GROENHEIDE BOEKE

Temmers van die Woestyn #8: Wind oor Haar Graf

― HOOFSTUK 1 ―

DIE WYFIE-DUIWEL

In die oggendlug trek die geluide ver. Rooi Els kan hoor hoe die manne daar onder gesels en lag. Dofweg hoor hy ook hoe skerp pikke in die harde aarde inbyt; die metaalklank van skopgrawe trek eweneens ver hier teen die hange van die berge op.

Rooi Els sit op sy geelperd agter ’n tamaai rots. Hy kan nie die werkers daar ver onder in die kloof sien nie – en hulle kan hom nie sien nie. Net so effens agter hom sit ’n jeugdige meisie op ’n pikswart perd. Die saal waarop sy sit, is van geel leer, en die gespes blink in die vroeë strale van die son. Sy sit wydsbeen op die perd, haar bene tot ’n duim bokant haar knieë ontbloot. Haar bruin tafsy-tabberd span nou om haar middeltjie en haar blonde hare lê los op haar hoof. Die veldhoedjie hang agter haar rug aan die kenband. Toe Rooi Els so flussies hier teen die hoogte opgejaag het, het die wind dit afgewaai, maar sy het nog geen aanstaltes gemaak om dit weer reg te sit nie. Die son steek nog nie.

‘Magda, jy sien hoe soek daardie Danie de Wet my. Dit help nie om jou griewe te lug nie. Hy luister eenvoudig nie. Hy reken mos die hele wêreld behoort aan hom en die boere aan die Kuruman­rivier. Waarom wil hulle hierdie pad bou? Ander­kant daardie kranse, waar hulle ’n poort wil oop­skiet, lê alreeds die nuwe plaas van twee boere; en hulle het geen reg daar nie! Dit is die Griekwas se grond. Dit lyk my hulle soek my … ’

Rooi Els kners op sy tande. Sy rooi hare begin die strale van die son al skep. Dit lyk kompleet of sy hare lewe, of daar vlammetjies in knetter.

‘Moenie alweer begin skoor soek nie, Rooie. Jy kom net-nou in botsing met die Koloniale polisie. Onthou dit is nog steeds Kolonie hierdie en die boere kan plase inpalm tot aan die Molopo. Eers as hulle die Molopo oorsteek, kan ons praat.’

Rooi Els swaai om en sy bruin oë blits.

‘Hierdie wêreld is eerste deur die Griekwas bewoon. Dit is hulle grond en hulle behoort nie een van hierdie nuwe boere hier te duld nie. Om Ga-Mopedi is daar baie grond. Hulle kom net hiernatoe om my en die Griekwas van ons grond af te druk. En onthou mooi: ek is die Griekwas in hierdie geweste se kaptein, en ek sal nie toelaat dat hulle benadeel word nie. Daar word al klaar van hul beeste gesteel, en ek self weet dat dit die boere is wat die diefstalle pleeg.’

Die meisie stuur haar swart ros tot langs syne.

‘Jy word te opstandig, Rooie. Ek sal jou sê wat: ek wat Magda Fourie is, sal self na Danie de Wet gaan. Ek sal hom probeer oorhaal om die pad nie verder te bou nie. Ek sal weet wat om te sê. Ek sal ’n mooi beroep op hom doen om nie sy medemens se grond in te palm nie. Om te dreig sal niks help nie. Dit is nou eenmaal Kolonie-grond, en as hulle dit van die regering gekoop het, kan hulle intrek. Ons mag hulle nie verhinder nie.’

Rooi Els uiter ’n snorkgeluid.

‘En toelaat dat hulle die veld van die Griekwas inpalm; toelaat dat hulle die kring al nouer om my plaas trek, sodat hulle naderhand my kanse vir uit­breiding belemmer? Laat hulle in die omstreke van die Kurumanrivier bly, in die buurt van Ga-Mopedi, en laat hulle ons grond anderkant hierdie berge met rus laat. Jy gaan nie mooipraat met daardie De Wet-kêrel nie. Ek sal hom foeter!’

‘Jy weet nie wat ek alles aan hom wil sê nie, Rooie. Hy móét na my luister! Ek gaan alleen na hom toe en sal hom sê hoe ontevrede die Griekwas is. Oom Felix het ook belowe om met hom te praat.’

Els ruk sy perd om en die dier proes ongeduldig terug.

