GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/wumiwo-gees-uit-die-vuur-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Gees uit die Vuur

— Hoofstuk 1 —

Die Wandelende Gees

‘Daardie tamboere begin nou op my senuwees werk,’ verbreek prof. Ignatius Malan die stilte op die vlot wat nou al vir myle aaneen stadig stroom-af beweeg.

‘Dit het my senuwees al lankal op hol,’ kondig Jaap Hoegeveen aan. ‘Wat is hulle plan? As dit nog ’n nag so moet aanhou, sal ek begin skree en oorboord spring.’

Aan die voorpunt van die vlot kekkellag ’n soel Spanjaard. ‘Dan sal die kaaimans gou sorg dat jy nie meer kan skree nie. Miskien is dit presies wat die duiwelse tamboere wil hê: dat ons almal oorboord spring, sodat die kaaimans kos kan kry.’

Ignatius stap met lang treë na die Spanjaard toe. Die vlot ruk effens, maar dryf dan weer gelykweg. Die water van die rivier vloei saggies, egalig en stadig. Die rivier is hier breed, maar taamlik vlak.

‘Waar is ons nou, Sérgio?’ vra die professor besorg en vee die sweet vir die soveelste keer van sy voorhoof af, klap dan ’n lastige muskiet weg wat op sy ontblote voorarm gaan sit het om bloed te suig.

‘Ons is nou in die land van die Jivaro’s, die afstammelinge van die Inka-ras wat jy so graag wil bestudeer.’

Ignatius se gesig helder op.

‘Dit is die beste tyding wat ek in die afgelope vier dae ontvang het, Sérgio. Hoe lyk dit, kan ons nie maar waag om wal toe te gaan nie?’

Die Spanjaard skud sy kop.

‘Te gevaarlik. Ek hou nie van die aanhoudende tamboere nie; die dromme is nie vriendelik nie. Dit is die Jivaro’s wat jy daar hoor, maar ek het nog nie een van hulle te sien gekry nie. Hulle weet ons is hier. Soos ons nou hier vaar, is daar honderde oë op ons gerig. Miskien wil hulle juis graag hê dat ons wal se kant toe moet druk, maar ek dink nie ons moet dit nou doen nie. Wanneer die tamboere ophou en sodra dit donker is, kan ons probeer.’

Sérgio Ramírez staar na die oranjekleurige son wat wil-wil agter die reuse boomtoppe in die weste afduik.

‘Dit sal nou-nou donker wees,’ kondig Jaap aan en hy luister met ingehoue asem na die dowwe, maar aanhoudende geklop van die tamboere. Die klank bly op een toonhoogte, eentonig, maar tog te midde van die anders drukkende stilte, onheilspellend.

‘Wat sê hulle, Jaap? Wat beteken daardie dromme?’

Hoegeveen skud sy kop. ‘Ek weet nie. Dit bly senutergend.’

Ignatius wink vir Sérgio Ramírez om nader te kom. Hy kom vlak voor die lang professor staan.

‘Vra bietjie die kruiers of hierdie dromme iets van betekenis uitslaan?’

Sérgio Ramírez lag breed. Met die agterkant van sy hand vee hy oor sy beswete voorhoof.

‘Ek het hulle al gevra, maar hulle antwoord nie. Hulle is skielik stom. Hulle staar net gedurig na die bosse. Ek kan geen woord uit hulle kry nie.’

Ignatius klop een van die kruiers op sy skouer en die man draai vinnig om. Sy oë lyk verwilderd.

‘Wat praat die dromme, Pegi?’

Pegi se mond gaan oop om te praat, sy oë rek groter. Hy tuur om hom heen, net asof hy graag wil praat, maar eers wil vasstel of die ander sal kan hoor. Maar toe hy weer na Malan kyk, skud hy net sy hoof.

‘Hoekom is jy bang, Pegi?’

Pegi lek vinnig oor sy kurkdroë lippe. Hy haal sy skouers op en draai sy rug op Malan. Die enkele geel veer op sy kop wip komieklik.

Ignatius vererg hom. Hy kry die man aan sy twee skouers beet en ruk hom om. Hy staar in twee verskrikte oë.

