GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/ynqlxx-gemaskerde-moordenaars-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Gemaskerde Moordenaars

— Hoofstuk 1 —

Die Luiperd Storm

Leon klouter oor die rotsblok. Die spiere op sy bo-arm bult uit. Hy is bruin verbrand en sy verslete hoed is amper tot oor sy oë getrek. Sy ore staan bak onder die veldhoed uit. Hy gee ’n enkele steun wat bo die gedreun van die waterval, geen tien treë agter hom, gehoor kan word.

Hy is bo-op die steil rotswand, bring sy vuil hande na sy voorkop en kyk stip na die waterval, daar waar dit skuimspattend teen die rotse glad van die paddaslym aanbulder. Dit is daar êrens waar die bosduif ingeval het. Hy het hom sien aftuimel dat die vere so waai.

Mag, maar hierdie slingervel is darem ’n bulding, dink die seun, en beskou die wapen aandagtig. Onder sy opgerolde kakiebroek steek twee stewige, frisgeboude bene uit. Die spiere staan daarop uit. As ’n mens die postuur daar op die hoë rotsblok gadeslaan, sou jy nooit sê dat hy maar pas agtien jaar geword het nie.

Sy blou oë wei nog daar by die groen rotse onderkant die water. Buig of bars, maar daardie duif moet hy in die hande kry, dan kan hy nog ’n kerf op sy mikstok maak. Hy buk en rol eers gou sy kakiebroek af. Dit hang nou byna oor sy knieë. Hy sal gou speel. ’n Oomblik gaan sy blik onrustig na die westelike horison. Die son sak vinnig en Pa sal nou-nou na hom roep.

Leon begin van rots tot rots na die waterval aansukkel. Plek-plek moet hy ’n gevaarlike sprong van die een rots na die ander doen, maar hy vorder al vinniger. Fyn waterdruppels spat teen hom en stuif soos klam mis oor sy gesig. ’n Entjie van hom af op ’n plat klip, baie naby die neerstortende water, sien hy die blou, uitgevrete bosduif. Sy hart juig. Dit was darem vir jou ’n raakskoot, en hy het ver gestaan; die klip het boonop nog wind geskep.

Hy gaan weer stil staan, asof hy die lafenis van die fyn druppels wat teen hom spat, wil geniet. Dit was vandag warm, soos die Bosveld hier in die noordelike Transvaal maar alleen kan wees. Sy blou oë kyk in verwondering na die vallende, bulderende watermassa. Dit val maklik twaalf voet hoog, in ’n breë stroom. Onwillekeurig wens Leon dat sy vader hier baie lank gaan vertoef, dat hulle vir altyd hier sal bly. Hulle kan sommer ’n huis hier naby bou.

Leon raap hom op vir die finale sprong. Anderkant moet hy stewig vastrap, want die groenerige slyk aan ’n gedeelte van die rots kan hom in die malende dieptes van die water onderkant laat afstort. Hy trek sy rug krom en staan ’n endjie agteruit.

Soos ’n beesvel trek hy deur die lug en kom handeviervoet te lande op die rotsplaat waarop die bosduif lê. Skaars het hy grondgevat of hy ruk hom orent. Hy kon sweer dat hy ’n sagte gegrom, soos van die een of ander roofdier, gehoor het, maar die water hier vlakby hom raas oorverdowend. Stadig kom hy orent met die dooie bosduif in sy hand. Hy kyk daarna. Dit is ’n borsskoot.

’n Muwwe reuk prikkel sy neusgate. Voor hom staan skerppuntige groen rotse. Tussenin bruis die helder water. Avontuurlus en nuuskierigheid dwing hom om oor daardie gevaarlike rotse te probeer seil. Hy sal maar op sy sitvlak naderwerk. Hy gaan sit en skuif by die waterval verby. Net ’n entjie, en verbaas trek hy sy asem in. Vlermuise fladder verskrik by hom en langs die waterval verby die daglig in. Nou kry hy daardie mufreuk weer besonder skerp. Reg agter die waterval gaap die opening van ’n donker grot. Net ’n sprong van sowat vier treë en hy is op ’n rotslys vlak voor die bek van die grot. Leon se verbeelding begin werk. Oral aan die rotswande van die grot is die skilderye van Boesmans, ten minste, so meen hy.

