GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/vusjda-pyle-van-vuur-3.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Pyle van Vuur

— Hoofstuk 3 —

Na die Doodsvure

Die Swart Luiperd kners op sy tande. Die dwerg-mense is besig om die arme Donker as ’t ware op die pont te sleep. Die dier runnik af en toe benoud en rem terug, maar die sterk Pigmeë sleep hom voort. Die pont oor die rivier waggel toe Donker daarop rondtrippel. Dit is of die arme dier weet dat hy in die grootste lewensgevaar verkeer. Sedert hy met sy gemaskerde maat die hele Afrika deurreis het, eilande in die verre oseane besoek het, was hy selde in so ’n benarde, gevaarlike posisie.

Die Swart Luiperd sien hoe twee van die Pigmeë Donker ongenadig toetakel met gevlegde renoster-rieme. Roekeloos van woede spring die Swart Luiperd nou aan die anderkant van die rivier al nader en nader na die plek toe waar die Pigmeë raas. Die tamboere klink nou hard en byna oorverdowend in die Luiperdman se ore. Die Luiperdman se liggaam kloof deur die boomtoppe. Hy beweeg teen ’n verbasende snelheid. Die Pigmeë is te besig met Donker om die geraas en die geskud van die takke waar te neem.

Die Swart Luiperd kom vinnig in die mik van ’n boom tot stilstand. Hy is nou binne tref-afstand van die Pigmeë. Die wreedaardige mensies is nou geen 50 treë van hom af nie. Vanwaar hy staan, kan hy hulle duidelik sien. Hy kan sien hoe Donker nog spook en spartel, om lewe en dood worstel om uit die grepe van hierdie klein woestaards te ontkom. Hy slaag daarin om een van die Pigmee-soldate raak te kap en die liggaam val van die pont af en in die borrelende water. Skaars het die dwerg water gevat of skuim spat in alle rigtings soos drie-vier krokodille feitlik belyktydig op hom af kom. Die liggaam word letterlik aan repe geskeur. Daar word slegs die onderdrukte kreet van die slagoffer gehoor, wat ’n oomblik later deur die angsbevange geskree van die ander Pigmeë oordonder word.

Na etlike momente het die geraas en geskree van die dwerge opgehou. Hulle staar nog na die water wat rooi bevlek met die bloed van een van hul kamerade is. En plotseling is dit of ’n paar van hulle se woede teenoor die arme Donker andermaal met hernude furie ontbrand. Ongenadiglik word hy deur die renoster-sambokke geslaan. Donker se gerunnik word byna ’n hees geskree van pyn. Van waar hy staan, kan die Swart Luiperd sien hoe daar bloed uit die dier se skof uitsypel. Dit kan die Luiperdman nou ten ene male nie verdra nie. Hy vergeet sy eie veiligheid; sy boog span styf met een van die grootste gifpyle daarin. ’n Gedeelte van ’n sekonde daarna volg daar ’n uitroep van pyn, dan ’n hees geroggel. Een van die grootste Pigmeë is dodelik getref. Leon het die pyl feitlik dwarsdeur die dwerg van die oerwoud se liggaam gedryf. Sy makkers sien hoe hy neersak, hoe sy groot hande met gekromde vingers in die hout van die pont ingrawe. Hulle sien die reuse pyl wat in sy rug steek.

Verbouereerd kyk die Pigmeë om hulle rond. Hulle gewaar nie die Luiperdman in die boom nie. Hulle kan in die chaos wat nou volg glad nie daarin slaag om vas te stel waar die pyl vandaan gekom het nie. Hulle weet egter almal dat die snaakse pyl wat nog in die liggaam van een van hul aanvoerders tril, nie soos die wapen van die ander inboorlinge van die oerwoud lyk nie.

Hulle begin deurmekaar babbel en ’n paar kyk met angsbevange, ronde oë na die boomtoppe toe. Donker begin opnuut lastig word en die Swart Luiperd hou net asem op dat hulle die perd nie moet laat los nie, want dan sal Donker seker in die water inspring. Tot sy verligting merk Leon egter dat hulle soos neute aan die rieme vasklou. Daarvan lei die Swart Luiperd af dat hulle opdrag gekry het om Donker geensins te laat ontvlug nie. Die Luiperdman kan die woorde hoor, ‘Die koning sal ons vir die heilige gorilla gooi indien ons hierdie keer nie slaag nie. Pak die swart duiwel. Dit is seker die tweebenige met die kop van ’n swart tier wat ons makker geskiet het. Moenie julle laat afskrik nie. Ons gode het ons geleer om die dood te verag, om nie bang te wees om te sterf nie. Diegene wie se bloed water geword het, sal nooit die welbehae van die groot geeste, gode wat ons voorvaders beskerm, smaak nie.’

