GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/swimvg-pad-van-die-arend-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Pad van die Arend

— Hoofstuk 1 —

Gevaartes met Vlerke

Leon Fouché kyk op na die magtige berge wat in die ooste van die aarde af ten hemel uitskiet. Menigmaal het hy in Midde-Afrika opgekyk na die magtige Kilimandjaro, met sy drie sneeubedekte pieke, en het hy onder die indruk gekom van sy grootsheid. Maar hier lê die donker Andes voor hom, soos ’n bedreiging, soos ’n monster uit die drome van ’n koorsige. Diep, donkergroen skaduwees lê in die klowe en die hoogste spitse is met ’n wit kleed bedek.

So, dan is dit nou die Peruviaanse hooglande waarvan hy so dikwels gelees het, en waaroor hy gedroom het! Leon draai hom om en kyk weswaarts. Soos mikroskopiese nietighede lê die dorpies onder hom. In die oggend vroeg val die skaduwees van die Andesberge lank en koel oor die dorpies en dit is eers omstreeks nege-uur dat die son se strale neerskyn op die asbesdakke van die plat huisies. Waar Leon nou sit, kan hy ook die see sien – dit lyk swart-blou en waserig, maar dit is daar.

Hier sit die Swart Luiperd, alias (die) Luiperdman, ook bekend as Leon Fouché wanneer hy nie sy gedrogtelike masker op het nie, teenaan die Andesberge van Suid-Amerika. Dit is slegs ’n tien of so grade van die ewenaar af, maar tog waai daar ’n koel, verkwikkende luggie, net soos in die vroeë lente op ’n plaas aan die hange van die Soutpansberge.

Leon het nie sy luiperdmasker op en die gebruiklike swart mondering wat daarby pas, aan nie. Daardie vermomming van hom is diep in sy klerekis weggepak. Voordat hy hierheen gekom het, het hy gehoop dat hy dit nooit weer nodig sal hê nie. Maar daardie mondering is só deel van sy lewe, van sy verlede en van sy avonture in die oerwoude en in die bosse van Afrika, dat hy dit nie kon agterlaat nie. Daarom het hy dit saamgebring.

Die bergstroompie gesels lustig hier aan sy voete, en hy leun oor ’n rots en tuur in die helder water, wat byna sonder ’n rimpeling af kabbel na ’n klein dorpie toe wat rustig in die skemering lê en droom. Leon se donker hare is effens deurmekaar. Daar lê ’n lastige krul oor sy voorhoof. So duidelik is sy beeld in die water dat hy selfs die diepblou oë kan sien. Sy hempsmoue is hoog opgerol en ontbloot die spiere op sy voorarms. Hy speel met sy hand in die water en daar kom ’n glimlag om sy mondhoeke. Hy staan vinnig op, tuur weer ’n keer na die skerp spitse van die Andes-gebergte. Darem majestueus en indrukwekkend! Die skaduwees van die monster val reeds oor die vallei onderkant hom.

Leon het nou lank genoeg hier gesit en droom. Sy vrou wag op hom; ook die klein knapie wat maar nege maande gelede in Suid-Afrika vir die eerste keer met die wêreld kennis gemaak het – ’n wêreld waarvan hy nog niks weet of verstaan nie – en hier sit hy nou al jou werklikwaar in die skaduwee van die Andes in ’n ander wêrelddeel, duisende myle van die Bosveldplaas af waar hy gebore is.

Ja-nee, Leon Fouché, alias die Swart Luiperd, wat spore getrap het deur die woude van Afrika, wat asemberowende avonture in vreemde oorde belewe het, wat menige skurk aan die gereg oorgelewer het, wat die inboorlinge van Afrika sy vriende gemaak het en by die diere van die oerwoude gesag ingeboesem het, is getroud. Meer as ’n jaar gelede het hy en die bruinoog-nooi, wat saam met hom die ongebaande weë van Afrika deurvleg het, op ’n rustige Bosvelddorpie in die ruigtes van Noord-Transvaal in die huwelik getree. En sedertdien het Leon nie meer geswerf nie, nie meer gaan ronddool in die oerwoude van Afrika nie, maar lekker rustig op sy beesplaas geboer, met sy tiers gespeel, en vir Donker, sy ryperd, elke dag liefderyk versorg. Sy tier-vermomming het hy weggebêre. Nie dat hy nie baie dae die lokstem van die oerwoud-lewe gehoor het nie!

