GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/xejxhk-vlamme-teen-die-horison-2.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Vlamme teen die Horison

— Hoofstuk 2 —

Sein in die Nag

Iemand tokkel op ’n kitaar daar by die paar rondawels wat naby die perdekamp staan. Dit is ’n weemoedige wysie en ’n vals basstem neurie ’n ewe treurige liedjie. Af en toe kan Alfred hoor wanneer die sanger enkele woorde uitsing. Dit is ’n troostelose refrein, ‘Waar dwaal jy my nooientjie, waar soek jy vanaand!’

Alfred is alleen in sy kamer in die groot huis met sy wit gewels aan elke vleuel van die gebou. Die hortjiesvensters staan wawyd oop en die koel aandlug stoot daardeur en waai verfrissend teen sy gesig aan. Dit is donker in sy kamer. ’n Uur gelede het die son agter die woestynberge ondergegaan.

Alfred gaan staan by die venster en hy druk met sy hande op die vensterbank. Die weemoedige deuntjie kom nou duideliker tot sy ore. Daar in die rondawels is die plaaswerkers oudergewoonte besig om uiting te gee aan die gevoelens wat hulle gedurende die lang dae moet opkrop.

Die wind kom harder aangeblaas; dit waai Alfred se kuif oor sy oë. Hy druk dit agteroor met sy regterhand. Dit is die woestynwind, dink die jongman.

‘Ek wonder watter boodskap dra hy vanaand,’ praat Alfred met homself. Maar daar kan geen boodskap vir hom wees uit daardie geweste nie. Die woestyn het hom uitgespuug. Hy behoort nie meer by die woestyn nie. Hy het vir goed daaruit getrap. Hierdie wind bring vir hom geen boodskap nie; dit dra net ou-ou herinneringe na hom toe aan. Herinneringe van ’n goudsmokkelaar wie se lyk seker nou al deur die woestynjutte uit die sand gegrawe en verorber is; dit bring herinneringe van ’n jong man, Alfred, wat sonder naam was en sonder heenkome.

En nou het Vierstrome vir hom ook te klein geword. Vanoggend het Ben hom uitgeskel en sy moeder wat hom feitlik nooit geken het nie, het hom ernstig berispe. Dit alles maak Vierstrome vir hom vreemd, byna vyandig. Vierstrome het hom nou ook uitgespuug. Hy moet dus gaan.

Nou vir die eerste keer is hy eerlik teenoor homself wat Mari betref. Alfred voel homself soos ’n indringer. Hy moet trap, want hy erken nou eerlik dat hy verlief is op die meisie wat aan sy tweelingbroer behoort.

Hy gaan sit op die kant van sy bed en begin ’n lied neurie, onderwyl hy sy skoene poets. Daarna neem hy sy leergordel en patroonband. Hy tel ingedagte elke patroon wat daarin is. Nou neem hy sy rewolwer wat eenkant op die bed lê. Dit is ’n ·476-kaliber Enfield. Hy maak die magasyn nou al vir die soveelste keer vanaand oop. Hy het dit netnou baie netjies skoongemaak. Hy haal ses patrone uit die band en laai die magasyn vol.

Die dag toe hy hier op Vierstrome aangekom het, het hy gedink dat sy droom om eendag ’n eie beesplaas te kan hê, nou gou verwesenlik sou word. Nou lyk dit ver buite sy bereik. Swerf sal dus sy voorland wees.

Stadig verklee Alfred hom nou. Teen sowat halfnege sal die maan uitkom en dan sal hy in die pad val. By hom het hy darem so ongeveer £80. Dit is skaars genoeg geld om ’n behoorlike ryperd mee te koop. En vanaand sal hy nie nog sy broer kan nader om te vra of hy ’n perd kan koop nie. Buitendien sal hy in hierdie stadium nooit so-iets doen nie. Hy sal dus maar voetslaan totdat hy by een van die boere in die omstreke ’n ryperd in die hande kan kry.

