GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/rzldbr-donkieman-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Donkieman

― Hoofstuk 1 ―

‘Ek hoop regtig nie hulle maak ’n gewoonte daarvan nie,’ sê Tessa se pa, sigbaar omgekrap, en vou Die Gaset hardhandig toe.

Tessa kyk op van haar roosterbrood met spek en eiers. Dis Saterdagoggend en die gesin sit saam aan ontbyt, iets waarvoor hulle gedurende die week min kans kry.

‘Waarvan, Pa?’

Haar pa slaan met sy plat hand op die koerantjie wat elke Vrydag die plaaslike nuus versprei.

‘Terwyl julle laasweek plaas toe was het hier een of ander rondloper met ’n spul donkies op die meent kom uitspan. Nou is daar omtrent ’n hele bladsy in die koerant oor hom en hoe hy die hele land deurreis met sy donkiekar. Weer net een of ander geldbedelary, as jy my vra.’

‘Eet jou kos, my man, dit word koud,’ maan Tessa se ma.

‘Mag ek sien?’ vra Tessa en steek haar hand uit.

‘As ons almal klaar geëet het,’ beslis haar ma streng. ‘Mens lees nie koerant aan tafel nie.’

‘Pá lees,’ sê Han, Tessa se jonger boetie, waarop Tessa antwoord, ‘Pa is Pa, hy kan maak wat hy wil.’

Na ete help Tessa afdek en die skottelgoed was voordat sy kans kry om die koerant te lees. Sy is nog besig toe haar foon lui.

‘Het jy die koerantjie gesien?’ vra Anneke aan die ander kant. Sy en Tessa is beste maats en lede van die Poniehoewe-Klub, saam met Dommie, Ruan en Roy (wie se naam eintlik Gerhardus is).

‘Van die donkieman?’

‘Einste! Wanneer gaan ons kyk?’

‘Ek sal eers vanmiddag kan.’

‘Ons probeer so vroeg as moontlik uitgaan, bel jy solank vir Roy, ek sal vir Dom en Ruan laat weet.’

· · ·

Net na middagete kom die vyf maats op hul fietse by die Poniehoewe aan, waar hul ponies gehou word: Tessa se Sneeuvoet, Ruan se Kuifkop, Dommie se Boontjies, Anneke se Dapper en Roy se Rollie. Die hoewe behoort aan Mildred Heywood, op haar dag ’n wêreldberoemde ruiter, wat haar oor die vyf ontferm het toe die dorp se selfdoen-ryklub se grond aan ontwikkelaars verkoop is en hulle geen heenkome gehad het nie. In ruil help hulle om die plek skoon en netjies te hou en versorg saam met hul eie ponies ook Mildred se twee Volbloedperde, Intrepid Icebreaker en Queen’s Gillie.

Oudergewoonte gaan groet hulle eers vir Mildred en tannie Elsa wat by haar kuier, en toe hulle terugstap na die stalle om te gaan skoonmaak kom Tjello, die Rottweiler, opgewonde saam.

‘Jy sal moet bly, ou matie,’ sê Ruan vir hom, ‘ek dink nie die donkies gaan van jou hou nie.’

Hy wring die hond se bal uit sy bek en gooi dit so ver soos hy kan. Tjello hardloop agterna en vang die bal toe dit in die lug hop. Trots kom wys hy dit vir Ruan, maar weier om dit af te gee. Hy gaan lê plat op sy pens en sit die bal tussen sy voorbene asof hy Ruan wil uitdaag om dit te vat.

‘Nee wat, hou maar jou ou bal,’ sê Ruan, ‘ek wil dit nie hê nie.’

Teleurgesteld stoot Tjello sy speelding met sy neus nader na Ruan toe, wat dit blitsvinnig gryp.

‘Ha, lekker gekul, nè?’

Vrolik hygend stem Tjello saam en wag opgewonde dat Ruan die bal weer gooi.

‘Hoekom sal die donkies nie van hom hou nie?’ wil Tessa weet. ‘Die ponies gee nie om vir hom nie.’