‘Felix Nell met sy alewige godsdienspraatjies maak my naar. Hy praat net! Beduie die hele tyd vir die Griekwas om stil te sit en die minste te wees, want dit is kastig onchristelik om te veg, om jou hande te gebruik om jou grond te behou! Was dit nie vir hom nie, sou ek gou ’n paar man kon kry om die twee boere in ons gebied oor die rivier terug te gooi. Maar nou word ons almelewe tot vreed­saam­heid gemaan. Ek stik as jy van eerwaarde Felix Nell praat!’

Rooie kyk af na haar. Hy sien hoe haar hare sy-sag oor haar skouers lê, en hoe dat die wind dit telkens streel. Haar groot, ligbruin oë is op hom gerig.

‘Laat dit net hierdie een keer aan my oor, Rooie.’

‘Goed, Magda. Jy kan die deurlugtige gaan spreek, maar bewaar sy siel as jy iets oorkom! Ek glo nie die Ga-Mopediërs het respek vir vroue nie … ’

‘Stadig, Rooie. Vir sover ek weet, het Danie de Wet ’n nooi, Elma Murray. Jy ken haar mos,’ en die vrou kyk hom laggend aan. Haar oë flikker ondeund. ‘Jy weet mos, daardie een na wie jy so baie kyk wanneer jy by Die Groot Dors aanland. Dit is die enigste kere dat jy vergeet om jou drankie te drink … wanneer jy haar daar in die hotel in die oog kry!’

Rooi Els stryk net sy bos rooi hare plat en ruk die teuels styf.

‘Moet jou nie laf hou nie, Magda. Jy is alewig jaloers.’

‘Is jy nie jaloers nie?’ kom dit verwytend.

‘Nee, dit is ’n slegte aanwensel.’

‘Die fout met jou is, jy dink te veel aan jouself … ’

‘Stadig nou, Magda! Kom ons ry liewer.’

Hy gee sy geelperd spore en die dier rem teen die afdraand af. Magda volg hom. Haar gesig is op ’n plooi getrek. Haar fynbesneë neus en die sproete wat so oulik daaromheen versprei is, laat haar besonder jeugdig lyk. Niemand sal haar ouderdom op twintig skat nie. Soos sy nou daar op haar swart perd agter Rooi Els, die grootbaas van die Griekwas, aanry, lyk sy nog maar soos ’n dogtertjie van vyftien.

Die afdraand is steil en bevat los klippe, sodat die diere maar baie stadig vorder. Die rewolwer aan haar regterheup swaai heen en weer in die geel holster.

Magda se oë rus op Rooi Els se breë skouers, en die regop houding waarmee hy op sy perd sit, vervul haar opnuut met bewondering vir hierdie man met wie sy saam grootgeword het. Hy was soos ’n broer vir haar, maar later wou sy nie meer só aan hom dink nie. Toe sy jonger was, het sy gedink dat hulle waarlik broer en suster was, maar later het eer­waarde Nell haar vertel dat dit nie so is nie. Rooi Els en sy het tot hul twintigste en sestiende jaar onder­skeidelik by eerwaarde Nell en tant Hessie gewoon. Sy woon nog in die ruim plaaswoning van die sendeling tussen Jansluit en Pongo-Pongo, maar Rooi Els bly al etlike jare tussen die Griekwas. Hy beskou hulle as sy volk, en hy en eerwaarde Nell kry gedurig stry omdat hy die vreedsame Griekwas wil verlei. Els se plaas is baie groot, ’n plaas wat hy sommer gevat het en wat die Griekwas vir hom bewerk. Hy, Rooi Els, beskou homself as die koning van die Griekwas, en veral die jonger Griekwas glo vas in hom.

Die manlike, fors gestalte van Rooie het haar hart nog altyd vinniger laat klop. Maar dit lyk nie of Rooie daardie kant toe dink nie. Behalwe wanneer hy half dronk is; dan, ja, dan druk hy haar, en dan beskou hy haar as sy goed. Maar as die invloed van Bacchus wegtrek, dan kyk hy bo-oor haar.

Onder in die vallei, op ’n knoppie, hou Rooi Els sy perd weer in en gluur in die vallei af. Hier staan die gras baie hoog. Die rosyntjiebosse, ghwarriebosse, volstruisbosse, trassiebosse, haak-en-steek, rooihaak en ander bosse groei hier ook besonder ruig. Magda het al baie gedink dat hierdie vallei seker maklik in ’n bruisende rivier sal verander as dit werklik hard reën. Dit reën egter selde aanhoudend. Die reënval is maar ongeveer agt duim per jaar. Maar as hier ’n enkele druppel water val, is dit asof daardie een vog­korreltjie die sade laat ontkiem.

