GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/tzdlcx-vyf-ponies-gaan-plaas-toe-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Vyf Ponies Gaan Plaas Toe!

― HOOFSTUK 1 ―

‘Is jy seker jy sal regkom op jul eie?’ vra Anneke vir die soveelste keer.

Mildred sug.

‘As jy nie nou inklim nie gaan ek sê nee, en dan moet jy bly,’ dreig sy.

‘Nou ja, as jy seker is.’ Anneke neem haastig haar plek in by Roy en Dommie op die agterste bank van die motor. Tessa sit voor langs haar pa, en Ruan ry saam met die bestuurder van die vragmotor waarin vyf ponies gelaai is met al twintig bene toegewikkel in reisverbande.

Hulle gaan plaas toe!

· · ·

Dit het alles twee weke tevore begin toe Tessa se niggie Carina haar ’n e-pos gestuur het om te vra of sy die vakansie by hulle op die plaas wil kom kuier. Want, het sy geskryf, daar was mos sprake van dat sy Tessa se ponie Sneeuvoet sou kry, maar toe val dit plat en nou het haar pa vir haar ’n ander perd gekoop waarmee sy wil spog. Haha.

‘Sy klink vir my maar bra vermuf,’ was Ruan se oordeel toe Tessa die ander vier lede van die Poniehoewe-Klub daarvan vertel. ‘Hulle bly op ’n plaas en omdat sy nie vir Sneeu kry nie neul sy totdat haar pa vir haar ’n knol by ’n vendusie optel.’

‘Weeg jou woorde, mannetjie,’ het Anneke gedreig, ‘Dapper kom van ’n vendusie af!’

‘Nou ja, ek bedoel nie mens kan nie ’n goeie een ook daar koop nie,’ het Ruan teruggekrabbel, ‘ek bedoel maar net as mens op ’n plaas bly — ’

‘Ek weet in elk geval nie of ek gaan nie,’ het Tessa hom kortgeknip, ‘want ek sal natuurlik nie op haar nuwe perd mag ry nie.’

‘Jy was mos al daar,’ het Dommie gesê, ‘het hulle dan nie nog perde nie?’

‘Ja, die beeswagters s’n en — ’

Sy het nie kans gekry om klaar te praat nie, want Roy — wat eintlik Gerhardus is maar sy naam verander het na dié van sy cowboy-held Roy Rogers — het haar in die rede geval.

‘Ry die beeswagters daar dan op perde? Soos regte cowboys?’

‘Ja, dis mos nie snaaks nie.’

Roy het haar ’n oomblik sprakeloos aangekyk, en toe resoluut gesê, ‘Ek gaan saam.’

‘Saam waarnatoe?’

‘Plaas toe! Ek wil met die cowboys saam beeste aanjaag!’

‘Op Rollie?’ het Ruan spottend gegrinnik. Rollie is Roy se ponie, rond en vet en bont, en die prentjie van hom agter beeste aan was genoeg om ook die ander te laat giggel.

‘Hy kan!’ het Roy gestry. ‘En jy’s die laaste een wat vir ’n ander se perd moet lag, want almal weet Kuifkop sal sy as afskrik as hy ’n bees sien!’

‘Wie sê?’ het Ruan dreigend geantwoord en die twee sou mekaar seker te lyf gegaan het as Anneke nie skielik uitgeroep het nie, ‘Ek het ’n plan!’

En in die skielike stilte wat op haar woorde gevolg het, het sy opgewonde voorgestel, ‘Kom ons gaan almal, al vyf van ons en die ponies ook! Toe, Tes, sal jy vra?’

· · ·

’n Hele paar e-posse, SMS’e en telefoonoproepe later was alles gereël. Die ouers het na baie ge-uhm en ge-ah ingestem op voorwaarde dat hulle geen gevaarlike dinge sal aanvang nie en Anneke se pa het gesê die ponies kan weer in sy toe vragmotor vervoer word. Op die plaas, het Carina se ma hulle verseker, is oorgenoeg plek vir almal.

En nou is hulle op pad, die vyf lede van die Poniehoewe-Klub met hul ponies: Ruan se Kuifkop, Roy se Rollie, Tessa se Sneeuvoet, Dommie se Boontjies en Anneke se Dapper.