Dit is of die tamboere nou stadiger klop, soos ’n moeë hart van ’n oue, en terselfdertyd is dit of die dwerge nuwe moed ingeblaas word. ’n Paar van die Pigmeë kyk stip op na die boomtoppe. Dit is vir hulle darem duidelik dat die pyl uit die hoogte op hul kameraad afgevuur is. Leon pas weer ’n pyl in sy boog, want ’n paar van die dwerge is weer besig om met hul gevlegte renostervel-rieme al hul wraak op die arme Donker te koel. Dit is of hulle die perd ook aanspreeklik wil hou vir die feit dat een van hul makkers so flussies deur ’n pyl uit die hoogtes neergevel is.

Die Swart Luiperd se boog span weer, maar dit is asof hy hom betyds bedink. Hy wil nie graag dat Donker daar van die pont aftuimel nie. Hy sien ook nou dat ’n paar dwergkrygers aan sy kant van die rivier saamdrom; ’n paar van hulle vleg al met boë in die hand tussen die bosse deur op soek na die Luiperdman.

Die Luiperdman bly doodstil in die boom sit. Die hitte van die dag is nou aan die afneem; ’n koel bries begin waai en beweeg die boomtoppe heen en weer. ’n Paar van die jagtende Pigmeë is reeds onder sy boom aan die rondsnuffel. Indien hy nie deur een van daardie pyle afgeskiet wil word nie, sal hy die aftog moet blaas, en danksy die wind sal dit miskien nie so moeilik gaan nie. Die Luiperdman het ook al sy honger vergeet. Hy voel bekommerd oor Donker, byna hartseer. En al kos dit ook sy lewe en dié van sy twee tiers sal hy nog vannag na Donker gaan soek, al moet hy die stat van die klein duiweltjies binnedring. Die stat kan nie baie ver wees nie, want op die windvale aangedra, hoor hy die gesing van vrouens en ander krygers – ’n ritmiese, barbaarse gedans.

Die Luiperdman bly ’n ruklank doodstil in die mik sit, totdat die wreedaardige snuffelaars onder hom die taak gewonne gee. Hy sien hoe dosyne Pigmeë daarin slaag om sy perd vas te trek, om te gooi op die grond dat die arme dier so hik en sy kop en pote stewig vasmaak en op ’n slee sleep, wat deur ’n hele streep Pigmeë getrek word.

Weldra is Donker en sy aanvallers uit die oog. Vir laas hoor hy nog sy ou ryperd se hees gerunnik, asof hy nog hoop dat sy baas dalk sy soebatgeluid sal hoor en hom te hulp sal snel.

Nog net ’n oomblik lank talm die Swart Luiperd hoog in die boomreus. Hy voel eensklaps hulpeloos van woede jeens hierdie klein, wrede mensies van die bosse en hy dink onwillekeurig daaraan dat daar baie was wat hom gewaarsku het om nie hierdie oerwoudgebied te probeer deursteek nie.

In die hart van Afrika, het hulle gewaarsku, is daar nog baie dinge waarvan die wêreld niks weet nie. Hulle het gepraat van kannibale, van bloeddorstige mense wat die gebied teister en al wat vreemd is aanval en aan hul gode offer. Maar die Swart Luiperd was nog nooit bang om gevare te trotseer nie, om vir die avontuur se onthalwe tot diep in die onbekende hoeke van Afrika in te gaan nie. Maar hierdie keer was dit nie net die avontuurlus wat hom hierheen gedryf het nie, maar ’n veel belangriker sending –

Die Luiperdman swaai hom vinnig in die boom om en spring dan so vinnig maar so geruisloos moontlik van tak tot tak, weer al langs die rivier af terug na die plek toe waar hy sy twee mak luiperds by hul heerlike maal agtergelaat het. Hy moet al sy wilskrag inspan om nou sy rug na Donker toe te draai, maar daar is geen ander uitweg nie. Hy sal eers helder oor die saak moet nadink, oor wat sy volgende stap sal wees. In elk geval weet hy dat hy nie sonder Donker hierdie ryk van die dwergras sal verlaat nie. Hy en sy luiperds sal nie weggaan voordat hulle Donker nie uit die hande van die boosaards verlos het nie.

