GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/shhshv-terugreis-na-more-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Terugreis na Môre

— HOOFSTUK 1 —

Liewe aarde! Wat het my tog besiel om in te stem tot hierdie lawwigheid? Hoe kón ek my laat ompraat deur die kinders om mee te doen aan hierdie affêre, en dit nogal op my ouderdom? Ek moes regtig sonder verstand gewees het! raas Suné Coetzee woordeloos met haarself waar sy half-geïrriteerd by die venster van die 10-sitplek Pilatus vliegtuig sit en uitkyk na die landskap ver onder hulle. Sy is net vaag bewus van die mense saam met haar.

Sy is een van nege persone in die vliegtuig. Hulle is op pad na die noorde van Zambië vir ’n tydperk van twee weke waar hulle in ’n lodge op die oewers van die Bangweulu-meer sal tuisgaan.

Met die lodge as basis beplan hulle om met vierwiel-aangedrewe voertuie die land verder te verken en die wild te besigtig. Blykbaar is daar nog groot troppe verskillende wildsoorte, asook natuurlik die Groot Vyf.

Ek kan my nie indink dat ons gedurende hierdie toer aanklank by mekaar gaan vind nie, en as ek eerlik moet wees, pas ek nie regtig in by my medevakansiegangers nie. In werklikheid is ons almal in ’n mate té uiteenlopend, glo sy, nou heeltemal negatief ingestem.

Na ’n ernstige siekbed van meer as ’n week was die gevolg ’n diepe swartgalligheid wat soos ’n nat kombers oor haar toegesak het. Daarom was sy baie onwillig om na haar kinders se pleidooie te luister dat sy vir ’n rukkie moes wegkom uit haar omgewing en iets anders gaan beleef. Na haar egskeiding tien jaar tevore het sy geleidelik al hoe meer teruggetrek in haarself, veral nadat al drie die kinders uit die huis is.

“Maar ek het mos nie nodig om ander dinge te gaan beleef om te lééf nie. Ek is baie besig hier by die huis en ek glo dat ek niks meer as dit nodig het nie.”

“Ons weet almal dat Mammie ’n introvert is en nie die durf het om uit Ma se eie uit vriendskappe te sluit nie. Daarom die lang ure alleen met net die televisie en radio as enigste geselskap. Hierdie allerhande handwerkies om Ma besig te hou is maar net Ma se manier om die tyd saans en naweke by die huis om te kry, maar is dit wérklik lééf?” was Breggie, haar oudste, se ondubbelsinnige motivering. Sy het besef dat sy reg was.

Haar gedagtes gaan terug. Vriendinne het met verloop van tyd slegs goeie kennisse geword. Keelvol daarvan om gedurig te moet hoor: “Haai, ek moet nog by jou uitkom, maar ek is die afgelope tyd só besig,” het sy haar geleidelik aan hulle onttrek. Gou het sy dan ook duidelik kon aanvoel dat party van haar vriendinne se ontvangs nie altyd meer so gul was nie. Is hulle dan nou bang dat hul mans se oë na mý sal draai noudat ek alleen is? Dankie, maar nee dankie! Sonder sulke vriendskappe kan ek beslis klaarkom! het sy haar opgeruk en toe heeltemal weggebly. Ten minste het ek nou sielevrede, het sy haarself telkens getroos as die mure haar wou saamdruk. By gemeenskapsorganisasies het sy wel ingeskakel. So het sy haar deel bygedra, maar wanneer die voordeur saans en naweke agter haar gesluit is, was dit net sy en haar gedagtes. En so het haar vereensaming begin.

“Kyk tog maar net hierna, Ma. Dit sal mos geen skade doen nie!” het Breggie met ’n groot gesukkel haar sover gekry om net na die brosjures van die safari te kyk. Die foto’s op die pamflette het so pragtig gelyk en die beskrywing in die advertensie van so ’n aard dat sy gevoel het hoe daardie diepgewortelde tomboy weer lewe in haar kry.

“Weet jy, my kind, dit sal tóg lekker wees om vir oulaas, voordat ek werklik oud is, weer te voel wat dit is om te lewe. Werklik te leef en weer die natuur om my te beleef!”

“Gmf … watwou oud! Mens sou sweer Ma is totaal afgeleef en oor die muur as ’n mens so na Ma luister!” het Stefan, haar jongste, gebrom.