‘Antwoord my, Pegi! Jou hart is soos water. Dit loop alles uit. Ek dag jy kom van ’n land af waar jou voorvaders jagters was. Ek het gedink dieselfde bloed loop in jou are!’

Malan skree te hard na Pegi se sin en hy tuur verwilderd rond. Met een beweging ruk hy hom uit Ignatius se greep los en stap haastig na die verste end van die vlot toe. Dit is duidelik dat hy nou wil praat, maar dat hy seker wil maak dat sy makkers dit nie hoor nie.

Hy leun vooroor, sy lippe beweeg en hy fluister hees, ‘Die dromme gesels met hulleself, Señor. Maar hulle praat nie ’n mooi taal nie. Dit is die Jivaro’s se dromme. Hulle gesels lelike dinge met mekaar. Die taal wat die dromme praat, laat die ander ook skrik, Señor. Ons moet omdraai.’

‘Wat praat daardie dromme?’

Pegi kyk vinnig om hom heen om vas te stel of daar niemand is wat luister nie. Hy gewaar die belangstellende blikke van die ander mans op die vlot. Hy trek sy asem diep in en sê dan, ‘My ouers het my lank gelede vertel van die tyd toe die Jivaro’s nog kannibale was, Señor. Elke vreemde man wat in hulle land gekom het, is opgevreet, eers aan stukkies gesny, lewendig.’

Hy lek oor sy lippe, kyk weer bang na die groen bosse wat nou al donkerder word.

‘Maar dit was lank gelede, toe die son en die maan nog getroud was, toe hulle mensvreters was. Die ou Jivaro’s se kinders het verleer om van mensvleis te lewe, lankal het hulle soos ons begin om bokke en beeste te eet. Die Jivaro’s het nog soms vreemdelinge doodgemaak en dan hulle koppe afgekap en tsantsas daarvan gemaak en op stokke gedra, maar hulle het nooit mense gevreet nie – ’

Ignatius word ongeduldig.

‘Jy bewe soos ’n riet, Pegi. Wat wil jy sê?’

‘Señor, daardie dromme praat mensvretertaal. Die dromme sing van vet vreemdelinge wat in hulle land aankom. Die dromme praat van ’n groot fees wat voorberei word. Die dromme praat iets van ’n vuurgod wat vet slagoffers na die fees toe lok.’

‘Bedoel die dromme dat ons daardie vet vreemdelinge is?’

Pegi trek sy skouers op.

Die geklop van die dromme hou skielik op.

’n Intense stilte sak om hulle toe. Geen dier maak ’n geluid in die ondeurdringbare bosse nie. Daar is net die geraas van die water as die vlot daaroor dryf, nou skielik vinniger.

Pegi draai sy rug haastig op die professor en stap vinnig na sy maats toe. Ignatius skud sy kop. Sérgio en Jaap stap hom tegemoet.

‘Het hy eindelik gepraat?’ vra Sérgio.

‘Ja,’ antwoord Ignatius afgetrokke. ‘Hy vertel van kannibale – ’ En hy herhaal wat Pegi aan hom gesê het.

Sérgio Ramírez se gelaat is stroef.

‘Moenie daaroor lag nie, manne, ek dink Pegi se vrees is nie ongegrond nie. Verlede keer toe ek hier was, het daardie tamboere nie so gedreun nie. Verlede keer het die Jivaro’s uit die bosse gehardloop gekom en ons vriendelik begroet. Hulle weet besoekers bring geskenke saam. Onlangs het ek egter gehoor dat die handelaars bang begin word het om hierheen te kom, maar ek het my nooit daaraan gesteur nie. Mens hoor baie dingetjies. Pegi is ook reg. In die verre verlede was die Jivaro’s mensvreters. Maar al wat hulle nog van daardie kannibaalse gebruik oorgehou het, is die feit dat hulle hul vyande se koppe afsny en dan in ’n pot kookwater, met allerhande boomblare daarin, dompel en laat kook totdat die kop na die grootte van die vuis van ’n man krimp. Hierdie kop, ’n tsantsa, hou hulle dan as ’n aandenking.’

