GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/sdrfhv-rosette-vir-dapper-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Rosette vir Dapper

— Hoofstuk 1 —

Dit reën nou al vir vier dae aanmekaar. En ook nie ’n lekker sifreëntjie nie, nee, behoorlike sousbuie met elke af en toe ’n wolkbreuk tussendeur. Die ponies staan druipnat met hul sterte teen die wind gekeer, só afgeskakel dat hulle nie eers kom as hulle geroep word nie. Mildred se twee perde staan in Queen’s Gilly se stal en kom net uit as die nood druk.

Die vyf lede van die Poniehoewe-Klub sit in die skuurtjie en staar deur die oop deur na buite.

‘Hier is nie meer ’n enkele stukkie leer wat nog nie gesaalseep is nie,’ verklaar Anneke, en sy vee haar hande af aan ’n vel kombuispapier wat sy spesiaal daarvoor saamgebring het. ‘Wat gaan ons nou maak?’

‘Weer van vooraf begin?’ Maar Ruan se voorstel kos hom ’n klap van sy sus.

‘Jy’s nie snaaks nie,’ verseker Dommie hom. Hy trek vir haar ’n gesig en koes sommer by voorbaat vir die volgende klap.

Dis Saterdagoggend en op enige ander Saterdagoggend sou hulle al lankal bo-op die ponies gewees het. Die wolke lê egter nog swaar en die reën toon geen enkele teken dat dit ooit weer gaan ophou nie. En die ergste van alles is dat hulle nie mag kla nie want, het Mildred streng gesê toe Roy die opmerking maak dat dit wat hom betref gerus nou maar ’n slag kan end kry, in hierdie droë land van ons is ons dankbaar vir elke druppel wat val. Daar is in elk geval so baie dinge wat binne gedoen kan word dat die tyd goed bestee sal word — en dis hoe dit gekom het dat hul saals en tooms nog nooit so skoon was nie.

‘Maar as ons nou vir Mildred gaan sê ons is klaar dan vind sy tien teen een weer iets anders vir ons om te doen. Ek is lus en gaan huis toe,’ kla Roy.

‘Om wat te gaan maak?’ wil Tessa weet. ‘Dit reën daar ook.’

‘Dis waar. Nou kom ons gaan vra haar dan maar en werk ons dood.’

Dis gelukkig net ’n entjie na die huis toe en hulle is nie te erg nat toe hulle daar aankom nie. Mildred is in die kombuis besig om pannekoeke te bak, met Tjello wat hoopvol by haar lê en die vloer natkwyl.

‘Ek het gereken julle sal lus wees vir iets om te eet,’ sê sy, en laat ’n laaste een uit die pan op die stapel gly. ‘Tessa, sal jy vir ons borde kry en julle moet maar self besluit wat julle wil ophê, daar is suiker en kaneel, stroop, heuning, en aarbeikonfyt.’

Die triestige weer maak skielik nie meer saak nie.

 · · ·

Toe nie een meer ’n enkele stukkie pannekoek kan inkry nie en selfs Tjello ophou bedel, sê Mildred, ‘Toe ek so oud was soos julle en dit het gereën, het ons altyd teorie geleer.’

Hulle kyk haar verras aan, dit is die eerste keer dat sy iets oor haarself vertel.

‘Waar was dit?’ vra Tessa nuuskierig.

‘In Engeland. Ek het daar grootgeword,’ antwoord Mildred, ‘en julle het seker al gelees hoe die weer daar is, dus het ons baie tyd gehad vir die teoretiese studie van ruiterkuns.’

‘Wanneer het julle dan gery?’ wil Anneke weet.

‘Nou ja, mens het mos reënjasse gehad,’ antwoord Mildred.

Roy spring op van sy stoel.

‘Ditsem!’ roep hy. ‘Ons trek ons reënjasse aan, dan kan ons ry!’

‘Ek het eerder gedink ons kyk ’n bietjie na teorie,’ sê Mildred, maar niemand luister vir haar nie.

