GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/ulggng/0/

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Die Dood Kom Stil

— Hoofstuk 1 —

Die Wolfman

Groot en rooi kom die volmaan agter die ruwe spitse van die Kenia-gebergtes uit. Die nag is wolkloos en onheilspellend stil; nie ’n luggie wat die blare van die oerwoudreuse beweeg nie. Die fonkeling van die sterre word flouer noudat die maan rond en rooi agter die berge uitgekruip het. Die maanlig verjaag die donkerte van so flussies, maar onder die groot woudreuse lê die skaduwees dieper en donkerder.

Daar is skielik ’n ligte beroering agter ’n groot rots aan die kant van die groot woud. Nou is daar baie sag die gemurmel van ’n waterstroompie wat hier êrens tussen die bosse in die rigting van die vlaktes kronkel. Langs die rots doem daar skielik ’n gestalte op, asof dit uit ’n gat uit die aarde opgekruip het. Sy bewegings is nouliks sigbaar. Nou staan die gestalte roerloos, asof dit deel van die swart graniet is. Die strale van die maan blink op sy swart vel. Onreëlmatig gaan sy bors op en neer.

Sy blik is gevestig op die bergspitse waaragter die rooi maan so pas uitgekruip het. Daar is spanning in die hele houding van die man te bespeur; hy is kort van gestalte, geen vyf voet hoog nie, maar breedgeskouerd, sterk. Sy groot oë soek teen die hange van die Kenia-gebergtes op; in die skaduwees van die wit stamme van woudreuse bly sy blik rus.

Soos ’n dier besnuif hy die lug; al sy sintuie is tot die uiterste gespan om enige verdagte geluid of reuk op te vang. Die wit van sy oogappels kan in die helder lig van die maanskyn gesien word; sy lippe is dik en vogtig. In sy regterhand hou hy ’n lang stok vas, in die ander hand blink die lem van ’n assegaai. Die kort mannetjie hier in die oerwoude van Afrika, so te midde van donker rotse en die diep skaduwees onder die bome, met die magtige Kenia-gebergtes hier voor hom, is byna naak, behalwe vir die stertriem van seekoeivel.

Hy beweeg skielik vinnig en rukkerig, met die tred van ’n trapsuutjies. Sy bewegings is nouliks waarneembaar. Hy beweeg na die kant van die bosse toe; sluipend soos ’n skaduwee beweeg hy deur die maanlig, en dan staan hy by ’n dik boomstam. Dit is ’n hol boomstam wat baie somers gelede deur die weerlig getref is.

Die blik van die Pigmee gaan weer na die berge, asof hy gevaar, onheil uit daardie rigting verwag. Die maan is vanaand nie verniet rooi nie! Netnou toe die maan opgekruip het agter die bergspitse was dit bloedrooi, byna soos mensebloed, maar nou groei dit helder in die welfing bo, helder soos ’n gloeiende elektriese lig.

Die Pigmee hou nie van hierdie stilte nie, hierdie drukkende, geheimsinnige stilte. Selfs die wouddiere is stil, stil asof hulle wag op iets om te gebeur, hulle blik na die berge, soos die Pigmee s’n.

As die maan so rooi opkom en dit is so stil, dan is daar net een dier wat sy tande slyp, sy rooi tong oor sy lippe laat beweeg. Dit is die groot dier wat die Pigmee vrees, die Wolfman wat maande gelede hier in die woude kom intrek het, sy slagoffers geëis, en die Monga’s onder sy hiel gekry het. Die Wolfman heers in hierdie woud en die bloedlustige Monga’s is sy slawe, sy soldate. Hoeveel Pigmee-krygers en kinders is nie al vermoor deur die Monga’s nie; met hulle strydbyle en assegaaie afgemaai nie. Die Pigmee wat daar naby die hol boomstam staan, wonder met vrees in sy hart waar die Wolfman die volgende keer gaan toeslaan. Vroeër vanmiddag was die fluite en die tamboere van die Monga’s duidelik te hoor. Dit het sag geklop soos die hart van ’n uitgeputte ou mens. En toe die son ondergaan, was daar stilte soos nou, en die maan het rooi geword, en die Pigmeë-hoofman het geweet dat dit onheil voorspel.