Malan lag weer.

‘Met ander woorde, jy en Pegi meen dat die Jivaro’s skielik weer ontaard het in mensvreters en dat hulle vir ons wag om aan wal te stap?’

‘Dit mag wees – nou – nou is die dromme stil. Ek hou nie van die skielike stilte nie.’

‘Miskien het hulle al moeg geword vir die speletjie.’

‘Moenie glo nie? Die Jivaro’s het die grootste geduld ter wêreld.’

Dit word nou vinnig skemer. Die diere op die walle het begin waag om geluide te maak. Langs die vlot het groot kaaimans af en toe hulle skurwe koppe bokant die oppervlakte laat uitkom, maar dan weer dadelik verdwyn. Die vlot dryf skielik al vinniger oor die water.

Sérgio Ramírez merk skielik op, ‘Die stroom het versnel. Ek is seker ons nader ’n waterval. Of ons wil of nie, ons sal kant toe moet druk.’

Hy skree skielik op die kruiers, en elkeen gryp vinnig ’n lang spaan. Hy blaf verdere bevele uit en die sestal werk met die spane in die stroom. Hulle slaag daarin om die vaart van die vlot te verminder en druk die vaartuig stadig wal toe. Sérgio het dit goedgedink om die vlot na die wal te stoot waarvandaan geen dromme opgeklink het nie. Die manne het juis daarom vinnig en gewillig gewerk.

‘Kannibale!’ prewel Ignatius en hy begin sy geweer en rewolwer nagaan.

Jaap volg sy voorbeeld.

Dit is sterk skemer.

Skielik trek Ignatius sy asem diep in.

Voor hulle tussen die bosse verskyn skielik talle wit gesigte wat op die vlot afgluur.

Sérgio Ramírez gee ’n uitroep van verbasing, en daar gaan ’n gemurmel van stemme op toe die kruiers wat op die vlot swoeg, die loerende gesigte ook raaksien. Hulle vergeet om die vlot kant toe te druk en die stroom pluk-pluk aan die vlot en dreig om dit weer stroom afwaarts te sleur.

Dit lyk of daardie gesigte nog maar altyd daar tussen die blare deur geloer het. Stadig kom die liggame wat aan daardie gesigte vas is, nou te voorskyn. Dit is ’n sluipende beweging. Ignatius merk dat die gesigte van die toeskouers besmeer is met wit kalk of verf. Dit lyk mismaak. Die liggame is byna kaal. Die onderlyf is gedeeltelik bedek met ’n stuk rooi materiaal. Hulle het lang hare wat laag in hulle nekke hang. Elkeen omklem ’n spies stewig met sy hand. Hulle gluur na die vlot, maar uiter geen geluid nie.

Ignatius vloek op die roeiers en dadelik probeer hulle om die vlot weer onder beheer te kry. Met inspanning slaag hulle daarin.

Malan hou die gestaltes daar op die wal stip dop. Hy tel vyftien van die half-naakte figure. Hulle staan nou almal doodstil, maak geen beweging nie, maar alle oë is op die vlot gerig. Ignatius praat vinnig in Spaans met Ramírez.

‘Vra Pegi om met hulle in die Jivaro-taal te praat. Of is dit nie Jivaro’s nie?’

‘Dit is,’ beaam Ramírez, maar Ignatius sien dat die Spanjaard senuweeagtig is.

Sérgio rammel vinnig ’n paar woorde af. Pegi gaan staan op die kant van die vlot en skreeu dan uit volle bors. Sérgio Ramírez vertaal hier langs Ignatius so vinnig soos die verbouereerde Pegi praat, ‘Ons groet julle, manne van die Jivaro, en ons kom in vrede om vir julle geskenke te bring.’

Pegi breek skielik af en wag hoopvol. Sy stem rammel tot hom terug daar van die digte woud af.

Die Jivaro’s beweeg nie. Hulle uiter geen woord nie.

Pegi begin weer vreesagtig word. Hy loer terug na Ignatius en skree dan weer, ‘Ons groet julle, Jivaro’s. Ons kom in vrede om met julle te gesels.’

