GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/uuzpwa-skedels-in-die-sand-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Skedels in die Sand

— Hoofstuk 1 —

Die Opiumsmokkelaars

Plotseling ruk die Luiperdman sy perd in. Hier voor hom in die bosse het hy stemme gehoor. Hy kyk onwillekeurig na die son. Dit brand fel uit ’n wolkelose hemel neer. Bosse, ruigtes en klipkoppies omring die Luiperdman en sy perd. Donker trek sy ore na vorentoe en snuif die lug in. Hy het ook lankal iets gewaar.

Leon Fouché, alias die Swart Luiperd, vergeet dadelik sy lomerigheid. Die son en die rit deur die bosse het hom al slaperig gemaak.

Donker staan tru en onderdruk ’n snorkgeluid.

‘Stadig, Donker,’ paai die Luiperdman en streel die dier se gespierde nek. Die sweet slaan op die blink-swart vel van die perd uit. Hulle het ’n lang rit agter die rug. Drie dae dat hulle nou al daar van Johannesburg af hier deur die bosse vleg.

Op soek na wat?

Die Luiperdman het gesweer dat hy nie sou rus voordat hy met Sonet Beukes se ontvoerders afgereken het nie. Daarom is hy hier. Hy en Donker, en Spikkels en Simson. Hy kyk onwillekeurig na agter toe. Êrens in die ruigtes agter hom het sy twee gespikkelde katte ook gaan vassteek. Simson het net die vars reuk van ’n bosbok in sy neusgate voel prik, toe hy die ander reuk gewaar. Dit is ’n mensreuk, maar daar is nog ander reuke, walglike reuke. Die luiperdmannetjie grom saggies en kwispel sy stert. Hy kyk om na die wyfie toe.

Spikkels lê ’n entjie van hom af met haar groot kop op haar voorpote. Die oë gloei in die rigting van die stemme wat nou al harder klink.

’n Koedoe wat onderkant die wind gestaan het, proes geweldig en met sierlike horings staan die dier vinnig opsy, half agter die breë stam van ’n wildevyeboom. Deur die takke, sy groot horings verskuil agter die takke, hou hy die ruiter dop. Die koedoe verstaan nie. Dit is of sy reukorgane hom nou skoon in die steek laat. Die reuk wat hy kry, is die reuk van luiperds. En hulle moet hier digby wees, maar wat hy sien, is nóg mens nóg dier. Daar is ook die duidelike mensreuk wat af en toe na hom aanwaai. Nuuskierig gluur hy die Luiperdman met sy swart luiperdmasker aan. Dit stem hom onrustig, maar tegelykertyd nuuskierig.

Opeens gly die Swart Luiperd vinnig uit die saal. En die koedoe gee die volgende oomblik haastig pad.

Langs sy perd gaan lê die Luiperdman die volgende oomblik plat op sy maag. Hy loer deur die stamme en laaggroeiende struikgewas, maar hy gewaar nog niks.

Sag beveel hy Donker, ‘Weg, Donker!’

’n Oomblik lank kyk die dier onseker om hom rond, asof hy na ’n geskikte plek soek om heen te vlug. So geruisloos moontlik, asof hy gevaar verwag, draf hy na die ruigtes links van hulle af. Tussen die doringstruike onder ’n groot wildegranaat, waarvan die oranje blomme in helder kontras teen die blou hemel staan, gaan die perd staan. Sy neusgate is nog steeds wydgesper. Daardie ander reuk slaan hom nog dronk.

Die Swart Luiperd druk sy pylekoker vol pyle agter sy rug reg, betas die boog wat ook oor sy skouer geswaai is en sluip dan ’n oomblik daarna vorentoe. Sy tred is die tred van ’n roofdier.

Binne enkele treë vorder hy en sak dan skielik op sy knieë neer. Sy regterhand lê op die jagmes in die skede aan sy sy.

Voor hom kan hy nou vaagweg mense uitmaak. Plotseling hoor die Luiperdman die klank van geld. Daar volg ’n deurmekaar gepratery. Leon Fouché waag dit nog nader. Hy is nou slegs sowat twintig treë van die persone af en hy kan nou baie beter sien. Die gesprek word in Zoeloe gevoer.

‘Wanneer kom julle met die opium? Verlede keer het julle ons lank laat wag!’

Die spreker is ’n gesette man. Hy rig sy woorde tot ’n groot, frisgeboude Zoeloe met gespierde arms.

‘Ons sal hier wees wanneer ons tevrede is dat die opium reg verpak is op die esels.’

Eers klink hierdie woorde na Grieks vir die Luiperdman wat daar agter die struike skuil, maar na ’n rukkie snap hy waaroor dit gaan. Sy hart bons hewiger. Hy is eindelik op die regte spoor. Leon kan nie meer stil sit nie.