Dis ’n ses uur lange rit en daar word ’n paar keer stilgehou om seker te maak dat die perdjies nog rustig is en nie die ongewone windsels om hul bene probeer afrafel het nie. Dis egter duidelik dat hulle min gepla is en net belangstelling het vir die hooinette wat voor hul gesigte hang en met elke stilhouslag weer volgeprop word met heerlike lusern.

Uiteindelik draai die motor by ’n plaaspad in, gevolg deur die vragmotor. Roy wriemel so om by die venster uit te kyk dat Dommie hom ’n klap gee en Anneke sê, ‘Kan jy nie stilsit nie? Jy stamp aan my!’

Roy gaan sit reg, maar rek sy nek om deur die voorruit te kan sien.

‘Wanneer is ons daar?’ vra hy.

Tessa draai half om en wys vorentoe.

‘Daar’s die hek.’

‘Maar dis dan ’n gewone plaashek,’ sê Roy teleurgesteld.

‘Nou wat het jy dan verwag?’

Roy dink ’n oomblik na voordat hy antwoord.

‘’n Boog van pale, met beeshorings bo in die middel en die plaas se naam op ’n stuk hout uitgekerf. Jy’t mos gesê hierdie is soos in die Wilde Weste!’

Tessa trek haar skouers op, en Dommie en Anneke skud eensgesind hul koppe.

Roy waag ’n laaste kans om sy droom te red.

‘Wat is die plaas se naam?’

Dis Tessa se pa wat doodluiters antwoord, ‘Boot Hill.’

‘Jippie!’ juig Roy. ‘Dis nou mos ’n regte cowboy-plaasnaam!’

‘Pa!’ protesteer Tessa. ‘Moenie so jok nie!’

‘Is dit dan nie?’ wil Roy afgehaal weet.

‘Nee, Pa maak net ’n grap.’ Sy kyk haar pa bestraffend aan, want sy weet hoe behep Roy met die Wilde Weste is en sy wil nie sy vakansie bederf nie. Haar stem is dus half-verskonend toe sy byvoeg, ‘Die plaas se naam is Eensaamheid.’

‘O,’ is al wat Roy sê, en praat nie verder nie toe hulle deur die motorhek stamp en op die stofpad aanry tot by die opstal met sy bloekombome. Die motor hou stil en weerskante van hom klim Anneke en Dommie uit, maar hy bly sit dikmond en met sy arms gevou.

‘Kom jy?’ roep Tessa terwyl sy die passasiersdeur toeklap.

Roy antwoord nie en eers toe Tessa se pa begin, ‘Ek is jammer — ’ sê hy, ‘Dis nie nodig om altyd met my te spot nie. Ek het ook gevoelens!’

Ruan het intussen van die vragmotor nadergekom om te verneem wat die krisis is. Tessa vertel hom dat Roy wil hê die plaas se naam moet Boot Hill eerder as Eensaamheid wees en Ruan wil verwonderd weet hoekom.

‘Omdat hý so gesê het!’ wys Roy beskuldigend na Tessa se pa. Dié trek ’n gesig en draf eerder na sy suster wat by die stoeptrappies afkom om te groet, as om verder te verduidelik.

Ruan maak korte mette met die probleem en trek Roy aan sy arm uit die motor.

‘Kom help die ponies aflaai, hulle moet rondgestap word,’ beveel hy.

’n Meisie kom uit die huis gehardloop. Sy lyk ’n bietjie ouer as Tessa, maar mens kan nogal sien hulle is familie, met haar ligbruin hare en groen oë. Sy is lank en maer, kaalvoet en geklee in ’n kortbroek en T-hemp. Haar gesig straal van opwinding. ’n Jonger meisie van omtrent Roy se grootte kom agter haar aan.

‘Hallo, julle! Ek het die hele tyd gewag en toe hoor ek nie eers die motor nie!’ lag sy, en stel haarself sommer voor. ‘Ek is Carina, en dis Alet. Vir Tessa ken ons natuurlik, en ek onthou vir Anneke — ’

‘Dis reg, ons het mos ontmoet toe jy daardie tyd by Tessa-hulle gekuier het,’ beaam Anneke.

Ruan is haastig.

‘Ek is Ruan en dis my sus Dommie en hierdie klakous is Roy. Kan ons nou aflaai, julle?’

Carina loop haastig na die vragmotor toe.

‘Ek kan nie wag om jul perde te sien nie!’

