GROENHEIDE BOEKE

Heideroos Romanse #5: Nooientjie van My Drome

Iewers op die platteland in die 1930’s …

Deur die donker lug klief ’n bliksemstraal, en onmiddellik daarna volg ’n oorverdowende slag. Deur die klein, oop skrefie van die venster pluk-pluk die wind aan die gordyne, en ou dokter Cilliers staan op om die venster dig toe te maak. “Die mense moet tog nie vanaand lol om siek te word nie,” brom hy. “Hier is ’n vreeslike storm aan die kom.” Nog ’n harde slag, en tegelykertyd lui die telefoon skril. Hy sug: “Dan is daar nog mense wat die lewe van ’n dokter begeer."

Sy vrou kyk bekommerd deur die venster. “Jy kan nie nou uitgaan nie. Almal kan sien dat dit ’n kwaai storm gaan wees. Wag, ek sal gaan antwoord.”

Die ou man probeer om te konsentreer op die koerant voor hom. As sy vrou dan ’n leuen moet vertel, wil hy dit nie hoor nie.

“Wie was dit?” vra hy as hy haar langs hom gewaar.

“Jaap Verster, en hy sê dit is baie dringend. Ek het vir hom gesê dat jy nog nie by die huis is nie en dat ek jou ook nie terug verwag voordat die storm oor is nie. Wanneer die weer oor is, kan jy maar hoor wat die moeilikheid is.”

“Ek het ’n idee wat die moeilikheid is … dit is Erica wat bang is vir die weer, en nou het sy skielik ’n pyn op haar hart of in haar kop ontwikkel.”

“Die arme vrou,” sê mevrou Cilliers meewarig. “Sy het skynbaar heeltemal neuroties geword; maar nie een van ons kan haar veroordeel nie. Sy was so ’n lieflike meisie, en hoe lank is dit nou al dat sy so moet lê?”

“Byna drie jaar om presies te wees. Christine sal drie wees in November. Ek wonder of ek nie net by Jaap moet hoor wat dit is nie. Jy weet, dis maande laas dat ek op Fourieshoek was, en haar gesondheid mag agteruit gegaan het.”

Hy loop na die telefoon en vra vir Fourieshoek se nommer.

Jaap Verster se stem, byna onherkenbaar van vrees en aandoening, kom onmiddellik oor die draad. “Dokter Cilliers? Dokter, jy moet asseblief dadelik kom. Dis nie Erica nie, maar ’n mens se lewe is in gevaar.”

Die eerste groot druppels klink reeds soos haelkorrels op die dak, maar die dokter talm nie meer nie. Hy haas na sy slaapkamer, ruk sy kas oop om ’n reënjas en ’n ou hoed uit te haal. “Ek moes in die eerste plek maar self die telefoon beantwoord het,” verwyt hy homself. Dan aan sy vrou: “Daar het iets ernstig op Fourieshoek gebeur, maar ek kan nie verstaan waarom die man nie wil sê wat gebeur het nie. Moenie vir my wag nie, ek sal nie terugkom voordat die storm oor is nie.”

Binne enkele oomblikke is hy op die haas onrybare plaaspad na Fourieshoek. Die water stroom soos klein riviertjies oor die grondpad, en die reëndruppels hang soos ’n ondeursigtige sluier vanuit die hemel. Af en toe verlig ’n verblindende straal die deurdrenkte landskap, en dan moet die dokter nog stadiger ry sodat sy oë weer gewoond kan raak aan die flou ligkol voor hom in die pad.

Na meer as ’n uur van spanning agter die stuurwiel, sien hy die oop plaashek voor hom. Hy ry deur en met ’n sug van verligting hou hy voor die hoë klipstoep stil, voel na die verslete swart sak langs hom en klim die kliptrappies vinnig na bo. Uit die een hoek van sy oog kan hy sien dat die lig in Erica se kamer nie meer brand nie. Maar daar is nie tyd om nou oor die ongewone verskynsel te dink nie.

Hy druk die voordeur oop om ’n vlaag reën saam met hom in die gang te bring. Hy maak die deur vinnig toe, en as hy omdraai, kyk hy in die gespanne, bleek gesig van Jaap Verster. Tegelykertyd hoor hy ’n gekreun êrens in die huis.

“Kom, Dokter.” Daar is ’n toon van wanhoop in die jong man se stem. “Dit gaan al van vanmiddag af so. Lisa het nou paniekerig geword, anders sou ek u nooit laat kom het nie.”

