GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/xtvcnw-wyn-met-bloed-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Wyn met Bloed

— Hoofstuk 1 —

Twee By ’n Graf

’n Wit lig begin aan die horison verskyn. Die môrester hang blink-vonkelend laag in die hemelruim. ’n Sekelmaantjie het so pas skuins agter die Korannaberge ingeduik. Aan die voet van die rante, sowat drie myl van Kuruman af, kom twee perderuiters op ’n trippelgang teen die skuinste opgery.

‘Hoe voel die wond, Mira?’

‘Ek voel dit meer skaars. Daar is nog net ’n effense duiseligheid in my kop, maar dit is omdat ek so lank in die bed was. Tien dae is net te veel vir iemand soos ek wat nog nooit ’n siekbed gehad het nie. En jy, Ren?’

Die man aangespreek as Ren hou sy bruin perd by die skaduwee van ’n groot rots in, draai dan om en kyk die meisie langs hom stip in die oë. Daar lê ’n skaduwee oor haar gesig.

‘Ek voel perdfris. Dit voel vir my asof ek nooit in die bed was nie. Om die waarheid te sê, Mira, ek voel lus vir aksie.’

Mira Maree wat fier op die rug van haar perd sit, skud haar kop effens.

‘Is daar dan geen einde aan jou nie, Ren? Waarom laat vaar jy nie alles nie. Ek weet dat die gereg in Kuruman agter jou bloed is, maar Kuruman is nie die enigste plek waar mense lewe nie. Ons kan albei die hasepad kies, ek en jy. Daar is baie plekke om heen te gaan. Ons kan na die Republieke toe ontvlug.’

Ren Cillié trek sy asem diep in en stryk dan met sy regterhand oor sy blonde hare. Hy kyk stip in die verte, in die rigting waar doringbome plaat aan plaat soos donker skaduwees teen die horison opdoem; dan kyk hy na die groot môrester wat so helder flikker asof dit sommer daar regoor die spitskop van die Gamohaan sit.

‘Nee, Mira, jy het vergeet dat Casper Duvenage nog op vrye voet is, jy vergeet dat hy die moordenaar van jou suster is. Ek het gesweer dat ek nie sal rus voordat ek hom aan die vrederegter uitgelewer het nie, of voordat ek hom eiehandig doodgemaak het. Jy weet dat daar geen ander uitkoms is nie. Casper Duvenage is die moordenaar van my Leonora en hy het my en die gereg ontvlug. Ek vermoed dat hy Niemandsland in is. Hy moet hom nou waarskynlik daar in die voue van die Korannaberge skuilhou. Jy weet ek kan nie nou uit Kuruman vlug nie. Deur te vlug bewys ek nog lank nie my onskuld nie. Ek moet die mense van Kuruman onomwonde die waarheid bewys sodat hulle sal glo dat dit nie ek is wat Leonora vermoor het nie, maar Casper Duvenage, daardie opperste veedief en swendelaar. Nee, Mira, ek sal my plig skromelik verwaarloos as ek nie die woestyn in agter die man gaan nie.’

Die meisie stuur haar perd tot teenaan Ren s’n. Ren voel haar onreëlmatige asemhaling op sy wange en in sy nek. Haar gesig is nou vlak hier by syne; hy kan die vonkeling in haar oë sien, haar diep-bruin fluweelagtige oë; die glans van die sterre is in haar swart hare wat los oor haar skouers hang; die oorkrabbetjies skitter-blink ook onder die gitswart hare uit.

‘Maar, Ren, jy gaan my nie hier alleen laat agterbly nie. As jy die woestyn intrek, moet jy my saamneem. Ek moet saam met jou gaan, Ren, want dit was my suster wat hy vermoor het. En jou wraak is nou my wraak, reeds van daardie aand af tien jaar gelede – ’

Vir ’n oomblik kom die drang in Ren op om vorentoe te leun en die klammerige lippe van die meisie hier voor hom met syne aan te raak. Maar hy bedwing hom egter. Daar is ’n bekommerde trek op sy gesig. Hy weet dat Mira teen elke prys saam met hom die woestyn wil ingaan. Hy kan haar ook nie alleen by ou eerwaarde Moody laat nie. Ren weet goed dat daar nog van Casper Duvenage se trawante in Kuruman oorgebly het en hierdie mense sal aanhou soek om Mira in die hande te kry. Haar lewe is in net so ’n groot gevaar as syne.

Hulle skuil nou al tien dae by die ou sendeling, Moody, daar onder by die Witloop. Elke dag het hulle verwag dat die polisie van Kuruman hulle daar sal uitsnuffel. Hulle het geweet dat die kring nouer om hulle getrek word en dat die vrederegter en sy manne naarstiglik soek na hom, wat nog as die moordenaar van Leonora bestempel word, en na Mira Maree. Die getroue bekeerlinge van die sendeling het daagliks die nuus van Kuruman gebring. So het hulle gehoor dat daar ’n petisie by die vrederegter ingelewer is waarin die inwoners van Kuruman vra dat daar daadwerklik opgetree moet word om die ontsnapte tronkvoël en moordenaar op te spoor. Die laaste boodskap was dat ’n paar manne, waarskynlik onder aanvoering van Casper Duvenage se oorblywende maats, besig is om hulle kragte te monster en self na Ren te gaan soek.

