GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/xhtbfs-ridders-van-die-vyfde-dimensie-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Ridders van die Vyfde Dimensie

― Hoofstuk 1 ―

‘Ma, weet júlle wie woon nou in die spookhuis? Julle moes seker gehoor het daar het nou mense ingetrek?’

‘En hoe weet jy nogal daarvan?’

‘Daar het vanmiddag ’n bakkie met ’n sleepwa gestaan, die huis se deure was oop en ’n man het goed afgelaai en ingedra.’

‘Arno! Hoeveel keer is jy al belet en gestraf om weg te bly van daardie huis af? Bly nou finaal weg! ’n Mens weet nooit wie daar plak of iets nie. Ek sal by dorpbestuur uitvind wat nou weer aangaan, dalk kan hulle die plakkers wegja, maar jy, mannetjie, BLY DAAR WEG! Belowe?’

Ai Ma, watter seun met avontuur in sy are sal nou daarna luister? En ek het nie ‘belowe’ gesê nie, net ‘bliblo’ gemompel. Dit tel nie. Dus hier staan ek nou ’n kilometer buite die dorp agter ’n bloekomboom en loer. Dis mý spookhuis, met die skewe balkon en die luike wat lank gelede seker groen geverf was. Van die ruite het kwaaddoeners stukkend gegooi. Dit moes lank gelede ’n trotse plaasopstal of iets gewees het, want dis groot, met vloere en plafonne van hout, en plakpapier teen die mure, en kaggels van gietyster en marmer. ’n Wonder slopers het dit nog nie uitgebreek en weggedra nie. Seker omdat die huis spook, kwaai spook, en daardie toe luike se kwaai oë hulle waarsku: Bly weg!

Maar ek het vriende gemaak met die spoke. Ma sê ek is met die helm gebore. Pa sê ek is self ’n wandelende gees, maar van laasjaar af is ek darem nie meer so maer nie. Ek is nou glad tweede grootste in my klas. Dis ek wat die luike styf toe-gegrendel en die oë daarop geverf het. En die skedel op die voordeur. Hè-hè. Sodat Buitenpost buite die dorp en eenkant kan bly.

Die agterdeur het altyd vasgesteek. Ek kan dit net só ver oopstoot dat ek sywaarts kan deurskuur. Binne twee treë pak die huis se onheil op jou bors. In die donker hoeke roer iets asof dit wil lyfkry. Voel soos die slik van ou vrees wat rondgehang en toe daar aangepak het om aan die eerste die beste besoeker af te smeer. Ek loer altyd versigtig op na die plafon. Netnou val daar groen slymerige drade af wat my gaan gryp en vasdraai. Versmoor in slym, jiggg. Die vloere kraak, die mure kreun. Ek dink dis kreun, maar dit kan ook fluister wees. My oogballe voel koud en styf wanneer ek daar binne is, want ek knip nie ’n oog nie. Die eerste vertrek agter in die huis is die kombuis met ’n kapblok waarop ’n mens seker ’n os se karkas uitmekaar sou kon maak. Groot swaar houtbalke met vleishake. Dit, word vertel, is waar die polisie die man wat aan sy hakskeensening opgehang was, gekry het. In die middel van die gang loop die houtgesnede trap na bo. Die relings is arms wat wink: ek daag jou, kom op, kom boontoe as jy die moed het. Ek sweer die eerste keer toe ek daar opgesluip het, kon jy my hartklop deur die hele huis hoor. Kedoem-doem, kedoem-doem. Kedoem, kedoem, doem, doem, doem.

In die hoofslaapkamer bo, op die bed, was die kop en hande van die liggaam in die kombuis, vertel hulle. Grillerig, grusaam. Verbeel jou net die bloed, of liewer verbeel jou nie die bloed nie, want dis nie weg nie. Dit het in die vloerplanke getrek en lê daar in vlekke en spore soos bruin bewyse van die bloedbad. Hoe kan so ’n huis nie spook nie – en hoe lekker is dit nie om yskoud bang te raak nie en weg te hardloop asof die afkopman jou jaag, om fluit-fluit huis toe te stap sonder omkyk sodra jy ver genoeg van die spookhuis af weg is.

Dis niks. Spinnekoppe en slange is wat my regtig, egtig bangmaak. Vlermuise moet verban word uit die diereryk.

‘En jy is nou seker die dorp se spioen,’ sê ’n grafstem skielik net hier reg agter my.

Helsem allagorie, amper vloek ek hardop!

Dis nou hoe ek en Tom mekaar ontmoet. Hy wat skaterlag en ek wat, kortasem en bleek geskrik, maak of dit sommer niks is nie.

