GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/zdjjmp-rodeo-rollie-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Rodeo Rollie!

― Hoofstuk 1 ―

“Julle weet mos ek gaan nie saam kamp toe nie, nè?” Roy klop op sy ponie Rollie se boud dat die stof eintlik ’n wolkie uitslaan.

Ruan, Tessa, Dommie en Anneke, die ander vier lede van die Poniehoewe-Klub, kyk op van waar hulle besig is om hul eie ponies skoon te borsel.

“Ons het nie vergeet nie,” verseker Tessa hom.

Hulle vier gaan die langnaweek ’n perdrykamp bywoon, maar omdat dit vir skouspring en dressuur is, het Roy besluit hy bly. Rollie sou dit kan doen, het hy gesê, maar hy self hou nie van sulke goed nie.

“Ja, want ek en Rollie gaan leer rodeo ry,” sê hy nou.

“By wie nogal?” wil Ruan weet.

“By ’n regte cowboy, een wat by ons kom kuier.”

“En jy sê nou eers?” Daar is ongeloof in Anneke se stem. Hulle weet almal hoe behep Roy is met die Amerikaanse Wilde Weste, sodanig dat hy sy eie naam, Gerhardus, verander het na dié van sy filmheld Roy Rogers. Dat hy sou stilgebly het oor ’n besoek van ’n regte cowboy is net ondenkbaar.

Roy trek sy skouers op. Hy is die jongste van die vyf maats, tien (amper elf), en hy moet maar gedurig sy man staan teen hulle, want veral Ruan is lief daarvoor om hom, soos hy sê, op sy plek te hou.

“Julle stel mos nie belang nie. Ek sê maar net sodat julle kan weet. Dis al.”

Maar daarmee is die ander nie tevrede nie. Met hul ponies aan leibande staan hulle nader.

“Nee, vertel!” eis Tessa. “Wie is dit en vir wat kom hy hiernatoe?”

“Ek het ook maar eers gisteraand gehoor. My pa het al gesê een van sy Facebook-vriende kom kuier, maar ek het mos nou nie uitgevra nie. Toe hoor ek gister hy skryf boeke.” Hy bly ’n oomblik stil, voeg dan triomfantlik by, “Oor die Willeweste.”

“Maar dan is hy bloot ’n skrywer, nie ’n cowboy nie,” reken Dommie. “Jou pa skryf moordstories en hy is mos darem nie ’n moordenaar nie.”

Maar daarvan wil Roy niks hoor nie.

“Nee, om oor cowboys te kan skryf moet jy self een wees en hy is, en nou kom kyk hy of hier in die veld plekke is waar hulle western-flieks daarvan kan maak.”

“Dan is dit seker ‘velderns’,” veronderstel Anneke. Die ander lag, maar Roy vererg hom.

“Ja, toe, spot maar! Ek gaan baie leer by hom, julle sal sien.”

“Ja, ek sál nogal graag wil sien hoe rodeo jy op Rollie,” smaal Ruan, maar Tessa stamp aan hom dat hy moet stilbly.

“Sal dit nie gevaarlik wees nie?”

“Seker maar.” Die borsel word weer met mening oor Rollie se bont lyf getrek.

Terwyl sy Dapper vinnig wegtrek, merk Anneke op, “Daardie ponie het sowaar nog steeds sy winterhare!”

“Kom daarvan as mens nie ordentlik roskam nie.” Dommie vryf selfingenome Boontjies se glansende bruin huid waarop nie ’n enkele haartjie skeef lê nie.

Roy bly stil.

Anneke sit haar borsel op Dapper se breë wit rug neer en draai om.

“Nee, luister nou, julle, ek het al gelees oor die westerse manier van ry en dis heel interessant. Hoekom probeer ons dit nie almal nie? As die oom ons wil help, tenminste?”

“Hoe is dit anders as hoe ons ry?” vra Tessa. “Is dit nie maar net met ’n ander saal nie, soos Roy s’n?”

“Hùh!” klink dit minagtend van Roy se kant af waar hy nog steeds verwoed Rollie se hare laat waai.

“Nee,” sê Anneke, “dis heel anderster. Soos ek dit verstaan is dit by ons die ruiter wat leer om reg te sit en te ry en alles, terwyl in westerse rykuns dit juis die perd is wat geleer word om dinge te doen.”

“Hoekom?” vra Dommie.

“Omdat die cowboy op sy rug na die beeste moet kyk. As hy ’n bees aanjaag het hy nie tyd om ook nog te kyk dat hy die perd op die regte been laat hardloop nie.”

