GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/tmaxja-die-duiwel-is-n-vrou-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Die Duiwel is ’n Vrou

— Hoofstuk 1 —

Vloek van die Wit Heks

Swaar en dof dreun die tamboere tussen die bosse. Die hol basgeluid sidder myle ver deur die oerwoud. Tussen elke reeks tamboerslae heers daar etlike minute ’n drukkende stilte in die donker oerwoud. Dit is in daardie stil oomblikke dat die jaguar met sy goudgeel oë deur die laaghangende takke tuur, sy ore plat trek; dat die reuse anakonda sy kronkels om die groen bas los woel en stil soos ’n vreesdroom in die troebel water van die rivier verdwyn.

Daardie swaar tamboerslag wat met lang tussenpose deur die oerwoud huiwer, wek vae gevoelens in die Swart Luiperd op. Dit is nog nag, maar hy lê en luister in sy hut. Daardie gedreun van die tamboer klink so weemoedig – soms klink dit soos die gesug van iemand wat stadig sterwe. Hy weet dat die persoon wat daar op die tamboer slaan, baie ver van hom moet wees, maar hier in die ondeurdringbare oerwoud kan die klank soms myle ver trek. Veral wanneer dit so stil is. Daar lê seker nog drie uur voor voordat die son sal opkom. En in dié tyd is die nagte mos altyd stiller. Dit is dan dat die jaguar, nou nie meer honger nie, ’n oomblik by die diep waterstroompie vertoef en die poema, die gedugte leeu van die Suid-Amerikaanse oerwoud, by sy prooi waaraan hy hom vergryp het, aan die slaap raak.

Hy het die tamboere nog nooit so hartseer oor die landskap hoor huiwer nie, en uit ervaring weet die Luiperdman dat die Oekapi’s, daar agter die Andes, waarskynlik oor iets treur, iets waaroor hulle glad nie beheer het nie. Ja, dit is asof die ganse oerwoud in hierdie vroeë uur van die oggend hartseer is.

Die Swart Luiperd draai hom weer om en woel sy gespierde liggaam dieper onder die komberse in, want so teen die oggend word dit koud hier teen die hange van die Andesgebergtes.

Dit het gedurende die nag swaar gereën hier tussen die ruigtes. Groot druppels hang nog aan die boomtakke en drup elke nou en dan met ’n musikale ritseling op die muwwe blare neer.

· · ·

Naby die dorpie van die Oekapi's druk ’n groot arm die nat blare voor hom weg. Dit is ’n swaar gestalte wat uit die nat bosse te voorskyn kom en dan oor die oop kol langs die breedvloeiende rivier stap. In die skemerlig is die gestalte dof, maar drie jongmans hou die swaar gestalte vanuit hul skuilplekke dop. Hulle waag dit nie om tussen die nat, swaar takke uit te spring nie, want hulle vrees daardie swaar gestalte meer as die dood, hulle vrees hom meer as wat hulle die dinge uit die onbekende vrees; die dinge in die oerwoud wat geen mens kan snap nie. Hierdie harige gestalte wat nou oor die oop kol van hulle af wegstap, is vir hulle die mees gevreesde kreatuur in die ganse oerwoud. Hierdie ding laat hulle sidder, en hierdie ding is ook die oorsaak waarom die tamboer nou sidder.

Die harige gestalte beweeg voor die bang Oekapi’s se oë na die digte bosse, aan die noordekant van die dorpie. Oor die gedaante se skouer het hy die slap liggaam van een van die grysaards van die Oekapi-stam. Hy hou die liggaam oor sy harige skouer en stap penregop voort, asof dit ’n ligte stokkie is wat hy met hom saam dra.

Die dierasie is goed sesvoet-tweeduim lank; die kop is groot en harig, die bene dik stompe. Voordat die groot gestalte tussen die bome aan die ander kant van die oop kol verdwyn, gaan staan dit stil en draai om, gluur terug na die wenende dorpie van die Oekapi’s. Die afskuwelike bakkies van die groot ding is ’n oomblik vir die skerp oë van die loerende Oekapi’s sigbaar. Hulle sien die klein ogies, byna geheel en al bedek met swaar ooghare; hulle sien die yslike slagtande wat tussen sy lippe uitsteek.