Opeens word hy bang. Sê nou maar hier is Boesmans. Hier in die onherbergsaamheid moes nog allerhande goeters wees. Sy vader het hom vertel van die dae van die Kolonie toe die Geel Duiwels verskrikking gesaai het. En hier is die noordelike dele van Transvaal waar die leeus en luiperds volop is. ’n Mens weet nooit.

Die plase hier is ver uit mekaar, sommer dertig, veertig myl, en dit is ’n ideale skuilplek vir die Geles. Sy hart bons vinniger. Skielik is daar ’n beweging in die mond van die grot – ’n gelerige gedaante. Soos blits het Leon sy rekker met ’n klip gelaai, maar die volgende oomblik laat hy dit weer sak en kry groot lag vir homself. Pa het altyd gesê as ’n mens hom iets verbeel, sien hy partykeer dinge wat glad nie daar is nie, maar nou is daar tog ’n geel gedaantetjie in die grotopening – ’n dassie.

So ’n vervlakste, astrante dassie, so ’n swerkater! En die slingervel word geswaai en gelos. Swaar plof die klip teen die dassie se pens. Die diertjie struikel eers, maar swaai dan met ’n piepgeluid om, en verdwyn in die donker van die grot.

Leon word al hoe waaghalsiger. As daar Boesmans in die gat is, sal hulle hom seker al teen hierdie tyd gehoor het, want hulle het glo fyn ore. Leon meet die afstand wat hy moet spring. As ’n mens nie ’n vastrapplek het nie, is dit ’n onbegonne taak. Hy sal dit nie haal nie.

Met ’n glimlag op sy gesig jaag hy met die slingervel ’n klip die bek van die grot in. As daar iets binne is, sal hy dit miskien uitjaag; dalk bosduiwe wat daar nesmaak, wil jy glo, en dan kan hy later die kleintjies kom uithaal en vir hom grootmaak. Leon se hart bons ekstra vinnig. Hy steek sy hand weer diep in sy sak en haal ’n hele paar mooi, ronde spoelklippers uit. Hy byt op sy onderlip en sit een in sy wapen. Hy swaai dit weer hoog bo sy kop. Die volgende oomblik raas fladderende bosduifvlerke hier by hom verby, gevolg deur piepende vlermuise. Leon juig byna.

Vinnig skiet hy nog ’n paar klippe na binne, en ja, sommer ’n blou swerm klap hulle vlerke hier bokant sy kop verby in ’n ylende vlug om buite te kom. Hy staar hulle agterna. Hulle draai oor die hoë kranse en kameeldoringbome langs die rivieroewer en sak dan grasieus neer op die rotsstukke in die rivier.

Nou kan Leon nie meer wag om nader ondersoek in te stel nie. Die skemerte sak haastig toe. Hy kan maar aan sy vader vertel dat hy daardie swart bulkalf gesoek het. Vader sal hom glo. Die seun aarsel nie. Hy mik weer om oor die vier voet skeiding te kom, maar besef andermaal dat dit onmoontlik is. Skielik vang sy oog die lang boomwortel wat hier skuins bokant hom hang. Hy sal in ieder geval hoog en ver moet spring voordat hy dit in die hande sal kry. As hy die wortel net kan beetkry, sal hy daarmee oorswaai na die anderkant toe. Hy loer met kloppende hart na benede. Hy sal hard val as hy misvat, miskien ’n been, ’n kop of ’n arm breek, maar dit kan nou nie hoër of laer nie.