Sy onthou hoe daar stadig maar seker ’n vlam van opwinding, iets wat sy al lank nie meer ken nie, in haar opgeflikker het. Toe die besluit eers geneem is, was daar geen keer meer aan haar nie. Opgewonde het sy begin om saam met haar ‘goeters’, soos sy haar kinders noem, die reëlings te tref vir hierdie nuwe avontuur wat voorlê.

En toe dring haar kroos aan om te help met die aankoop van haar vakansieklere. “Soos ons vir Mamma ken sal Ma sowaar Ma se óú broekpakkies inpak en dit gaan ons nie toelaat nie!” het hulle terstond besluit, met die gevolg dat sy met ’n tas vol nuwe klere sit. Alles kakie en denim met vrolike bloese, serpe en hoede wat daarby pas, en natuurlik ook stewige stapskoene.

Nou sit sy hier in die vliegtuig, uitgedos in haar nuwe kakielangbroek en moulose baadjie bo-oor ’n pragtige roesoranje bloes met ’n bypassende geblomde serpie om die nek. Haar gedagtes gaan terug na die oggend se gebeure en sy frons weer.

By die O.R. Tambo-lughawe het sy die ander lede van die toer ontmoet. Die toerleier en vlieënier, Dewald Pienaar, is ’n bruingebrande adonis van omtrent drie-en-dertig jaar. ’n Blouoog-blondekop met ’n duidelik bruisende lewenslus in hom, en amper het sy toegelaat dat ’n regte jongmeisieblos haar oorval ten aanskoue van soveel manlike aantreklikheid. Joviaal het hy as gasheer almal met hulle aankoms aan mekaar voorgestel.

Eerste aan die beurt was ’n gesin van drie, Dawid Fourie, sy vrou Heleen, en hul dogtertjie Rykie van so om en by tien jaar. ’n Mooi gesinnetjie, maar êrens is daar fout, het Suné hulle opgesom. Sy het bemerk dat hulle hand aan hand staan, maar dat die uitdrukkings op hulle gesigte geslote was. Hulle het duidelik nie van geluk oorgeloop nie.

Hier in die vliegtuig dwaal Suné se blik nou af na Dawid, ’n lang, aantreklike man van so vyf-en-dertig jaar. Sy voorkoms met sy sterk ken en grys oë boesem vertroue in. Haar oë verskuif na Heleen. Geklee in ’n donkergrys langbroek met ’n bloes in ’n ligter skakering, en sonder enige grimering, vertoon sy kleurloos. Suné kyk skerper en sien dan dat dit maar net is omdat die vroutjie heeltemal te min aandag aan haarself skenk. Daarom is dit dat ’n mens geneig is om bo-oor haar te kyk. Baie selfbewus val haar blik gedurig grondwaarts.

Sy kan nogal heel mooi wees as sy nét wil, veral met daardie sielvolle groot, blou oë, donker hare en netjiese figuur van haar, besluit Suné terwyl sy haar skouers liggies roer. ’n Sagte suggie stoot oor haar lippe, en sy onthou die res van die kennismaking.

Die tenger Rykie het skugter half agter haar ouers gestaan en net haar kop geknik wanneer sy gegroet word.

“Hallo almal, ek is Henk Matthee,” het ’n jongman, vol van homself, sommer so in die algemeen luidrugtig met ’n waai van sy hand gegroet waar hy langs Suné gestaan het. Sy het haar hand uitgesteek om hom te groet, maar hy het sy hand weggeruk.

“A nee a, ou Tannie, gee terug my hand!” het hy vir sy eie grap gelag en verleë het sy weer haar hand laat sak.

Twee jongdames is ook lid van die groep en dis duidelik dat Christi die leier van hulle is. Sy is die een wat gedurig opgewonde aan die babbel is, en sommer ook namens haar vriendin alle inligting verskaf het.

Christi Swart, ’n donkerkop, en die blondine Frieda Hansen is albei pragtig, en uitgevat in modieuse broekpakkies met die fynste sandaaltjies. Hulle het onmiddellik al die aandag getrek met hulle voorkoms. Vir ’n safari? kon Suné nie help om vinnig te wonder nie. Sy het hulle ouderdomme op drie- of vier-en-twintig jaar geskat.