Sonet Beukes, die nooi met die lewenslustige geaardheid, die meisie wat, net soos hy, die veld en die bosse en die diere liefhet, wat nie vir gevare terugdeins nie, wat gebrei is in die leerskool van die bosse, is nou sy vrou en hulle het ’n seun, Bennie. Sy hare is gitswart, net soos sy ma s’n, en sy oë het daardie besondere blou, net so blou soos die wolklose lug op ’n mooi dag.

Byna ’n maand gelede het professor Ignatius Malan op Leon se plaas aangekom. Leon was besig om in die vroeë oggend te ontspan – met sy pyl en boog! In die koelte van ’n groot akasiaboom het Sonet met Bennie op ’n gladde rots gesit en vir Leon met ’n skelm glimlaggie gadegeslaan. Leon was besig om sy pylpunte te slyp. Ook sy jagmes.

‘Leon, dit lyk my die oerwoud roep.’

Leon Fouché het vinnig opgekyk in die oë van sy jong vrou.

‘Hoe kan jy so sê, Sonet?’

‘Waarom slyp jy dan jou oerwoudwapens so naarstiglik?’

‘Sommer vir die aardigheid,’ het Leon geantwoord, maar hy het goed geweet dat hy sy gedagtes onbewus aan Sonet verraai het. Hy het op daardie mooi, sonnige môre na sy ou jagveld verlang.

’n Rukkie later, terwyl hy besig was om teiken te skiet na ’n blikkie ongeveer vyftig treë van hom af, het die motor hortend daar stilgehou en die bekende stem van Ignatius Malan het oor die werf geklink.

‘Gooi neer jou pyl en boog en kom gesels, Leon,’ het die professor in die Volkekunde gesê toe hy vlak voor die atleties geboude Leon staan.

In die sitkamer het die vermaarde professor sommer met die deur in die huis geval.

‘Jy mag nie nee sê nie, Luiperdman.’ Hy het seker met opset Leon op daardie naam genoem. Dit het aangename herinnerings in Leon wakker geskud; herinneringe aan die geluide van die oerwoude wat hy sedert sy prille jeug deurkruis het, aan gevare, noue ontkomings, skokkende ervarings.

‘Jy ken die oerwoud, en jy ken die geaardheid van die barbare. Jy het al selfs met mensvreters te doen gehad, en daarom wil ek jou saam hê.’

Leon het gelag.

‘Maar waarheen, Professor?’

‘Na die hooglande en die oerwoude in die Amasone-gebied in Suid-Amerika.’

Leon se hart het dadelik vinniger geklop. Dit is ’n wêrelddeel wat hy nog nooit besoek het nie; ’n deel waarvan hy reeds so baie staaltjies gehoor het. Sonet het hom dopgehou. Hy het nie gesit nie, maar teen die vensterbank geleun en telkens weggekyk na die gesigseinder waar die donker bosse in die oggendhitte staan en skroei. En toe het sy dadelik geweet dat Leon hunker om te gaan.

‘Sien, Leon, jy weet mos dat dit in my aard lê om navorsingswerk te doen. Ek finansier die ekspedisie self en ek betaal jou ’n salaris. Daar is kulture op die hooglande van Peru van wie ek graag ’n deeglike studie wil maak. Sommiges is afstammelinge van die Inkas, ’n volk wat ’n hoë beskawingspeil bereik het voordat hulle deur die Spanjaarde verslaan en onderdruk is. Hul lewenswyse is tans primitiewer, hul taal en liggaamsbou anders. Ander weer is van die oudste bewoners van die gebied en het in baie opsigte kultureer onveranderd gebly. Ek wil vir ’n hele aantal maande onder hulle navorsingswerk gaan doen, en ek wil jou saamhê; jy ken die volkekunde en dus kan jy ook met hulle werk. Jy het ook die vermoë om baie gou enige taal aan te leer. Bowendien is jy sterk en rats, en liggaamlike krag kan altyd handig te pas kom as die nood druk.’

Leon Fouché het na sy vrou gekyk. Sonet het geglimlag en die snuiter op haar skoot het sy eie geluide gemaak en die grootmense beskou asof hy alles verstaan en aan die gesprek deelneem.

‘Seer seker kan jy gaan, Leon,’ het Sonet geantwoord voordat Leon iets kon sê. ‘Ek sal mans genoeg wees vir die boerdery. Daar is net een voorwaarde wat ek stel: Jy moet weer terugkom.’

Ignatius Malan het gelag.

‘Om die waarheid te sê, Sonet, ek wil graag hê dat jy ook moet saamgaan. Jy ken ook die aard van die mens net so goed soos Leon en kan my baie behulpsaam wees in my navorsing. Jy hoef nie te vrees dat klein Bennie dit nie sal maak nie – ’

Maar Sonet het hom geen kans gegun om verder te praat nie. Sy het Bennie effens ru op die leunstoel neergesit en vir Leon om sy nek gegryp en gesoen.