Hy druk ’n paar orige kledingstukke in sy hawersak en swaai dit oor sy rug, gespe dit vas, en laat sy vuurwapen in die holster aan sy regtersy ingly.

Dit sal hom nie help om te groet voordat hy gaan nie. Hy het tog duidelik te kenne gegee dat hy gaan vertrek en niemand het hom teengegaan nie, behalwe Mari. Hy wens dat hy haar kon groet voordat hy weggaan. Maar dit is ook buite die kwessie. Ben is laat vanmiddag weer Kuruman toe en hy het geen benul wanneer sy broer terug sal wees nie.

Die weemoedige lied draal nog daar van die rondawels se kant af. Die tyd het nou aangebreek dat hy moet gaan. Die maan is nog nie op nie, maar dit sal nie nou meer lank duur nie. Alfred wil graag ’n hele end van die plaas af weg wees wanneer die dagvors agter die donker kalkrante begin uitloer. Hy klim versigtig deur die venster. In die naaste rondawel waaruit die eentonige musiek nog steeds vloei, kom daar skielik ’n uitbundige gelag.

In die skaduwee van ’n groot struik gaan Alfred gebukkend staan en hy luister vir ’n oomblik. Deur die klein venstertjie van die een rondawel sien hy die groot, bonkige gestalte van die plaasvoorman, Freek Vermaak. Die man het ’n beker in die hand, bring dit na sy mond, sluk die vog daarin weg en begin weer uitbundig praat. Geïnteresseerd stap Alfred sluipend nader. Hy dink hy kan raai wat se soort vog Freek in daardie beker gehad het.

‘Suip maar goed vanaand, manne. Dit is Vrydagaand en Ben sal nie vanaand vroeg in wees nie – ’ Hierdie woorde van Freek kom duidelik tot Alfred se ore. Hy waag dit nog ’n entjie nader. Die kitaar is nou effens vals en daar word deurmekaar gesing. ’n Groot olielamp staan op ’n tafeltjie in die middel van die vertrek. Dit flikker hoog en helder op. In die dansende lig van die vlamme sien Alfred weer die forsgeboude gestalte van die voorman. Soos gewoonlik is hy kaalgeskeer, en sy breë mond hang oop soos hy lag. Sy byna haarlose arms is voor hom gevou en sweet blink op sy voorhoof.

Nou sien Alfred vir die eerste keer dat ’n paar van die manne al lelik geswael is. By die tafel sit een en waggel, terwyl ’n ander een met sy kop op sy hande vooroor op die tafel lê.

‘Miskien kom Ben môre eers – dus kan ons maar vanaand vrolik wees. Riet, daar is nog brandewyn wat ek onder die strooi in die stal weggesteek het. Gaan haal dit en skink vir die kêrels nog.’

Een van die manne staan nader en Alfred kan sien dat hy nie meer te vas op sy voete is nie. ‘Jy is ’n lekker kêrel, Freek,’ stoot hy met sy tong en klop vir Freek Vermaak op sy skouer.

Alfred buk laag agter die struike weg toe iemand by die rondawel se deur uitglip en reguit stal toe sluip. Ná etlike oomblikke kom hy terug met ’n kruik brandewyn in sy arm. Hy stryk weer by die deur in en ’n dronkmanstem sê, ‘Vanaand slaap ons weer ons roes af. Die beesdiewe moet vanaand wraggies net nie ’n nuk kry nie – Bring, kêrels – enne speel vir ons daar iets.’

Die kitaar tokkel en die manne begin sing, deurmekaar, onfatsoenlik hees. Elkeen volg sy eie wysie, elkeen sing sy eie lied, op sy eie manier. Alfred sien hoe dat die manne die een ná die ander hulle bekers op die tafel onder die flikkerlig neersit. Met ’n breë glimlag skink Freek Vermaak, maar vir die tweede keer val dit Alfred op dat hy nie vir homself skink nie. Almal, behalwe Freek en Riet, is nou lieflik aangeklam. Die gesing word luidrugtiger.