Bart Jacobs is ’n stug sakeman en Suné reken hy is omtrent ’n jaar of twee ouer as syself, wat al vyftig somers agter die blad het. Sy hare, wat eens bruin moes gewees het, is nou ’n pragtige silwer kleur.

Hy is ’n lang blok van ’n man en duidelik nog gewoond aan oefen aangesien die swaartekrag nog nie heeltemal die oorhand oor sy maag gekry het nie. Die plooitjies om sy oë getuig dat hy tog ook lief is om te lag. Hoekom dan so ernstig? wonder sy vlugtig.

Met sy donkerblou oë kyk hy jou reguit aan, maar tog het Suné die indruk gekry dat hy deur jou kyk en nie vir jou nie, heeltemal onbetrokke en sy wonder steeds weer hoekom?

“Hoe lyk dit? Sal ons eers iets in die restaurant gaan nuttig voordat ons vertrek, mense?” het Dewald ná die kennismaking voorgestel, want almal het vroeg opgedaag en al die formaliteite is afgehandel. Daar was nog heelwat tyd oor voordat hulle kan vertrek en al geselsend het hulle na die restaurant verskuif.

Suné het ’n hol kol op haar maag voel vorm en het daarom ’n groot stuk koek saam met haar tee bestel.

Natuurlik te danke aan die feit dat ek alleen tussen vreemdes is en op pad na die onbekende ver weg. Nou moet geliefde ou sjokoladekoek al weer inspring en help soos gewoonlik, het sy met ’n fyn glimlag met haarself gespot en vinnig met bewende vingers oor haar voorkop gevee.

Met die bestellings klaar gegee, het Dewald se oë oor die groepie om hom gegaan en op die groot man langs hom tot stilstand gekom.

“Kom ons begin by jou, Bart. Vertel ons ’n bietjie meer van jouself, en dan kan ons ná jou so op die ry afgaan.”

Bart het vlugtig opgekyk, maar toe sak sy oë weer na sy gevoude hande op die tafel. Hy het vir ’n oomblik gefrons voordat hy bondig en sonder omhaal van woorde met ’n moeë stem vertel: “Ek is ’n sakeman, die eienaar van ’n ingenieursbesigheid. Ek het onlangs, so ongeveer ’n jaar gelede, my vrou verloor en het dit daarom nodig gevind om vir ’n tydjie weg te breek.”

Van alle kante het hulle simpatie betoon, maar Suné kon, terwyl sy na die stroewe lyne op sy gesig kyk en die seer in sy oë nog vlak sien lê, aanvoel dat dit hom baie selfbewus gemaak het.

Hy is nie juis ’n aantreklike man nie, mymer sy nou, daarvoor is sy gelaatstrekke te ru, maar hy skep die indruk van krag en betroubaarheid. Rotsvas.

Die twee jong meisies is regte stedelinge en baie gretig om indruk te maak. Hulle deel gedurig giggellaggies links en regs uit.

“Ons is al lank vriendinne en kollegas,” het Christi met glinsterende oë vertel. “Ons is albei persoonlike assistente by ’n groot onderneming en het besluit dat ons hierdie jaar met ons verlof iets meer gewaag wil doen as die gewone ou vakansie by die see. Dít het nou al só vervelig geraak!” het sy gegiggel terwyl Frieda vrolik knikkend beaam.

Albei lyk eerder soos kandidate vir ’n skoonheidskompetisie met figuurtjies wat beslis te beny is, het Suné geamuseerd gedink. Baie verfynd en, gewoond aan net die beste, lyk hulle beslis nie of hulle op pad is na die bos nie.

Daarna was die Fourie-gesin aan die woord. Voordat hulle begin het, het hulle vlugtig na mekaar gekyk en dit het nie Suné se aandag ontgaan nie. Dawid het al die praatwerk gedoen.

“Ek is ’n verteenwoordiger by ’n groot firma, wat beteken dat ek baie moet rondreis en dus dikwels weg van die huis af is. My vrou, Heleen hier, is ’n bankklerk.” Sy het slegs met ’n skewe glimlag om die lippe haar kop as bevestiging geknik.

“Ons mooi meisiekind,” en hy het sy hand met ’n glimlag op haar skouer gelê, “is nou in graad vier. Omdat ons dit nodig gevind het om as gesin ’n tydjie saam deur te bring, het ons met haar skoolhoof gereël dat sy verskoon word vir die twee weke.”