Die Wolfman en die Monga’s wil die Pigmeë uitmoor en ook die laaste witmens in hierdie onherbergsame streke. Die Pigmeë was nog altyd goedgesind teenoor die witman. Hulle het in vrede saamgeleef, maar toe kom hierdie Wolfman, ’n mens met die kop van ’n wolf, en die blare van die bome en die grond langs die spruite het die rooi vlekke van mensebloed gedra.

En vanaand het die hoofman vir hom, Mesgh, geroep. Daar was net een kans vir die Pigmeë, net een laaste hoop om gered te word, om nie almal deur die hand van die Wolfman en sy boosdoeners te sterf nie.

Mesgh moet hulle, die Pigmeë, se beste vriend gaan soek. Hy moet die oerwoud in soek totdat hy die Luiperdman opgespoor het. Die hoofman het geweet dat die deurlugtige Luiperdman, met sy twee gespikkelde katte en sy swart perd, hierdie tyd van die jaar in die oerwoud jag.

Die strale van die maan laat die sweet op Mesgh se breë bors soos pêrels skitter. Die tropenag is warm, bedompig en benoud. Dit is of hierdie verskriklike stilte die inboorling skielik senuweeagtig stem.

Vinnig swaai hy die groot stok in sy hand die volgende oomblik omhoog. Dan swaai hy dit op die hol boomstam neer. Dof dreun dit deur die oerwoud, luid, ver sirkel dit uit, ’n swaar trilling wat deur die nag golf. Weer en weer, kort na mekaar, bring hy die stok op die hol boomstam neer. Die spiere bult op sy bo-arm uit. Dan hou hy ’n oomblik op en luister intens na die geluidsgolwe soos dit uitkring, wyd en ver oor die oerwoudlandskap.

DOEM! DOEM! RAT-TAT-TAT! DOEM!

Lank duur dit voordat die geluid wegsterf, die dreuning vervaag, opgeslurp deur die nag en die onmeetlikheid van die boswêreld.

Dit is Mesgh se enigste hoop; hierdie boodskap wat in die nag uitgestuur word – hierdie boodskap wat alleen deur die Pigmeë verstaan word, en deur hom, hulle vriend, die Swart Luiperd. Êrens in hierdie stil nag wag hy, altyd waaksaam, en hy sal dit hoor en sy stem sal terugkaats na Mesgh toe. Hy sal kom om hulle te verlos van die bloedlustige dwingelandy van die Wolfman.

Die Pigmee-kryger buk dieper die skaduwees in. Die Monga’s sal ook hierdie boodskap hoor, hulle sal weet dat dit die Pigmeë se bostelegraaf is wat praat, maar hulle sal nie weet wat die bostelegraaf sê nie. Hierdie gedreun in die taal van die bosse, sal duidelik in die Luiperdman se ore klim, en die taal sal aan hom sê:

DOEM! DOEM! RAT-TAT-TAT! DOEM! – ‘Ons roep! Daar is bloed! Ons roep!’

Daar kom geen antwoord uit die bosse nie. Die Pigmee word onrustig. Hy beweeg en weer stuur hy die boodskap van dood en verskrikking uit, ’n smeekbede om hulp. Dit eggo teen die hoë kranse aan. Dit word ver buite die grense van die Pigmeë se land gehoor.

Weer wag die bostelegrafis. Is die Luiperdman vanaand doof, of is hy ver buite die grense waar die boodskap hom nie sal bereik nie?

Maar hierdie keer wag hy nie lank nie. Dof en ver en baie onduidelik kom die antwoord, daar van die hoë berge se kant af wat wit in die sneeu gedoop lê. Dit is die Luiperdman wat praat.

RAT-TAT-TAT! DOEM! DOEM! RAT-TAT-TAT! DOEM! – ‘Ek het gehoor; ek kom!’ en dan kort na mekaar harder en luider klanke wat aansweef na Mesgh se ore toe:

DOEM-DOEM! DOEM-DOEM! – ‘Wie doop die maan in bloed?’

Mesgh beweeg vorentoe, angstig om te antwoord.

DOEM-RAT-TAT-DOEM-RAT-TAT-DOEM! – ‘’n Bose (een), die Wolfman. Kom na die Heilige Berg.’