Opeens swaai Alfred vinnig om. Sy skerp ore het die geluid van voetstappe op die los gruis gehoor. Sy regterhand is met die omswaai by die kolf van sy rewolwer.

Die volgende oomblik sug hy egter verlig, hoewel sy hart hewig aan die bons gaan. Onduidelik in die skaduwee van ’n ghwarriebos voor hom is die gestalte van ’n meisie. Haar hare hang los op haar skouers en die wind wieg die rok styf teen haar liggaam aan. Alfred fluister, ‘Jy het my byna laat skrik.’

Sy antwoord hom nie dadelik nie. Hy kan haar oë nie sien nie, maar hy kan raai dat sy die donker skaduwee van die knapsak op sy rug gesien het.

‘Freek en sy mense is vrolik,’ vervolg Alfred weer, net om die gesprek aan die gang te kry en sy verleentheid te probeer verberg.

‘Dan gaan jy tog, Alfred, en dit sonder om te groet.’ Daar is iets soos ’n verwyt in haar stem; ja, verwyt en teleurstelling.

‘Ja, Mari. Dit is veel beter. Soos sake nou staan, sal dit op ’n fiasko afstuur.’

‘Watter perd gaan jy neem?’

‘Nie een nie, Mari. Ek sal wel by ander plaasboere geholpe raak.’

Daar is ’n rukkie stilte. Nie een van hulle praat ’n woord nie. Alfred het egter nader gestap.

Hy staan by Mari. ‘Ek is jammer oor vandag, Mari.’

‘Ek het nie geweet dat Ben op ons sou afsluip nie, Alfred. Ek kon ook nie droom dat hy so ’n houding sou inneem nie In elk geval is dit nie nodig dat jy jammer moet wees nie.’

‘Ek bedoel ek voel spyt dat Ben – wel – ’ Die gesing van die dronk plaaswerkers word nou luider. Alfred kan sy eie woorde byna nie hoor nie. ‘Waarheen is hy vanaand, Mari?’

‘Hy het gesê hy gaan na vriende op Kuruman en De Bron. Hy is in ’n eienaardige stemming hier weg.’

Alfred hoor hoe sy sug toe die drinkbroers se deurmekaar sang effens afneem. ‘Ek wil nou gaan, Mari – Ek hoop alles waai verby. Ek is seker alles sal weer reg wees as ek eers Vierstrome ontruim het.’ Hy beweeg by haar verby en sy vat hom aan die arm. Nou kan hy haar gelaat sien. Daar is selfs ’n glinstering in haar oë. Die ver ligte van die sterre is daarin weerkaats.

‘Ek voel besorg oor jou, Alfred. Neem asseblief my perd. Sy is in haar stal daar by die vrugteboord.’

Hy swaai hom om en neem haar hand in syne. ‘Ek dink nie dit is raadsaam nie, Mari. As ek jou perd neem, sal Ben weet dat ek weer met jou in aanraking was, en dit sal die posisie vir jou net moeilik maak.’

‘En wat van jou moeder? Gaan jy haar nie groet nie?’

Alfred staar besluiteloos in haar oë. ‘Nee, Mari – nee. Sê maar vir haar dat ek ’n rukkie weg sal wees, dat ek weer sal terugkom.’

‘Sal jy regtig weer terugkom?’

‘Ek weet nie.’

Opeens het die dronkmansgesang opgehou. Daar is weer die klank van bekers en die geluid wat die vog maak as dit vinnig uit die kruik in die groot bekers geskink word. Die gestalte van Freek Vermaak verskyn skielik in die deur. Alfred sien hoe die frisgeboude plaasvoorman in die deur bly talm en in alle rigtings kyk, byna asof hy die wêreld bespied; dan val sy oë op die groot huis. Alfred kan sien dat hy nou stip na die kamervenster van die meisie kyk. Daar brand ’n lig in haar vertrek. Mari hou hom ook dop. Freek betas die twee swaar rewolwers wat aan sy heupe hang en sluip dan die nag in. ’n Paar tree van die ghwarriebos gaan staan hy weer en hy tuur in die rigting van die Rooiberge. Alfred wat al gewoond is aan die donker, kan sy bewegings duidelik sien. Hy sien selfs hoe die voorman se bors op en neer swel soos hy asemhaal. Freek kyk weer terug na die rondawel.

