GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/yroaib/0/

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Lang Henning en die Moordplaas

Iewers in die Groot Karoo, 1870.

Geen emosie wys op die gesig van die ruiter wat na die dooie man afkyk nie. Dit is die gesig van ’n nog jong man, maar een wat ver gekom het. Die slaprandhoed hul skrefiesoë in skaduwee, maar verberg nie die deurdringende ysblou blik nie. Sy skaapvelbaadjie is stowwerig en die ligbruin broek span styf oor bultende dy-spiere wat gewoond is aan lang ure in die saal. Voete in ’n paar verweerde velskoene steek gemaklik in die stiebeuels. Gewelddadige dood is nie vir hierdie man vreemd nie.

Asof teësinnig klim die ruiter van sy perd en tel die geweer op wat by die man lê. Met die teuels oor sy arm stryk hy aan na die opstal onder die groen kareebome, kwalik meer as ’n uitgebreide riethut met misbepleisterde mure en ’n grasdak. Voor die huis lê ’n vrou, haar arms in ’n laaste pleitgebaar bo haar kop gestrek. Langs haar twee kinderlykies, seuntjies met donker krulkoppies gedrenk in taai bloed.

Die perd snork en die man lei hom na die agterdeur waar hy hom vasmaak aan ’n boomstomp. Dan buk hy sy ses voet ses-liggaam by die deur in. Hy knip sy oë om aan die skielike skemerte gewoond te raak, onbewus van die paar bang ogies wat hom vanuit die meelkis deur ’n skrefie in die planke dophou.

Toe die eerste skote klap, het die kind hom in die amper-leë kis versteek soos hy geleer is om te doen. Hy het sy ore toegedruk om nie die angskrete te hoor nie, maar die geluide was te hard, hy kon hulle nie uitsluit nie. Hy weet hulle is almal dood. Sal die rowers hom nou ook hier uithaal en doodmaak?

Dis een van hulle wat nou deur die kamer loop, hier en daar vat en uiteindelik die groot familiebybel oopslaan. Die kind kyk bewegingloos toe, eien met ’n skok sy pa se geweer in die indringer se hande. Grif die gelaatstrekke van sy mense se moordenaar in sy geheue –