‘Dan moet ons die hele nag hier wag. Ons sal nie weet presies wanneer julle kom nie.’

‘Dit sal wees voor die groot fees vanaand,’ is die versekering van die frisgeboude Zoeloe.

‘Dis seker reg so. Wees net vroeg genoeg dat ons nie met die sakke opium in die dag hoef te reis nie.’

Die gesette man se gesig is rooi verbrand van die son wat nou reg bo in die hemelruim op die groepie neerskyn. Die sweet biggel van sy voorhoof af en telkens moet hy gebruik maak van sy sakdoek wat hy in sy hand hou.

Die ander rampokker langs hom kou naarstiglik aan ’n stuk kougom. Hy het ’n ruwe voorkoms, diep groewe op sy voorhoof en diepliggende oë. Hy staan groot en breed voor die krygers en ’n rewolwer hang slap langs sy sy.

Die frisgeboude Zoeloe buig diep neer en mompel, ‘Ons sal aan ons hoofman alles vertel.’

Met hierdie woorde draai die man om en gevolg deur sy makkers verdwyn hulle die ruigtes aan die ander kant in. Al met ’n dowwe voetpad af beweeg hulle vinnig. Vir enkele minute kan die geplof van hulle kaal voete in die stof gehoor word en dan is dit stil. Die twee mans daar in die oop kol swyg en staar die Zoeloes ’n oomblik agterna. Dan gaan sit hulle moeg in die skaduwees van ’n groot boom.

Opeens is daar iets soos ’n gil-skree. Vinnig kyk die Luiperdman om. Die geskree het van agter af gekom.

‘Brown, gou julle! Bring my geweer! Hier is tiers!’

Dit is ’n benoude stem wat skree en die forse gestalte van die man met die rewolwer aan sy sy, beweeg dadelik. In ’n oogwenk is sy vuurwapen in sy hand. Hy storm vlak by die Swart Luiperd verby. Die Luiperdman het vinnig agter die bosse platgeval toe hy die geskree gehoor het. In ’n oogwenk het hy besef dat die twee nog ’n maat het en dat hy op Spikkels-hulle afgekom het.

Brown, die gesette man, hardloop ook die volgende oomblik by hom verby. Brown het twee geweers in sy hande. Hy is bra uitasem. En dit kan die Luiperdman verstaan, want die man se liggaam is te swaar vir sy bene – gans te swaar!

Toe hulle verby is, kom die Luiperdman vinnig orent, soos ’n roofdier wat hom gereed maak om te spring.

Vlak by die plek waar die Luiperdman die saal verlaat het, staan ’n lang, slanke man, met ’n swart breërandhoed, stip in een rigting en kyk.

‘Daar, Brown, daar! Skiet, man!’

‘Waar?’ bibber Brown en dan sien hy die groot gespikkelde kop van die luiperdmannetjie. Hy lê aan. Simson grom.

Die volgende oomblik wip Brown soos hy skrik.

‘Skiet net, en jy is dood!’

Die Luiperdman se stem klink luid en hol agter sy masker. Dit weergalm deur die bosse. Dit is ’n bytende bevel! Die stem klink soos dié van iemand wat uit ’n diep, leë put praat.

Brown laat val byna sy geweer. Die slanke man staan verstom en sy waterogies soek tevergeefs na die eienaar van daardie stem. Die breedgeskouerde persoon met die rewolwer, is egter nie van stryk gebring nie.

‘Pasop, mense, dit is speurders – ’

‘Ga ’n speurders nie, Jonker. Hoe sal hulle hier kom? Hoe sal hulle weet?’

Die sweet glinster onder Brown se neus en telkens loer hy na agter, vinnig, koorsagtig asof hy verwag dat die luiperd uit die bome op hulle sal afstorm.

Hulle sien die Luiperdman nog nie. Leon het die takke van ’n moepelbos effens opsy geskuif en loer daardeur na die drietal. Sy pyl en boog lê voor hom op die grond gereed.

Nou is die drie manne soos verskrikte wildsbokke. Hulle weet nie of hulle moet praat, storm, stilstaan of weghardloop nie. Hulle durf nie hulle rûe op die luiperds draai nie. Hulle is vasgekeer tussen die stem wat praat en die dodelike tierkloue agter hulle.

‘Gooi julle wapens neer, menere, of anders skiet ek julle soos jakkalse dood.’

‘Wie is jy?’ skree Jonker uitdagend.

‘Doen soos ek beveel het, of my luiperds sal op julle afstorm.’ Leon se stem is dreigend.

Jonker lag.

Brown gehoorsaam, en sy skraalgeboude maat volg sy voorbeeld. Die twee geweers val op die stowwerige aarde neer.

‘En jy – jy wat lag asof dit ’n grap is, gooi jou rewolwer neer en kom nader na my toe.’