Plotseling verskyn daar nog ’n persoon in die rondaweldeur. En dan spring hy ook na buite; kom by Freek staan.

‘Hulle is almal nou heerlik dronk, Freek.’

‘Ditsem, Riet – maar nou moet ons versigtig wees.’

‘Waar is Alfred vanaand, Freek? Sy kamer is donker.’

Freek lag. ‘Tien teen een lê hy weer by Mari aan. Hy het sy vingers vandag lelik verbrand en voortaan sal hy swaar leef onder die roede van sy broer. As ek hy is, trap ek van die plaas af. Hy is per slot van sake tog maar net ’n armlike luis. Hy besit niks nie.’

‘Ons moet die manne teen hom waarsku, Freek. Hy kan dalk lastig wees vannag,’ fluister Riet.

In hierdie stadium het Mari in die skaduwee van die ghwarriebos agteruit getree. Sy val die volgende oomblik byna oor ’n los klip en die takke raas toe sy hulle vasgryp om haar val te stuit.

Die twee man reageer dadelik op daardie ritseling. Blitsig is een van Freek se rewolwers in sy hand.

‘Wie is daar!’ bulder sy stem. Maar hy het nou reeds die twee gestaltes in die skaduwees opgemerk.

Alfred antwoord, ‘Dit is ons, Freek. Moenie lostrek met daardie yster nie.’ Alfred kom stadig uit die skaduwees te voorskyn.

Freek laat sak nog nie sy rewolwer nie. ‘Waar speel jy wegkruipertjie, Alfred? Wat soek jy in die skaduwees?’

‘Pardon, Freek, ek het nie geweet dat dit verbode is om hier op Vierstrome in skaduwees te staan nie.’

Freek kom blykbaar nou eers agter dat Mari ook daar in die skaduwees by Alfred was. Sy kom nou ook nader.

‘Dit is ek wat om verskoning moet vra, Alfred,’ kom dit venynig van die voorman. ‘Ek het nie geweet jy is weer besig om verbode vruggies hier in die donker te pluk nie.’

Alfred vererg hom onmiddellik en hy tree nader. ‘Moet nie jou mond verby praat nie!’

‘Toe maar, Alfred, moenie so ernstig word nie. Ons almal geniet maar as die baas weg is. Ons ouens suip ’n bietjie, en jy geniet die baas se verloofde.’

Alfred is by hom en sy vuiste is gebal. ‘Jy is besig om Mari te beledig, Freek.’

‘Dit is geensins wat ek bedoel nie, Alfred. Moet net nie dat Ben agterkom dat julle mekaar in donker hoekies ontmoet nie – en dit as hy weg is.’

Voordat Alfred iets kon terug antwoord, draai Freek hom om en hy en Riet stap na die rondawel net langs die een waarin hulle so flussies was. Hulle verdwyn in die donker van die gebou.

Alfred kook.

‘Dit is brutaal,’ verbreek Mari die stilte. ‘Maar hy is altyd so onbeskof. Ek – ek wonder wat hy gedink het.’

‘Uit sy woorde kon daar duidelik afgelei word wat hy dink, Mari – smerige gedagtes. Maar daar is iets aan die gang vanaand wat ek nie kan kleinkry nie. Hy het die rugsak agter my rug gesien, maar tog geen aanmerking gemaak nie.’

Alfred bly ’n rukkie stil. Duisende gedagtes flits deur hom. Hy is oortuig daarvan dat Freek iets in die skild voer, iets gemeens.

‘Mari,’ begin Alfred stadig. ‘Hoe lank werk Freek al hier op die plaas?’