Die vragmotor se bestuurder het uitgeklim en eenkant by die skure ’n stuk grond gesien wat skuins uitgeskraap is met ’n regop kant van houtpale.

‘Kan ons maar soontoe gaan?’ vra hy Carina se pa wat nadergestaan het.

‘Ja, dis waar ons beeste op- en aflaai,’ antwoord dié.

Met die vragmotor se agterkant teen die paalmuurtjie is sy bak gelyk met die grond en binne ’n japtrap is die ponies se hoewe terug op moederaarde. Nuuskierig steek die vyf hul koppe in die lug om rond te kyk, elkeen aan ’n leiband om te verhoed dat hulle die pad vat, die veld in. Kuifkop trappel senuweeagtig rond en snork ’n paar keer vir die vreemde omgewing.

‘Hulle’s pragtig,’ sê Carina, ‘veral daardie bontetjie!’

Roy se gesig helder onmiddellik op, sy bui van nou net vergete.

‘Dis Rollie,’ sê hy trots, en lei die ponie nader om te wys.

Carina streel oor die wit fluweelneus en krap onder die ore sodat Rollie se oë skoon verlep raak van lekkerkry. Daarna is dit die ander ponies se beurt om bekyk te word, Sneeuvoet heel laaste.

‘Jy’t hom nog nie gehad toe ek laas daar by julle was nie,’ sê Carina, ‘maar as ek geweet het hy’s so mooi sou ek jou by jou belofte gehou het om hom vir my te gee!’

‘Ek het niks beloof nie,’ lag Tessa, ‘dit was net omdat ons moes weg by die klub en nie ’n ander plek kon kry nie.’

‘Maar toe kom julle darem reg, nè?’

‘Ja, by die Poniehoewe, tenminste, dis wat ons die plek noem. Waar is jou nuwe perd?’

‘Kom ek wys julle.’ Sy draai na haar pa wat met die vragmotorbestuurder staan en gesels. ‘Ek sal sommer dat hulle die perde in die kalfkamp sit, reg?’

‘Ja, dis eers die beste,’ stem hy saam en nooi die bestuurder huis toe vir koffie en ’n laat middagete.

Carina lei hulle na ’n kampie wat leeg is want, sê sy, die kalwers is almal uit veld toe saam met die koeie. Nadat die beenverbande afgehaal is, word die ponies losgemaak en een na die ander plof hulle neer in die tot snuif getrapte beesmis om te rol.

‘Gelukkig het ons borsels saamgebring,’ sug Dommie.

― HOOFSTUK 2 ―

Nadat Ruan seker gemaak het dat die watertrog in die kampie vol is, volg hulle Carina na stalle wat eenkant teen die muur van ’n groot skuur aangebou is. Alet kom agterna en verkyk haar eers aan die vreemde mense, maar raak na ’n ruk verveeld en bly agter.

‘Hoeveel perde het julle?’ vra Roy toe hy hardop tot by agt staldeure getel het.

‘O, seker so omtrent dertig, maar hulle word nie gestal nie,’ antwoord Carina agteloos terwyl sy na die laaste halfdeur in die ry loop. ‘Dis veldperde, vir die veiligheidsmanne en beeswagters, en ’n paar hondmakkes vir toeriste wat kom wild kyk.’

‘Toeriste?’

‘Ja, Pa boer mos met wild ook, die buitelanders staan eintlik tou om te kom kyk. Die wildbewaarders doen die toere en verder ry hulle patrollie, want mens moet maar altyd keer vir stropers.’

‘Ek sal darem graag saam met hulle wil ry,’ sê Roy verlangend, en Carina antwoord, ‘Ons kan my pa vra, dan gaan ons saam as daar weer ’n groep kom.’

‘Regtig?’

‘Ja, hoekom nie. Dis heel veilig, die manne is goed gewapen.’

‘Met regte rewolwers?’

‘En gewere, anders help dit mos nie,’ lag Carina. ‘Kyk, hier is my perd.’

Sy maak die staldeur oop en gaan in. ’n Oomblik later lei sy ’n sierlike liggeel merrie met wit maanhare en stert na buite.

‘Dis ’n palomino!’ sê Anneke. ‘Oe, maar sy’s mooi!’

Almal staan nader om aan haar te vat.

‘Wat is haar naam?’ vra Tessa.

‘Kan jy haar ry?’ wil Ruan weet.

‘Sy lyk nes Trigger!’ verwonder Roy hom.