“Ek is ’n rekenaardeskundige. Julle wéét mos, een van dáárdie soort waarsonder niémand meer kan klaarkom nie! En ek is vyf-en-twintig jaar oud én beskikbaar,” het Henk Matthee vir sy eie grap gelag. Vanuit die staanspoor was dit duidelik dat hy baie tevrede met homself en die lewe is.

Hy is lank, nie sterk gebou nie, maar tog aantreklik. Hy het langerige donkerbruin hare, bruin oë met ’n geboë neus, en verbeel Suné haar of kyk hy langs daardie einste neus half áf in haar rigting?

Ag tog, was ek dan nou té vriendelik met hom in my poging om in te pas by hierdie groep mense wat vir twee weke deel van my lewe gaan wees? wonder sy selfbewus.

Toe dit haar beurt was, het sy stamelend begin met haar wysvinger op haar bolip: “Ek beklee ’n administratiewe pos by die Universiteit van Pretoria en op aanbeveling van my dokter en kinders, na ’n siekbed, doen ek mee aan hierdie safari.”

Baie duidelik het sy gehoor hoe Henk saggies ’n spottende aanmerking maak oor “ou fossiele wat weer lewe in doodsbeendere wil inpomp”, teenoor die twee meisies langs hom waar hulle op die verste hoek van die tafel gesit het. Toe het hy weer kliphard gelag vir sy eie power poging om ’n grap te maak. Christi en Frieda het stuitig saamgegiggel en tersluiks na Suné geloer. Sy het gevoel hoe haar gesig rooi word van verleentheid.

Die vernedering het aan haar gerem. Sy het hard geveg om haar gesig soos ’n masker te hou, en haar asemhaling, wat skielik in haar keel wou vassteek, egalig te hou. Maar sy het eerder lus gevoel om haar nek tussen haar skouers in te trek en te verdwyn.

Is dit dalk ’n voorspel tot die tipe vakansie wat ons saam gaan hê? het sy gewonder met haar oë op die tafel voor haar en gevoel hoe daar ’n rilling teen haar ruggraat afgly.

Dit was duidelik dat die ander lede dit ook gehoor en onsmaaklik gevind het, want skielik was die gees om die tafel gedemp. Dewald het gefrons en gelyk of hy iets wou sê. Hy het hom egter bedink, net hard gekug en voorgestel dat hulle begin aanstaltes maak. Met ’n “die son trek water, mense!” het hy probeer om die gemoedere weer ’n bietjie te lig.

Behalwe vir die drie jongmense was dit ’n bedeesde groepie wat die vliegtuig bestyg het, en was dit doodstil tussen die toerlede in die voorste gedeelte ná die ongevraagde klap wat uitgedeel is. Eers na omtrent ’n halfuur se vlug noordwaarts het die spanning tussen hulle sodanig bedaar dat hulle begin gesels het.

Dit is net sy en die kind langs haar wat nie aan die gesprek deelneem nie. Sy is te bang om weereens enige aandag op haar te vestig. Dáárom sit sy nou hier hoog bo in die lug met ’n frons tussen die oë.

Suné luister na Henk se aanhoudende kwinkslae en met tye wil sy op haar tande kners oor sy stuitigheid. Ander kere kan sy dan ook skielik nie verhelp om so in haar enigheid vir sy sêgoed te glimlag nie. Hy kán nogal snaaks wees as hy wil, moet sy toegee. Geen wonder die meisies hang so aan sy lippe nie. Die hele vakansie kon so anders begin het as hy net ’n bietjie meer bedagsaamheid aan die dag gelê het, dink sy spytig.

Die gedreun van die motore van die vliegtuig klink eentonig en werk kalmerend in op haar sinne. Gaandeweg ontspan sy en sit met ’n ligte sug terug.

Die volgende twee weke kan baie lank raak as ek nou kruidjie-roer-my-nie speel en my eenkant hou. Dit gaan die gees van die vakansie vir almal heeltemal bederf en dit wil reeds vir my lyk of die helfte van ons hier is met ’n hele klomp ekstra emosionele bagasie.

Omdat Bart voor langs Dewald sit en die jong mense hulself agter in die vliegtuig tuisgemaak het, is sy nou in die middel langs die jong dogter met háár ouers voor hulle.