“Dis waar,” gee Dommie toe.

Roy se oë het gerek.

“Rêrig? Ek bedoel … ja, dis mos wat ek ook al die tyd sê, julle luister net nooit vir my nie.”

“Maar Rollie is nie so geleer nie,” sê Tessa. “Hoekom nie, terwyl jy in elk geval altyd kla oor Mildred en tannie Elsa se lesse?”

“Wil ek ook weet,” sê Dommie.

“Ek wou nog, noudat ek my cowboy-saal het,” skerm Roy.

“Ag, dis net ’n verskoning,” reken Ruan. “Ek sweer jy weet minder daarvan af as Anneke, sy het tenminste daaroor gelees!”

“Ek ook! Baie, hoor!” verdedig Roy homself, en speel dan sy troefkaart, “Maar hoe moet ek nou oefen as ek nie beeste het nie? Hè? Sê jy dit vir my?”

“Los nou, julle! Liewe land, julle kibbel soos twee klein kinders oor ’n speelding in ’n sandput!” sê Tessa. “Ek stem vir An se voorstel.”

“Wat was dit nou weer?” vra Dommie.

“Dat ons die oom vra om ons te wys hoe ry mens die westerse styl. Wat dink jy, Roy, sal hy?”

“Ek weet nie, ek ken hom mos nie. Onthou net ek gaan rodeo leer, ek gee nie om wat julle doen nie.”

“Ag man, rodeo is net bokspring,” sê Anneke. “Maar dit sal mos lekker wees om ’n slag van ander goete te leer as skouer-binnewaarts en saamgevatte draf.”

“Ek dog dis waarvoor die kamp is. Hoekom gaan julle as julle nie daarvan hou nie?”

“En moet ook nie dat Mildred jou hoor nie,” waarsku Dommie. “Sy sal sommer ophou met ons lesse en dan kan ons nie meer aan skoue deelneem nie.”

“Dalk gooi sy ons nog met ponies en al af van haar hoewe af,” voeg Tessa by. “En waarheen gaan ons dan? Onthou niemand wou ons hê nie.”

’n Tydjie terug is die stuk veld waar die dorp se perdeklub was, aan ontwikkelaars verkoop en moes almal wat hul perde daar aangehou het nuwe blyplek soek. Na ’n lang soektog, toe daar al sprake was van die ponies verkoop, het die vyf maats uiteindelik by Mildred Heywood, ’n beroemde ruiter, uitgekom wat ingestem het dat die ponies saam met haar eie twee perde by haar op die hoewe kan loop.

“Dis nie wat ek bedoel het nie,” krabbel Anneke terug. “Ek is dankbaar ons ponies mag hier bly en oor sy ons leer ry en alles, en skoue is heerlik, maar partykeer wil mens ’n slag iets anders ook doen.”

“Ek stem saam,” kom dit nou van Ruan, en hy gee sy geelperdjie ’n vriendelike klappie op die nek, “Kuifkop sal ook daarvan hou. Hy is goed met daardie rodeo se klawerblad-dromresies.”

“Nou ja, Sneeuvoet,” spreek Tessa haar witsokkiepoon aan, “dan piekel ek en jy maar saam. Sal jy hom vra, Roy?”

“Gaan julle dan nie kamp toe nie?”

“Natuurlik,” sê Anneke, “maar dis mos net vir die naweek. Hoe lank bly die oom?”

“Ek sal hom vra. As ek onthou.”

― HOOFSTUK 2 ―

Roy wag al die hele oggend en uiteindelik ry ’n onbekende motor stadig die oprit op.

“Hier’s hy, Pa!” roep hy na binne.

Die motor hou stil en die deur word wyd oopgestoot. Roy kyk gespanne na wat uitkom. Eers is dit net ’n paar blinkbruin slofskoene, toe volg kakiekleurige broekspype. Met láng bene daarin. Dit lyk asof daar geen einde aan kom nie, soos hulle stadig uitgesteek en reguit gemaak word totdat die voete op die sement van die oprit rus.

Dan verskyn ’n kop laag by die motordeur uit. ’n Gerimpelde gesig onder langerige bruin hare met grys strepe in die bakkebaarde. Skerp oë wat effens toegeknyp is.

Twee hande gryp die deur se raam vas en trek moeisaam die hele man te voorskyn, sodat hy regop staan en Roy kan sien dat hy ’n doodgewone groen gholfhemp aanhet, en ’n dun leergordel wat sy chinos om die maer lyf vashou. Nie ’n sagteleer-onderbaadjie met fraiings, of ’n rooi nekdoek nie.