‘Ek weet nie hoekom dit so is nie, maar donkies haat honde,’ antwoord Ruan terwyl Tjello op en af spring om die bal uit Ruan se hande te kry.

‘Ek het dit ook al iewers gelees,’ sê Anneke, ‘en blykbaar gebruik boere dit om hul skape te beskerm. Met ’n donkie in die trop sal geen hond of jakkals glo naby kom nie.’

Ruan gooi die bal en sê, ‘Kom ons maak gou klaar, dat ons kan ry. En jy blý,’ voeg hy vinnig by sodat Tjello se kop sommer begin hang toe hy die aaklige woord hoor.

‘Haai siestog,’ kry Anneke hom jammer, ‘kyk hoe verlep sy ogies. Kom maar, Tjello,’ paai sy.

Hoopvol sit Tjello sy bal voor haar neer om te wys sy kan dit maar kry in ruil vir die wegvat van daardie ‘bly’.

Sy tel dit op en gooi dit vir Roy.

‘Maak hom moeg, dan sal hy nie wil sa– ’

‘Néé!’ roep die ander vier gelyktydig, maar dis te laat.

‘ –aam,’ maak Anneke lamlendig klaar. ‘Jammer, ek het nie gedink nie.’

Tjello sit nou ore gespits op sy stert en kyk vol verwagting van die een na die ander. Vergeet van ‘bly’, hy weet nou wel nie waarheen nie, maar ‘saam’ gaan hy saam!

‘Toe kom,’ sê Roy en hy gooi die bal met die pad in die rigting van die huis. Oopbek storm Tjello agterna en toe die ponies ’n tydjie later opgesaal word, lê hy pootuit en vas aan die slaap in die kombuis.

· · ·

By die meent staan ’n lang maer seun op die toe hek geleun. Hy is kaalvoet, sy kortbroek hang op sy knieë, hy het ’n T-hemp aan met nog ’n hele paar groottes se groei daarin, en die swart hare onder sy pet is lank en olierig. Hy lyk omtrent Ruan se ouderdom.

‘Gits,’ sê Dommie, ‘’n hekwag!’

‘Kan ons inkom?’ vra Tessa.

Die seun staan weg van die hek, maar bekyk hulle onbeskaamd op en af.

‘Wat soek julle?’

‘Dis ’n openbare plek, ons wil hier ry,’ antwoord Anneke beleefd.

‘Gaan jy oopmaak of moet ek?’ Ruan maak aanstaltes om van Kuifkop af te klim, maar die seun sê, ‘Toemaar, bly op jou perdjie, ek sal.’

Hy maak die hek oop en weer toe nadat hulle deur is.

‘Ek moet dophou dat mense nie die hek oop los nie,’ verduidelik hy darem.

‘Nou maar dankie,’ sê Anneke en voeg sag by, ‘Ons moet hom iets gee.’

‘Hoekom?’ wil Roy weet.

‘Mens gee altyd iemand iets wat iets vir mens doen.’

‘Gee jy maar, ek het niks by my nie,’ sê Roy, maar Anneke antwoord, ‘Ek ook nie, ons broeke het mos nie sakke nie.’

‘Nee, my selfoon moet ek hoeka by my sokkie insteek,’ beaam Tessa en kyk na Ruan. ‘Toe, julle seuns het mos sakke. Het jy niks?’

Ruan voel aan die voorste sakkie van sy rybroek.

‘Net ’n vyfrand,’ sê hy.

‘Nou, gee dit vir hom, ons is mos vyf. Ons gee later vir jou terug,’ beslis Tessa.

Ruan wikkel die munt uit sy sak, maar toe hy dit vir die seun wil gee, sê dié, ‘Ek het nie jou geld nodig nie.’

‘Ook goed,’ sê Ruan, en wil net sy hand terugtrek toe die seun die geldstuk gryp met die woorde, ‘Maar as jy nou daarop aandring sal ek dit vat.’ Dit verdwyn blitsvinnig in sy broeksak.

Dommie kyk hom aandagtig aan.