Magda hou langs Rooie stil. Hiervandaan kan hulle die padmakers sien. Hulle kyk in die vallei af, deur ’n poort van regaf rotse; en aan die ander kant, ongeveer ’n duisend treë van hulle af, pik en spit en swoeg die padbouers vir die gierigaards, soos Rooi Els hulle noem. As hy die padmakers so sien werk, kom daar ’n byna onkeerbare wrok in sy hart op. Maar hy het vanoggend klaar besluit. Hy sal hulle verhinder om die pad verder te bou, om die poort oop te skiet – die poort wat hulle toegang sal verleen tot die oop vlaktes met sy panne en bosse in die stroomgebied van die Molopo.

‘Magda, ek sal tot vanaand vir jou wag. Vanaand moet jy my kom sê wat De Wet sê. Ek gaan solank terug huis toe om manne te gaan haal. Dan ry ons na Ga-Mopedi toe. Jy sal ons in Die Groot Dors kry. As jou sending slaag, dan sal geweld nie nodig wees nie, anders … ’

Magda Fourie se oë rek groot.

‘Moet net nie doodmaak nie, Rooie!’

‘As ons hulle nie doodmaak nie, sal hulle ons doodmaak! As hulle dit nie met ’n koeël doen nie, sal hulle ons uithonger. Ek gaan dit ook reguit in eerwaarde Nell se gevreet sê.’

‘Dan wil jy hê ek moet nou gaan?’

‘Ja, nou dadelik. Ek skat dat jy hom nou by ou Jim Murray sal kry. Hy lê mos daar. As hy nie nou wil kopgee nie, gaan ek toeslaan. Ek sal hul paaie met hul eie dinamiet die lug in skiet!’

Vrees pak vir Magda beet. Sy weet dat Rooi Els nie sal speel nie. As hy eers bloed ruik, kan niemand hom keer nie, en dan is ’n lewe vir hom niks werd nie. Sy wens dat sy liewer eers saam met hom kon terug­ry, maar hierdie sending is belangrik, baie belangrik.

‘Goed, Rooie, ek sal nou gaan. Soen my eers,’ en sy leun vooroor.

Hy druk met sy hande op die saal voor hom en bring sy kop nader. Hul lippe is die volgende oom­blik op mekaar; syne koud onwillig; hare brandend van hartstog.

Die swart perd word omgeswaai. Sy gee die dier spore en hy spring weg, in die vallei af. Die pad­werkers kan haar nou maar sien. Rooi Els staar haar agterna. In sy rooi sproetgesig is sy oë op skrefies terwyl hy haar agterna kyk. Sy een hand rus op die kolf van sy rewolwer in die swart holster aan sy heup. Langs hom steek die kolf van ’n geweer by ’n skede uit.

Sowat tweehonderd treë van hom af swaai sy haar perd dwars en hou stil. Sy wuif vir hom en wag dat hy moet terugwuif. Hy doen dit, maar dit is ’n bloot meganiese beweging. Rooi Els dink aan ander dinge.

Hy wil die gebied anderkant hierdie berge vir hom en sy Griekwas behou. Hy wil die alleenheerser daar wees. Hy is ook jaloers op sy voog en stiefvader, eerwaarde Felix Nell. Die sendeling het te veel mag; met sy godsdiens het hy ’n deeglike houvas op die Griekwas en die Bamangwato. Hy wat Rooi Els is, wil nog meer mag in die hande kry. Soms voel hy huiwerig en bang om geweld te gebruik, maar ander kere, soos nou, pak die duiwel hom beet. Dan word hy gevaarlik; dan dink hy aan moord! Moord op al die mense wat sy gesag wil ondermyn en van die Griekwas se grond wil steel! Hy haat eerwaarde Nell soms met ’n venynige haat en het ’n renons in Danie de Wet, wat die respek van die boere langs die Kuruman geniet.

Dan dink hy aan Magda. Magda is ’n liewe meisie, maar sy is te opdringerig. Vir hom is sy nog maar soos ’n suster. Hy kan glad nie daaraan dink om met haar te trou nie.