Nog is daar geen reaksie nie. Die vlot beweeg stadig-krakend nader na die wal toe. So naby is hulle nou dat Ignatius sien hoe die half-naakte manne hulle oë knip. Hulle gesigte bly egter stroef, en die wit merke op hulle wange en voorhoof maak die uitdrukkings op hulle bakkies nog afskuweliker.

Die roeiers kyk nou nie meer wat hulle doen nie. Die sterk stroom ruk twee se roeispane uit hulle hande en weer dryf die vlot met die stroom af. Vinnig word hulle van die wal af weggedra.

Ignatius spring vinnig by en begin op die manne skel. Maar nou kry hulle die vlot nie weer onder beheer nie. Dit is asof die water nou sterker vloei. Die vlot word vinnig stroom-af gedra.

Voordat Ignatius self ’n lang spaan gryp en begin druk, kyk hy weer terug na die wal toe. Hy knip sy oë. Sy mond gaan oop van verbasing.

‘Hulle is weg!’ roep hy uit.

Jaap en Sérgio kyk ook terug.

‘Waarheen is hulle nou?’ kerm Jaap.

‘Dit lyk snaaks,’ brom Sérgio. ‘Hulle is soos stom mense. Hulle het ons nie teruggegroet nie. Dit slaan my dronk!’

‘Ek hou nie daarvan nie,’ bibber Jaap terug.

‘Roei wal toe!’ skree Ignatius vererg.

Met mening druk hulle die vlot nou wal toe. Almal se oë is nog angstig op die plek gerig waar die Jivaro's so skielik verdwyn het.

‘Hou julle geweers gereed, Jaap. Ek sal nie dat daar met ons gespeel word nie. Skiet as hulle enigsins aanvallend optree.’

Malan val byna plat op die vlot neer toe die voorpunt van die vlot teen die wal bots. Sérgio spring eerste af met ’n tou in sy hand. Haastig bind hy die een end aan ’n boomstam vas. Malan spring ook op die wal en hardloop vinnig tussen die bosse in. Die kruiers volg, maar dit is duidelik dat die vrees hulle opvreet.

Hulle gaan hurk vinnig tussen die bosse. Vir etlike oomblikke heers daar ’n doodse stilte. Ignatius luister fyn, maar daar is nie eens ’n luggie wat trek nie. Die breë blare van die hoë bome maak geen ritseling nie. Dit is net die stroom wat verby kabbel.

Die skemerte het reeds in nag verander. Dik en swaar rus die gitswart skaduwees onder die bome. Almal is te bang om te beweeg.

Na ’n rukkie verbreek Ignatius die stilte. ‘Bring die bagasie van die vlot af. Ons moet dieper in die bosse intrek. Ek is seker daardie mismaakte skepsels het die woud in gevlug.’

‘Ek glo nie hulle het geskrik nie,’ antwoord Jaap. ‘Ek is oortuig daarvan dat hulle ons nou-nou sal aanval.’

‘Hoe gouer hoe beter,’ is Sérgio se kommentaar. ‘Hierdie stilte en wag werk op my senuwees.’

Die kruiers word beveel om die proviand, wapens en kamptoerusting af te dra. Hulle doen dit half-onwillig, hulle beweeg soos skimme, stil, te bang om asem te haal.

Dit is ’n tasbare stilte wat doods om hulle lê. Daar is geen geluid van diere nie. Nag vir nag het hulle die gebrul van jaguars gehoor, maar nou is selfs die roofdiere nie bedrywig nie.

Sérgio Ramírez loop voor en hy kap die takke met sy panga voor hom weg. Sy geweer is onder sy arm vasgedruk. Net agter hom loop Ignatius met sy geweer in sy regterhand en ’n flits in sy linkerhand, wat voor hom ’n kol lig op die groen blare laat val. Die kruiers volg net agter Ignatius met die proviand, en heel agter is Jaap Hoegeveen.

‘Hoe verstaan jy dit, Sérgio? Daar is geen geluid nie, behalwe die geluid wat deur ons veroorsaak word. Hel, ek wens daardie tamboere wil weer begin. Hierdie stilte maak my klaar,’ verbreek Ignatius die swye.

