GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/ssgnym-die-eerste-gimkana-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Die Eerste Gimkana

— Hoofstuk 1 —

‘Toe Rollie, roer jou gaai!’ word die bont ponie van die kant af luidkeels aangemoedig. Roy het die teuels met een hand vasgevat en slaan die los ente om die beurt weerskante op Rollie se nek, terwyl hy in die saal op en af wip soos hy hom met sy hakke in die lieste karring om hom nóg vinniger te laat galop. Die ponie haal uit soveel soos hy kan met sy ronde lyf en kort bene. Twee keer was hulle al in volle vaart om die kamp en toe Rollie weer die groepie bereik wat by die heining staan, skop Roy vas in die stiebeuels en trek hom met die teuels tot stilstand.

Mildred Heywood laat sak die hand waarmee sy haar oë bedek het en beskou die blasende ponie en sy ruiter.

‘Jy ry soos ’n cowboy,’ sê sy.

Roy se gesig straal, maar Tessa vermoed dis nie ’n kompliment nie.

‘Is iets verkeerd?’ vra sy.

Mildred — nie ‘Tannie’ nie, nie ‘Milly’ nie — skud haar kop. ’n Ruklank antwoord sy nie, dan sê sy kalm, ‘Niks wat nie reggestel kan word nie. Ek hou van skynbaar onmoontlike uitdagings.’ Sy draai om en roep in Roy se rigting sonder om na hom te kyk, ‘Gaan saal af daardie ponie en bewaar jou siel as jy hom nie ordentlik koudlei nie. Kom daarna na die huis.’ Self stap sy in daardie rigting.

‘Het julle gehoor?’ kraai Roy opgewonde terwyl hy uit die saal gly. ‘Sy sê ek ry soos ’n regte cowboy!’

 · · ·

Op die stoeptafel het Mildred ’n bottel koeldrank en vyf glase reggesit en Tessa skink in. Mildred, sien sy, het soos gewoonlik vir haarself tee gemaak.

Met die glas in haar hand sak Anneke weg in ’n diep gemakstoel terwyl Dommie, Roy en Ruan hulle tuismaak op die swaaibank. Tessa verkies ’n paar kussings op die grond, waar Tjello die Rottweiler al gou by haar kom lê met sy kop op haar skoot. Afgetrokke speel sy met die hond se sagte ore, en wonder wat Mildred gaan sê.

Lank hoef sy nie te wag nie. Die gewese kampioenruiter sit haar leë koppie neer en kyk van die een na die ander voordat haar blik op Roy rus.

‘Haal af daardie hoed,’ sê sy, ‘sodat ons kan gesels.’

Teensinnig gehoorsaam Roy, dit lyk asof hy maar te goed weet wat gaan kom. Hy vroetel aan sy hoed wat hy op sy knieë vashou en verklaar opstandig nog voordat Mildred ’n woord kan sê, ‘Daardie kopdoppe is vir sissies, nie vir ons cowboys nie.’

Mildred trek liggies haar skouers op. ‘Jy ken die reëls.’

Roy weet presies wat Mildred bedoel, want een van die voorwaardes waarop hulle hul ponies op die hoewe kan laat bly, is dat hulle ten alle tye veiligheid eerste stel. Ongelukkig vir hom, beteken dit dat kopbeskerming gedra moet word wanneer daar gery word, die rypette wat Mildred hulle van die solder af laat haal het omdat hulle self nie gehad het nie.

‘Ek sien jy onthou nou, Gerhardus,’ sê Mildred. ‘Totdat jy besluit om my reëls na te kom, mag jy nie meer hier perdry nie. Ek verwag ook,’ en sy kyk na die ander vier geskokte gesigte, ‘dat julle sal seker maak Gerhardus hou hom daarby, anders sal ek ons ooreenkoms moet heroorweeg. Verstaan?’

Hulle knik verdwaas hul koppe. Miskien nie juis verstáán nie, maar die bedoeling was duidelik.

 · · ·

Roy en sy hoed het gemaak dat daar verder nie veel kom van die middag se ry nie en met gemengde gevoelens teenoor hom stap die vyftal na die stalle om hul ponies en Mildred se twee perde te versorg.

‘Dis nou wel aan jou domastrantheid te danke dat ons die ponies hier kan aanhou, maar dit gee jou nog nie die reg om ons na net ’n week weer te laat afgooi nie,’ vaar Dommie uit.

‘Ja, ons het jou gesê om jou rypet op te sit, maar ne-e-e-e, julle cowboys — ag wat, jy’s mos in elk geval g’n cowboy nie, want waar’s jou beeste?’ klim Tessa ook in.

‘Ek ís ’n cowboy! En Roy Rogers het ook nie beeste gehad nie, so wê!’

‘Kan wees,’ gee Anneke toe, ‘maar óns wat pette dra mag nog steeds ry en jy nie, dus daar is jou wê! terug, Gér-hár-dús, met rente.’

‘My naam is Roy! Julle’t belowe en julle skuld my!’

‘Ag nee, kry nou end met hierdie simpel stryery!’ Ruan klink sommer vies. ‘Ons weet ons skuld jou, Roy, oor die geld wat jy ons geleen het om vir Shanu te betaal, maar veral omdat ons hoegenaamd hier mag wees. Hoekom nou alles opmors net omdat jy nie ’n rypet wil dra nie?’

Roy het egter klaar besluit en dit wat hy mompel kan net deur Rollie gehoor word — en dié gaan dit nie verklap nie. In stilte gaan die maats maar voort om die sewe perde te versorg totdat dit tyd is om huis toe te gaan.

Daar is drie stalle en Mildred het benadruk dat die perde se hoewe slegs daarbinne skoongemaak mag word sodat die goor stukke nie die hele wêreld vol lê nie. Twee van die stalle is Mildred se perde s’n en daarin word hulle toegemaak terwyl hulle hul vaste kos eet. Dit los een spaarstal vir die vyf ponies, wat gelukkig nie gevoer hoef te word nie terwyl die weiding geil staan. Dalk gaan dit sukkel wanneer die droë maande aanbreek, maar dis dan se probleem.

Anneke en Ruan versorg eers Mildred se twee Engelse Volbloede, Intrepid Icebreaker (die skimmel) en Queen’s Gilly (die bruine), deur hul hoewe skoon te krap, vinnig af te borsel en na te gaan vir beserings en bosluise, terwyl Tessa hulle voer aandra. Daarna lei hulle een vir een hul ponies die spaarstal in om hoewe skoon te maak, en dan weer na buite om afgeborsel te word. Dis Dommie se beurt om die stalle uit te vee en die hoefgemors in die drom te gooi.

 · · ·

Vanaf die huis bekyk Mildred en Tjello die maats wat soos ’n geoliede masjien werk, elkeen met ’n vooraf bepaalde taak wat hulle na die tweede dag op die hoewe reeds uitgewerk het en daagliks roteer — behalwe vir Ruan wat altyd vir Queen’s Gilly sorg, selfs wanneer hy die uitveër vir die dag is.

‘Dis ’n goeie klomp kinders daardie. Hulle weet wat hulle wil hê en is bereid om te baklei daarvoor, veral klein Roy,’ sê sy vir Tjello. Glimlaggend voeg sy by, ‘Ons noem hom maar Roy, nè, as hy nie by is om te hoor nie.’