Die man draai ’n oomblik om en buk om iets uit die motor te vat. ’n Laaste kans. Roy hou asem op, maar in plaas van ’n Stetson-hoed het hy ’n gewone bofbalpet in sy hand toe hy orent kom.

Teleurgesteld kyk Roy toe hoe sy pa hom hartlik verwelkom. Ook sy ma staan nader om te groet en André, Roy se ouer broer wat vir die langnaweek by die huis is, kom aangeslenter om die onbekende vriend uit Amerika te beskou. Roy trek homself terug in die skadu’s van die stoep, vies vir die bedrieër wat hom voorgedoen het as ’n cowboy. Hy kan netsowel ’n Laplander wees.

En toe hulle hom soek om met die kuiergas kennis te maak, is hy klaar op sy fiets weg, hoewe toe.

· · ·

Tessa het met duisend voorbehoude die hek se sleutel aan Roy toevertrou sodat hy darem kan inkom sonder om ’n geraas te hoef maak. Hy ry tot by die skuurtjie met die drie stalle en, nadat hy sy fiets teen die muur staangemaak het, kyk hy misnoegd rond. Daar lê nog mis van die vorige dag. Die vier ponies wat die kursus bywoon is vroegdag in die vragmotor gelaai en niemand het tyd gehad om ordentlik skoon te maak nie. Of was lus gewees.

“Dis nie reg nie, hulle kon darem eers hul eie perde se gemors opgetel het, nou moet ek dit stoksielalleen doen!”

Traag gaan haal hy die graaf en die kruiwa en maak die kamp se hek oop. Dit lyk maar leeg. Mildred se perde, Gillie en Breaker, staan eenkant onder ’n boom en Rollie dwaal alleen rond, verlore sonder sy maats. Die twee groot perde hou nie van hom nie en jaag hom met stampende voorvoete en dreigende tande weg sodra hy te naby kom. Op sy beurt trek Rollie ore plat en draai met swiepende stert sy agterkant op hulle om te wys hy is nie bang nie en gaan skop as iemand daarvoor vra.

Roy besluit om eers vir Rollie te roskam sodat hy sommer kan opsaal as hy klaar gewerk het, want dan sal hy te moeg wees om dit ook nog te doen. Hy voel sommer beter by die gedagte en gaan haal Rollie se halter in die tuighoek van die skuurtjie. In sy broeksak vind hy ’n beskuitjie wat hy die oggend daar gebêre het en nadat hy self ’n hap gevat het, hou hy die res vir Rollie. Dié kan mos maar ’n slag bederf word, al sê almal hy is klaar te vet. Wat gee hy om?

’n Vrolike deuntjie fluitend stap hy na Rollie toe waar dié hom in die middel van die kamp staan en betrag.

“Kom, Rollers, ons gaan netnou ry.”

Maar net toe hy die halter wil aansit, ruk die ponie sy kop op en hardloop vinnig op sy kort beentjies na die ander kant van die kamp toe.

“En nou?” Sulke gedrag is hy nie gewoond nie. Hy hou die halwe beskuitjie na Rollie uit en stap nader. Rollie wil egter niks weet nie. Weer gee hy pad en ’n ruk lank laat Roy hom begaan en verlustig hom in die manewales van sy ponie. Rollie bokspring ’n paar keer met al vier sy voete in die lug en Roy lag vrolik.

“Rodeo Rollie!”

Die ponie skop met sy agterbene hoog in die lug asof hy wil wys hoe wild hy is.

Dan besluit Roy dis nou genoeg.

“Toe kom nou, Rolman, staan stil.”

Hy steek sy hand uit om die ponie se maanhare vas te vat. Maar hy gryp lug, want Rollie is reeds op ’n heel ander plek en staan en kyk vir hom.

Roy begin hom vererg. Sulke ongeleerdheid kan mens mos nie duld nie! Dit lyk hoeka asof die twee groot perde onder die boom behae skep in die petalje, so belangstellend beskou hulle dit.

Die stukkie beskuit word teruggesit in Roy se sak, want nou gaan daar nie meer geflikflooi word nie. Vasberade nader hy die perdjie, maar Rollie skop agterop en die stof staan eintlik soos hy koersvat, reguit hek toe. Dié staan halfoop want Roy het mos nou nie so ’n teenstand verwag nie, en Rollie neem die kans waar. Hy glip deur en met die pad af, kloof toe, om sy maats te soek wat sweerlik in die ruigtes vir hom wegkruip.

“Rollie-ie-ie-ie!” skree Roy agterna.