‘Ons gaan, ons gaan! Ek verlang ook al na ’n bietjie avontuur. Ek het gewens so iets moet gebeur. Moenie jou uitnodiging terugtrek nie, Professor,’ het sy opgewonde geskree.

Leon wou nog teëpraat, maar Ignatius en Sonet het hom oordonder. Ignatius het daarop gewys dat hulle per skip deur die Panama-kanaal sal reis; in die hoofstad, Lima, sal hulle die organisasie vir die reis na die berge opknap en daarna sal hulle tussen die Amarari-stam in die hooglande, aan die punt van die bosse, naby die oorsprong van die Amasone, gaan leef.

Op die ou end het Leon toe met sak en pak na Suid-Amerika vertrek. Spikkels en Simson het saamgegaan en ook sy ryperd, Donker. Sy vriende kon tog nie alleen in die Transvaal agterbly nie!

· · ·

Leon is nou baie naby die eerste hutte van die Amarari-dorpie. Hy kan die inwoners in die aandskemerte sien beweeg en hy kan hulle hoor praat en skree. ’n Paar klein kindertjies van die Amarari’s speel in die oop kolle voor die hutte wat uit klei en strooi gemaak is. Leon dink weer terug aan die dag in die hoofstad van Peru toe hulle die polisie moes gaan spreek om die nodige permitte. Die polisiehoof was bepaald baie onvriendelik. Hy het vertel dat die stamme in die hooglande somtyds baie vyandiggesind kan word. Hy het die professor duidelik te kenne gegee dat die owerhede hulle nie juis steur aan die bos- en bergbewoners nie. Die mense gaan hul gang, gaan dood soos hulle wil, en teel aan soos hulle wil, sonder om die Peruviaanse owerheid ergermaat lastig te val.

‘Moet dus nie staat maak op ons beskerming, of op hulp wanneer moeilikhede opdaag nie,’ was sy afskeidswoorde.

Ignatius en Leon het hulle nie aan die bullebak se gesanik gesteur nie.

‘Tot siens, neulpot,’ het Ignatius Malan die dik polisiehoof toegeroep en die permitte in sy sak gesteek.

‘Adios, señores. Pasop vir die Amarari, hulle is nie so onskuldig as wat hulle voorgee nie.’

Dit was die laaste sien van die dikmaag-polisiehoof.

· · ·

Opeens raas die mense voor hom harder. ’n Paar mans, met byna naakte liggame, hef hul spiese omhoog en kyk met strak gesigte na die hoë Andes-gebergtes. Vrouens en kinders peul by die hutte uit en die skoner geslag onder die Amarari’s gil en skree nou deurmekaar. Ouer mense met hul kleurvolle poncho’s aan, staar ook na die bergspitse.

Leon steek vas en kyk in die rigting waarheen alle oë nou kyk. Eers sien hy net die hoë bergspitse wat hy so-ewe nog bewonder het; die koel skaduwees wat lank teen die berghange lê.

Ineens kom daar egter ’n aaklige geluid – dit is soos die skor, rou geroep van ’n hiëna. Dit klink ook soos die huilgeluid van ’n bobbejaan wanneer hy gewond is.

Dan, meteens, sien die Luiperdman ook die groot, swart voëls wat in die aandskemerte van die berge se kant af aangevlieg kom. Teen die donkergroen van die berge en klowe is hulle moeilik sigbaar. Dit is tamaai voëls, en dit lyk asof hulle daar uit die grotte en klipskeure in die hoë kranse te voorskyn gekom het. Die geluide wat van die gevleueldes af kom, klink hees, onaards, byna soos die aaklige geroep van ’n sterwende uit ’n leë grot.

Opeens klap die groot vlerke kragtig, en die volgende oomblik kom die gevleuelde gedrogte soos vliegtuie op die Amarari-dorpie aangefladder. Hulle vlieg nie baie vinnig nie; die vlerkgeklap is swaar en byna lomp, maar dit is tog duidelik dat hulle reg op die klein dorpie afpyl.

Daar gaan ’n oorverdowende geraas op. Kinders skree en storm halsoorkop na die hutte toe. Hulle val oor mekaar om eerste daar te kom. Die vrouens gil ook en stuur gebede na die ‘Seun van die Son’ om hulle te help. Uit die hoek van sy oog sien Leon hoe hulle kruipende kinders van die grond af opraap en al kermende die modderhutte invlug.