Sonder om ’n woord te sê, laat die ou dokter hom na ’n kamer agter in die huis lei. Hy skud sy kop verdwaas as hy in die deur staan. Dan trek hy sy jas uit en oorhandig dit aan Jaap. Hy gee ’n paar bevele aan Lisa wat met oë wit van vrees voor die bed staan, dan kyk hy in die jong meisie se gesig wat nou vertrek is van die pyn.

“Hoekom het julle my nie eerder laat weet nie?” verwyt dokter Cilliers.

Jaap Verster antwoord nie. Hy staan lank stil, en sluip dan by die deur uit.

· · ·

Na twee uur het die storm bedaar, en slegs die sagte gedruis van fyn reëndruppels en die stote van ’n ligte wind is nog hoorbaar. Dokter Cilliers gaan afgemat op ’n stoel in die eetkamer sit, waar Jaap by die tafel met gevoude arms stip voor hom sit en uitstaar.

Noudat die gevaar en spanning verby is, kom alles in verband met die moeilike bevalling wat so pas verby is, vir dokter Cilliers fantasties en ongelooflik voor. Die laaste keer wat hy hier op Fourieshoek was, het hulle vir hom gesê dat Annatjie Hugo na Pretoria is om verpleegster te word. Destyds toe hulle haar van die nywerheidskool gekry het, het die prinsipale daarvan melding gemaak dat die meisie een van haar knapste leerlinge is, en dat sy vir haar eintlik iets beter beoog het as die posisie van kinderoppaster.

Die Versters was egter desperaat en het gevra om haar te kry net tot tyd en wyl sy iets beter kon vind om te doen. Maar sy het gebly, en in die twee jaar wat sy op Fourieshoek was, het almal haar leer ken as ’n skroomvallige en teruggetrokke meisie. Met die Versters se baba, Christine, was sy baie handig en betroubaar, en vir Erica het sy slaafs bedien. Maar sy het haar nooit opgedring as die Versters se gelyke nie.

Die middag toe Erica Verster vir dokter Cilliers vertel het dat Annatjie aangeneem is as leerling-verpleegster het hy opgemerk dat hy bly is om haar ontwil, maar dat Christine haar seker baie sal mis.

“Miskien,” het Erica koel en ontwykend geantwoord.

Daarna het hy baie gewonder hoe die meisie met die bleek gesiggie en donkerblou oë in die hospitaal vorder, maar dat hy haar ooit weer sou sien sou hy nooit kon droom nie … en dan nog onder sulke omstandighede!

“Dus was Annatjie nooit weg van Fourieshoek?” vra hy nou met die glans van vermoeienis in sy simpatieke ou oë, vir Jaap.

“Nee, Dokter, sy was nie, maar niemand sou dit ooit geweet het as daar nie komplikasies ingetree het nie.”

“Wie is verantwoordelik vir haar toestand?” kom die reguit vraag.

Jaap, te oorbluf en uitgeput om die skyn te bewaar, laat sy kop skuldig sak.

“En Erica weet alles?” kom dit na ’n oorwegende stilte van die ou man.

Slegs ’n knik van die kop.

“Maar, Jaap, ek verstaan nie wat julle wou doen nie. Dit is tog immers nie iets wat ’n mens kan wegsteek nie.”

Jaap lig sy kop, en vir die eerste keer kom daar ’n bietjie lewe in die grys oë. “Dis presies wat ek vir Erica gesê het, maar ek kon naderhand nie meer helder dink nie, en Erica het volgehou dat as ons die meisie na ’n inrigting stuur, of êrens anders, hulle tog oral sal wil weet wie die vader is. Nogtans het sy voorgegee dat sy self nie weet en ook nie omgee nie. Dokter, die ding het my al byna waansinnig gemaak.”

Die dokter lê ’n kalmerende hand op die jonger man se skouer.

“En, Dokter, dit het alles so skielik gebeur,” gaan Jaap voort. “As Annatjie dit maar vir my vertel het! Maar sy het nie, en ongeveer drie maande gelede het ek op ’n aand in Erica se kamer gekom, en sy het my met ’n kilheid wat my laat skrik het, gevra of ek weet dat Annatjie ’n baba verwag. Ek het gedink dat sy maar net daarop uit was om my te tart en het haar ongelowig aangestaar. Toe het sy gegrynslag en gesê dat sy dit lankal vermoed het, en eindelik die waarheid uit Annatjie gedwing het.

“Ek was stom van skok en verbasing, en toe ek Erica se onnatuurlike kalmte sien, het ek bang geword. In ’n gelykmatige stem het sy gesê dat ons vir Annatjie sou wegsteek totdat haar baba gebore is, en vir mense sou ons sê dat Annatjie weg is om verpleging te gaan leer. Na die geboorte moet Annatjie dan trap, en ons sal vir die mense verduidelik dat ons die baba aangeneem het.

