GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/rnvlzo/0/

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Man Sonder Kop

— Hoofstuk 1 —

Die Legende van Zerzura

Hy kan dit nie meer lank uithou nie. Die hitte is ondraaglik. En die dors! Sy keel is droog; sy lippe warm en pynlik agter die masker. Telkens lek hy daaroor met ’n tong wat voel asof dit uit sy mond peul. Leon Fouché, alias die Swart Luiperd, kyk vlugtig om hom heen. Die see van sand en duine waarop die sonstrale bewend tril, lê in oneindigheid voor hom uitgestrek. Sy oë brand agter die masker.

Donker, sy swart perd, staan so ’n endjie van hom af; die gespierde nek kan die kop nie meer hou nie. So taai soos die dier hom die afgelope aantal dae gehou het, begin die versengende hitte en die verskriklike dors nou ook hulle spore op hom nalaat.

As daar net water naby was; maar waar in hierdie onmeetlikheid sal mens dit aantref?

Uitgeput sak die Swart Luiperd op die warm sand neer. Netnou het hy sy luiperdmasker afgehaal en sy donker hare was saamgekoek vanweë die sweet en die stof van vanoggend en die vorige dae. Maar die ligte windjie wat skroeiend oor die sandwêreld gedraal het, het hom laat besluit om die masker weer op te sit. Dit verhoed tog dat die fyn stof, sand en korrels in sy oë waai.

En dan, met sy luiperdmasker op, voel Leon Fouché altyd meer seker van sy eie krag, voel hy meer seker oor die dinge wat in die onbekende op hom wag. Vandat hy etlike jare gelede hierdie swerwersbestaan van hom gevolg het, het hy onwrikbaar geglo dat wanneer sy masker op is, sy pyl en boog agter sy rug, en sy perd, Donker, en sy twee luiperds, Spikkels en Simson, byderhand, hy enige gevaar die hoof kan bied, enige ontbering kan trotseer.

Oral in sub-Sahara Afrika ken hulle hom al, Leon Fouché, die Luiperdman, wat baie skurke en moordenaars al laat les opsê het. Oral waar hy gaan, is sy twee luiperds, Spikkels en Simson, by hom, en sy perd, Donker, met sy uithouvermoë, sy taaiheid, sy getrouheid.

Waar daar avontuur wag, daar is Leon Fouché en sy dieremakkers. Vandag is hy hier, môre daar, en so is die lewe nimmer-rustend, polsend binne-in hom.

Dit is avontuur wat hom andermaal hier in die woestyn ingedryf het. En watter wêrelddele het hy nie al aangedurf nie! Hy is tuis in die water, tussen die bome, op die mere; en nou in die woestyn. Maar dit is die eerste keer dat hy die onmeetlikheid, die harde wreedheid van die Sahara-woestyn aandurf.

’n Week gelede het hy en sy diere die bosse agtergelaat, lowergroen bosse, waar water volop was en waar hulle onder skaduryke bome teen die moordende sonstrale kon skuil. Wat jaag die Swart Luiperd voort na hierdie onherbergsame, onsimpatieke oord?

Leon se oë is dof agter sy luiperdmasker. Sy twee tiers se mooi velle is vaal van die stof en Simson staar hom aan asof hy hom verwyte toeslinger, asof hy vra, ‘Waar die drommel is die stad in hierdie nimmer-eindigende duinewêreld waarna jy soek?’

Ja, dit is wat die Luiperdman andermaal ’n ander onbekende, onontdekte oord, laat binnetrek het. Hy is op soek na Zerzura.

Die man met die maer gesig het van die mitiese oasestad in die Sahara soos ’n ylende gepraat. Hy, doktor Bronkhorst Minnaar, het met iets soos ’n kranksinnige lig in sy oë van Zerzura gepraat.

Maar niemand wou hom glo nie. Hulle het gedink dat hy kranksinnig is. Bronkhorst Minnaar is na ’n gestig gestuur nadat hy aanhoudend gepraat het van Masseters, oermense wat veronderstel is om uitgesterf te wees, van Ramas met wrede perde en van die heerser van Zerzura, die Man Sonder Kop.

Dit moes die mense laat dink het dat Minnaar drogbeelde sien, dinge wat alleen kan bestaan in die verwronge brein van ’n waansinnige; dit kon vir hulle alleen beelde wees wat voortvloei uit die geteisterde gees van ’n malle.

Maar Leon Fouché, die Swart Luiperd, het nie geglo dat Bronkhorst Minnaar kranksinnig is nie. Nee, meer as dit. Hy het geweet dat die beenderige man nie van waanbeelde praat nie. Leon Fouché het bewyse gehad dat daar iets soos Zerzura hier êrens verlore in die duinewêreld bestaan. Die Swart Luiperd het geweet dat die Masseters en die Ramas bestaan, en al die verskriklikhede waarvan die oubaas voortdurend ge-yl het.

Daar is ook ’n Man Sonder Kop wat verskrikking saai onder ’n verlore volk in die hart van die dorre, onherbergsame woestyn, daar in Zerzura.