‘Byna twee jaar, en Ben dink dat hy baie betroubaar is. Alfred, waarheen wou hulle gegaan het – enne – hoekom het Freek die manne dronk gemaak? Dit lyk asof hy en Riet iets georganiseer het. Daar is die wyse waarop hulle uit die hut gesluip het, en hy het bepaald vir ons geskrik.’

‘Ek dink aan dieselfde dinge, Mari – ’ Alfred skud sy kop nadenkend. ‘Mari, dit is nie om dowe neute dat Freek hierdie mense laat drink het nie. Hy het nie toegelaat dat hy self dronk word nie.’

Mari haak hom in, ‘Ek het ’n bang gevoel dat daar iets verskrikliks gaan gebeur. Alfred, jy kan eintlik nie nou weggaan nie.’

‘Ja, Mari. Ek kan nie nou weggaan nie, maar ek wil teen elke prys sorg dra dat hulle onder die indruk verkeer dat ek vannag hierdie huis verlaat – nee, dat ek dit nou dadelik verlaat. Jy kan my nou daardie perd van jou leen, Mari.’

‘Seker,’ lag sy, maar voel ’n beklemming in haar opstyg.

’n Paar oomblikke later is Alfred op die rug van die meisie se spierwit merrie. Twee manne hou hom stip dop vanuit die donkerte van ’n rondawel. In die ander rondawel waar die lig brand, lê die arbeiders feitlik bo-op mekaar en snork.

In die donkerte fluister Riet aan Freek, ‘Hy het ons lank opgehou, maar dit lyk asof hy nou gaan ry, Freek. Hy ry met Mari se perd. Daaroor gaan Ben éérs die joos in wees. Maar hoe gouer hy trap, hoe beter. Ek sweer die manne wag al op die bult.’

Freek hou elke beweging van Alfred dop. Hy is duidelik sigbaar in die wye lig wat die lantern in Mari se hand gooi. Die wit perd trippel rond. Mari en Alfred is besig om aan mekaar iets te sê, maar Freek kan nie hoor wat daar gepraat word nie.

Freek blik in die verte. Die maan kruip net agter die kalkbulte uit. ‘Riet, Alfred mag nie wegkom nie. In geen omstandighede nie. Ek laat my nie bluf dat hy nie sekere dinge gehoor het nie. Hy het daar in die skaduwees van die ghwarriebos gestaan en hy het gesien hoe ons die ander manne dronk maak. Hy moes gehoor het wat ek en jy later daar naby sy skuilplek gepraat het. Riet, ek neem geen kanse nie. Tien teen een het hy ’n vermoede wat ons vanaand gaan doen. Dit geld ook vir Mari. As sy enigsins suspisie het, is dit gevaarlik. Ons kan nie toelaat dat hierdie planne gedwarsboom word nie. Ons moet optree. Slegs twee-drie dae en ons is ryk, en Vierstrome sien ons nie weer nie. Nee, selfs al bestaan daar ’n vae moontlikheid dat die twee iets vermoed, moet daar ’n plan gemaak word met hulle.’

In die donkerte van die hut staar Riet na sy makker. Dit is duidelik wat Freek bedoel. Daar is duisende ponde op die spel. Daar mag nie fout kom nie. Freek is reg.

‘Riet, dit is jou werk om Alfred te volg. Kyk waarheen hy gaan. Bly op ’n veilige afstand agter hom. As dit lyk asof hy heeltemal die omgewing verlaat, laat hom dan maar gaan – anders skiet, en skiet dood. Ek sal ’n plan maak met Mari. Gou speel, Riet, en moenie dat hy sien jy agtervolg hom nie. Moenie brouwerk aanvang nie, Riet. Kyk, daar gaan hy.’

Die twee in die rondawel hoor duidelik hoe Alfred vir Mari totsiens toeroep. Die klank van hoewe op die gruiserige grond volg daardie groet onmiddellik op. Met ’n vaart breek ruiter en perd van die werf af weg.

Soos blits glip Riet by die donker deur uit en hardloop in gebukkende houding na die stalle.