‘Pragtig!’ sug Dommie en streel met ’n jaloerse vinger oor die leerhalter op die merrie se kop.

‘Haar naam is Botterblom, maar ek noem haar sommer Blomsie,’ sê Carina en beantwoord Ruan met, ‘Ja, ek ry haar, sy’s baie gemaklik.’

En sonder om twee keer te dink, spring sy op die merrie se rug en skop haar in die sye. Sommer so bloots en met net die halter aan laat galop sy die perd ’n ent weg om dan met ’n wye draai terug by die vyftal te kom, waar sy hard aan die haltertou trek sodat die perd se ken teen haar bors raak en sy amper op haar boude sit soos sy tot stilstand kom. Carina gly van haar af.

‘Sien?’ sê sy trots.

Natuurlik is dit die uitgesproke Roy wat hardop kommentaar lewer.

‘As Mildred jou nou gesien het was jy ’n week lank gehok.’

Carina kyk hom verbaas aan.

‘Wie wat en hoekom?’

Tessa gooi wal.

‘Nee, dis maar net dat ons nie toegelaat word om sonder helm te ry nie, sien, en — ’

‘ — en mens ry nie so rof nie,’ val Roy haar in die rede. ‘Kyk hoe blaas die arme ding!’

‘Onthou ons was ook maar so voordat ons by Mildred korrek leer ry het,’ probeer Anneke red wat te redde is.

‘Wie’s hierdie danige Mildred nou eintlik?’ wil Carina vies weet.

‘Dis Mildred Heywood, ons ponies bly op haar hoewe. Weet jy nie van haar nie?’

‘Nog nooit van gehoor nie en ek is maar bly ook as sy so vol strooi is. Ek ry soos my pa my geleer het en as julle nie daarvan hou nie, wel, jammer vir julle!’

Omgekrap haal sy die halter van haar perd se kop af en laat haar vry voordat sy self met lang treë huis toe stap.

Roy kyk haar agterna met ’n verbaasde uitdrukking op sy gesig.

‘En as sy haar nou so wip?’

Tessa skud mismoedig haar kop.

‘Jy het die fyngevoeligheid van ’n seekoei, kon jy nie jou snater hou nie?’

‘Ja, enigiemand sou dink jý is so ’n danige baasruiter.’ Anneke snuif minagtend. ‘Ek onthou hoe Mildred haar amper doodgegril het toe sy jou die eerste keer sien ry.’

‘Sy het gesê ek ry soos ’n cowboy,’ verdedig Roy homself. ‘Dis mos goed.’

‘Nie soos sý dit bedoel het nie,’ grinnik Ruan, en stel voor, ‘Kom ons gaan maak vrede voordat ons saam met Tes se pa terug gestuur word.’

Dommie het intussen agter Carina aangehardloop en die ander is net betyds om te sien hoe hulle hand-om-die-lyf saam in die huis verdwyn.

Reeds op die stoep ruik hulle die heerlike geur van gebraaide kos en hulle volg hul neuse tot in die kombuis. Dis ’n regte plaaskombuis, en hoewel daar ’n elektriese stoof is, is daar ook teen een muur ’n groot uitgeboude skoorsteen met ’n oop es, waar ’n swart houtstoof staan met ’n ysterpot bo-op en dis uit hierdie pot dat die verlokkende reuk kom. In die middel van die vertrek is ’n lang witgeskropte houttafel en ’n klomp regop stoele. Op die tafel staan ’n stapeltjie borde en ’n bondel messe en vurke, netjies op ’n vadoek.

Oom Paul, tant Hester, hulle seun Dirk, Alet, Tessa se pa, en die vragmotorbestuurder sit reeds met bekers koffie voor hulle, en Carina en Dommie het net plaasgeneem toe die ander vier inkom.

Die tante staan op en Tessa stel hulle voor.

‘Ek hoop julle bly lekker hier,’ sê die tante hartlik. ‘Kom skuif aan, die kos is reg. Ek het dit spesiaal warm gehou vir as julle laat is.’

Sy hoef hulle nie twee keer te nooi nie. Dankbaar gaan sit hulle en probeer Carina se gebelgde kyke met flou glimlagte besweer. Net Roy sit met neergeslane oë. Hy is honger en gaan nie nou kanse vat nie, maar hy wonder tog wat het Dommie van hom geskinder dat Carina nou so geredelik beste maatjies met haar is.