Sonder om verder te aarsel en te oorweeg of die boomwortel sy gewig sal hou, krom hy sy rug, staan ’n pas agteruit, en dan, met ’n kreun van inspanning spring hy. Met albei sy hande gryp hy die boomwortel vas. Sy harslag ruk op, want die volgende oomblik is dit of die boomwortel onder sy gewig breek, maar dit sak net so ’n voet of wat, en daar hang Leon tussen hemel en aarde. Sy bene gaan soos stukke lewendige masjinerie te kere. Hy begin heen en weer oor die kolkende water swaai, al hoër en vinniger, en dan los hy skielik. Soos ’n vrot vel kom hy vlak voor die grotopening op ’n rotslys te lande.

Hy staan ’n oomblik stil en vee die sweet van sy voorkop en swart hare af. Sy vuil tone klou soos die van ’n arend op die skurwe rotsstuk. Nou dat hy voor die grotopening is, huiwer hy om binne te gaan. Hy haal weer die slingervel wat hy om sy skouer gehang het af, en stop ’n klip daarin. Hy slinger sy koeël die donker diepte binne, en wanneer dit ver agter plof, volg ’n onderdrukte gegrom. Leon skrik so geweldig dat hy byna van die rotslys afval. Die gebulder van die waterval klink hier gedempter. Die seun staan in ’n luisterende houding. Hy mik onwillekeurig weer na die boomwortel.

Maar plotseling slaan die stof geen tien treë voor hom op. ’n Tamaai luiperd steek in die bek van die grot vas. Die roofdier trek haar kop grommend en woedend terug, en staan dan haastig tru. Sy het geen tweebeenwesens hier verwag nie, maar dis of die dier besef dat sy vasgekeer is. Sy moet na buite. Binne-toe is geen uitkomkans nie.

Nog verlam van die skrik, staar Leon met groot oë na die roofdier asof hy daar op sy staanplek vasgesuig word. Vandag word hy gewis opgevreet. Skielik storm die luiperd met lang hale. Leon uit een enkele angsvolle kreet en vlieg dan soos ’n voël deur die lug. Sy hande omklem die boomwortel. Sy vaart laat die wortel hoog na die anderkant opswaai en dieselfde oomblik spring die gespikkelde gedaante hier onder hom deur.

Die luiperd het dit nie verwag nie, en Leon ook nie. Toe die roofdier anderkant grondvat, gly haar voorpote en stort sy die malende water in. Asof Leon heeltemal vergeet dat hy tussen hemel en aarde hang, staar hy na die spartelende luiperd. Die dier hap na die skuimende waterval asof dit die oorsaak van haar moeilikheid is. Telkens verdwyn die gespikkelde kop met die oop bek onder die water, om dan weer laer af bo die oppervlakte te verskyn. Dit is ’n stryd om lewe en dood. Die dier kap haar voorpote met lang ontblote naels teen ’n rotsstuk aan die kant, maar stort weer wanhopig terug.

Die dier swem van wal tot wal. Leon se mond hang oop. Dit kon ewe goed hy gewees het. Sy arms word lam van die vashou en skielik val dit hom by dat hy êrens in die lugruim verkeer. Hy skop weer met sy voete en draai sy liggaam, maar die hele tyd hou hy die ongelukkige dier dop.

Meteens wens Leon dat hy haar kan help. Met die gedagte swaai hy eenkeer hoog en kom weer netjies hande-viervoet te lande op die rotslys waar die dooie bosduif lê. Hy kyk vinnig rond, met net een gedagte in sy kop: hy moet die luiperd help. Dit is sy skuld, en as sy versuip, wat word dan van haar kleintjies? Daar is seker kleintjies in die grot.

Hy sien ’n endjie van hom af ’n stuk boomtak wat seker met oorstromings teen die rotse gespoel is. Hy kyk na die tier. Sy spartel nog steeds en haar kop verdwyn nog telkens onder die water. Leon spring van klip tot klip totdat hy die boomtak bereik. Hy sukkel om dit uit die klipskeur los te woel, maar slaag eindelik daarin. Hy spring weer van rots tot rots totdat hy vlak by die gat is waarin die luiperd rondspartel. Die dier sal dit nie meer lank uithou nie. Toe hy by die wal is, grom die tier en wys haar tande, maar dit is ’n swak poging.