Miljoene muskiete gons en zoem om Malan, maar vanaand voel hy nie die bytplekke wat hulle hom toedien nie.

Eindelik gaan staan Sérgio in ’n opening in die bosse. Hulle is omring deur ’n muur van stamme en groen blare. Daar is ’n muwwe reuk in die lug. Dit voel vir Malan kompleet asof hier geen lug deursypel nie.

Sérgio Ramírez se stem klink hees op en die kruiers gooi hulle pakke neer en begin ’n groot tent ooptrek. Hulle beweeg nog steeds stil. Hulle praat byna geen woord nie, en as hulle dit doen, dan is dit in bang fluistertone. Die sweet tap van die professor af. Hierdie gefluister raak ook op sy senuwees. Dit maak hom ongeduldig. Waarom is dit nodig dat hulle so fluister?

Skielik skree hy hard, ‘Manne, praat tog in hemelsnaam hard! Ons is nie in ’n hospitaal nie.’

‘Voel vir my eerder asof ons in ’n kerkhof is,’ fluister Jaap nouliks hoorbaar.

Sérgio pak ’n vuur aan en Ignatius kom nader om dit aan die brand te steek.

Toe die vlamme haastig oplek boontoe, voel hy rustiger.

Weldra speel die vlamlig teen die groen blaremuur en die digte blaredak; dit maak skaduwees teen die dik stamme en telkens is dit asof iemand om die donker stamme na hulle loer.

Nog ’n minuut van stilte draal verby, maar dan kletter die vuur gesellig en weldra hang daar ’n swaar geur van gebraaide vleis in die lug. Die manne waag dit om harder te praat.

Ignatius staan telkens op en stap met sy flits tussen die bosse in. Hy laat dit tussen die bome deur speel.

Skielik is daar ’n rammelende gegrom hier vlak by hom. Die flits se lig spring vinnig in daardie rigting. Blare roer vinnig toe ’n gespikkelde jaguar tussen die takke verdwyn.

‘Dit is beter,’ praat Ignatius hardop met homself. ‘Die oerwoud begin lewe. Ek hou nie van hierdie intense stilte nie.’

Hy laat die kol lig nog hier voor hom rondspeel, en dan verstyf hy skielik.

Hy bring sy ligte geweer vinnig op na sy skouer, sommer met sy een hand.

Die lig van die flits bewe op iets grusame hier voor hom.

Daar kom ’n knop in Ignatius se keel. Hy sluk swaar. Daar kom iets soos ’n vogtigheid in sy oë.

Net langs ’n groot boom, met ’n dik swart stam, gryns ’n geraamte hom toe. Hy kan die hol oogkaste duidelik sien, die ribbebene en die knieknoppe.

Hy retireer effens.

Die lig bly op die geraamte speel.

Die geraamte staan regop langs die boom, maar dit beweeg nie.

Ignatius staan weer stil. Hy moet nie vlug nie. Hy moet liewer nader stap. Moontlik is dit ’n mensgeraamte wat teen die boomstam aangeleun staan. Maar hoekom blink dit so?

Skielik beweeg daardie geraamte! Ignatius Malan, professor in die volkekunde, sien hoe dit omdraai en dan tussen die lower verdwyn.

Die flits val byna uit Malan se hand. Hy tel skielik die geweer op en trek die sneller. Die knal is oorverdowend en die koeël skeur deur die takke.

En dan draai Malan om.

Agter hom staan een van die helpers wat besig was om hout te versamel. Die man kan nie beweeg nie. Sy oogappels vertoon wit.

Skielik donder die hele oerwoud. Van alle kante klink die gedreun van tamboere op. Tamboere wat hulle klanke deur die boomtoppe laat sidder.

Die man skree luidkeels, gooi die hout in sy hande haastig neer en hardloop dan vinnig tussen die bosse deur, terug na die vlot langs die waterkant.

So ver as hy hardloop skree hy luid, ‘Die Wandelende Gees! Vlug, broeders, ons is dood!’

Die ander kruiers hoor sy angstige geskree. Een laat val die stuk vleis waaraan hy gestaan en eet het en breek ook tussen die takke deur.