· · ·

Na ete is daar nog baie werk. Die sleepwaentjie waarin hulle en hul perde se bagasie is moet uitgepak word, maar eers moet die Poniehoewers die vragmotor skoonmaak. Hy moet ry om die volgende dag weer by die werk te wees.

‘Ons het hulle te veel kos gegee,’ kla Anneke toe sy die klomp platgetrapte mishope sien. Die hooinette is nog halfvol lusern en die ponies het klompies-klompies daarvan ook net uitgepluk sodat dit oor die hele bak versprei lê. Met grasharke maak hulle so goed en so kwaad soos hulle kan alles bymekaar en ry dit met ’n kruiwa weg, maar die vragmotor ruik en lyk nog steeds soos ’n verwaarloosde stal.

‘Ons sal moet uitspuit,’ stel Ruan voor.

‘Waarmee? Onthou dis ’n plaas hierdie, hulle kan nie net ’n tuinslang koppel en ’n kraan oopdraai nie,’ sê Tessa. ‘Ons sal maar net nog moet uitvee en hoop vir die beste.’

Met ’n paar harde grasbesems word die ergste darem van die plankvloer afgeskraap, maar aan die nat kolle kan hulle niks doen nie.

‘Hulle moet hom maar môre by die werk uitspuit,’ sê Anneke, ‘ek sal vanaand bel en verduidelik.’

Carina staan en aanskou hoe hulle werk, maar bied nie aan om te help nie. Dit lyk asof sy eers die kat uit die boom wil kyk voordat sy te eie raak met hierdie vyf wat mens sommer kritiseer — nou ja, behalwe Tessa natuurlik. En Dommie.

Toe hulle klaar is, bied Carina darem aan om hulle te wys waar om die saals en tooms te bêre en gaan hulle voor na een van die skure waar ’n tuigkamer ingerig is. Daar is rye en rye hake teen die muur vir tooms, en bokkies waarop saals gesit kan word. Daar is net ’n paar in gebruik en Carina verduidelik dat die meeste manne besig is om beeste van kampe te verskuif en dat ander op patrollie is.

‘Julle moet maar julle goed hier eenkant sit, anders raak dit deurmekaar met hulle s’n.’ Sy wys na ’n lang paal wat dien as afskorting en waarop ’n paar saals reeds hang. ‘Dis ons s’n, julle vyf saals sal inpas as julle mooi pak. Tooms kom daar,’ en sy beduie na ’n paar spesiale hake.

‘Dis my saal,’ sê Alet wat saamgekom het, en wys na ’n klein saal in die western-styl.

Roy versluk hom in sy spoeg en begin benoud hoes. Toe hy weer sy asem terug het, vra hy hees, ‘Waar kry jy dit?’

‘My pa het dit vir my gekoop. Ek het my eie perd ook,’ antwoord sy trots.

Maar Roy stel nie belang in die perd nie, hy begeer die saal.

‘Sommer nog baie hard van nuutgeit, nè?’ sê hy soos ’n ware kenner en druk met ’n stywe vinger daarop. Dan wys hy, ‘Hierdie een is myne, al lekker ingery en vreeslik gemaklik, mens kan die hele dag op hom sit sonder om enigiets te voel.’ Agteloos voeg hy by, ‘Ons kan maar ruil as jy wil.’

Alet bevoel Roy se saal en druk met haar plathand op die sitplek terwyl hy hoopvol toekyk.

‘Die buikgord en saalkleedjie kom natuurlik saam,’ smeer hy die heuning nog dikker aan.

Alet spits egter haar lippe en skud haar kop.

‘Nee wat, ek is gelukkig met myne.’

Roy se skouers sak nog laer toe Carina katterig sê, ‘Pa sou dit in elk geval nie toegelaat het nie. Hou maar jou ou saaltjie waarop jy so goed kan ry.’

Hy wil nog antwoord toe Ruan hom in die ribbes stamp.

‘Sê jy was nie ernstig nie, jou swaap!’ sis hy in Roy se oor.

Maar Roy wil niks weet nie en stap vinnig weg, terug na die sleepwa waar hy sy tas kry en dit stilswyend na die stoep dra. Daar gaan sit hy en beskou die wêreld met ’n stuurs gesig. Hierdie plaasvakansie draai glad nie so lekker uit soos hy verwag het nie.