Maar soms is sy darem vir jou ’n hel-vrou! Sy kan ’n tierwyfie word wanneer sy jaloers word.

Wat Elma Murray betref – teenoor haar voel hy anders. Daar is ’n snaakse gevoel wat in hom op­kruip wanneer hy haar sien. Dit is hartstog, begeerte – soms wellus. Hy het haar al een keer in sy arms gehad. Dit was voordat De Wet op die toneel verskyn het. Toe hy egter onlangs weer geprobeer het om haar in sy arms te neem, het sy hom afgedruk, hom uitgeskel vir ’n dronklap en ’n skelm. Van daardie dag af het sy hewige gevoel jeens haar tussen twee uiterstes gelê. Soms het hy nog die gevoel van liefde ervaar, ’n vurige wens om daardie begeerlike rooi lippe van haar te soen; maar dan was die ander gevoel weer daar – opgekropte wraak­gedagtes oor sy vernedering, gevoelens wat egter nooit sonder die wilde emosie was om haar tog vas te gryp en met geweld teen hom aan te druk, aan sy hartstogte en wil te onderwerp nie.

Hy sien hoe dat die swart perd van die meisie deur die poort jaag. Sy ry byna te vinnig vir hierdie rots­agtige en kluitbesaaide wêreld.

Rooi Els kyk totdat Magda en haar puik dier agter ’n klompie rooihake verdwyn, swaai sy geelperd om en ry die bultjie af. Daarna trek hy sy perd op ’n trippelgang, leun vooroor en fluister in die dier se gespitste oor, ‘Kom, Satan, daar is baie werk om te verrig. Ons kan nie nou meer talm nie.’

Die geel dier uiter so ’n kort runnikende geluid, asof hy alles verstaan, en skop die klippe los.

· · ·

Die padwerkers is nou sommer hier digby die meisie. Sy kan sien dat hulle sedert die vorige week al heelwat gevorder het. Hierlangs is nie baie klippe en hoogtes om weg te kap nie, maar ongeveer tweehonderd treë verder word die berg hoër en die kranse regaf. Deur ’n natuurlike poort kronkel die loop van die Kuruman verby daardie regaf steiltes. Sy weet dat Danie de Wet se plan is om ’n klompie van daardie rotse weg te skiet en die pad langs die rivierloop te laat verbygaan.

Dit sal ’n moeilike stukkie werk wees. Die rotse wat weggeskiet moet word, is ongeveer vyftig voet hoog en ’n dik kors aarde van ongeveer dertig voet sal die lug in geskiet moet word. Maar daar moet nou glo ’n pad wees vir transportwaens en die pos­koets om daar deur verafgeleë plekke soos Jansluit, Pongo-Pongo, Van Zylsrust en Bogo-Gobo, ander­kant die Molopo, te bereik. Sy het gehoor dat dit die plan is. Die beskawing is aan die kom, fluister almal. Dit is vooruitgang. ’n Bloeiende handel met die Duitsers oorkant die grens is nodig.

Die pad moet glo van Van Zylsrust af wegswenk na Witdraai, waar die Kurumandroëloop by die Molopo aansluit, om ’n entjie verder in die Nossop­rivier in te vloei. Van Witdraai af moet die pad verder gaan na Rietfontein, op die grens van Duits-Suidwes. Daarvandaan sal die regering van die Duitsers glo die pad verder bou na Aroab.

Die owerheid van die Kolonie, so het Magda verneem, het aan die boere van Kuruman en Ga-Mopedi die vergunning gegee om met die bou voort te gaan, maar dit geskied op die boere se risiko en met hul geld.

Danie de Wet is eintlik die man wat die spit moet afbyt, maar baie boere steun hom en verskaf hulp, want dan kan hulle mos hul grond verlê en plase tot aan die Duitse grens en dié van Betsjoeanaland aanlê. Die boere sal dan ook hul beeste aan die Duitsers kan verkoop. Dit is vooruitgang, het dit op vergaderings van die boere opgeklink.

Dit is al wat Magda weet. Maar sy weet ook dat Danie de Wet vasberade is om voort te gaan met sy planne en dat Rooi Els ewe vasbeslote is om hom te keer!

’n Oomblik sit sy in die skaduwee van ’n rots en beskou die werkers, die swetende en singende pad­bouers. Die geklink van die grawe en pikke is nou duidelik hoorbaar. Twee ander mans staan sowat honderd treë van haar af, besig om dinamiet te laai waar­mee hulle die los klippe en rotse ’n bietjie wil wegskiet.