‘Wie is jy nou eintlik?’

‘Ek is hier saam met my oupa.’

‘Wat is jou naam?’

‘Hoekom wil jy weet?’

‘Uit beleefdheid. Ek is Dommie – ’

Die seun grynslag.

‘Dit wys,’ sê hy.

Ruan maak dreigend asof hy uit die saal gaan klim, maar sak terug toe die seun onverskillig sê, ‘Awerjaam.’

‘Adriaan?’ wil Tessa seker maak.

‘Nee, Awerjaam. Maar Oupa Git noem my Koos.’

‘Vanselfsprekend,’ spot Ruan. ‘Is jou oupa die donkieman?’

‘As jy dan moet weet, ja, en die hele simpel dorp was al vanoggend hier om te kom kyk, dié dat ek hier by die hek moet staan anders loop alles weg.’

‘Ons het ook kom kyk,’ erken Anneke.

‘Dis net ’n klomp donkies, het julle nog nooit ’n donkie gesien nie?’

‘Ons kom in elk geval altyd hier ry,’ sê Roy om hom op sy plek te sit. ‘Julle is eintlik in die pad.’

Die seun trek sy skouers op en draai sy rug op hulle om weer oor die hek te gaan leun.

‘Ag, ko’ns ry,’ sê Ruan ongeduldig en kry koers na die rivier se kant, die ander kort op sy hakke.

Hulle laat die ponies tot by die bome op die oewer draf en kyk rond. Nêrens is ’n donkie te sien nie.

‘Die koerantjie het gesê hy kamp hier,’ sê Tessa. ‘Snaaks, lyk my hy’t geskuif. Sal ons aanry?’

Roy se bont ponie Rollie het min aanmoediging nodig om te begin galop en die ander vier laat nie op hulle wag nie. In volle vaart sit Kuifkop, Sneeuvoet, Dapper en Boontjies hom agterna.

Roy is al lankal verbygesteek toe hy skielik sy ponie intrek en uitroep, ‘Haai julle, kom kyk hier!’

Een vir een kom hulle teruggedraf.

‘Wat is dit?’

Roy wys tussen die digte bome deur na die rivier se kant.

‘Julle’t dit gemis, sien, daar loop die donkies.’

Hulle tuur tussen die bosse deur en Tessa sê, ‘Ja, nogal. Kom ons gaan kyk.’

― Hoofstuk 2 ―

’n Troppie donkies wat in die groen gras van die rivieroewer gewei het, tel hul koppe op en betrag die indringers nuuskierig toe hulle deur die bosse naderkom. Die lang ore wikkel vorentoe en staan penregop.

‘Ons moenie te naby gaan nie,’ waarsku Anneke, ‘onthou ons weet nie of hulle nie dalk gevaarlik is nie!’

Die ponies is maar te gewillig om tot stilstand te kom en bekyk op hulle beurt wantrouig na hierdie verre neefs. Een van die donkies, ’n groot vaal een, kom nadergestap en skud sy kop dat die ore eintlik klepper.

Dommie draai Boontjies om.

‘Hy gaan byt!’ sê sy angstig.

Die res van die donkies het nou ook moed geskep en kom agter die vale aan. Ruan wil nog keer, maar die ander het klaar hul ponies in die rigting vanwaar hulle gekom het gedraai en retireer met meer haas as waardigheid. Ruan druk Kuifkop in die sye en gaan die vaal donkie tegemoet.

Kop aan kop hou ponie en donkie stil en blaas in mekaar se gesigte. Van ’n veilige afstand hou die vier ander Poniehoewers dop wat gaan gebeur.

‘Dit sal ook net Kuifkop wees,’ sê Dommie en giggel senuagtig. ‘Hy’s self so ’n donkie!’

‘Ek hoop nie hulle gaan begin skop nie,’ sê Tessa en Anneke sê resoluut, ‘Kom, hulle sal niks maak as ons almal daar is nie.’

‘Hoe weet jy?’ vra Dommie bekommerd, maar Roy is al klaar op pad en die meisies kan nie anders as om hom te volg nie. Hulle is darem mos nie bangbroeke nie!

