ontwykend antwoord. “En was hulle almal gesond?” vra sy. Toe sy hier aangekom het, het sy aan die hengelaars verduidelik wat haar beroep is en gevra dat hulle haar dadelik moet inlig sodra hulle iets buiten­gewoons opmerk. Omdat sy nog nie een maal vandat sy hier aangekom het, vir Herman sien hengel het nie, het sy hom nog nie genader nie, maar na gisteraand se gesprek met hom, weet sy dat hy nie ’n hengelaar is nie.

Henry antwoord: “Ja, almal van hulle.”

“Dankie, Henry,” sê sy teleurgesteld.

Hy knik net weer sy kop voor hy wegstap.

· · ·

Herman wag tot Naomi die eetsaal verlaat voor hy na Henry toe stap en vra: “Het jy enige nuus vir my?”

“Niks nuuts nie. Soos ek netnou vir Naomi gesê het, vang ons hierdie jaar baie minder vis as ander jare, maar sover is al die visse darem gesond.”

“Dankie,” antwoord Herman voor hy vinnig uitstap. Hy wil Naomi nie mis wanneer sy vertrek nie.

· · ·

Naomi stap met die houttrappe van die dek af om by die parkeerarea, waar haar bakkie staan, uit te kom. Sy besef weer hoe uniek die gastehuis is: dit staan so half en half binne-in die ongerepte natuur en die veldplante oortrek ’n gedeelte van die struktuur. Die takke wat laag oor die trappe hang, raak-raak aan haar hare en die blare kielie haar gesig en arms. ’n Ligte rilling gly weereens teen haar ruggraat af. Telkens wanneer die blare so sag oor haar vel streel, hoop sy net dat daar nie ’n spinnekop van die takke af op haar klim nie. Sy is nie bang of grillerig vir insekte nie, maar van spinnekoppe hou sy nie baie nie.

Toe sy onder by haar bakkie aankom, vertrek sy na die strand wat so ’n ent regs van die rotse voor die gastehuis is.

Net soos die vorige oggende, volg Herman haar sonder dat sy dit agterkom.

Toe sy by die strand aankom, trek sy die duikpak wat sy vanoggend saamgebring het, oor haar swemklere aan. Sy haal haar snorkeltoerusting uit haar sak en stap die see binne.

Terwyl sy in die water besig is, trek Herman blitsvinnig sy duikpak aan en verdwyn ook onder die water in. Met gereelde tussenvalle kom hy op om te sien waar sy is. Dit is uiters belangrik dat hy ten alle tye presies weet waar sy haarself bevind. Onder geen omstandighede mag sy hom hier betrap nie, maar omdat hy kort-kort moet opkom, belemmer dit die spoed waarteen hy kan werk.

Ure later sny hy ’n baie klein stukkie van ’n plant in die water af en plaas dit in die net wat hy saamgebring het. Na hy seker gemaak het dat sy nog rustig besig is om te snorkel, stap hy flink na sy 4x4 en verseël dit in die spesiale houer om dit te bewaar. Hy neem eers ’n paar groot slukke van sy koue drinkwater voor hy weer sy mondstuk en duikbril optel.

Toe hy terugstap om verder te gaan snorkel, sien hy dat sy besig is om uit die see te kom. “Dêmmit!” glip dit gefrustreerd oor sy lippe. Soos blits hardloop hy terug na sy voertuig, waar sy hom nie kan sien nie.

Naomi plaas eers haar snorkeltoerusting op ’n handdoek neer voor sy ’n ander handdoek uit haar sak haal. Sy droog haar hande en gesig af en toe haal sy haar waterbottel uit die koelhouer. Haar tong klou teen haar verhemelte vas. Vinnig druk sy die bottel teen haar mond en laat dit eers weer sak toe haar dors geles is. Daarna begin sy haar duikpak uittrek.

Herman verklee ook en trek droë klere aan. Al mompelend prop hy sy duik­toerusting agter in sy 4x4: “Teen hierdie tempo gaan ek nooit binne vier maande klaar wees nie, wat nog te sê binne ses weke.”

· · ·

Daardie middag toe Naomi terug by Seester-gastehuis kom, drentel sy teen die houttrappe op tot by die tweede verdieping waar haar kamer is. Haar blik gly outomaties oor dieselfde asemrowende uitsig oor die see as wat daar vanuit die eetsaal is. ’n Swaar sug ontsnap uit haar bors toe sy moedeloos omdraai en haar kamer se glasskuifdeur, wat net soos al die ander kamers op ’n groot, gesamentlike houtdek uitloop, oopskuif. Sy kon vandag net mooi niks onder die water sien nie.

“Ek neem aan jy is Naomi? My naam is Danél. Ek is Gideon se vrou,” praat iemand langs haar.