Vaag hoor Leon die geklop van die Pigmee-doodsboodskappers, die eentonige tamboergedreun wat op ’n mens se senuwees werk, aanhoudend sonder ophou, en hy verbeel hom nou dat daar nou ’n luider tamboere-geklop dofdreunend tot sy ore kom.

Daar is nog iets wat die Swart Luiperd seker weet, en dit is dat die Pigmeë gewis sal probeer om vir hom en sy twee ander maats in die hande te kry. Hulle sal miskien vannag nog probeer.

· · ·

Die tropeson se strale begin verflou en skroei nie meer so ongenadig-fel op die aarde neer nie.

‘Spikkels, Simson!’ skree die Luiperdman toe hy hom weer min of meer op die plek bevind waar hy sy maats agtergelaat het. Hy merk dadelik dat een van die leeus daarin geslaag het om genoeg krag te versamel om weg te sluip. Die maanhaar is egter morsdood.

Daar is dadelik reaksie op Leon se bevelstem. ’n Gegrom kom van die linkerkant van die bos af, en die volgende oomblik skuur die twee luiperds teen hul baas aan. Hulle is lekker dik gevreet; hulle lek nog hul bekke af. Van die vleis is daar maar min vir die Luiperdman oor. Maar hy slaag tog daarin om ’n paar repe van ’n deel van die bok waaraan die tiers nie gevreet het nie, uit te sny. Sommer daar langs die kant van die bosse steek die Swart Luiperd ’n vuurtjie aan en begin willoos van die vleis braai.

Die son is vinnig aan die sak en die voëls en bobbejane begroet die naderende nag met geluide wat hierdie oerwoud nog vreemder en geheimsinniger maak. Dan is daar die gedoem van tamboere wat nog een strook deur voortdreun. Die geluide word weldra verder gedra, na gelang die grysheid van die skemerte om die dik boomstamme kruip.

Dit is of die roofdiere en ander diersoorte in hierdie bedompige, klam oerwoud vanaand nie sommer gou hul stemme wil laat hoor nie. Dit is of ook hulle wag en luister want hulle hoor dat die oerwoudmense praat. ’n Gevoel van naderende onheil wel in die Swart Luiperd op. Met sy twee tiers het hy langs die rivier op beweeg, tot by die plek waar Donker die plaat bosse nader nagdie rivier toe ingejaag is.

Spikkels en Simson het daarin geslaag om hul gespikkelde lywe in die mik van ’n boom te lig, en die Swart Luiperd sit so ’n entjie van hulle af op die tak van ’n ander boom. Maar hy luister nie na die tamboere nie. Op sy hande en voorkop biggel die sweet. Muskiete het uit die kuile digby opgewarrel en sing al om die Swart Luiperd se kop. Die water kabbel onder hom verby en die strale van ’n byna volmaan doop die stroom silwerblink.

Vir die soveelste keer gaan die Swart Luiperd se gedagtes terug na ’n paar weke gelede, voordat hy op hierdie tog begin het. Dit was toe hy van die Eiland van die Blou Duiwels af teruggekeer het, dat hy dit verneem het dat Sonet, wat aan die universiteit in Stellenbosch was, saam met ’n vriendin, Marie de Villiers, die mal nuk gekry het om saam met ’n ekspedisie van oudheidkundiges en aardkundiges na die Sahara-woestyn te vertrek. Sonet, Leon se niggie, het gesoebat om saam te gaan totdat Leon se oom toegestem het. Daar is verduidelik dat hulle belangstel in die mense wat die Sahara-woestyn bewoon. Hulle sal binne enkele maande weer terug wees. By die Swart Luiperd se tuiskoms in Noord-Transvaal het hy hiervan verneem. En toe het die onrus binne-in hom gegroei. Die geselskap is per skip tot naby Zanzibar en daarvandaan sou hulle met motors na die Sahara vertrek. Dit was enersyds ’n vrees en onrus dat Sonet en die geselskap lewensgevare sou teenkom en miskien nie lewendig daarvan sou afkom nie, en andersyds die avontuur honger wat Leon en sy drie maats eindelik gedryf het om die tog te onderneem, maar hulle wou deur die hart van Afrika gaan – en hier is hulle. Leon is vasberade om die geselskap te vind.