‘Toe maar, ou bees!’ paai die seun dom-astrant. ‘Ek gaan jou nie seermaak nie. Ek gaan jou help.’

Aan die onderent van die skuimende waterkolk waarin die tier spartel, vloei die water deur ’n nouerige klipskeur. Met al sy krag druk Leon die dikste end van die tak in die klipskeur. Hy raap ’n groterige klip op en slaan die tak stewig vas. Dit moet ’n sterk man wees wat die tak nou kan uitruk. Die kleiner takke sprei taamlik breed oor die water uit.

So, nou sal die roofdier darem vastrapplek hê, meen Leon, en die knapie spring weer by met die slingervel. Die klippe spat dan hierdie kant dan daardie kant van die luiperd. Leon dryf haar nou soos ’n onnosele bok na die tak toe. Digby die tak kom die luiperd blykbaar agter dat dit haar enigste uitkomkans is. In haar laaste kragsinspanning swem sy met lang hale tot by die tak. Leon wikkel nou vinnig om uit die bereik te kom van die dier wat met grawende naels teen die tak uitbeur. Op ’n hoë rotsblok, twintig treë van die luiperd af, hou Leon die toneel stip dop, duif en rekker in die hand en met sy hoed stywer oor sy kop getrek.

‘Hoerê! sy is uit,’ roep die seun toe die dier eindelik op vaste grond is.

Die luiperd swaai haar kop na die skreeuende seun en gaan moedeloos op ’n rotsplaat lê, te moeg om die bosse in te vlug. Sy lê uitgestrek soos ’n dooie. Na ’n rukkie lig sy weer haar sierlike kop omhoog en staar Leon aan asof sy wil sê, ‘Toe, loop nou, man! Jou teenwoordig-heid hinder my! Jy is net soos ’n lastige vlieg.’

‘Sy word sweerlik nog mak! Ek hoop nie sy gaan dood nie,’ prewel Leon en dan skiet ’n gedagte hom te binne.

A, die kleintjies in die grot! As sy vader nou hier bly, kan hy die grot dophou, totdat die kleintjies buite begin baljaar en dan kan hy mos skelm een vang. Sy hart swel.

Maar nou doem daar ’n ander probleem op. Hoe gaan hy anderkant kom? Dit lyk nie of die luiperd van plan is om spore te maak nie, en die dier lê tussen hom en die uitspanplek. Vanaand fluit die osriem as hy nie gou maak nie. Maar hoe? Hy moet na die anderkantse wal gaan, en al langs die rivier afstap. Ondertoe kan hy op die klippe oor die stroom spring. Dis die enigste uitweg. Hy staan op.

Met ’n dun riempie, een van sy velskoene se veters, bind hy die pootjies van die dooie bosduif aan sy gordel vas. Die slingervel word in die linkerhand gehou.

Hy is eindelik op die oorkantse wal van die rivier. Digby die rivier is ’n nou beespaadjie. Leon skrik. Beespaadjies? Ja, daar lê die spore van die beeste en die mis. Snaaks, hy het gedurende die dag nooit beeste hier sien wei nie, en hulle s’n kan dit nie wees nie, want hulle vee kom nie aan hierdie kant van die rivier nie.

Leon frons, maar stap verder. Telkens verwag hy iets gaan gebeur; miskien weer ’n luiperd, kom die gedagte toe hy onder ’n groot rotsstuk deurloop.

Plotseling swiep iets deur die lug soos ’n bosduif wat verskrik met klappende vlerke vlug. ’n Tou vlieg hom tegemoet en nog voor hy kan keer, val dit om sy lyf en arms, en word hy hard teen die grond neergeruk.