‘Ek het my poncho hier, jy ook, An?’ vra Tessa. ‘Wat van jou, Dom?’

‘My reënbaadjie is lank genoeg, my bene kan maar nat word,’ antwoord sy.

‘Ek kan my reënpak weer aantrek,’ sê Ruan, wat dit aangehad het toe hy die mis weggery het.

Hulle storm by die deur uit. Mildred skud haar kop, gaan trek dan ook ’n reënjas aan en volg hulle na die skuurtjie toe.

In ’n kits het almal hul reënklere aan en vat halters en toue om die ponies te gaan haal. Dié staan agter ’n ry bome, skynbaar aan die slaap, maar toe hulle Ruan se geel plastiekpak sien ruk die koppe op. Agterdogtig beskou hulle hom en toe hy te naby kom gee hulle soos een pad, snorkend en met nat graspolle wat in alle rigtings spat. ’n Ent verder kom hulle tot stilstand.

‘Wat gaan met hulle aan?’ wil Tessa verbaas weet. ‘Mens sou dink hulle ken ons nie.’

Anneke sê, ‘Dis Ruan se pak en ons ponchos, hulle weet nie ons is daar binne-in nie.’

‘Wel, ek gaan dit nie uittrek nie,’ sê Ruan, ‘ek is nie lus om longontsteking te kry net vir hulle plesier nie.’

Dommie is die enigste een wat nie met argwaan bekyk word nie en sy sit sonder moeite die halter aan Star Samuels.

‘Kom ek vat haar stalle toe, hopelik volg die ander. Bly net uit die pad dat hulle nie weer op loop gaan nie.’

Sy lei vir Star na die skuurtjie en na ’n kort aarseling kom die ander vier agterna, weliswaar met ’n skewe kop na die geel monster gedraai maar darem.

Omdat daar twee leë stalle is, is daar oorgenoeg plek om die ponies toe te maak sodat hulle nie kan ontsnap nie.

Mildred het intussen ook nadergekom en verklaar, ‘Ponies in Paniek! Goeie titel vir ’n boek.’

‘Dis sommer net die weer,’ probeer Tessa vergoeilik.

Mildred skud haar kop. ‘Ek dink dis Ruan se reënpak. Het hulle dit al ooit gesien?’

‘Nee, dis nuut,’ sê Ruan.

‘Dis wat ek gedink het. Net soos met alles moet hulle gewoond raak aan soiets, en ook aan die los ponchos wat julle aanhet voordat julle dit kan waag om op te klim.’

‘Ag tog, hoe lank gaan dit nie weer vat nie!’ kla Roy. ‘Rollie gee in elk geval nie om nie, dis net julle simpel goed wat vir alles skrik.’

‘Nou kan ons nog steeds nie ry nie,’ sê Anneke mismoedig.

‘Nee wag, dis darem nie so erg nie,’ sê Mildred. ‘Kyk, Rollie en Star is reg, Anneke en Tessa kan ’n gordel aansit sodat die ponchos nie waai en te veel kraak nie, daar behoort nie probleme te wees nie. Dis net Kuifkop — ’

‘Ek het nie ’n ander baadjie by my nie,’ sê Ruan met ’n ongelukkige gesig.

‘Nee, dis hoekom ek gewonder het — ’ Mildred kyk hom vorsend aan. ‘Jy’s groot genoeg, wil jy nie vir Gilly probeer nie? Hy is alles gewoond, hy sal beslis nie omgee vir jou pak nie.’

‘Regtig?’ Ruan kan sy ore nie glo nie. Queen’s Gilly! Maar dan sê hy, ‘Hulle is droog in die stal en dan word hy ook nat.’

‘Hy sal nie smelt nie, dis eintlik net Breaker wat altyd met die eerste druppel kom skuil. Ek sal hom en Kuifkop lusern gee, dan mis hulle nie hul maatjies en begin skree nie. Kom ons saal die ander op.’