Net betyds sien hy dat die twee groot perde heel plesierig aangedraf kom, en gooi die hek voor hul neuse toe.

“Bly hier!”

Hy voel hy kan slange vang. Eers die kamstige cowboy en nou dit! Dis genoeg om enige mens se bloed te laat kook.

Rollie het die bosse van die kloof bereik en is reeds besig om daarin te verdwyn. Roy stamp sy voete van pure woede en gooi die halter op die grond.

“Nou skoert dan, jou misgewas, en moenie dink jy gaan vanaand kos kry nie!”

Van die huis se kant af kom Tjello, die groot rottweiler, aangehardloop, gevolg deur Mildred.

“Is daar moeilikheid?” roep sy al van veraf, en toe sy by hom is sê sy, “Ons het jou hoor skree, wat het gebeur?”

“Rollie het weggehardloop, ek kon hom nie vang nie.”

“Is dit maar al? Jy kon dit verwag het, hy soek sy maats.” Mildred lyk half vererg omdat hy haar laat skrik het.

“Gillie-hulle is mos ook sy maats.”

Mildred skud haar kop.

“Nee, hulle twee het mekaar en beskou hom as ’n indringer. Trouens, groot perde hou gewoonlik nie van ponies nie.”

“Hoekom nie? Dis mos ook perde?”

“Ek weet nie, ek dink dis miskien omdat hulle geleer het dat klein ponies nie hoër kan skop as ’n groot perd se bene nie, en dis mos hul kosbaarste besitting. Ek het al gesien dat ’n Shetland-ponie ’n perd se been morsaf skop.”

“En toe?”

“Hulle moes die perd skiet.”

Roy gril.

“Dis rof! Nee, dan moet Rollie maar wegbly van hulle af. Sal ons hom nie liewer in ’n ander kamp sit nie?”

Mildred oorweeg dit.

“Ja, dalk is dit beter. Ons sit hom in die stalkampie, dan kan jy hom makliker vang ook.”

“Dis nou te sê as ek hom ooit weer in die hande kry.”

“Hy sal in elk geval netnou kom kos soek. Wat gaan jy hierdie dae maak, so op jou eie? Wil jy saam met my en tannie Elsa gaan uitry in die oggende?”

Roy oorweeg dit, maar skud dan sy kop. Hy dink nie dit gaan juis pret wees om saam met twee ou tannies te ry nie. Hulle sal vir seker nie wil resies jaag nie.

“Ek wou eintlik vir Rollie geleer rodeo het, maar nou is die oom nie ’n cowboy nie en dus help dit nie.”

“Watter oom? Van wie praat jy?”

“Die oom wat by my pa kuier. Ek wou jou nog gevra het of hy my hier mag kom lesse gee, maar dis ook nie meer nodig nie.” Roy se skouers hang van pure mismoedigheid.

“Nee, nou moet jy my die hele storie vertel, want ek verstaan glad nie. Toe, wat is dit van cowboys en rodeo’s?”

Haperend vertel Roy van sy pa se Facebook-vriend van wie hy sulke hoë verwagtings gekoester het en sluit af met, “Maar hy is glad nie ’n cowboy nie, hy lyk nie eers soos een nie!”

“Nou wat het jy dan gedink, dat hy met ’n saal oor sy skouer en twee rewolwers op die heupe hier sou aankom?”

“Nee, natuurlik nie, maar dárem … ”

“ … maar darem het hy dalk net gemaklik aangetrek vir die reis,” maak Mildred sy sin klaar.

Roy voel nou sommer beter. Natuurlik, hoekom het hy nie daaraan gedink nie?

“En wat maak dit nou eintlik saak of hy ’n cowboy is of nie?” wil Mildred weet.

“Ek wou gehad het hy moet my wys hoe om rodeo te ry, as die perde so bokspring.”

Maar daarmee is sy nie gediend nie.

“Nie op my hoewe nie. Ek dink dis wreed en ek sal nie toelaat dat julle soiets hier doen nie.”

“Dis glad nie wreed nie,” stry Roy. “In Amerika doen almal dit, dis tradisie.”

“Ons is nie in Amerika nie.” Daarmee is die saak vir Mildred afgehandel en Roy wil nog vra wat nou so danig wreed daaraan is want dis mos net ’n kompetisie om te kyk watter cowboy kan ’n wilde perd die vinnigste inbreek, maar besluit om liewer stil te bly. Niemand verstaan tog nie. Hy tel die halter op en begin aanstap na waar hy laas Rollie se stert sien verdwyn het.