Die geluid van die voëls se vlerke is soos wind wat skielik om die hoeke van die hutte druis, soos warrelwinde wat skielik oor die veld aangejaag kom en aan los bossies en bome ruk en pluk.

Leon hardloop vinnig na die jongmanne toe wat nog steeds met uitpeuloë na die fladderende voëlgevaartes staan en kyk. Sommige het hul spiese omhoog gedruk en staan die reuse voëls en inwag.

‘Wat is dit?’ vra die Swart Luiperd vinnig toe hy hom by hulle aansluit.

Nie een antwoord nie. Hulle bly net brom en kreun, soos ’n klompie geestelik gefolterdes wat die Opperwese om vergifnis bid. Hul gesigte is verwronge en daar is onmiskenbare tekens van vrees in hul oë te sien.

Opeens maak die voorste voëls se vlerke wind hier bokant Leon en die mans. Leon kyk op en daar gaan ’n rilling langs sy ruggraat af. In die skemerte sien hy die swart oë wat afgluur aarde toe, hy sien die gekromde kloue met die swart naels wat tussen die vere op die maag ingevou is, en hy bemerk ook die gekromde snawel soos dié van ’n aasvoël of arend.

Vier grotes draai hier bokant die verskrikte mense rond en die geluide wat hulle maak, is aaklig, vreesaanjaend. Dit val Leon ineens by dat hy daardie byna menslike skreeugeluid al vantevore gehoor het toe hy op ’n gewonde swartkraai in die oerwoude van Afrika afgekom het.

Hulle draai nog steeds bokant die hutte rond, sak nou al laer. So naby kom hulle met swaar vlerkegedruis bokant Leon verby, dat hy die rooi nekke kan sien, ook die geniepsige krom, swart snawel.

Twee waag dit nog laer, en terwyl hulle oor die groepie mense swiep, klap hulle met hul swaar vlerke na die gewapende manne. ’n Paar van die dapperstes kap met hulle oorlogsbyle na die gedrogte. Een voël se vere waai en dit lyk asof hy gaan neerstort, maar moeisaam pyl hy die lug in – weer terug berge toe.

Drie bly agter en Leon kan sien dat daardie swart oë gulsig soek. Ineens begin die mans lawaai en rondspring. Met roggelende kraakgeluide vlieg die drie reuse ’n entjie weg.

Opeens skree kinders daar uit die rigting van ’n klompie doringbome, ’n paar honderd treë van die naaste hut af. Die Luiperdman kyk in daardie rigting en sien in die grys skemering die gestaltes van twee seuntjies wat uit die bosse aangehardloop kom. Die twee kindertjies is op ’n hoogtetjie en hulle loop dat die klippe onder hulle kaal voete uit spat. Leon skat dat die twee outjies nie ouer as drie jaar kan wees nie.

Die reuse voëls het reeds hul prooi gewaar en die volgende oomblik kras hulle aaklige triomfkrete uit. Twee skiet skielik met verbasende snelheid aarde toe. Die vlerke is oopgestryk, die gekromde pote duidelik sigbaar.

’n Benoude gil volg. Dit vind aaklig weerklank teen die berge en kom soos ’n dowwe klag weer terug na die jongmanne wat nou versteen bly staan.

Die Swart Luiperd hardloop; hy snel na die naaste voël wat die voorste seun met sy groot vlerk omklap. Die seuntjie val, gil en huil. Verbasend vinnig slaan die yslike voël sy naels in die seuntjie se rug, en met ’n triomfkreet, wat baie na dié van ’n mens klink, vaar die dierasie die lug in. Leon sien hoe die seuntjie magteloos vasgevang is in die kloue. Die bloedjie spartel en skree om hulp.

’n Tweede voël sak op die ander seuntjie toe. Die swart gedrog is geen tien treë van Leon af nie. Leon besef skielik dat hy geen wapen by hom het nie. Maar dit hinder hom nie. Hy bestorm die voël wat die kindjie reeds teen die grond neergekap het. Die geskreeu van die voël is soos die trompetgeskal van ’n olifant. Die voël, wat nou op sy twee pote staan, is maklik drie voet hoog. Die swart vlerke is oopgespalk en dit lyk asof hy sy aanvaller daarin gaan toevou. Die nek word laag gehou en die oë is swart duiwelsoë wat in hul oogkaste rondrol. Daar is rooi vlekke aan die krom snawel, seker die bloed van sy vorige slagoffers. Hierdie gedagtes flits deur Leon terwyl hy nader storm. Skielik voel hy dat sy hande vere raakgryp.

Ineens word hy ook bewus van ’n pyn in sy skouer. Hy besef onmiddellik dat die gedrog sy snawel diep in sy vleis ingeslaan het.