Jonker is egter nie bang nie.

‘Kom uit jou skuilplek, dan sal ek gehoorsaam. Jy het mos ’n wapen en kan jou verdedig. Wys jou gesig!’

Daar heers ’n oomblik van stilte en Jonker lag weer asof hy ’n triomf behaal het.

‘Indien jy ’n speurder is, kan jy maar seker daarvan wees dat jy nie lewendig hier sal uitkom nie. Ons sal jou lyk in die grond begrawe. Toe, openbaar jou identiteit, en sê wat jy wil hê en waaroor jy ons molesteer.’

Jonker kyk na die klompie struikgewasse waar hy meen die eienaar van die stem hom skuilhou.

En die volgende oomblik staan die Luiperdman regop. Hy neem vinnig ’n paar treë vorentoe en steek dan vas.

Jonker trek sy asem diep in. Die ander twee hyg hoorbaar. Sterk, gespierd en slank, staan die Swart Luiperd voor hulle. Sy swart luiperdmasker blink in die son, lyk afgryslik selfs hier in die stekende son. Die hemp span styf om sy liggaam. Die spiere lê seningrig op sy voor- en bo-arm. In sy linkerhand hou hy sy boog vas, in sy regterhand ’n pyl.

Brown kom effens tot verhaal. Hierdie gemaskerde is slegs met pyl en boog gewapen. Hy skep moed. Hy wil omdraai en na sy geweer toe terugspring, maar Leon se stem klink soos ’n sweepslag deur die lug.

‘Pasop, Brown! Anders maak jy kennis met my maat se regterklou.’

Brown besef nie dadelik wat die gemaskerde figuur bedoel nie. Maar die volgende oomblik kyk hy vas in die gloeiende oë van die luiperdmannetjie wat stadig, met veerkragtige tred, op die geweers afloop. Spikkels volg kort op sy hakke en sy trek haar ore plat op haar kop, gereed om na die gesette man te spring.

‘Nog een verkeerde beweging, Brown, en ek gelas my tiers om julle te verskeur!’

‘Jou tiers?’ vra Brown ongelowig en die spiere ruk in sy gesig.

‘Ja, myne, Brown,’ kom dit kil en saaklik asof dit ’n gewone ding is dat tweebeniges met tiers maats maak.

‘Dit is pure bog,’ snou Jonker niemand in die besonder toe nie. Hy swaai net om en die volgende oomblik mik hy na Simson se kop met sy vuurwapen.

Iets gons deur die lug, die geluid is soos die fluitende geraas van ’n windswael wat oor ’n mens heenduik. Die volgende oomblik byt die giflose pylpunt uit die Swart Luiperd se boog in die sagte vlees van Jonker se skouer. Die man uiter ’n gil. Die pyl skram weg nadat dit ’n lelike snywond agtergelaat het. In ’n oomblik is Jonker se hemp effens rooi gevlek van die bloed. Daar is al weer ’n ander pyl in die Luiperdman se boog.

‘Hou nou op speel, Jonker, en gooi jou rewolwer neer,’ beveel die Luiperdman.

Met sy linkerhand betas Jonker sy wond en dan gehoorsaam hy. Die Swart Luiperd kan nie uitmaak of dit vrees of haat is wat uit die man se klein ogies straal nie.

‘As dit jou tiers is, jaag hulle weg, in hemelsnaam,’ stotter Brown. ‘Wat wil jy met ons maak?’

Brown en die skraal man, Levine, staan verskrik nader na die Luiperdman toe, toe Simson tot vlak by die twee geweers draf en sy twee groot, swaar voorpote op die kolwe daarvan neersit. Spikkels grom van honger en verergdheid. Was dit nie vir hierdie tweebeniges nie, sou sy nou al heerlik aan die bosbok gelê en kou het. Wat se ontydige geskietery is dit helder oordag wanneer ’n mens knoue in jou maag kry van die honger – en die dors! Sy gaan lê protesterend langs die rewolwer wat Jonker neergesmyt het.

Dan gebeur daar nog iets wat die drie mans se monde hier in die eensame, onherbergsame bosse, laat oophang. Leon se stem klink helder, ‘Donker, ou perd, kom hier!’ en hy fluit nouliks hoorbaar agter sy masker deur sy tande.

Die takke raas skielik aan die drietal se linkerkant en die volgende oomblik kom die perd fier tussen die bosse te voorskyn. Hy draf pronkerig tot by die Swart Luiperd. Hulle sien die twee vangtoue wat aan die saalboom vas is. Donker staan nou half voor die Luiperdman tussen sy baas en die drie ontwapende, verskrikte manne.

Jonker sien dadelik sy kans en beweeg dan, blitsig, rats en met mening. ’n Jagmes is styf in sy gespierde hand omklem.