Dan draai die groot gestalte om en verdwyn met die slap liggaam oor sy skouer tussen die bosse in, sonder om een enkele geluid te uiter, geruisloos soos hy gekom het.

Die Oekapi’s wissel ’n paar woorde. Die tamboer rouklaag weer.

‘Hy het vir oubaas Paucar gevang – wat kan ons doen?’ fluister ’n Oekapi met vrees in sy stem. ‘Dit is elke nag dat hy nou een kom haal – die Wit Heks het hom gestuur. Ons Oekapi’s sal moet vlug. Al die oudstes word vermoor deur die isnashi, die Groot Aap van die Wit Heks. Ons sal moet trek. Ons sal ons dorpie moet verbrand en oor die berge vlug. Die Wit Heks se toorn het ontvlam.’

Vinnig spring die drie Oekapi’s op – hul lywe kaal behalwe vir die klein broekies uit poemavelle wat hulle aanhet. Elkeen dra ’n langerige spies by hom. Hulle hardloop nou tussen die nat bosse uit in die rigting van die dorpie, waar die tamboer moeg klae oor die Groot Aap wat in die donker weer een van die ou raadsmanne kom haal het. Soos die drie jongmanne tussen die bosse deur hardloop, knaag ’n doodse vrees aan hul harte.

Om die tamboerslaner versamel die oudstes van die dorpie reeds. Hulle weet presies wat gebeur het en daar is duidelike vrees op hul gesigte te lees. Soos gedaantes kom die Oekapi’s uit hul hutte na die tamboerslaner toe aan. Hulle beweeg tree vir tree asof hulle agter ’n lykswa aan stap.

’n Paar jongmanne is besig om droë hout uit ’n hut uit te dra en op te stapel. Een van die ouer Oekapi’s tree nader en met vuurklip word die hout aan die brand gesteek. Dan staan hy terug en kyk hoe die vlamme traag begin lewe, byna moedeloos oplek na die stapel hout. Met tussenpose roep die tamboer nog steeds, asof dit sy doel is om die ganse oerwoud wakker te dreun.

Woordeloos staan die Oekapi’s na die vuur en kyk wat nou te midde van die nat bosse en modderige aarde, warm oplek.

Nambie, die hoofman van die Oekapi’s, kom nou ook langsaam uit sy hut en beweeg na die tamboerslaner toe. Nambie is toegewoel in ’n rooi kombers, sy poncho, en op sy kop is ’n groot breërandhoed, al half verslete. Nambie is maar vyfvoet-tweeduim lank, maar hy is nietemin ten minste ’n halfduim langer as die grootste Oekapi. Almal hou die hoofman met vreesoë dop terwyl hy voor die vuur na die vlamme staan en kyk.

Nog een maal dreun die tamboer swaar deur die oerwoud.

‘Oekapi’s,’ praat Nambie met ’n diep stem, ‘ek weet nie wat die Wit Heks se planne is nie – maar haar toorn is teen ons gerig. Die Groot Aap het weer ’n slagoffer kom eis. Al ons ou manne wat my van raad bedien, word weggevoer. Die Wit Heks se Groot Aap was lanklaas so bedrywig. Hy kom altyd wanneer ons slaap die diepste is, in die donker wanneer die son nog te moeg is om uit te kruip – wat moet ons doen, my raadsmanne? Hulle sal al my raadsmanne wegdra, totdat net ek oorbly en my volk sonder hul herders is!’

Daar is ’n rukkie stilte. ’n Ligte windjie het nou opgesteek en dit skud die blare sodat die reëndruppels al ritselend grond toe huppel. Saam met die gekletter van die vuur is dit nou die enigste geluid wat die allesomvattende stilte versteur.

