GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/zfjxdg-my-lewe-in-n-tas-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

My Lewe in ’n Tas

— HOOFSTUK 1 —

Miena Fourie sluit die deur van die gemeubileerde woonstel waarin sy die afgelope agt jaar gewoon het met ’n swaar hart. Sy gaan die woonstel mis. Sy gaan die ou tannie langs haar mis. Die tyd om terug te keer het egter aangebreek. Agt jaar is lank, maar sy het besef dat selfs ’n honderd jaar nie lank genoeg sal wees om te vergeet nie. Sy haal die sleutelhouer met twee sleutels van die bossie af. Een sleutel vir die houtdeur en een vir die veiligheidsdeur. Sy sit dit aan die hek se afstandbeheer en druk dit in die koevert. Die koevert met die laaste maand se huur. Sy het die vereiste kennis gegee, maar dit voel steeds asof sy die eienaar teleurstel. Sy was so goed vir haar en het haar gehelp toe sy vreemd in ’n onbekende dorp rondgedwaal het. Die eienaar van die woonstel is ook die eienaar van die koffiewinkel waar sy die afgelope agt jaar gewerk het. Sindie Kruger. Sy gaan haar mis.

Sindie is ’n middeljarige, oorgewig vrou met ’n stralende persoonlikheid wat enige persoon lief vir haar maak. Miena loop met haar neus effens in die lug en droë oë na Sindie wat agter die toonbank vir haar staan en wag. Sy het haar maand kennis ook gewerk.

Huil is iets wat Miena al jare nie meer doen nie, al is die seer steeds so rou. Soms is dinge te seer om oor te huil. Soos weggaan.

“Miena-kind, is jy seker oor jou besluit? Ek het met Jan gepraat. Ons kan jou ’n verhoging gee en ons sal die prokureurskoste betaal as jy een nodig het, vir wat ook al jou probleme is. Ons kan jou help. Ek is seker ons kan iets uitwerk.”

Hoeveel keer moes sy al ’n bevordering afkeer? Sindie wil haar bevorder, want sy “doen in elk geval die werk van ’n bestuurder” – maar sy moet dit van die hand wys. Saam met ’n bevordering kom ’n verhoging. Saam met ’n verhoging kom goed soos ’n belastingnommer en alles wat mense in staat sou stel om haar te vind.

Nou gaan sy in elk geval terug.

“Ek moet teruggaan.”

“Ja. Almal moet seker een of ander tyd huis toe gaan.”

Miena glimlag. Sy gaan nie huis toe nie. Weggooikinders het nie ’n huis nie. Sy hou die koevert uit na Sindie. “Maak asseblief hierdie oop na ek weg is. Die sleutels van die woonstel is ook daarbinne.”

“Het jy nie ’n nommer — ”

“Jy weet ek het nie ’n selfoon nie. Ek sal hierheen skakel sodra ek daar is.”

Sindie loop om die toonbank, neem Miena in haar arms en hou haar styf vas. Miena voel Sindie se liggaam ruk en hoor haar snuif voor sy praat: “Ek gaan jou mis. Jy was die dogter wat ek nooit kon hê nie.”

Miena antwoord haar in haar hart: Jy was ’n ma, in die plek van die een wat my nie wou hê nie. Sy druk haar terug en stoot haar dan van haar weg. “Dankie, Sindie. Jou plek in die hemel is reeds geboek. Daar is bitter min mense soos jy op hierdie aarde.”

Na haar woorde tel Miena haar tas op, draai om en stap die koffiewinkel uit. Sy sal moet loop, voor sy van plan verander. Die besluit om terug te gaan, is iets waarmee sy al maandelank worstel. Haar lewe hier, waar niemand haar ken nie, was gemaklik. ’n Lewe waar niemand weet wat sy gedoen het nie. Maar sy moet teruggaan, dit is al hoe sy vergewe gaan word.

Miena het nie baie persoonlike besittings nie. Dit wat nie in haar tas hoort nie, het sy by die Hospice afgegee. Dit wat belangrik is, is in haar tas.

· · ·

Die bus is warm. Die lugversorging is aan, maar Miena vermoed dis nie op koud gestel nie. Daar is nie baie mense op die bus nie. Dit is vreemd. Daar sal seker so met die pad langs nog mense opklim. Daar is twee oop sitplekke langs haar. Sy het haar tas onder haar voete ingestoot.

Wanneer die bus stadig wegtrek, klop haar hart seer. Sy het lief geword vir Pretoria. Die pers in Oktober. Die mis teen die Magaliesberg. Die anderste hitte wat jou vel rooi brand, nie bruin nie. Die droë lug, wat die reën as verligting beklemtoon. Die boere wat die stad so vreemd vind. Die kinders wat nie vuilheid ken nie.

Sindie. Sy gaan haar mis.

Miena vleg haar lang, dik en reguit swart hare skuins oor haar skouers sodat sy gemaklik terug in die sitplek kan sit. Sy vou haar hande saam op haar skoot en sluit haar oë. Die pad af kus toe is lank. Sy moet haar gedagtes stilhou. Sy moet nie vooruit dink nie. Elke dink het sy plek en tyd. Stap vir stap. Sy het lank hieraan beplan. Sy weet dat Pieter daar gaan wees. Daar is nie ’n twyfel daaraan nie. Oor ’n dag is dit Kersfees en Kersfees is almal by tannie Anna. Dit was nog altyd so. Sy sal die tyd moet gebruik om haarself voor te berei. Pieter gaan daar wees. Haar held, haar ridder wat haar nooit op sy wit perd gehelp het nie.

· · ·

By die eerste halte klim sy af, gaan maak haar blaas leeg en koop padkos. Sy eet nog altyd min. Sy doen dit nie om skraal te bly nie, dit is net in haar geaardheid. Die skraalheid van haar lyf ook. Daar klim ’n hele paar mense op die bus. Niemand sit langs haar nie. Dit voel tenminste of iemand die lugversorging koeler gestel het. Sy vou haar arms. Die dag loop uit. Haar oë bly lank toe en sy skrik toe iemand langs haar kom sit. Een stoel tussen hulle. Sy kyk vinnig na hom. Hy lyk moeg en verslons. Hy knik beleefd toe hy sien dat sy na hom kyk.

“Staan die bus al lank?” Sy het nie gedink sy gaan so vas slaap nie.

“Nee.”

Sy kyk om haar rond en sien mense afklim. Sy bly sit. Die man toon geen belangstelling om met haar te praat nie. Sy is dankbaar en staar by die kantruit uit. Hoe gaan Pieter optree wanneer hy haar weer sien?

Sal haar hart dan steeds so dapper wees soos sy nou voel dit is?

Toe sy weer wakker word, is die man langs haar ook steeds wakker. Sy verskoon haarself toe sy verby hom moet skuur na die toilet en is verbaas om te sien dat die bus amper vol mense is. Toe sy terugkom, sit hy met toe oë. Sy skuur weer verby hom en hy trek sy bene terug, maar maak nie sy oë oop nie. As almal maar net so kon wees, maar die meeste mense voel gedwonge om geselsies aan te knoop. Om uit te vra. Waar kom jy vandaan? Hoeveel boeties en sussies het jy? Waar woon jou ouers?

Vrae wat sy nie kan en nie wil beantwoord nie.

By die laaste bushalte klim hulle saam af. Daar is ’n vrou wat baie gelukkig is om die man te sien, wat lank vir hom moes wag. Sy lyk net so moeg soos hy. Miena neem haar tas, maar nes sy wil begin loop, roep hy na haar: “In watter rigting gaan jy? Ons kan jou ’n geleentheid gee.”