Die tiers word rusteloos. Dit is nou ook of hulle nie kan kleinkry waarom die tamboere so tergend-eentonig moet voorttokkel nie.

Hoe waaghalsig dit ook al skyn, het die Luiperdman sy plan agtermekaar. Dit kan maklik beteken dat hulle vannag, of môre vroeg, hul einde tegemoet sal gaan, maar kom wat wil –

Vinnig haal die Luiperdman sy masker van sy gesig af. Die sweet op sy voorkop pêrel in die maanlig. Hy vee haastig die sweet af en plaas die luiperdmasker dan weer terug. Dit sal vannag miskien weer net die afgryslike tiermasker wees wat hom en sy maats gaan red. Hy haal sy jagmes onwillekeurig uit die leerskede uit en betas die vlymskerp lem met sy duim en voorvinger.

In die maanlig kan hy ’n paar kano’s van die Pigmeë ’n paar treë van die pont af sien lê. Een van die kano’s is groot genoeg vir die Luiperdman en sy tiers om na die oorkantse wal te vaar.

Die Swart Luiperd rig hom op die tak orent en hy tuur in die rigting waarvandaan die tamboer-gedreun kom. Dit is of hy die opvlammende lig van vure daar tussen die bome kan waarneem. Dit moet seker die plek wees waarheen Donker vervoer is. Hy hoor nou ook die binnensmondse gesing van vrouens en stemme wat brommend praat.

Opeens druk die Luiperdman hom vaster teen die boomstam vas. Hier onder hom, langs die rivier in die nou paadjie, kom drie figure aangesluip. Dadelik sien die Luiperdman dat dit Pigmee-soldate is wat tot die tande toe gewapen is. Hulle het elk ’n lang spies in die hand en ook ’n pyl en boog.

Die Swart Luiperd weet genoeg van hierdie oerwoudbewoners met hul sluipdier-tred af om te weet dat hierdie spioene is; dat hulle deur hul kaptein uitgestuur is om te verken; om vas te stel waar die vreemdeling hom bevind. Die Luiperdman bly roerloos teen die boomstam staan. Die Pigmeë beweeg onder hom deur sonder om een enkele woord te wissel. Die twee luiperds het die gedaantes ook gewaar en gluur die Pigmeë aan. Hulle beweeg soos skaduwees deur die bome. ’n Ligte windjie wat van die groot berge se kant af kom, roer die takke en blare effens.

Etlike minute wag die Luiperdman voordat hy na ’n boom nader na die water kant toe swaai. Daar bly hy weer ’n oomblik staan, en tuur in die rigting van die pont en die kano’s. Daar is geen lewe te bespeur nie, maar die Swart Luiperd neem aan dat dit baie waarskynlik is dat die Pigmeë tog seker ’n wag of twee sal aanstel om die riviervaartuie te bewaak.

Die Swart Luiperd beveel egter sy maats om hom te volg en die volgende oomblik spring hy rats van die boom af en land met ’n geplof op die klammerige grond. Hy gaan egter dadelik plat val en tuur stip in die rigting van die kano’s waar die bome lang skaduwees oor die rivier gooi. Daar is nog egter geen beweging nie. Die Luiperdman is egter nie van plan om sommer so goedsmoeds na die wal te stap nie. Hy tel haastig ’n klip langs hom op en werp dit die volgende oomblik ’n paar treë van hom af weg. Dit plons in die water – en ’n sekonde later kom daar ’n beroering in die skaduwees. Dit is ’n klein, bonkige gedaante, met ’n groot kop. In die maanlig kan die Luiperdman sweer dat hy die wit van die groot oë van die Pigmee gesien het, oë wat ronddraai in hul kaste. ’n Spies in die hand van die dwerg blink in die maanligstrale.

Nou weet die Swart Luiperd wat hy wou weet. Spikkels het die gedaante ook gewaar en tot die ontsteltenis van die Luiperdman grom sy waarskuwend. Die Pigmee hoor daardie dreigende gegrom, en soos blits verskyn daar nog twee van hierdie sluipers van die bosse in die maanlig. Hulle staan langs mekaar en tuur met ronde oë in die rigting waar Leon skuil. Hulle fluister gedemp, en onderwyl die een nog stip in Leon se rigting staar, verdwyn die ander twee soos skaduwees weer in die donkerte in. Nog ’n keer gaan die tierwyfie daartoe oor om met ’n aggressiewe gegrom hul skuilplek te verraai.