Ja, die wêreld word vir Ren te nou in Kuruman. Hoe hy ooit sy onskuld gaan bewys, is moeilik te bedink. Miskien sal hy dit nooit eens regkry nie, tensy hy daarin slaag om Casper Duvenage te dwing om ’n skriftelike belydenis te doen dat hy die eintlike moordenaar is.

Ver uit die rigting van Kuruman kom die gekraai van hoenders en telkens weerklink die hees gebulk van beeste wat in die klowe wei teen die Rooiberge.

‘Mira, laat ons ry. Netnoumaar vang die son ons en dan word ons dalk gesien. Voordat ek die woestyn ingaan, wil ek die katjiepiering by Leonora se graf plant. Dan gaan ek na Duvenage soek en ek sal nie terugkom voordat ek my gewreek het nie, of voordat ek hom gedwing het om getuienis af te lê nie.’

Mira sit haar hand op dié van Ren wat die teuels stewig vashou. Sy vryf sy hand op en neer en kyk hom diep in die oë, dan skielik, sonder ’n woord, leun sy vinnig vooroor, en druk haar warm lippe op syne.

Ren los die teuels en stadig gly sy arm om haar middel. Hy trek haar effens nader na hom toe. Die volgende oomblik soen hy haar lank en innig, maar stoot haar na ’n rukkie sag weg.

‘Laat ons ry Mira. Dit is nie meer lank voor die son sal uitkom nie. Niemand sal egter darem verwag dat ons twee so vroeg in die oggend so naby Kuruman sal wees nie.’

Ren Cillié gee sy perd, Libanon, vinnig spore en die kluite en die klippe knars onder die hoewe van die perd soos hy teen die opdraand uitbeur. Mira volg op haar skimmelperd. Sy sit dwars in die saal, die grys ryrok wat sy aan het, smelt feitlik saam met die dowwe skimmelkleur van die perd. Teen die oostelike horison sien sy die spits van die Gamohaan. Woordeloos ry die twee verder – Ren nog steeds voor. Hy het die teuels los om die perd se nek gegooi en die dier soek sy eie pad tussen klippe, bosse en struikgewasse deur.

Mira is baie bedruk vanoggend. Die gebeurtenisse van die afgelope paar dae flits aanhoudend deur haar brein. Tien dae lank verkeer sy nou-al in hierdie verskriklike onsekerheid, onsekerheid oor wat die toekoms vir haar en Ren sal inhou. Tien dae gelede het daar vir haar nie so ’n mens soos Ren Cillié bestaan nie. Baie jare gelede ja, het sy hom geken, maar toe was sy ’n kind van agt jaar oud en Ren was toe ’n forsgeboude, onverskrokke jongkêrel van agttien. Watter verskriklike dinge lê daar nie tussen toe en nou nie? As ’n klein dogtertjie van agt jaar oud het sy gesien hoe hulle vir Ren in boeie slaan en wegneem tronk toe. As sy nou daaroor nadink, lyk alles soos ’n verskriklike vreesdroom. In die jare toe Ren Cillié op die eilandtronk was, het sy geworstel om ontslae te raak van die herinnering aan die gruwelike moord. Sy het daarin geslaag, en daarmee saam het Ren se beeld ook vir haar vaer en vaer geword.

Maar nou, na tien jaar, het Ren Cillié op die een of ander onverklaarbare wyse daarin geslaag om van die eilandtronk te ontsnap en na Kuruman toe te kom om wraak te neem op Casper Duvenage, die moordenaar van Leonora. Leonora was ’n beeldskone meisie van sewentien jaar oud. Mira kan haar nog goed onthou. Selfs die dood kon die beeld van haar suster nie uit haar gedagtes wis nie.

In die stilte van die oggend klink die geklap van die perde-hoewe ritmies op. Dit is soos begeleidende musiek vir haar gedagtes.

Tien dae gelede het sy na soveel jare wéér vir Ren Cillié van aangesig tot aangesig ontmoet – by die graf van haar suster. Sy het hom by die lig van die sterre herken. Toe was dit vir haar of daar nie soveel jare tussen hulle lê nie, asof die lewe skielik daardie aand tien dae gelede weer begin het waar dit tien jaar gelede opgehou het.

Ren Cillié het toe byna daarin geslaag om vir Casper Duvenage, sy geswore vyand en die enigste wat nog oorgebly het, af te maai. Maar die noodlot het dit anders beskik. Alles het daardie aand in die guns van Casper Duvenage gewerk. Gode sy dank het hy nie daarin geslaag om Ren of Mira dood te skiet nie. Hulle is albei gewond, en Casper Duvenage het soos ’n groot speld verdwyn. Die waarskynlikste is egter dat hy ook ’n koeël weg het.

Na die voorval by die graf het die sendeling, Moody, Mira en Ren in sy sorg geneem. As dit nie vir hom was nie, sou Ren al lankal weer ’n gevangene gewees het, want sover dit Kuruman aangaan is Ren Cillié nog die skuldige.