Skielik is daar ’n ligte windjie wat uit die noorde deur die bosse roer. Dit bring die antwoord van die Luiperdman duidelik.

DOEM-RAT-TAT-DOEM! – ‘Op pad na die Heilige Berg.’

Vinnig staan Mesgh van die boom af weg. Hy moet ’n hele rukkie wag. Die Monga’s sal hierheen kom as hulle die tamboergeklop gehoor het. Die Wolfman sal sy jagters uitstuur om te spioen; om miskien weer ’n slagting in die hutte en die strooise aan te rig. Hy moet hier diep in die donkerte skuil, waar die skerp oë van die Wolfman se krygers hom nie sal kan raaksien of uitsnuffel nie.

Sy boodskap het die Luiperdman bereik, en dit maak hom rustiger. In die duisternis van die skaduwees onder die bome vat hy sy assegaai vas, stewig, en sy ore spits.

Dit is nie nou meer so stil nie, so tergend stil soos flussies nie. Bo van die kranse af het die groot aap begin skree, uit volle bors, ’n hees bloedstollende geroep na sy wyfies. Die Pigmee in die donker vrees hierdie ape, maar die vrees vir die Wolfman en die bloeddorstige Monga’s is veel groter. Hier in die berge by die krater is die boerplek van die groot ape wat vleis eet, maar ’n paar van die dapperes het al daarin geslaag om ’n groot mannetjie af te maai.

Maar die Wolfman en sy krygers! Hy kom so stil soos ’n wolf, byt en verskeur en verdwyn in die nag. Mens hoor hom nie kom nie. Jy voel net dat hy byt, sy tande diep in jou wegslaan, en dan laat hy jou sterf.

Iewers agter hom laat ’n leeu wat honger is sy klaende gebrul hoor. Ver gee ’n maat antwoord en die geoefende telegrafis wat hierdie wêreld met sy diere goed ken, hoor hoe die leeu verder weg in die rigting van die berge jag.

Lang ure gaan verby. Die bedompigheid wat hier tussen die bosse geskuil het, is stadig aan die verdwyn. ’n Koel luggie waai en dit laat die blare van die woudreuse ritsel. Hierdie geluide stem hom rustiger. Dit is geselskap, dit verjaag die ergste vrees vir die nag en die verskrikking van die Monga-duiwels met hulle Wolfman-aanvoerder.

Opeens kom daar ’n bloedstollende kreet van die berge se kant af. Dit eggo wreed deur die nag, luid en skrikaanjagend. Mesgh druk hom vas teen die boomstam en sy spiere is tot die uiterste gespan. Dit voel of sy hart in sy keel klop. Daardie bloedstollende geluid was uit die bose. Dit is ’n lang huilkreet, uitdagend, soos ’n stem van iets uit die hel. Dit is nie die gevreesde vleisetende ape nie. Dit is die stem wat almal in die bosse in die afgelope maande leer vrees het. Die huilkreet en triomf-kreet van die Wolfman. Nagte al het Mesgh hierdie vreesaanjagende kreet gehoor en dan het bloed gevloei. Ewe skielik is die anders dapper Pigmee bang vir die nag, vir die bosse, vir die maanligkolle wat hier en daar deur die blaredak val.

Die Wolfman en sy moordenaars was natuurlik nader aan hom as wat hy gedink het. Miskien het hulle geweet dat hy hier is. Die Wolfman ruik mos alles, hy het arendsoë wat ver kan sien, deur die granietrotse en ver in die duisternis in. ’n Skielike paniekerige vrees pak Mesgh beet. Hy verlaat die duisternis, hardloop die bosse dieper in; besef dan dat hy homself onnodig aan gevaar blootstel en vlug weer onder die takke van ’n boom in. Hier wag hy angsbevange – en dan hoor hy weer die grusame huilkreet van die Wolfman.

Dit klink verskriklik naby, sommer hier ’n paar honderd treë van hom af, hoër teen die berg op, daar êrens in die donker tussen die hoë rotse.

Mesgh druk sy ore teen die grond. En hy luister met die skerpheid van die oor van ’n roofdier. Hy hoor dit. Voetstappe wat nader kom, kaalvoete van die Monga-duiwels wat die gif van die Wolfman in het; wat hom aanbid. Sal hy die bosse invlug? Nee, hy kan nie. Die Swart Luiperd sal hierheen kom. Sal hy dit waag om weer hard te klop aan die hol boomstam, sodat die Luiperdman hoor dat hy vasgekeer is? Miskien is hul vriend met die luiperdkop nou nader aan hom, miskien digby.