“Ek kon nie glo dat Erica die waarheid praat nie en het stom na haar bly kyk. ‘Dis nie so onmoontlik soos dit vir jou mag voorkom nie,’ het sy glimlaggend gesê. ‘Almal weet dat Annatjie wag op ’n beter betrekking, en almal weet dat ek graag ’n speelmaat vir Christine wil hê, en self nooit weer kinders sal hê nie.’

“Ek het met haar probeer redeneer, maar sy het al my argumente weerlê, totdat ek self geglo het dat dit die enigste oplossing sou wees.”

Dokter Cilliers kyk peinsend na die jong man voor hom. “Julle weet natuurlik dat julle geheim by my sal bly, maar wat van Lisa en die ander mense?”

“Ons het oor alles gedink, Dokter. Lisa-hulle het ’n doodse vrees vir Erica en sal nie ’n woord rep voordat ons weg is nie. Ek het reeds ’n plaas in ’n ander distrik gekoop, en sodra Annatjie sterk genoeg is, sal ons trek.”

“En Annatjie … waar sal die arme meisie heen?”

Weer laat Jaap sy kop skuldig sak. “Die Vader weet, Dokter. Dis een sy van die saak wat ek nie met Erica durf bespreek nie.”

“En jy was haar werkgewer,” sê die dokter taktvol, “en is tot ’n sekere mate verantwoordelik vir haar.”

“Ek besef dit.” Hy kyk skielik hoopvol na die dokter. “As ek vir u, sê ’n honderd pond gee om haar voorlopig te onderhou, sal u nie probeer om vir haar êrens, waar niemand haar ken nie, ’n soortgelyke betrekking te kry nie?”

Dokter Cilliers dink ernstig na. “Miskien, Jaap, miskien. Ek dink nou reeds aan ’n suster van my wat ’n seuntjie van ongeveer sewe-agt jaar het. Die outjie is nie baie sterk nie, en die plaasskool is ’n hele entjie van die huis af. Hy is die enigste kind, en dis begryplik dat hulle hom nie nou al na ’n dorpskool wil stuur nie. Miskien sal hulle vir Annatjie neem … ” Hy hou skielik op met praat, en vervolg dan ernstig: “Maar die reëlings lyk nog vir my vergesog. In die eerste plek sou dit nie wettige aanname wees nie, en wat sal dan gebeur as sy eendag haar kind terugeis? En is sy op die oomblik heeltemal gediend met julle planne?”

Jaap skud sy kop. “Ek het haar die afgelope maande nooit gesien nie. Sy het net daar in haar kamer gebly, en ek het gevolglik nie self met haar kon praat nie, maar volgens Erica sien sy ook in dat sy geen ander keuse het nie.”

“Erica is hulpeloos,” is die dokter se volgende beswaar, “en wie sal na die baba kyk?”

“Ek het reeds ’n verpleegster gekry vir die baba, sowel as vir Christine en Erica. Sy sal kom sodra ons in ons nuwe tuiste is, en, Dokter Cilliers, hoeveel ek u ook vertrou, kan ek u nie sê waar dit sal wees nie, om begryplike redes … ”

Die dokter knik dat hy verstaan, en vra dan met ’n ongemaklike glimlaggie: “En wil jy nie weet of dit ’n dogter of ’n seun is nie? Dis ’n dogter, Jaap, en ek hoop dat julle aan haar sal vergoed vir die onreg wat haar moeder aangedoen is. En as jy my nou sal verskoon, wil ek net weer gaan kyk hoe dit met my pasiënt gaan.”

’n Paar groot, donker oë draai na hom die oomblik wat hy die deur oopmaak, en ’n wasbleek handjie tas-tas na die bondeltjie in die mandjie voor haar.

“Jy moes lankal geslaap het,” raas die dokter goedig en draai hom dan na die ou bediende wat nog met groot-oë in die hoek sit. “Gaan jy bietjie na die kombuis toe. Ek wil met die kleinnonnie praat.”

Geruisloos verlaat sy die kamer.

Op die rand van die bed gaan die ou man met die grys hare sit, en neem een van haar koue hande in sy eie. “Annatjie,” sê hy met die stemtoon van ’n vader wat met ’n eie kind praat, “jy het vir my altyd baie en lekker koffie hier op Fourieshoek gegee. Ek is baie jammer vir jou en daarom wil ek hê jy moet jou hart met my uitpraat.” Hy maak ’n vertroostende gebaar as hy sien dat daar groot traandruppels in die ooghoeke vorm. “Nee, moet nou nie huil nie. Jy was baie dapper en het ’n moeilike tyd agter die rug, maar dis nou verby, en ek glo dat jou sonde ook reeds vergewe is.”