Dié twee voer ’n diep fluistergesprek terwyl hy met sy arm om haar skouers ernstig in haar oë kyk. Dit is duidelik aan hul houding dat ’n probleem bespreek word, en sy hoop vurig dat die spanning tussen dáárdie twee nie ook gaan bydra om die toer nog verder te versuur nie.

Haar blik verskuif stadig ondersoekend na die kind langs haar. Rykie se koppie hang op haar bors en sy lyk vir Suné hartseer en baie eensaam en haar hart gaan uit na haar.

Ek het verwag dat daar baie meer mense op hierdie toer sou gaan en beslis ook meer mense van my eie ouderdom. Ons is voorwaar maar ’n baie vreemde groepie hier bymekaar. Dit sal nogal interessant wees om te weet hoe dinge tussen ons gaan ontwikkel tydens hierdie volgende twee weke, dink sy afgetrokke. Sy sug onhoorbaar. Dan wend sy haar na die dogtertjie met ’n geforseerde ligte stem.

“Vertel my van jou skool, nooi. Is jy gelukkig daar?”

Rykie kyk skaam na haar op. “Ja, Tannie, ek is en ek het baie maats.” ’n Glimlaggie breek deur: “En hulle is almal lekker jaloers omdat ek voor hulle vakansie kon kry.”

“Ek sou so dink, ja. Dit is ’n lekker bederf hierdie,” lag Suné sag.

Rykie ontdooi. Sy vertel dan opgewonde uit haar eie: “Tannie, ek is so lief vir perde en ek wil eendag ’n ponie hê.”

Terwyl sy praat, begin die groen ogies van verwagting te lewe. Sy is ’n pragtige kind met lang roesbruin hare, in twee bokstertjies langs haar kop vasgemaak.

’n Regte Pippie Langkous! besluit Suné. Met ’n goeie klompie sproetjies op die neus en wangetjies en die twee enorme voortande, herinner sy sommer sterk aan die TV-karaktertjie van jare gelede.

“Ek het op ’n plaas grootgeword saam met twee broers, weet jy, en toe het ek ook my eie perd gehad. ’n Pragtige pikswart Arabier met die langste maanhare wat ek gereeld uitgekam en dan gevleg het. Op sy rug het ek gereeld oor die velde gejaag dat die graspolle so spat en ek kon voel hoe hy dit ook geniet.

“Wanneer ek hom agterna geroskam het, het hy geproes van lekkerkry. Ons het mekaar so goed verstaan, en dit was behoorlik asof hy vooraf geweet het wat ek van hom daar in die veld verwag het.

“Hy het ook goed geweet van die suikerklontjies in my sak wat hy dan gekry het wanneer ons klaar was,” sluit sy af. Haar hart trek pynlik saam by die herinnering en sy ervaar skielik ’n groot heimwee na daardie sorgvrye dae wat soos ’n ewigheid gelede voel.

Rykie klap haar hande en giggel uitgelate. “Oe lekker, ek wil ook so ’n perd hê!” kraai sy. Self nou ontspanne gee Suné die handjie ’n drukkie terwyl sy in die laggende ogies afkyk.

“Ek is seker dat jou pappa en mamma vir jou een sal koop sodra die tyd reg is. Intussen kan jy mos maar na ’n ryskool daar naby julle gaan of hoe? Dan kan jy solank goed leer ry en teen die tyd dat jy jou eie een het, is jy dan al goed gekonfyt met die versorging van ’n perd en die rykuns.”

“Dis ’n goeie plan, Tannie. Ek gaan hulle sommer dadelik vra sodra ons weer by die huis is!”

“Ek dink nou aan iets. Vra jou pappa-hulle dat hulle jou eendag na ’n vertoning van die spierwit Lipizzaners neem. Daardie perde is vreeslik goed opgelei en op die maat van musiek lyk dit of hulle dans. Jou asem sal wegslaan, hoor!”

“Haai, Tannie, is dit rêrig so?” vra Rykie blinkoog.

“Ja, nooi, dis regtig so en dit is ’n belewenis wat jy altyd sal onthou!”

Syself voel ook sommer beter en begin weer uitsien na hulle vakansie. Sy kan aanvoel dat húlle twee ten minste goed gaan klaarkom ten spyte van die groot ouderdomsverskil.