Met ’n rooi poncho styf om sy lyf gewikkel, stap een van die raadgewers na vore. Nou speel die vlammelig teen sy ou gesig. Sy swart oë is groot van vrees.

‘Ons moet trek, Nambie. Ek het vir jou vertel van die droom wat die geeste my gegee het. Die Wit Heks woon saam met die duiwel in die berge. Die Groot Ape word deur die Wit Heks na ons dorpie gestuur om vleis te kom haal vir haar aasvoëls en haar heilige kondors. Sy voer hulle van die vleis van die Oekapi’s se raadsmanne omdat sy die Oekapi’s wil uitmoor; sy wil ons nie meer hier in die vrugbare oerwoud hê nie; sy wil ons beroof van ons grond, van ons skatte en ons uit die land uitjaag, sodat sy hier kan woon en regeer – ons moet trap, Nambie!’ Hy skree dit luid, draai om en stap terug na sy plek toe, net agter die hoofman van die Oekapi’s.

Daardie onheilspellende stilte heers weer ’n oomblik tussen die bevreesde mense.

Dit is die hoofman wat nou praat.

‘Wil julle regtig hê dat ons moet vlug? Dit is die sesde raadsman wat deur die Groot Ape weggedra word. Wil julle hê dat ons moet vlug van ons dorpie, waar ons en ons voorouers so lank al bly? Ek weet die Wit Heks is verskriklik. Julle sê sy woon saam met die duiwel in die berge. Ek dink sy is self die duiwel. Maar wat kan ons doen? Haar mag is groter as dié van ons geeste. Haar Groot Ape kan nie doodgaan nie, want ons pyle skram van hulle af weg. Ons pyle en ons spiese is magteloos.’

‘Laat ons vlug!’ skree ’n klompie bangbroeke. ‘Laat ons hier padgee, die berge intrek om haar mag te ontvlug. As ons dit nie doen nie, sal die Wit Heks, met haar ape en soldate, ons insluk. As sy die duiwel is, laat ons dan hiervandaan padgee.’

Daar gaan ’n gedruis van stemme op. Die hoofman hoor dit met vrees in sy hart aan. Maar skielik tree ’n fris kryger vorentoe. Sy spiere vertoon duidelik in die lig van die vlamme. Sy gladde vel lyk brons en taai. Hy het ’n spies in sy hand; sy bolyf is ontbloot; die klein broekie uit poemavel span om sy spiere.

‘O Nambie, ek moet praat, al is ek nie een van jou raadsmanne nie. Ek het die Wit Heks nog nooit gesien nie, niemand van ons het nie, maar ek ken van haar soldate – die groot jaguarmanne met die pyle en boë. Hulle is groot en sterk en voer die wil van die Wit Heks uit. Hoe dikwels het ek hulle nie op jag teengekom nie? Maar hulle het my met rus gelaat. Maar toe dit ’n paar dae gelede begin reën het, het ek twee teengekom. Ek het gedink hulle gaan my doodmaak, maar hulle het nie. Hulle was omgekrap en baie boos oor iets. Ek het hulle toe gevra of hulle ons nie kan help om die Groot Ape te vang nie. Hulle het toe nog kwaaier geword en vertel dat die Groot Ape saam met die Wit Heks woon. Hulle het gesê dat die Wit Heks ons uit die oerwoud wil uitdryf omdat ons ’n vreemde gees, die Swart Luiperd, op ons jagvelde laat jag; dat die Swart Luiperd het hier na die oerwoud toe gekom en van hulle mense doodgemaak; en dat hy, die Swart Luiperd, het ook van hul heilige kondors doodgemaak. Die Wit Heks beskou die Swart Luiperd as ’n indringer – hy het geen reg hier nie. Die Wit Heks wil hom doodmaak, en haar Groot Ape soek hom, maar kan hom nie kry nie. Hulle dink dat ons hom herberg verleen, want hulle het die Swart Luiperd al hier in die Oekapi’s se dorpie gesien. Die groot jaguarmanne het my gevra waar die Swart Luiperd is, die tweebenige met ’n luiperdkop. Ek weet nie waar hy is nie, en ek weet ook nie of Nambie hom miskien nog altyd hier herberg gee nie. Ek kon hulle nie antwoord nie. Dit is my verhaal, Nambie, en ek dink dat ons die Wit Heks moet behaag en die Swart Luiperd vir haar vang!’