“Dink Dokter regtig so?” vra sy met ’n bewerige stemmetjie.

Hy knik aangedaan. “Ek is oortuig daarvan, maar wat ek vir jou wil vra is of jy uit jou eie besluit het om jou babatjie af te staan?”

Nou rol die trane ongehinderd oor die bleek wange.

Tussen ingehoue snikke fluister sy: “Ek het vir mevrou Verster gesê dat hulle haar kan kry, maar toe het ek nog nie geweet hoe vreeslik lief ek vir haar gaan wees nie.”

Dokter Cilliers hou sy hand omhoog. “Wag nou, moet jou nie so ontstel nie. Jy kan haar hou as jy wil. Dit is jou kind en die besluit berus by jou.”

Ongelooflik kalm vee sy die trane met haar handpalm weg en sê vasberade: “Ek sal haar nooit hou nie, Dokter. Ek weet wat dit is om verstote en minderwaardig te voel, en my dogtertjie sal nie eendag soos ék ’n bediende van ander wees nie.”

“Die Versters is ryk en gesiene mense,” vul hy bemoedigend aan, “en hulle sal vir haar ’n goeie opvoeding en geleerdheid gee, en oor jouself hoef jy jou ook nie te bekommer nie, want jy is ’n pligsgetroue en innemende meisie, en ek dink ek het al klaar ’n werk vir jou.”

Sy lig haar op haar elmboog op en kyk hom bang aan. “Waar, Dokter? Sal die mense nie weet wat met my gebeur het nie, en sal hulle my nie verag nie?”

“Niemand sal weet nie,” belowe hy plegtig. “En nou moet jy slaap want jy het al jou ou kraggies nodig. Môre of oormôre sal ek weer kom kyk hoe dit gaan.” Spontaan lig hy haar hand en soen die bleek vingers. Dan staan hy op om vir ’n oomblik na die rooi, verrimpelde gesiggie van die pasgebore dogtertjie te kyk.

Hy loop tot by die venster en trek die gordyne weg. “Sien jy,” sê hy opgewek, “kyk hoe pragtig skyn die maan buite, en ’n paar uur gelede het daar so ’n vreeslike storm gewoed. Die storm in jou lewe is miskien ook nou verby. Lekker slaap, my kind.”

Toe hy die deur agter hom wil toemaak, roep sy hom saggies terug. “Dokter,” sê sy skamerig, “daar is net een ding wat ek graag self vir my kindjie wil gee. Toe ek nog op skool was, het ek eenkeer ’n storie gelees van ’n Italiaanse meisie wat ontvoer is. Haar ouers, die polisie en die hele Italië het naderhand na haar gesoek. Ek het gedink dat dit wonderlik moet wees om so ’n ophef van gemaak te word. Die dogtertjie se naam was Tita, en deur al die jare het ek gedink dat as ek eendag ’n dogtertjie het, ek haar Tita sal noem.”

“Haar naam sal Tita wees, al moet ek haar self doop,” knipoog hy, en trek dan die deur saggies op knip.

· · ·

Jaap sit nog in die eetkamer met sy elmboë op die tafel gestut, en sy kop tussen sy hande, maar as dokter Cilliers binnekom, staan hy dadelik op. “Dokter, alles is in orde, nè?” vra hy onrustig.

Dokter Cilliers kyk ’n oomblik onrustig na die geboë man voor hom, en dan is alles wat in hierdie huis plaasgevind het vir hom meteens weer ongelooflik. “Alles is in orde,” sê hy na ’n rukkie gerusstellend, “en ek sal weer kom, maar jy moet my vanaand een ding belowe. Dit was Annatjie se versoek dat julle haar kind Tita noem. Sal jy onthou, Jaap?”

“Tita,” herhaal Jaap. “Goed, ek sal onthou. En, Dokter,” vra hy toe die dokter sy jas neem, “u kan verstaan dat Erica nie vir u sal wil sien nie, noudat u weet … ”

“Moet jou nie daaroor kwel nie.”

Buite lyk dit soos ’n vreemde wêreld wat bestaan uit glinsterende water waarin duisende sterre en ’n volmaan weerkaats. Die jong boer bedank die dokter vir die soveelste keer, en wanneer die ouer man se motor stadig voor die groot kliphuis wegtrek, prewel hy met die wysheid uit ouderdom gebore: “Mag dit wees dat hierdie ongelukkige invalide die onskuldige kind wil aanneem met ’n edel motief.”