GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/sujbyl-die-bloedboodskap-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Die Bloedboodskap

— Hoofstuk 1 —

Rooi is die Maan

Aan die luglyn verskyn ’n ruiter te perd. ’n Oomblik lyk dit of altwee die ruigtes onder hulle noukeurig ondersoek. Daar rus vandag ’n onnatuurlike stilte in die oerwoud en dit maak die ruiter, in sy pikswart mondering met sy grynsende luiperdmasker, onrustig en dubbel versigtig. Dit lyk of selfs die kwetterende bosapies gespanne na iets luister. ’n Paar sonbesies is die enigste wesens wat geraas maak, in die bakkende oggendson sing hulle aanhoudend.

Donker, die pikswart gespierde hings, versit sy voorpoot en stamp ’n klip van die rantjie waarop hulle staan. Die sweet lê blink op sy sierlike, gladde vel.

Leon, alias die Swart Luiperd, is honger. Sy maag raas, en agter hom hoor hy die veglustige gegrom van twee gespikkelde katjies, sy enigste getroue maats sedert hy ’n swerwende avontuurlewe bo die warmte van ’n huis gekies het.

Die Swart Luiperd swaai sy kop vinnig links. Daar is ’n duidelike geritsel, soos ’n sagte tred op droë blare.

Spikkels en Simson gaan lê plat op hulle pense en kyk met wakker oë in die rigting van die nouliks hoorbare geluid. Digby die Swart Luiperd en sy makkers het die sonbesies ook besluit dat dit gerade is om maar hulle krasmusiek te staak en dit, weet Leon, mag onheil voorspel.

Hy gly geruisloos van Donker se rug en voel-voel na sy jagmes wat hang in ’n skede aan sy sy. Voor hom is die bosse ondeurdringbaar, met hier en daar ’n groot witstammige woudreus wat bokant die golwende, donker-groen oerwoudbosse uitstaan. Enkele sekondes gaan verby. Ook Donker is merkbaar onrustig.

Meteens ruk Donker sy kop met geweld omhoog, steier ’n entjie agteruit en snork van vrees. Die oorverdowende geknal van ’n geweer hang weerklinkend in die bosse. Die skoot is sommer baie naby afgevuur.

Die Swart Luiperd koets soos ’n skaduwee agter die naaste rots. Donker gee instinkmatig vinnig pad agter sy baas aan, ’n entjie die bosse in, en met gespitse ore hou hy die swart ruiter dop. Spikkels en Simson laat oudergewoonte ook nie op hulle wag nie.

Leon kyk stip na die bosse voor hom. Sy hele wese is gespanne. Met ’n oorverdowende gekraak van takke kom ’n trop elande met nekbrekende vaart die opening ingedawer en verdwyn agter Leon snorkend weer die bosse in.

Spikkels grom wanhopig en kap ’n vinnige hou na die agterste bok, maar dit is ver mis. Haar klou kap in die lug en met ’n grom wat diep uit haar maag kom, staar sy befoeterd agter die wegdawerende bokke aan.

‘Hou jou nog so ’n rukkie in, Spikkels,’ praat Leon, en Spikkels gaan lê, kompleet asof sy alles verstaan. ‘Hier is gevaar voor,’ sê die Swart Luiperd half tot homself. ‘Ek het gedink ervare wildjagters het verseker dat hierdie deel van die wêreld selde of ooit ’n mens sien. Hoe lyk dit nou?’

Nog ’n geweerskoot laat Leon se spiere onwillekeurig stywer span. Dit klink nog nader.

Gedurende die afgelope aantal weke ry Leon en sy makkers in die bosse rond, dieper na die hartjie van Afrika. Ook op die klein dorpie, in die hartjie van die bosse, het die mense hom verseker dat hierdie gebied onbewoonbaar is, dat hier selde of ooit ’n mens gesien word.

Die takke kraak voor die Swart Luiperd en soos blits verdwyn die halfmens-halfluiperdgestalte in die bosse. Donker proes byna hoorbaar, en Spikkels en Simson vlug met lang springhale agter hulle menskameraad aan. ’n Entjie van die opening af, waar hy flussies agter die rots verskuil gestaan het, spring hy rats omhoog, vang ’n tak met altwee hande en lig hom met verbasende snelheid die boom in. Hy klim vinnig tot waar hy oor die toppe van die kleiner bome reg op die opening by die rots kan kyk. Spikkels en Simson klouter teen ’n skuins-staande boomstam uit en gaan lê elk in ’n mik, half-protesterend, hoewel hulle self ’n wakende oog op die opening hou.