Die kryger tree terug en verdwyn tussen die skare. Nou is daar ’n deurmekaar gepraat en ’n paar vroue raak aan die weeklaag. Net skuins agter die hoofman kom nou nog ’n jongman te voorskyn. Hy buig diep voor Nambie, en praat dan met ’n huiwerende stem.

‘Ek het die Swart Luiperd al gesien, Nambie. Hy is sterker as ’n jaguar. Hy is sterker as die anakondas wat ons vasdraai, insluk en in die diep waters insleep. Die Swart Luiperd is ’n vriend van die Oekapi. Hy het in die oerwoud ingekom omdat hy agter die Wit Heks se kondors was wat sy klein seuntjie anderkant die berge kom steel het. Hy het vir my en jou eie seun uit die kronkels van die anakondas gered, en hy het die jaguarmanne van die Wit Heks geskiet om sy kind, wat deur die kondors van die Wit Heks ontvoer is, in die hande te kry. Die Swart Luiperd is ’n vriend van die Oekapi. Ons kan hom nie aan die Wit Heks uitlewer nie, o deurlugte Nambie.’

Nou sit die gebrom van baie stemme oor in ’n luide gebabbel en ’n geskree van vrouens. Die vlamme baljaar in die middel van die kring van mense. Die hoofman steek sy hand op in ’n poging om die Oekapi’s stil te maak, maar die gedruis van stemme duur voort.

Skielik storm die man wat die eerste gepraat het, weer na vore. Vlak langs die vlamme hef hy sy spies omhoog en skree uit volle bors. Onmiddellik hou die gille en deurmekaar gebabbel op. So stil is dit nou skielik dat die geknetter van die vuur in die omstanders se ore klap soos sweepslae.

‘Nambie, en Oekapi’s wat julle voorouers liefhet, en jul vroue en kinders wil sien vet word, luister! Ramo het nou net die waarheid gepraat. Hy het vertel dat die Swart Luiperd die Wit Heks se vallei binnegegaan het om die heilige kondors aan te val en sy kind te red. Maar dit is verkeerd as hy sê dat hy ’n vriend van die Oekapi is. Dit is dan deur die Swart Luiperd dat ons vandag besoek kry van die Groot Ape. Dit is omdat die Swart Luiperd hierdie oerwoud binnegekom en agter die kondors aangesluip het, dat die Wit Heks se toorn teen ons ontvlam het. Ons moet die wraak wat die Swart Luiperd in die hart van die Wit Heks wakker gemaak het, ontgeld. Dit is nie reg nie, manne van die Oekapi. Ramo is die Swart Luiperd goedgesind. Hy weet waar hy skuil. Dit is sy plig om ons te vertel waar die Swart Luiperd se skuilplek is, sodat ons hom kan gaan vaskeer en vang en uitlewer aan die Wit Heks.’

Sy verdere woorde word deur ’n oorverdowende gejouel oordreun.

Ramo word as ’t ware omsingel en nader na die vuur toe gedwing. Die jongman bly egter onverskrokke. Eindelik skree die mense dat die hoofman die woord moet voer. Hulle word nou onkeerbaar. Hoofman Nambie stap nader na Ramo toe en toe hy praat, word almal weer so stil soos muise.