‘Groet jy nie?’ vra hy. Die keer in ’n gewone stem.

‘Ek – ek het niks gedoen nie, ek het net verbygery – ’

Beteuterd. In my verbeelding sien ek ’n seuntjie wat beentjes oormekaar staan en grond toe kyk asof daar iets baie interessants is om te sien. Moes ek juis vandag kies om flopslop in my gaar ou tekkies met die oopgesnyde tone rond te slof? Ek maak keelskoon, kyk hom in die oë.

‘Is dit jy of julle wat nou in die Spookhuis getrek het?’

‘Ja-a, en ek is ’n spook.’

‘Verbaas my niks!’

Ek gryp my fiets en trra-ap, die ketting kraak! totdat ek niemand meer hoor lag nie. Dat die outjie ewe kontant maak of ek op hulle grond oortree. Die vernedering is die ergste. Net vandag nog gooi ek die simpel ou tekkies in die asblik.

‘En waar was jy?’ wil Ma al weer weet. ‘Skoon uitasem. Jy lyk of jy vir ’n spook geskrik het.’

Gaan fietsry, sê ek. Vir oefening. Om die rugbyveld. Verby die gholfbaan. Nie in die verkeer nie. Nie in die hoofstraat nie. Ver van die spookhuis af. Ja, ek voel knorrig. Sommer. En Ma hou op uitvra.

Wag net tot hy by die skool kom, want dáár is ek een van die voorbokke. Daar gaan ek in beheer wees en hom laat aantree. As hy ooit daar uitkom. Al het ek so geskrik, lyk hy darem meer mens as spook of bose gees.

En tog, daar was iets anders, iets vreemds aan hom. Sy ore, het hulle nie so effe met ’n punt na bo geloop nie? Dalk was dit sy oë met die donkerblou pupille? Skrik maak dat ’n mens jou baie dinge verbeel.

‘Jy – ja, jy,’ gaan ek hom by die skool vra as hy die dag vir die eerste keer daar instap. Ek raai sommer hy gaan in my klas wees. ‘Wie is jy? Wat is jou naam? Waar, vra ek jou, kom so ’n naam vandaan, ha-ha! Waar kom jy vandaan? Wat doen jou pa?’

So sal dit wees, het ek my dit voorgestel terwyl ek in my verbeelding my vrae oefen. Dit sal die tweede ontmoeting wees en dié keer gaan ek nie terugstaan nie. Nee, hý gaan. Ék sal in beheer wees.

Maar toe was dit nou ook weer nie so nie. Wat ek ingekry het en of hy my dalk gehipnotiseer het weet ek nie, maar ek was glad nie op my stukke nie. Ek was soos ’n skapie – ’n regte ou lamsak-lammetjie. Pfftt.

· · ·

‘Môre, Arno,’ vat hy die wind uit my seile.

Ek wil vra hoe ken jy my naam? Maar ’n man van my status doen nie sulke goed voor sy skoolmaats nie.

‘Arno is my maatjie,’ klap hy my jou waarlik op die rug en ek staan en gee droë slukke. ‘My naam is Tomas, sonder ’n haa. Noem my sommer Tom. Kom, ons moet in die klas wees voor die klok lui.’

Toemaar, my maatjie, ek kry jou pouse weer hier buite. Dán sal ons sien. Maar hoekom voel ek ewe dat ek en Tom nog ’n lang pad gaan saamloop? Hoe sê Pa: ek voel dit aan my broeksnate. Veral toe Kobus vrywillig sy sitplek agter my vir Tom aanbied. Daar is ’n skroef los, maar wag ’n bietjie! ’n Ou met sulke vermoëns sal mos sommer die vraestelle uit meneer Goosen se kop kan aflees? Net die man om my maatjie te wees!

‘Dis nie wat maatjies wees beteken nie,’ fluister Tom.

Hiert allagorie!

Ou Goose (dis meneer Goosen se bynaam) roep Tom om voor die klas te kom staan. Hy moet homself bekendstel. As hy tog net nie so selfversekerd wil lyk nie! Hy gaan nog een van die groot manne in graad 11 omkrap en sy maatjie sal net kan staan en toekyk.

‘Tomas Merczek,’ sê Tom.

‘Skryf dit op die swartbord,’ sê die Goose, en Tom word dadelik na Tom Mercedes herdoop.

· · ·

Eerste pouse. Hier kom die manne van graad 11.

‘Wie is jy? Wat is jou naam? Waar, vra ek jou, kom so ’n naam vandaan, ha-ha! Waar kom jy vandaan? Wat doen jou pa?’

Verbeel jou, hulle het my dialoog gesteel. Astrant, nè!