Skaars het Leon posisie ingeneem of vier mans kom die opening binne. Hulle praat hard en opgewonde en Leon kan elke woord hoor.

Die geselskap bestaan verder ook uit ’n hele safari draers, almal sewe, agt voet lank. Hy word baie onrustig.

Hy ken daardie reuse met hul naakte liggame wat glim in die sonlig. Dit is die sogenaamde Tsawo van die ryk van uitgesoekte reuse, wat die skatte in die oerwoud, die verlore stad van murasies, eeue lank al beskerm. Dis hulle wat meen dat die geheime juwele hier in die oerwoud hulle eiendom is. Dit is nie baie weke gelede nie dat die boef Baum en sy Gurkhas hierdie verlore skatte wou buit.1

Die Swart Luiperd loer deur sy masker na die groepie daar onder. Hy sien die swart, bonkige, frisgeboude liggame van die mensvreter-reuse. Hulle teenwoordigheid hier hinder hom. Hulle is ver aan die oostekant van die geheime stad wat Baum-hulle onlangs geplunder het. Die owerheid het later ondersoek na die skatte laat instel, maar toe was alles doods en verlate. Daar was geen spoor van die klein rykie van blink-swart reuse te sien nie. Met die uitsondering van ’n paar diamante en ander edelgesteentes wat in die bosse opgetel is, was daar geen teken van die sogenaamde gat vol blink, skitterende klippies nie.

En nou, loop hier voor die Swart Luiperd se oë, sowat twaalf Tsawo-reuse in die geselskap van vier witmans. Dis daardie selfde groot, swart barbare wat selde ’n witman gesien het, wat ’n witman beskou as ’n heerlike nagereg, as ’n afwisseling van die vleis van Masai’s, Swahili’s en ander stamme.

Leon frons agter sy luiperdmombakkies. As hy kon sou hy sy kop krap.

‘Hier is ’n heerlike staanplek vir vannag en miskien langer,’ hoor Leon ’n reus van ’n man aan die ander sê. Hy het naby die rots in die opening tot stilstand gekom en die omgewing deeglik bespied. Die vier mans is almal met gewere bewapen.

Die man praat met ’n snaakse aksent. Leon het nog nooit so ’n groot mens gesien nie. Hy is ongeveer agt voet lank en staan skouerhoog bokant selfs die grootste van die Tsawo-reuse uit. Hy het ’n plomp gesig waarin twee klein ogies onder ruie wenkbroue ondersoekend rondloer. Sy hande is abnormaal groot, en die Swart Luiperd trek sy asem vinnig in toe hy sien hoedat die spreker ’n tamaai klip met sy linkerhand uit sy pad rol.

‘Sit maar julle pakke neer,’ sê hy aan sy drie vriende, ‘en laat ons krygsraad hou. Daar is nie meer baie tyd nie. Môre-nag sal die eerste mense se huise in die naaste dorpie in ligtelaaie staan.’

’n Skok gaan deur die Swart Luiperd se liggaam terwyl hy in die boom effens van posisie verander. Onwillekeurig gryp hy sy jagmes vas en luister fyn. Die man praat met ’n half-Oosterse tongval in Engels. Sy maats, wat nou teenoor hom op hulle knapsakke gaan sit, is bruingebrande, geharde avontuursoekers.

‘Hoe op die aarde,’ vra ’n skraal, atleties-geboude persoon wat die naaste aan hom sit, ‘het jy dit reggekry om die Tsawo se kaptein so lieflik om jou pinkie te draai, en presies wat word van ons verwag?’

Die groot man lag, so ’n heerlike laggie uit sy keel. Sy skrefies-oë trek nouer.

‘Ek het geen gewetensbeswaar teen die uitvoer van my taak nie. Ons Egiptenare is net goedgesind teenoor mense van ons eie geloof, Baum.’