‘Julle het gehoor wat Gohri te sê het. Ramo weet waar die Swart Luiperd hom skuil hou. Ek weet dat die Swart Luiperd sy kragte van die geeste kry, en ons mag hom ook nie seermaak nie. Maar laat ons anders werk. Laat ons die Swart Luiperd vang en hierheen bring en hom dan vertel van die toorn van die Wit Heks wat op ons uitgegiet word. Miskien kan hy ons help. Hy is besiel met groot geeste. Maar ons moet hom nie doodmaak nie, of sommer goedsmoeds aan die Wit Heks uitlewer nie. Ramo moet my dapper krygers dus gaan wys waar die Swart Luiperd skuil – ’

’n Hernieude geraas bars los, maar hierdie keer duur dit nie lank nie.

Gohri is egter nie tevrede nie. Hy praat weer en die speeksel spat so opgewonde is hy.

‘Dit is beter dat ons die Swart Luiperd dood aan die Wit Heks uitlewer. Sy sal haar toorn dadelik van ons afwend en ons wapens in die toekoms seën.’

Die skare sien egter hoe Ramo lag.

‘Niemand kan die Swart Luiperd doodmaak nie. Ons wapens is ewe min bestand teen hom as teen die Groot Ape – ons pyle skram weg as ons hulle na sy hart mik.’

Nambie wend hom tot Ramo.

‘Weier jy om jou volk te help?’

‘Nie in die minste nie, o Nambie. Ek waarsku hulle teen oorhaastigheid; ek waarsku hulle teen ’n groot onheil wat ons kan oorval as ons die Swart Luiperd leed aandoen.’

Gohri praat weer voordat die hoofman kans kry.

‘Daar rus alreeds ’n vloek op ons. En dit is die Swart Luiperd se skuld. Ons moet die kant kies van die sterkste. Die Wit Heks, die vrou-duiwel, is die sterkste. Ek vrees haar onheil wat nou oor ons is, meer as dié van die vreemdeling, die Swart Luiperd. Ramo moet ons na die Swart Luiperd lei. Hy moet nie ’n lafaard wees nie.’

Die Oekapi’s kyk die arme Ramo aan asof hulle hom met spiese wil bydam. Nambie sien dit en praat dan weer.

‘Môreaand sal Ramo julle na die skuilplek van die Swart Luiperd neem. Maar ek, Nambie, sê julle sal hom nie doodmaak nie. Julle sal hom lewendig hierheen bring.’

‘En as hy ons begin doodmaak – as hy sy krag gebruik om ons plat te slaan, moet ons ons skerp spiese nog terughou?’

Nambie dink ’n rukkie daaroor na.

‘Dan vrees ek, Gohri, sal julle jul spiese moet gebruik, maar julle moet die Swart Luiperd kry en hierheen bring. Dit is ons laaste kans.’

Gohri hef sy spies omhoog.

‘Ons moet hom bring – lewendig of dood, o magtige Nambie.’

Daar is toejuiging, maar weer laat Ramo van hom hoor.

‘Ek waarsku julle dat julle bloed sal sien vloei as julle die Swart Luiperd durf doodmaak. Hy het groter krag as die Wit Heks. Laat my liewer toe dat ek na die Swart Luiperd gaan om hom raad te vra. Ek is seker dat hy ons sal help om die Wit Heks, kind van die duiwel, of dalk die duiwel self, op haar plek te sit. As julle die Swart Luiperd gaan doodmaak, sal dood en honger ons oorval. Ek, Ramo, sê so!’

Maar Gohri lag hom uit.

‘Ek sal die Swart Luiperd gaan doodmaak met ’n span van vyf. Ek sal sy luiperdkop van sy liggaam afsteek.’

Ramo lag skeef, maar hy besluit om niks meer te sê nie. Dit lyk alreeds of hulle hom aan repies wil skeur.

Die hoofman spreek Ramo nou aan.

‘Nambie beveel, Ramo. En Ramo moet gehoorsaam. Jy sal vir Gohri vergesel na die skuilplek van die Swart Luiperd.’

Ramo buig laag en laat hoor, ‘Goed, Nambie, maar dan moet julle weet wie julle straf as groter ellende die Oekapi’s oorval.’

‘Die Swart Luiperd moet dood!’ kom die krete van die omstanders.