‘Kyk kêrels, dis Tom Mercedes en hy is my pêl,’ sê ek.

Kyk nou net die Tom. Waar het jy al gehoor ’n man steek hand uit en groet die vyand? Een vir een: aangenaam, aangenaam. Amper die hele kring deur. Totdat die graad 11-ers onthou dat hulle eintlik wil gaan sokker speel.

Tom sê, ‘Arno, jy’s net reg, want jy is dapper en jy staan by jou vriende, al is hulle ook splinternuwe vriende. Ons gaan ’n goeie span wees.’

‘Wat bedoel jy met “goeie span”?’

Die mannetjie! Nes jy dink, nou verstaan ek hoe werk sy kop, dan kom hy met iets onverwags vorendag. Kompleet asof hy ’n sak onsigbare geheime oor die skouer dra.

‘Jy sal sien,’ lag hy tergerig.

· · ·

‘Jy sal sien,’ hoor ek gereeld oor die volgende paar weke. Party dae darem glad nie. Ons raak amper beste, BESTE vriende, maar ‘Jy sal sien’ bly daardie ietsie wat my terughou. Wil ek regtigwaar sien waarin hy my gaan laat beland? wonder ek.

Want Spookhuis word nou Leefhuis. Bietjie vir bietjie. Die mense slaap eers op matrasse op die vloer. Tom sê sy pa gaan ’n droë bloekomstomp opsaag en tafels en beddens maak. Tom sê sy pa is eintlik ’n beeldhouer. Hy maak brons standbeelde. Hy het nou ’n – watse-ding nou weer – kommissie vir ’n beeld gekry. Tom sê sy pa is van Tseggiese afkoms, maar sy ma is hier in ons land gebore. Is sý nou vir jou alternatief! Ringetjies en armbande en halssnoere en serpe en kopdoeke. As sy moet ingaan dorp toe vir inkopies, draai die mense hulle nekke af. Ek sweer sy kan in ’n mens se kop inkyk.

Tom sê, ‘Moemps, dis nou Arno.’

Ek voel ek laat geld myself darem maar sleg: Tom sê, Tom sê, Tom sê. Wat dan van my? Arno moet ook sê. Net iets.

‘Hallo, Mevrou Merkek.’

‘Ha-ha! Hoe lekker lag ek nou! Merczek.’ Sy kom nader, stadig, stadig – soos ’n roofvoël wat kom land. Wye moue soos ’n vlermuis. Ek staan gevries. Sy druk haar duim teen my voorkop. Duim met twee ringe met klein klokkies aan.

‘Jy is net reg.’

Hoekom laat dit my aan Hansie en Grietjie dink? Hansie in die hok wat sy vinger deur die tralies moet steek sodat die heks kan voel of hy ‘net reg’ is om te eet! Eintlik het Hansie ’n stokkie deur die tralies gesteek om nie ‘net reg’ te voel nie.

‘Toemaar, ek gaan jou nie opeet nie! Jou naam is Arno en nie Hansie nie.’

Daar’s dit weer, sy weet of sien of raai ook wat ek dink.

‘En my naam is Cassandra. Nie Mevrou Merczek of Tannie nie.’

· · ·

‘Hulle is gypsies. Die ander naam is travellers. Onrustige mense.’

‘Nee, Ma, hulle is Romani van afkoms. Sy ma is hier gebore en sy pa is Tsjeggies.’

‘Selfde verskil. Gypsies bly nooit op een plek nie en smokkel met kinders. Jy beter jou uit die mense se hande hou. Terloops, die ma van – wat’s sy naam, Tom – vertel sy fortuin? Kaarte, handpalms of kristalbal? Ek soek juis ’n lesing. Wil weet of ek nog eendag ’n nuwe man gaan kry.’

‘Sy verkies die kristalbal, Ma. En wanneer sal Ma nogal kans kry om ’n nuwe man te soek? Pa is veels te gesond.’ Moet Ma darem met die verdraaide spreekwoord troef: ‘Ou bokke kry net ou blare!’

‘Ek hok jou sommer!’

Ma was ’n Afrikaans-onderwyser. Dis haar stokperdjie om spreekwoorde te verdraai en ek ly daaronder. Ek maak taalfoute in die klas. Ek en Ma noem dit ‘lafiome’.

‘Ma, Tom sê as ek meer oor die Roma-mense wil weet, moet ek op die internet na hierdie URL gaan kyk. Ek het dit afgeskryf, hier is dit. Ek sou nooit so ’n lang string letters en syfers kon onthou nie, maar hy het dit uit sy kop vir my voorgesê. “http://www.―――――――.com/40652-facts-about-roma-romani-gypsies.html”. Wat ek wonder is, hoe weet hy dit, want daar is geen, maar geen, rekenaars in hulle huis nie? Nie eers ’n selfoon nie.’