By die aanhoor van hierdie laaste naam, rig Leon skielik sy blik op die vraesteller, digby die groot man. Daar is ’n bietjie takke en blare voor hom. Hy kan hom nie mooi sien nie, maar nou herken hy dadelik die stem van die skurk wat verantwoordelik is vir die dood van Sonet se vader, en sy oom, Pieter Beukes. Agter sy masker is sy gesig die ene frons. Daar bestaan geen twyfel dat dit Baum is, wat teen hierdie tyd in die tronk moes gewees het nie.

Die groot, lelike man praat weer.

‘Om die kaptein op my hand te kry en hom te beweeg om my te vertrou, moes ek aanvanklik net so wreed en doodsveragtend wees soos hy. Dis gelukkig dat hulle jou nie herken het nie. ’n Mens kan altyd ’n barbaar imponeer met die geloof in die magiese. Ook is ’n belofte gedoen om slavinne te vind vir ’n ryk van reuse in Afrika. Hierdie reuse verskil hemelsbreed van die ander stamme van Afrika. Hulle het ’n snaakse inslag van die Oud-Egiptiese geloof. Dit was opmerklik dat hulle in baie opsigte, byvoorbeeld wat hulle kannibalisme betref, die tipiese barbaar van Midde-Afrika is, en andersyds tog in meerdere of mindere mate die godhede van ’n beskaafde land soos Egipte met sy ou kultuur, aanhang. Myns insiens is hulle werklik ’n verlore afspruitsel van die Ou-Egiptenare.

‘Ek stel dus opreg belang in hulle, en natuurlik in hulle juwele wat hulle met hul vlug verder noordwaarts êrens weggesteek het. Toe ek van die Egiptiese songod Ra gepraat het, was Rabalo die ene aanbidding en vertroue. En Rabalo is ’n man van wraak. Daarom sal hy enige mens die hand reik wat hom sal help om wraak te neem op die mense wat hom van sy skat wou beroof.

‘Ek is daardie man, Baum, en jy gaan my help, dan sal ek nie vertel dat jy die leier van daardie rowers was nie. Jy moet ons mettertyd na die dorpie lei waarheen jy en die ander gevlug het. Jy het gehoor ek het gesê nou dat die kolonialiste se koning hier in Oos-Afrika weet van die skatte sal hulle dit inpalm. Hulle sal moor om dit in die hande te kry, het ek gesê. Daarom kan ek Rabalo ook gebruik – ’

‘Bahri, ek dink jy moet ’n bietjie sagter praat. Dink jy nie Rabalo hoor jou nie? Hy sit baie aggressief stip na ons en kyk.’

‘Jy droom! Rabalo weet hy kan my vertrou. Ek gaan my deel van die juwele regmatig koop. Rabalo se hart smag na mag en grootheid. En hy kan nou koning en heerser van die handjievol Tsawo’s word, en of hy dit nou regkry of nie – ’

‘Hier kom Rabalo na ons aangestap,’ roep ’n kort, gesette figuur met gespierde voorarms gedemp uit.

Rabalo se groot kaalvoetspoor met weglê-tone trap diep in die sand tussen die klippe teen die rantjie. Sy gesig is strak en gespanne.

Die Swart Luiperd verbeel hom hy sien die kannibaal se oë knip. Hy het ’n groot kop. Sy hare is lank maar kroeserig, en bo met ’n snaakse punt vasgebind. Wanneer hy sy assegaai oplig om te praat, bars sy spiere aan sy bo-arm byna uit sy vel. ’n Dun stertriem is sy enigste kledingstuk.

‘Rabalo verstaan nie die witman se tong nie,’ sukkel die krygsman in ’n soort half-Ki-Swahili.

Die Swart Luiperd rek sy ore om beter te kan hoor. Die man lyk vir hom werklik uitdagend en oorloglustig. Leon verstaan nie baie goed nie, maar hy kan darem die draad van die gesprek volg.

Rabalo se stem is hard en basserig. ‘Rabalo verstaan nie die tong van die witman nie, maar hoor sy naam noem. Praat hulle van ons vriendskap?’