“Middag, Danél,” groet Naomi en wonder hoe dit moontlik is dat sy haar nie op die houtdek hoor aankom het nie. Dit maak dan sulke snaakse kraakgeluide met elke tree wat enigiemand daarop gee. “Ek is Naomi, ja. Gideon het my vertel dat jy in die buiteland by jou familie kuier en dat jy vandag terug op jou pos sal wees.”

“Jy sal nooit weet hoe bly ek is om vir ’n slag ’n vrou in ons gastehuis te ontvang nie! Dit is alewig net ’n spul mansmense,” gesels Danél. “Ek is al uitgehonger vir geselskap.”

“Gesels jy dan nie met die hengelaars nie?”

“Natuurlik, maar ek is al so moeg vir visvangstories. En hulle stel gewoonlik glad nie in enige ander onderwerp belang nie.”

“Ek kan my nogal voorstel hoe jy moet voel.”

“Jy verstaan al klaar. Kom saam, dan gesels ons sommer daar in die sitkamer verder.”

“Dankie, maar ek sal nie nou kan nie. Daar is heelwat navorsing wat ek vanmiddag nog op my rekenaar wil doen.”

“Nou maar goed. Ek weet nie of Gideon jou gesê het toe jy ingeboek het nie, maar dit is tradisie by ons om Saterdagaande te braai. Gewoonlik kuier almal wat hier bly dan saam onder by die braaiarea. So, jy moet nie vanaand eetsaal toe gaan vir aandete nie. Jy kan so van vyfuur se kant af braaiarea toe beweeg en by ons aansluit.”

“Hy het my gesê, dankie, Danél.”

· · ·

Ongeveer kwart-oor-vyf, toe Naomi by die braaiarea opdaag, sit almal in ’n groot sirkel en gesels.

Herman staan op en trek vir haar ’n stoel tot langs syne. Sy stem is gedemp toe hy vir haar sê: “Sit hier.”

“Dankie,” sê sy.

Intussen hou hy ’n blikkie bier na haar toe uit.

“Nee dankie,” wys sy dit af. “Ek drink nie bier nie. Buitendien, as ons netnou klaar geëet het, moet ek weer verder gaan werk.” Sy wag nie vir sy reaksie nie, maar skenk haar aandag aan die gesprek wat reeds aan die gang is.

Riaan is aan die woord: “Nou waar woon jy, Frans?”

Frans sit met ’n bier in die hand: “Nee, ek bly eintlik op De Aar.”

Tersius reageer: “Dit is nogal ver van hier af. Hoe het jy van Dolfynbaai te hore gekom?”

“Ek het dit op die internet raakgesien toe ek besig was om na die beste hengel­plekke in die Oos-Kaap te soek.”

“Jy het die beste plek gekry,” sê Riaan. “Net jammer dat die vis hierdie jaar nie naastenby so goed soos altyd byt nie.”

Henry drink sy bier in stilte, maar sy oë flits van die een na die ander soos hulle gesels.

Na Frans sy leë bierblik platgedruk en in die vullisdrom gegooi het wat daar naby hulle staan, maak hy dadelik ’n nuwe een oop. Toe sê hy: “Ek het al begin dink dat ek die verkeerde aas gebruik. Wat se aas gebruik julle?”

Tersius antwoord: “Dit gaan nie altyd oor die aas wat jy gebruik nie. Jy moet my môreoggend gou wys met watter stroppe jy vang. Dalk moet jy eerder jou stroppe as jou aas verander.”

Herman slaan sy oë vlugtig op na die hemel. Hy leun effens nader aan Naomi en fluister: “Kom ons gaan sit daar eenkant. Ek wil met jou gesels.” Hy wys met sy hand na die klein, gesellige kuierarea wat onder een van die bome, ’n ent weg van die braaiarea, ingerig is.

“Goed so,” reageer sy.

Eers toe Herman en Naomi gemaklik sit, vra hy: “Het jy ’n suksesvolle dag gehad?”

“Ek het, dankie.” Selfs al het sy eintlik ’n frustrerende oggend gehad, het dit darem vanmiddag beter met haar navorsing gegaan, dink sy vlugtig voor sy vra: “En jy?”

“Mens kan seker so sê, ja.”

Sy lag eers uit haar maag voor sy reageer: “Kan mens so sê? Bedoel jy daarmee dat jou dag eintlik nie suksesvol was nie, maar dat jy dit nie wil erken nie?”

Herman klik met sy tong: “Nee! Ek kon net nie vandag by alles uitkom wat ek graag wou doen nie.”

“Ag, toemaar, dalk kry jy dit môre afgehandel.”

“Ek glo nie so nie, maar kom ons laat dit daar. Vertel my eerder van jou dag, dit was seker meer opwindend as myne. Wat het jy vandag alles gedoen?”

“Ek het vanoggend gaan snorkel en vanmiddag het ek die seetemperature van die afgelope paar jaar nagevors en aantekeninge van al die merkwaardige verskille gemaak.”