Freek wag ademloos en luister. Die hoefslae klink ritmies in die nag op. Dit gaan al verder. Die maan klim hoër, ’n driekwart maan wat die velde nou met blonde strale verlig. Bleek lê die los klippe en sand tussen die donker struike en bome. Daar klink weer hoefslae op. Dit kom van die stal se kant af. ’n Bruin perd spalk hom oop agter die witte aan.

Mari staan nog buite en ’n koue rilling gaan langs haar ruggraat af toe sy die hoewe-gedreun hoor. Sy sien die donker vlek oor die bleek aarde beweeg – en ineens weet sy dat Freek nie slaap nie. Dat hy iemand agter Alfred aangestuur het – of – of miskien is dit nog ’n opdrag van Ben Greyling.

Sy swaai die lantern in haar hand toe sy terug beweeg huis toe. Die wind wat sterker aanruk oor die doringbome, blus die vlam ineens uit. Alles is donker om haar toe sy by die agterdeur inglip. Sy blaas die kerslig in haar kamer uit en gaan staan by die venster. Op die windvlae aangedra, kom die dowwe geklop van perdehoewe. Dit klink op uit die rigting van die Rooiberge wat donker en geheimsinnig in die lig van die maan vertoon.

’n Onnatuurlike stilte sak toe. Dit is net die ruk van die wind hier by haar kamervenster tussen die trassiebosse, dan die dowwe geklop – dan word selfs daardie geluid deur die nag verswelg.

Dit is asof Mari ineens weet dat daar vanaand iets gaan gebeur, iets vreesliks. Daar kom geen geluid van die rondawel af waar ’n ses-stuks dronk mans oomblikke gelede met slepende tonge gesing het nie.

Opeens merk sy ’n bewegende skaduvlek hier voor haar in die bossies. Dit is byna asof daardie skaduwee sweef. Dit beweeg vinnig. Sy ruk haar kop terug en haar oë brand op die bewegende skaduwee.

Dertig treë van haar af klim die gestalte teen ’n hoë granietsteen op. Mari het daardie rots altyd ‘die troon’ genoem. Van daar af sien jy die hele wêreld om jou.

Die persoon is op die rots. Duidelik staan hy gesilhoeëtteer teen die maan. Sy sien selfs die fakkel in die persoon se hand. Sy sien toe Freek die vuurhoutjie trek, hoe hy die fakkel aan die brand steek. Daar vlam die fakkel helder. Freek hou dit hoog bokant sy kop en dan swaai hy dit heen en weer. Mari se hand is voor haar mond. Haar oë is groot. Dit is ’n sein aan iemand!

Net vir etlike sekondes swaai hy die brandende fakkel bokant sy hoof en dan spring hy af, skud die fakkelvlam dood en kom dan aangehardloop, reg in die rigting van Mari se kamer.

Hy het haar reeds by die venster gesien. Mari is ineens baie bang, maar aan die anderkant wil sy nie wys dat sy vreesbevange is nie. Dit is plotseling duidelik vir haar dat Freek knoeiwerk aanvang; dat hy dislojaal is jeens sy werkgewer, Ben Greyling. Sy weet nou dat die ander manne doelbewus dronk gemaak is, en sy weet dat hulle vannag glad nie sal wakker word nie. Freek doen geen halwe werk nie.

Freek is by haar kamervenster en sy kan in die maanlig sien hoedat die sweet op sy voorhoof pêrel. Sy kan die wit van sy oogappels sien, soos sy oë in hulle kaste draai.

‘Wat beteken dit alles, Freek?’

Freek lag en dan raap hy hom op en spring deur die venster. Sy wil die kamer dieper in, maar hy gryp haar om haar middel en trek haar teen hom aan.

‘Nie nou tyd vir verduidelikinge nie, Poppie. Jy moet saam met my kom.’ Hy lig haar ru van die grond af op en as sy wil skree, voel sy hoedat hy sy skurwe hand oor haar mond slaan.