‘Ja, Rabalo, van ons gesamentlike wraak op die witmense. Jy kan met jou skatte hierdie land verower. As jy daardie juwele van jou ruil vir die geld van die witman oorsee, het jy genoeg om honderde en honderde wapens en oorlogsmedisyne te koop wat jou teenstanders sal laat swig. En dan is jy baas, Rabalo, en dit hoort ook so. Is ons nie broers nie, Rabalo, al is jy swart en ek wit? Jou neus lyk soos myne, en indien jy nie die taal van jou slawe wil praat nie, maar liewer die taal van die Tsawo, sal net ons twee mekaar verstaan. Hierdie ander witmanne sal nie ’n woord begryp nie – ’

Rabalo trek sy asem diep in en sy breë borskas swel in die stekende tropeson. Hy rammel ’n paar woorde in ’n taal wat vir Leon onverstaanbaar is.

Bahri hef hom in sy volle lengte op. Die twee reuse staan teenoor mekaar, albei toonbeelde van ’n superkrag. In die boom frons Leon. Bahri praat ’n taal baie verskillend van die stamme wat hy ken.

’n Stewige swart hand gryp Bahri s’n vas en in opregte vertroue en verbasing kekkel die Tsawo-kaptein eintlik van lekkerkry.

‘Sien jy, Baum, hierdie mense se taal is baie na verwant aan ’n Egiptiese dialek. Sien jy waar sy vertroue in my vandaan kom? Een van die dae gaan ek skatryk terug na my land, nadat ek so lank gesoek het. Jy en jou geselskap het uiteindelik die pad vir my gebaan, ou vriend. Daarom het ek jou, ’n tronkvoël, begunstig deur jou te vra om my te help, en jy sal jou deel van die fortuintjie kry – ’

‘Rabalo is ongeduldig. Die son sak vinnig na die weste. Ek wil die bloed van my koning wreek. Ek moet gou maak voordat die ander witmanne my skatte soek, en my huis verbrand. Die Tsawo moet sterk word – Kom.’

‘Jy moenie so haastig wees nie, deurlugtige Kaptein. Die nasie van wie jy afstam is bekend vir hulle geduld, veral as hulle wil wraakneem. Môre-aand nog vreet die vlamme jou vyande se huise en dan lê die pad van faam en grootheid voor jou.’

‘My wit broer het gesê Rabalo kan met die blink klippe baie goed koop, goed wat raas en doodmaak soos daardie – ’ en hy wys veelbetekend na die geweer in Bahri se hand.

‘Hy praat die waarheid. Jy sal sien.’

‘Maar ek wil dit nou hê. As ek dit kry, môre voor dagbreek, betaal ek hierdie – ’

Nie een van die avontuursoekers sê ’n woord nie. Hulle staar die swart kaptein swygsaam agterna. Hy loop tot by die bondel, sy persoonlike besittings, vroetel daarin en haal ’n hele handvol van die allerpragtigste blou diamante en robyne te voorskyn.

Die prag en luister van die steentjies dwing om Leon te verblind. Die vier avontuursoekers staan gelyktydig op en storm af op die kaptein wat die edelgesteentes teen die lig hou.

Gulsig betas Bahri die juwele. Hy kyk op.

‘Ontsnapte tronkvoël,’ sê Bahri skertsend aan Baum. ‘Ek is bly dat jy my na die juwele gelei het, dat jy ontsnap het en dat ek jou moes raakloop. Van Egipte se kant af soek ek al jare as argeoloog en volkekundige na hierdie verlore stad – hierdie verlore stam van verlore Ou-Egipte. Ek is bly dat ek en jy en ons geselskap hierdie gewigtige taak, wat ons sakke propvol gaan maak, saam kan verrig. Ek gaan vir niks stuit nie. Kan jy, Baum – ’ en Bahri glimlag dweepsiek, ‘kan jy môre-aand die gewere aan Rabalo gee? Al moet jy dit steel!’

Baum aarsel nie lank nie. Daar kom ’n gevaarlike gloed in sy oë. Sy lippe krul in ’n primitiewe glimlag. Hy knik sy hoof.

‘Dan is dit joue, Baum, wat jy nou al in jou sak kan steek. As jy hulle eers in die holte van jou hande voel, sal jy nie kul nie, want dan sal jy smag na meer.’

Met huiwering dink Leon aan die volle waarheid, volle betekenis van wat hy gehoor het.

‘Weldra,’ skree Rabalo, ‘sal die son en die maan rooi wees van mense se bloed!’

  1. Sien DIE MENSVRETERS VAN TSAWO. [terug]