Met ’n knik van sy kop vra hy: “Kon jy darem tydens jou snorkelduik iets kry wat jou met jou ondersoek kan help?”

“Nee, glad nie. Ek het probeer kyk of die seeplante en die seediere wat ek kon raaksien, gesond lyk en of daar enige tekens van parasiete of sere of iets dergeliks aan hulle is. Maar die water was vandag redelik troebel, so ek kon nie baie mooi sien nie.”

“Die see kan nogal soms vuil raak. Veral as die riviere afkom soos nou. Dit gaan ’n paar dae neem voor die water eers weer helder is.”

“Ek hoop regtigwaar nie so nie!” roep sy uit, al weet sy dat dit die geval is. “Hoe gaan ek ooit voor die einde van volgende maand met my navorsing klaar wees as ek vir ’n paar dae lank nie in die see sal kan gaan nie?”

“Kan jy nie intussen jou navorsing voortsit sonder om in die see te gaan nie?”

“Dit sal soveel gouer gaan as die twee ondersoeke gelyktydig kan plaasvind. Ek is reeds in die middae en aande besig met al die navorsing en ondersoeke waarvoor dit nie nodig is om te snorkel of te duik nie.”

Dit neem hom ’n paar sekondes om te reageer: “Dit is nou jammer. Daar is ongelukkig niks wat mens aan die helderheid van die seewater kan doen nie. Dit is nou maar een van daardie dinge. Jy sal maar net geduldig moet wag tot die see haarself weer skoongemaak het.”

“Ja, ek weet,” antwoord sy mismoedig, “maar ek het so gehoop dat die natuur sou saamspeel dat ek betyds met my navorsing kon klaar wees.”

“Is dit werklik só belangrik om deel van daardie internasionale navorsingspan te word?” vra hy in ’n sagter stemtoon en sy oë op skrefies getrek.

“Dit is.” ’n Klammigheid stoot in haar oë op, daarom draai sy haar gesig weg van hom af sodat hy dit nie moet sien nie.

“Hoekom?” Sy stem is steeds sag, maar die manier hoe hy dit vra, dwing haar om weer na hom te kyk.

“Hoekom is dit so belangrik?” herhaal hy sy vraag toe haar oë syne ontmoet.

“Sommer net,” antwoord sy terwyl sy van haar stoel af opstaan. “Verskoon my, asseblief, ek het nog heelwat administratiewe werk wat ek vanaand wil afhandel.”

“Naomi!” roep hy haar tot stilstand.

Sy draai om, en eers toe sy na hom kyk, praat hy weer: “Ek is seker daarvan jou admin kan ’n wyle wag. Kom stap eers saam met my langs die see. Dit klink vir my asof ons albei met ’n bietjie afleiding kan doen.”

Sy huiwer, maar iets in sy stemtoon en die uitdrukking in sy oë laat haar antwoord: “Goed, ek voel nogal gespanne omdat my navorsing nie na wense verloop nie.”

’n Fyn glimlag pluk aan sy mondhoeke: “Wag hier vir my, ek gaan net gou met Danél reël om ons kos vir ons te bêre.”

· · ·

Die eerste paar minute is dit stil tussen hulle.

Dit is Naomi se stem wat die stilte breek: “Jy het gisteraand gesê jy doen verbeterings aan plaasimplemente, wat presies behels dit?”

Hy aarsel vir ’n halwe sekonde. Hy hou nie daarvan om oneerlik te wees nie, maar desperate katte maak desperate spronge: “Ek maak seker dat die implemente met die nuutste tegnologie toegerus is.”

“En as jy klaar is, wat gaan jy dan doen?”

“Dan sal ek na ’n ander area toe skuif.”

“Hoe lank is jy al hier besig?”

“Twee weke.”

“Het jy al kans gekry om in hierdie area te duik?”

Hy skrik eers vir haar vraag, maar toe onthou hy dat hy haar vertel het dat hy vrywillige duikwerk by skeepswrakke doen.

“Ek het,” antwoord hy versigtig.

“Het jy dalk tydens jou duike enigiets raakgesien wat vir jou ongewoon gelyk het?” vra sy hoopvol.

“Nee,” antwoord hy. “Jitte, maar jou werk hou jou gedagtes omtrent gevange. Vertel my so bietjie meer van jou werk. Wat het jy al alles gedoen ten opsigte van jou navorsing?”

“Wel, behalwe vir die fluktuering in die watertemperatuur, is ek besig om die effek van aardverwarming op hierdie spesifieke area se water na te vors.”

“Is daar iets noemenswaardigs wat jy kon vasstel?”