Sy moet by hulle verby om haar reis voort te sit na die opstal van Jim Murray, waar sy hoop om vir Danie de Wet te kan spreek. Heimlik wens sy dat sy nie vir Elma Murray, Danie se nooi, te sien moet kry nie. ’n Gevoel van jaloesie kom altyd in haar op as sy haar teenkom.

Een van die mans kyk op en maak aanstaltes om die lont aan die brand te steek. Sy maat spring ook orent, en dan laat nael hulle. Hulle hardloop reg op Magda af. Magda se oë is egter op die rook wat daar van die grond af opborrel. Een van die mans sien haar raak en skree, ‘Jou perd gaan skrik, Juffrou! Klim gou af … ’

Maar die woorde is skaars uit, toe skiet sand en klippe en stof die lug in, en ’n luide ontploffing volg.

Die perd spring agteruit, runnik en staan op sy agterpote, terwyl hy met sy voorpote lug grawe.

‘Honou, Ster,’ kalmeer sy die perd, maar die dier spring skielik vorentoe en lê oop in die rigting van die klompie padbouers wat hul grawe neergegooi en gaan skuiling soek het.

Magda klou aan die teuels vas en roep aanhou­dend, ‘Honou, Ster!’

Die dier dawer egter oor die los klippe en vleg snorkend tussen die vaalbosse deur.

Die twee mans staar die swart perd agterna. Hulle sien hoe die ruiter se hare in die wind waai, en hulle verwag dat sy binnekort gaan val, sodra die perd swenk – iets wat verskrikte diere gewoonlik doen wanneer hulle in hierdie bergwêreld op loop gaan.

‘Wie is dit daardie?’ vra die een, ’n jong man, vinnig aan die ouerige man langs hom.

Die ou man spuug ’n pruimpie vinnig uit, trek sy traan-ogies nouer, steek sy hande onder sy los kruisbande in en sê, ‘Dit is daardie duiwelskind, Magda Fourie. Sy is die aangenome dogter van die sendeling op Pongo-Pongo. Maar ek dink nie sy sal afval nie. Sy is ’n ruwe klein doring, en as ek haar sien, vertrou ek die vrede glad nie.’

Die jong man kyk die perd nog agterna.

‘Hoe bedoel oom nou?’

‘Jong, sy aanbid daardie vloeksteen van ’n Rooi Els. Sy voer seerseker iets in die mou. Rooi Els hou nie van hierdie pad nie, en hy hou veral nie daarvan dat boere nou sommer oral kan plase koop nie. Sy het hier naby die kiste met die dinamiet gestaan. Sou sy hulle nie gesien het nie?’

‘Wat daarvan as sy dit gesien het?’

‘Hans, jou kop werk nie vinnig nie. En jy ken hierdie meisie nog nie. Sy is ’n wyfie-duiwel, en sy kan met ’n rewolwer en ’n geweer skiet soos min.’

‘Is sy nie bang om so alleen te ry nie?’

‘Ek wil die man sien wat haar oorrompel. Dit sal ’n slagting wees.’

‘Is sy so sterk?’

‘Nee, maar ek het jou mos gesê sy is blitsvinnig met haar skietyster.’

· · ·

Ster toon nog geen tekens dat hy sy malle pas wil verminder nie. Hy skiet tussen die haak-en-steek en heuningbosse deur en spring in ’n sandsloot af. Magda kry die teuels behoorlik in die hande en trek, terwyl sy op haar tande kners. Sy paai nog steeds en praat mooi.

Die perd snork nou luid en sy asemstote kom vinnig en rukkerig.

Voor haar in die sandsloot sien sy skielik vier seuntjies wat besig is om ’n trop bokke bymekaar te maak en in die sloot af te druk.

Ster trek alreeds sy ore plat. Magda weet dat hier­die ryperd van haar ’n ewige renons in bokke het, en van klein wesentjies wat skree, hou hy nog minder.

Die bokwagtertjies het die aanstormende swart perd reeds gesien en begin skree nou asof hulle vermoor word, en die bokke blêr saam asof hulle net so begaan is oor die perd wat soos ’n oopbek monster op hulle afgejaag kom.