Ruan het van Kuifkop afgeklim en staan en vryf die vaal donkie se ore terwyl Kuifkop jaloers toekyk. Roy klim ook uit die saal en kort daarop is al vyf tussen die donkies en stel die ponies aan hulle voor.

Een jongetjie hap astrant na Sneeuvoet, maar dié trek sy ore plat en die donkie staan vinnig terug.

Tessa tel agt volwasse donkies. Twee is merries met vullens, die res is reuns.

‘Waar sou die ou man wees?’ wonder Anneke hardop en wip soos sy skrik toe ’n bars stem van agter die bome opklink.

‘Praat jy van my?’

’n Maer man, baie langer as wat hy in die koerantfoto gelyk het, kom nader. Skerp swart oë beskou hulle vanuit ’n bruingebrande gesig wat kennelik gewoond is aan wind en weer. ’n Skerp haakneus troon bo ’n digte grys baard, en die slierte hare wat by ’n heldergekleurde kopdoek uitsteek, is wit. Hy het ’n bloedrooi hemp aan met wye moue en ’n blinkleer onderbaadjie, by ’n bruin nousluitende rybroek. Daarby dra hy uitgetrapte velskoene, waarmee hy hulle met ’n paar lang treë bereik.

‘Wat soek julle hier? Ek het gehoop die nuuskierigheid het darem teen hierdie tyd al opgedroog.’

‘Ons het maar net kom ry, Oom, en toe sien ons die donkies,’ verskoon Tessa hulle met ’n halwe waarheid.

‘Ja, en toe wonder ons wie s’n is dit,’ vererger Roy sake.

‘Dit was in die koerant. Het jy dit nie gelees nie?’

Roy skud sy kop.

‘Nee, Oom,’ jok hy, en dis duidelik dat Grysbaard hom nie glo nie.

‘Jy lyk vir my soos iemand wat die koerant van hoek tot kant lees,’ sê hy en Roy begin verbaas, ‘Hoe – ’ voordat hy sy mond toeklap en die man met ontsag aankyk. Almal wat hom ken weet dat hy selfs die advertensies lees in elke koerant wat hy in die hande kry.

Anneke probeer salf smeer.

‘Sien, Oom, ons kom altyd hier ry maar ons het gelees Oom is hier, toe dog ons ons wil sommer kom kennis maak,’ en sy las aan, ‘Ons hou baie van donkies.’

‘Jy’s die slim een, nè?’ sê Grysbaard.

Anneke bloos.

‘Nee, Oom, ons is almal ewe slim. Ek bedoel, dom. Ek bedoel – ’ Haperend bly sy stil toe hy haar stip aankyk en dan sy blik op Dommie rig.

‘Is sy?’ vra hy. ‘Slim?’

‘Ja,’ antwoord Dommie bot.

‘En jý laat nie op jou kop sit nie,’ som die ou man haar op.

Maar Ruan het nou genoeg van die donkieman se slimstories. Hy wip vinnig in die saal en sê, ‘Dan groet ons maar, kom julle? Totsiens, Oom.’

Voordat hy egter kan omdraai, sit die man sy hand op die geelperd se kop. Tot Ruan se verbasing staan Kuifkop nie soos gewoonlik onmiddellik verskrik tru nie, maar laat die man toe om sy ore te vryf.

Ruan trek aan die teuels, maar Kuifkop staan asof ingeplant.

‘Ek wil ry,’ sê Ruan taamlik onbeskof en die ou man lag saggies.

‘Haantjie, nè?’ spot hy. Hy trek sy hand terug. ‘Toemaar, vat jou perdjie, ek sal hom nie keer nie.’

‘Asof!’ brom Ruan ontevrede, en skop Kuifkop onnodig hard in die lieste. Hy is nie daaraan gewoond dat sy poon sommer toelaat dat vreemdelinge aan hom vat nie en dit hinder hom. Hoekom, weet hy self nie.