Dis sulke dinge wat my lugtig oor hulle maak en laat wonder en bangerig laat voel.

‘Ag, daar is mos rekenaars by die dorpsbib,’ sê Ma.

Dommie, dink ek van myself. Ma is ’n slim ou bok.

‘Moenie dat koue pampoen jou eetlus bederf nie,’ giggel sy wat nie ’n kans laat verbygaan om ’n spreekwoord op te konfoes nie. ‘Nogtans, toets hom. Hy het seker ’n fotografiese brein. Maak net seker. Anders weet ek nie raad nie. Haai, dit herinner my aan ’n kollega wat altyd gedink het dit word fotogeniese brein genoem.’

‘Haai, Ma, ek het ook gedink dis fotogenies, want hulle breine maak mooi prentjies,’ hou ek my onskuldig, maar dit werk nie met Ma, die slim ou bok, nie. ‘In jou kop,’ las ek verleë by. ‘Dit is nogal snaaks.’

Ons lag saam.

· · ·

Die Merczeks het volgens Ma toestemming om in die ou opstal te bly. Die onderneming is dat hulle dit restoureer en dit sal daarna as ’n museum bewaar word. Die dorp is oorspronklik op die plaas Buitenpost se grond aangelê.

Op my vraag die volgende dag hoe hulle geweet het hier is ’n opstal wat niks gaan kos nie, antwoord Tom te ligweg.

‘Dis my ma wat aan ’n kring van sieners en fortuinvertellers behoort. Hier en daar ’n heks ook tussenin. Hulle bedryf ’n eie internet sonder Wi-fi. Net breingolwe.’

Nou moet ek net uitvind hoe wil hulle die spoke wegtoor. Anderdag se krappery, dink ek, maar Tom sê as ek wil weet, moet ek nóú, vandag al hoor. Ek moes geraai het Tom weet wat ek dink.

Die mense spook omdat hulle nooit ’n ordentlike begrafnis gehad het nie. Hulle liggame is nie in een stuk ter aarde bestel nie. Dis wat Rus in Vrede beteken. Hulle siele is nie vergewe en geseën op hul pad hiernamaals toe nie.

‘Dis nou waar jy inkom, Arno. My ma het die reste van die twee oorledenes versamel en in twee konfytflesse met metaaldeksels toegeskroef. Ek en jy moet dit op die middernag in die kloof hier agter gaan begrawe.’

Watter reste, wil ek weet. Skraapsel van die bloed op die slaapkamer se vloer en ’n vingernael in die eetkamer, hoor ek. Koue rillings. Mevrou Merczek sien ek in my verbeelding met nog meer kettings, dié keer almal silwer, en twee silwer lepels met die reste. Dit moet silwer wees. Silwer hou geeste en spoke op hulle plekke. ’n Silwer spykertjie glo in elke bottel. Hou die bose geeste weg. Mevrou blaas oor die bottel, gooi die reste in, klap deksel op en skroef vinnig toe. Móét ek al hierdie goed aanhoor?

Ek protesteer, ‘Dis nou regtig onmoontlik om van my te verwag om in die nag flesse vol geeste rond te dra. Dis omtrent soos kwepers in die groenteslaai.’ (Ma het dit ’n slag ook probeer. Kwepers, vye, granate en druiwe. Almal eksperimente.)

‘Dit moet juis jy wees omdat die spoke vriende met jou gemaak het. Hulle ken jou. Ek en my ma mag nie weet waar die plek is nie, omdat sy hulle in die bottels gebêre het.’

‘Is dit nou waaroor “jy sal nog sien” al die tyd was?’

‘Nee, nie dit nie. Jy sal nog sien.’

· · ·

So klim ek op my tone, as so iets moontlik is, deur die venster op ’n Saterdagnag. Die Merczeks skuld my. Baie meer as ’n bietjie. Tog is dit ’n uitdaging. Dink net, eendag kan ek vertel hoe ek geeste ’n laaste rusplek gegee het. Dis nou as daar na vannag nog ’n eendag op my wag. Hoeveel nagmerries lê vir my voor!

· · ·

Goose is heeltemal tevrede met die peil van Tom se opvoeding. Iewers is daar darem nog ’n ander onderwyser wat sy sout werd is, sê hy. Vir my, ou Goose, is dit maar net nóg ’n raaisel omtrent die mens, Tomas Merczek. Tom Mercedes.

Hy met die punt-ore, die latlyf en die lang smal hande, die blou pupille. Hy, wat my kop wil lees.