Vier treë van die naaste seuntjie, wat met swaai­ende hande teen die wal probeer opvlug, swenk Ster links, en hy doen dit met ’n snork wat die ander drie knape laat skree asof hulle daarvoor betaal word.

Toe Ster swenk, kantel Magda. Die dier het feitlik onder haar uitgeskuif, sommer net dwars eenkant toe gespring. Haar een voet gly uit die stiebeuel en terselfdertyd verskuif die saal. Ster spring teen die wal op en die volgende oomblik kantel Magda heeltemal en stort grond toe, sonder om een enkele gil te uiter.

Sy kom hard teen die wal neer. Dit voel vir haar of haar ribbes inmekaargedruk word. Sy rol tot op sand en wil haar oplig, maar dan hoor sy haarself kreun, en die volgende oomblik word dit donker voor haar.

Die vier seuntjies hardloop nou vir al wat hulle werd is. Hulle is bang die nooi is dood.

Ster hardloop ’n ent weg, kom dan skielik tot bedaring en vlug agter ’n klomp vaalkameeldoring­bome in. Daar kom hy tot stilstand en kyk, met nek omhoog, terug.

Met haar gesig vooroor op die sand lê Magda roerloos. Sy hoor nie die dowwe geklop van perde­hoewe in die sand nie.

Danie de Wet kom op ’n stywe galop aangery. Dwarrel is vanoggend haastig. De Wet is gretig om by die padwerkers te kom om te sien hoe die werk vorder.

’n Oomblik gelede het hy daar van die klipkoppie af ’n perderuiter gewaar.

Die ruiter het daar agter ’n klompie bome uit­gekom, net vir ’n oomblik het hy die malle vaart van die swarte gesien, maar toe het perd en ruiter weer skielik voor sy oë verdwyn.

Hy kom die vier bokwagtertjies teen waar hulle nou verskrik op ’n bondel rondom iets op die grond staan. Hul boktrop slaan sommer blêrrend ’n koers in.

‘Hier is iets aan die gang,’ vertel Danie de Wet aan sy perd. Dwarrel proes net en ruk ongeduldig aan die teuels wat sy baas te styf na sy sin trek.

Danie ruk die dier egter effens in en stuur hom in die rigting van die seuntjies. Dit veroorsaak algehele verwarring onder die bokwagtertjies. Met ’n geskree spat hulle uitmekaar. Danie frons sy voorhoof. Kinders was nog nooit vir hom bang nie. Hier skort iets.

Danie wou net agter een aanry om uit te vind waarom hulle so vlug, toe hy die voorwerp daar in die sandsloot sien. Net ’n paar oomblikke kyk hy. Eers lyk dit vir hom na ’n droë stomp, maar dan sien hy hoe die wind Magda se tabberd beweeg.

Hy gee Dwarrel oombliklik spore en met ’n snork­geluid spring die dier vorentoe.

Die perd staan nog nie eens behoorlik nie, toe spring Danie al af. Hy kniel langs die meisie, en die frons bly op sy voorhoof. Vinnig draai hy haar om en kyk in haar sproetgesiggie. Hy vee die geelbruin hare uit haar oë. Haar hande val slap langs haar sye. Hy betas haar polse, en luister na die moeë kloppinge van haar hart. Dan tel hy haar op in sy arms en dra haar vinnig na sy perd toe. Dit is vir hom duidelik dat sy van haar perd afgeval het.

Hy klim met meisie en al in die saal. Hy hou haar in sy regterarm, terwyl haar bene eenkant toe oor hang. Met die teuels in sy linkerhand laat hy Dwarrel terugtrippel na die opstal van die Murrays toe.

Die meisie toon nog geen tekens dat sy bykom nie. Hy kan nie sien dat sy asemhaal nie.

Danie weet dat sy Magda Fourie is, die meisie wat altyd by Rooi Els is. Hy weet ook dat Rooi Els al wat boer is met vyandigheid bejeën en al verskeie dreigemente teen hom ge-uiter het. En die moord van ’n Duitse jagter is nog vars in Danie se geheue. Hy weet dat Rooi Els verantwoordelik is vir daardie jagter se dood, maar hy het geen bewyse nie.

Hy weet dat Rooi Els sy kans afwag om aan te val, dat hy iets gevaarliks in die skild voer. Rooi Els is Danie de Wet se aartsvyand. En hier lê Rooi Els se ‘skaduwee’ bewusteloos in sy arms!