“O ja!” antwoord sy selfvoldaan en sonder om dit enigsins verdag te vind, vertel sy aan hom wat die merkwaardige verandering in die watertemperatuur is wat sy opgemerk het, en sê verder: “Maar ek is nog nie heeltemal klaar met daardie navorsing nie. Ek kan nie bekostig om enigiets te mis nie. Voor ek nog hierheen gekom het, het ek byvoorbeeld navraag begin doen of daar onlangs nuwe fabrieke naby of selfs in Dolfynbaai opgerig is.”

“Vertel my meer?”

Sy kan nie verklaar waarom nie, maar dit is asof Herman se belangstelling en uitvraery oor haar navorsing weer ’n mate van kalmte en rustigheid in haar gemoed teweegbring. Die terugslae wat sy beleef sedert sy hier aangekom het, het haar begin onderkry, maar noudat sy praat oor die vordering wat sy tot dusver gemaak het, voel sy weer beter.

“Ek het uitgevind dat daar nie nuwe fabrieke in die omgewing opgerig is nie. Op pad hierheen het ek toe maar by al die bestaande fabrieke besoek afgelê om seker te maak dat hulle nie dalk verantwoordelik is vir onwettige lug- of waterbesoedeling nie.”

Hy rek sy oë: “Is hulle?”

“Nee.”

“Dit sou ’n ramp kon veroorsaak.”

“Inderdaad!”

“Dit wil gedoen wees, Naomi. Lyk my ek het jou heeltemal onderskat en skuld jou ’n verskoning. Jy is ’n deeglike mens.”

“Dankie,” antwoord sy. Sy bly ’n oomblik stil voor sy vervolg: “So tussen alles deur moet ek die seewater en alles wat binne die see lewe sorgvuldig ondersoek.”

“En nou het die vuil rivierwater jou ondersoek kom belemmer.”

“Ja,” antwoord sy met ’n sug.

“Moet jou nie te veel daaroor bekommer nie. Ek glo jy sal spoedig genoeg met jou ondersoek kan voortgaan.”

“Ek hoop regtig so.”

Na ’n paar oomblikke se stilte, waarin elkeen met hul eie gedagtes besig is, vra Herman: “Ek het al agtergekom dat die natuur ’n manier het om haarself in balans te hou. Het jy al aan die moontlikheid gedink dat die oseaan dalk besig is om van oortollige dolfyne ontslae te raak? Dink jy dit is moontlik dat hulle te vinnig te veel geword het en dat die see hul getalle op hierdie manier reguleer?”

“Ek twyfel of dit die geval is,” antwoord sy sonder om eers oor die saak na te dink. “Die spesie wat hier aangetref word, se getalle groei nie juis baie nie. Dit is waarom dit so ’n groot bekommernis is. Hulle kan maklik uitsterf.”

“O, jammer. Jy is die kenner op daardie gebied,” sê hy en trek sy een skouer liggies op. “Ek wou ook maar net help.”

Naomi lag saggies: “Dankie dat jy darem ’n poging aanwend.”

“Dit beteken nie juis veel as dit nie waarde toevoeg nie,” sê hy.

“Elke poging voeg waarde toe, al dink mens nie so nie.”

Sy oë rus lank op haar gesig. Sy stem klink ongewoon hees toe hy uiteindelik weer praat: “Kom dat ons teruggaan, ons kos is seker teen hierdie tyd al yskoud.” Sonder om vir haar reaksie te wag, draai hy om en begin in die rigting van die gastehuis stap.

· · ·

Later daardie aand gaan Herman al sy notas na en kontroleer alles wat Naomi hom vertel het met dit wat hy reeds vasgestel het. Daar waar hy verskille optel, gaan hy weer sy eie navorsing na om te sien of hy dalk iewers iets gemis het. As hy sien dat dit wel die geval is, maak hy die nodige verandering en stoor die nuutste inligting op sy rekenaar.

’n Hewige frons verskyn op sy voorkop toe sy selfoon lui.

“Naand, Amy,” groet hy.

“Wanneer kom jy terug, Herman?”

“Ek het jou dan gesê dat ek ongeveer vier maande hier gaan wees.”

“Vier maande!” roep sy uit asof dit die eerste keer is wat sy dit hoor. “Dink jy dit gaan ons met genoeg tyd los om teen Junie … ”

“Daar sal meer as genoeg tyd wees, Amy,” val hy haar in die rede. “Ek moet nou eers fokus om my opdrag betyds af te handel voor ek aandag aan enigiets anders kan gee.”

“Ek gaan nie met ’n afgeskeepte storie tevrede wees nie,” reageer sy.

Hy trek eers sy asem diep in en blaas dit stadig oor sy lippe voor hy sê: “Jy bekommer jou verniet. Niks gaan afgeskeep word nie. Ontspan jy nou maar.”

Sy wil nog iets sê, maar hy praat vinnig voort: “Ek moet nou gaan. Nag, Amy.”

“Nag, Herman.”