Dan opeens pak ’n nog wilder vrees hom beet. Teen die hang van die berg, sowat ’n honderd treë van hom af, is daar ’n skaduwee. Die maan verlig die omgewing waar die gestalte staan baie duidelik. Mesgh se oë peul uit hulle kaste.

Daar spring die Wolfman met sy aaklige wolfkop op ’n rotsstuk en met sy afgryslike bakkies bestudeer hy die wêreld.

Agter hom is daar nog iets – twee Monga-moordenaars. Mesgh sien hul groot gestaltes, die langerige hare wat in byna toiings hang, hy merk hul blinkgesmeerde, byna naakte gestaltes wat in die maanlig skitter. Hy sien hul strydbyle, vlymskerp geskuur sodat hulle hul slagoffers met een hou kan afmaai. Een van hulle dra ’n kort spies. Dan, asof hulle hom reeds geruik het, kom die honde van die Wolfman nader sommer reg op hom af!

’n Ongekende vrees pak Mesgh nou beet en voordat hy hom kan bedwing, spring hy onder die takke uit en hardloop die bosse in. Agter hom is weer daardie aaklige huilkreet van die Wolfman. Hulle het hom gewaar. Soos hy so wild en angsbevange voortvlug, blindweg oor die rotse en tussen die laaghangende takke deur, hoor hy ook die gehuil van werklike wolwe op vier pote, die wolwe wat die Pigmeë in die afgelope maande net so leer vrees het soos die Wolfman wat onheilig saam met hulle leef. Hulle is altyd waar hy, die bose van die bosse, is.

Agter hom hoor hy die jagende asems van sy agtervolgers, hy hoor die huillag van honger wolwe wat sy reuk gekry het, en hy hoor die gestamp van kaalvoete op die grond.

Plotseling is daar ’n geknor agter hom. Vinnig spring Mesgh oor ’n breërige spruit, en dan is die voorste stinkende wolf op hom. Hy sien in die half-donker hoe die dier op hom afspring en toe skree hy en swaai terselfdertyd om. Hy steek vinnig met sy wapen, maar dit is mis. Die vrees maak sy bewegings onseker en onhandig.

Hol kom die angskreet oor sy lippe, asof sy stem diep uit ’n donker gat opklink, asof die helse vrees wat hom nou beetpak sy stem verander het in ’n wilde, barbaarse, half-dierlike kreet uit ’n ander wêreld. Hy voel hoe hy neergetrek word, en hy voel die tande diep in sy nek wegbyt. Weer steek hy met die assegaai, maar nou is die ander wolf ook by. Die stank is walglik in sy neusgate.

Mesgh se kreet word gesmoor. Hy voel die warm bloed in sy nek afjaag, en hy hoor die byna menslike kreet van die Wolfman agter hom. Mesgh weet dat die Luiperdman hom nie meer kan red nie. Sy laaste kragte span hy saam en hy skree weer, aanhoudend, in sy eie taal wat die Monga’s goed kan verstaan, ‘O gode van die Heilige Berg en die Heilige Woud! Die Wolfman is hier. Help, Luiperdman, help!’

Dan voel hy hoe stukke vlees uit hom geruk word en dit is of hy skielik lam is, of hy nie kan skree nie. Skielik is daar geen maanligvlekke wat hy meer kan sien nie. Alles is net donker en aaklig.

Mesgh lê doodstil. Sy kop is byna van sy lyf afgebyt. Hy hoor nie die basstem wat roep nie, herhaaldelike kere roep om sy wolwe weg te kry van hulle slagoffer af nie. Die water in die sloot is rooi gevlek van die bloed van Mesgh wat netnou nog die asem en die polsing in sy liggaam voel lewe het, wat die warm bloed in sy are hoor bruis het.

‘Die Pigmee-hond! Hy het hulp geroep,’ kom die stem van die Wolfman en hy praat in die taal van die Monga. ‘Ek het geweet dat hy hulp geroep het. Nou vir die slagting. Kom!’