Sonder om eers te kyk of die ander hom volg, stuur hy Kuifkop op ’n kortgalop terug na die paadjie waarlangs hulle gekom het.

Al gou ry hulle die bekende pad deur die veld en spring amper lusteloos oor die paar hindernisse wat daar gebou is, laag genoeg sodat ook Kuifkop en Rollie daaroor kan kom. Na die derde een hou Ruan stil.

‘Dis óns plek,’ sê hy. ‘Ons kan maak wat ons wil hier.’

‘Ons maak mos,’ antwoord Tessa. ‘Niemand keer ons nie.’

‘Minste van alles daardie lelike ou man met sy lang baard,’ beaam Dommie.

‘Ja, maar nie een van ons voel lekker nie,’ sê Anneke nadenkend. ‘Dis al asof ons nie meer welkom is nie.’

‘Dis natuurlik onsin,’ sê Ruan beslis. Hy bly ’n oomblik stil en luister aandagtig. ‘Hoor julle iets?’

‘Nee, wat?’ wil Roy weet.

‘Dis wat ek bedoel,’ antwoord Ruan. ‘Dis glad te stil, mens hoor nie eers ’n voël nie.’

‘Kom ons gaan liewer terug,’ stel Anneke ongemaklik voor en Tessa knik haar kop en begin Sneeuvoet omdraai.

Niemand gesels op pad terug nie. Hulle ry in ’n wye draai om die plek waar hulle die donkies gesien het en hou by die hek stil. Die seun hou nog steeds wag en beweeg nie.

‘Toe Gawerjal of Awerjaam of wat ook al jou naam is, maak oop,’ sê Ruan.

Die seun trek sy een winkbrou op.

‘Hoe sê mens?’

‘Asseblief. Maak asseblief die hek oop,’ sê Anneke, maar Ruan het klaar van sy perd gespring.

‘Los, ek sal.’

Die seun beweeg egter blitsvinnig tot by die haak wat die hek toemaak en gaan staan daarvoor. Sy vuiste is gebal.

‘Dis mý werk.’

Ruan stop Kuifkop se teuels in Roy se hand en kom dreigend nader. Vir ’n oomblik lyk dit asof die twee aanmekaar gaan spring, dan draai die seun om en maak die hek oop. Terwyl Ruan weer op Kuifkop klim, vra die seun leedvermakerig, ‘Het Oupa Git julle weggejaag?’

Ruan gee hom ’n vuil kyk en die vyf ry in stilte deur die hek. Eers toe hulle ’n ent weg is, sê Anneke, ‘Dis snaaks, het julle dit ook opgelet?’

‘Wat?’ vra Dommie.

‘Daardie seun praat elke keer van sy oupa Git, maar in die koerantjie het gestaan sy naam is Johan  of soiets.’

‘Nou dat jy dit sê, ja, dis waar,’ stem Tessa saam. ‘Jan die Donkieman.’

‘En as daardie maer voëlverskrikker by die hek se naam Koos is, dan is my naam Piet,’ las Ruan aan.

‘Miskien is Git hulle van,’ opper Dommie, en Anneke sê dat dit kan wees, die ou oom het vir haar nogal taamlik uitheems gelyk. Ruan skud egter sy kop want, uitheems ofte nie, hy het nog nooit van so ’n van gehoor nie,

‘Nee,’ sê hy, ‘hulle lieg asof dit gedruk staan. Ek wonder hoekom.’

‘En van gedruk gepraat, in die koerantberig was ook niks oor die danige Koos nie,’ voeg Anneke peinsend by.

Roy sug hoorbaar.

‘Ek hoop tog net nie daar is weer ’n geheim wat ek sal moet oplos nie,’ sê hy kamma mismoedig, en val amper van Rollie af toe Dommie, wat langs om ry, hom ’n harde stamp gee omdat hy so voorbarig is.

‘Dit het in elk geval niks met ons te doen nie,’ besluit Tessa.

‘Is so,’ beaam Anneke en die ander stem ook saam.

As hulle maar net geweet het hoe ver hulle die bal mis slaan!