Mira voel die koel oggendbries teen haar wange. Sy voel hoe dit met haar hare speel. Sy hoor hoe dit deur die raasblare ritsel. Voor haar is Ren nog ’n swygsame skim op die rug van sy perd. Die diere sukkel nou teen die ongelyke steilte uit. Telkens lyk dit asof een van die perde tussen die rotse gaan struikel, maar albei diere is gelukkig hierdie rotswêreld van berge, slote en sand gewoond.

Die klein vlieswolkies wat laag teen die horison hang, begin vinnig kleur. Nog hoogstens ’n uur, dan sal die son uitkom. Kuruman sal dan duidelik in die verte lê en op die stowwerige paaie sal mense kom en gaan, soos dit gister was en soos dit al die dae van die toekoms sal wees – mense wat na Kuruman toe gaan, dan weer van Kuruman af in die rigting van die woestyn, miskien om nooit weer terug te kom nie.

Mira besef dat sy en Ren baie gou sal moet klaarspeel by die graf. Hulle sal dit nooit kan waag om na sonop hier teen die helling van die Gamohaan te beweeg nie.

Sag fluister Mira, en haar stem word byna verswelg deur die ligte asemstote van die wind wat opsteek uit die noorde.

‘Ren, jy moet stadiger. My perd kan nie byhou nie.’

‘Toemaar, ons kan nie meer ver wees nie, Mira. Dit word al ligter. Daar sien ek al die plaat kameeldoringbome net agter die graf.’

Eindelik bring Ren sy perd onder ’n groot kameeldoringboom tot stilstand. Hy lyk ’n toonbeeld van gesondheid en krag. ’n Mens sou nie sê dat Ren tien dae lank in die bed was om van sy wond te herstel nie. In die grou lig van die oggend is Ren se blonde hare duidelik sigbaar. Mira sien hoe hy aanhoudend met sy hand daardeur stryk.

Ren staan ’n rukkie stil asof hy elke geluid wil indrink en wil vasstel of alles veilig en pluis is. Sonder dat Ren haar beveel, gly Mira stadig van die saal af en kom vlak agter hom te staan.

Die skerp geur van seringbloeisels is prikkelend in hul neus. Daar is ook die malse reuk van die geel blommetjies van die soetdoringbome wat al langs die bergstroom groei.

Ren draai om en uit die saalsak haal hy ’n plantjie, in bruinpapier toegedraai, te voorskyn. Hy hou dit ’n oomblik in sy hande en onwillekeurig gaan sy gedagtes terug na Helena Greyling. Hy verlang om haar weer te sien. Hy onthou haar nog soos hy haar die eerste nag hier tussen die klowe ontmoet het. Dit was ’n oggend soos hierdie toe sy in die kloof op hom afgekom het. Helena en haar vader was vir hom baie goed. Het hulle nie alles in hulle vermoë gedoen om hom uit die hande van die gereg te hou nie? Is dit nie deur hulle lojaliteit dat dit vir hom moontlik was om tien dae lank by Moody te skuil nie?

Nou is sy wonde gesond, hy voel beter as voorheen. Ren voel dit is sy plig om Helena en haar vader op hul plaas te gaan opsoek voordat hy die woestyn ingaan om na Casper Duvenage te soek.

Ja-nee, sodra hy hierdie katjiepiering wat Helena hom gegee het op Leonora se graf geplant het, sal hy na oom Hein se plaas gaan om Helena te bedank en haar te groet.

‘Kom, Mira!’ sê Ren saggies en neem die meisie aan haar hand. Tree vir tree stap hulle na die klipstapel wat nou duideliker tussen die Meibome met hulle wit blomme te bespeur is.

Ren los Mira se hand as hulle vlak by die graf kom. Hy buk vinnig neer en betas die los grond met sy hande. So twee-drie dae gelede het deurdringende ontydige reëns hier op die berge geval. Die grond is sag en koel in Ren se hande. Met behulp van ’n blikplaatjie grawe hy ’n holte in die grond sowat ’n voet van die graf af en plant die katjiepiering versigtig.

In die jare wat kom, sal hierdie plantjie groot word, en dit sal blomme dra, geurige blomme wat hul reuk hier oor Leonora se graf sal sprei. Dit sal blanke katjiepieringblomme wees, so blank en onskuldig soos die lewe van die meisie wat hier diep onder die ruwe klipstapel begrawe lê.

Dit is asof Mira Ren se gedagtes lees. Sag kom haar woorde, ‘Ek was nog baie klein, Ren, maar ek kan my voorstel dat Leonora se lewe so geurig soos ’n katjiepiering was.’

Maar Ren hoor die meisie nie. Hy het hom omgedraai en staan nou bewegingloos en kyk in die rigting van die woestynvlaktes wat ver na die weste uitstrek. Daar ver aan die uiteinde van die vlakte in die weste is die yl-blou rûens van die Korannaberge te sien.

Tussen daardie berge skuil Casper Duvenage.

En dit is tussen daardie berge dat Ren Cillié sy rus sal vind – sodra sy wraak gekoel is.