En die Swart Luiperd weet min of meer waar die stad van die Man Sonder Kop geleë is. Die Luiperdman het foto’s gesien van die oermanne en die Man Sonder Kop. Hierdie foto’s is deur die oënskynlik kranksinnige Bronkhorst Minnaar self geneem. Bronkhorst het ’n rowwe kaart geteken van die duinestad, omring deur damme, mere, waterstrome en groen bome, in die hartjie van die Sahara. Hierdie kaart en foto’s het Bronkhorst Minnaar aan die Luiperdman oorhandig voordat hy in die hospitaal oorlede is as gevolg van geestespanning, vanweë die afgryslike drome wat hom nag na nag wakker gehou het.

Hier in die hitte van die woestyn op die warm sand, wat, sodra die woestynwind soos ’n onsigbare monster aangehuil kom oor die onmeetlikheid, stadig beweeg, so stadig en langsaam, maar onverbiddellik soos die kruipende dood hier in die waterlose Sahara, sien die Swart Luiperd die geleerde weer duidelik voor sy geestesoog.

‘Belowe dit in belang van die wetenskap, Leon, dat jy sal gaan soek na Zerzura, na die oasestad. Daar is juwele, robyne, smaragde, ’n wêreld van rykdom wat op jou wag as jy in so ’n onderneming slaag. Ek wou hierdie kaart en foto’s aan niemand toon nie. Ek kan niemand vertrou nie, behalwe vir jou wat die wêreld ken, wat al snaakse dinge beleef het, dinge in jou omswerwinge ervaar het wat niemand sal glo as jy dit aan hulle vertel nie. So is die mens sonder visie, Leon. Alles wat nie normaal lyk nie, wat uit ’n wêreld buite hul wete kom, word nie geglo nie, word bestempel as verbeeldingsvlugte uit die brein van ’n sieke. Maar Zerzura bestaan, die oermense bestaan, die juwele het ek in die palm van my hand gehad, maar die priester van Ra wat my bygestaan het om uit die stad van die Man Sonder Kop te ontsnap, het my beroof. Maar ek was nie spyt daaroor nie, Leon, want dit is nie wat ek bo alles begeer het nie. Wat ek wil hê is die wetenskaplike bewyse dat Zerzura nie ’n legende is nie, nie ’n leë droom nie, nie ’n verbeeldingsvlug nie; dat die oermense leef, in die hart van die Sahara leef; en dat die man met die afkop hul regeer. Ek wou al hierdie oënskynlik fantastiese dinge aan die dom wetenskaplikes bewys, maar ek het nie daarin geslaag nie. Ek beroep my dus vir oulaas nog op jou, Leon, jy het die durf, die visie, die verbeeldingskrag, die deursettingsvermoë en die krag om hierdie onderneming aan te pak. Daar wag gevare vir jou. Daar is die ongenade, meedoënloosheid van die wreedste woestyn; daar is die sluiptred van die Toearegs van die duine; die lis van die Ramas met hulle sabels; daar is die honger luiperd en die stinkende, grootkop-hiëna; daar is die bruutheid van die oermense met wie jy te doen sal hê. Dan is daar die massiewe krag van die heerser van Zerzura, die Man Sonder Kop, teen wie jy kragte en vernuf sal moet meet. Daar is nog die verskriklikheid van die vuurpoel waarin indringers gewerp word, waarteen ek jou waarsku, Leon. Maar jy weet hoe om doodsgevare die hoof te bied. Hier is die kaart en hier die foto’s; doen wat jy kan. Gaan na Zerzura!’

’n Paar uur na hierdie gesprek was Bronkhorst Minnaar dood en byna het sy geheim saam met hom gesterf. Die Swart Luiperd het geglo aan die bestaan van al hierdie dinge, want hy wis dat daar dinge bestaan wat vir die gewone mens na iets uit ’n vreesdroom sal lyk wanneer hulle van aangesig tot aangesig daarmee kennis maak.

Nadat Minnaar gesterf het, het Leon lank oor alles nagedink en toe het hy die bosse ingeswerf. Stadig het hy per trein, per motor en toe te perd en te voet deur die hart van Afrika getrek. Die bevriende inboorlinge het hom bygestaan. Hy is Kenia deur, deur die bosryke verblyf van sy Pigmeë-vriende. Maar die woestyn in wou niemand hom volg nie. ’n Week gelede het hy die bosse verlaat, vaarwel gesê aan die waterstrome. In die noorde het hy die vaal, doodse bergruggens opgemerk – dit het gelyk soos ’n dooie wêreld wat hy verder noordwaarts alleen sou moes betree.

Maar hy het nie geaarsel nie!

Die dors is verskriklik. Dit is die eerste vyand wat hy teenkom. Niemand kan teen soiets veg nie. Nie die sterkste man nie – nie sy diere nie!

Agter sy rug is daar vlymskerpe gifpyle, en pyle sonder gif; daar is ’n blinkgeslypte mes in die skede aan sy regtersy, maar daarmee kan hy nie die onsigbare vyand, die dors, bykom nie. Die Luiperdman het in die beskawing ’n ekspedisie op die been probeer bring om saam met hom hierdie avontuurtog, hierdie ondekkingsreis mee te maak, maar geleerdes of manne met geld was nie daarvoor te vinde nie. Die Luiperdman se onwrikbare wil het hom nie hierdeur van stryk laat bring nie.

Selfs Sonet, die jong meisie met die swart hare en die bruin oë, het hom afgeraai om te kom. Ook sy het gedink dat hy ’n dwaas is.

‘Jy gaan agter ’n blote lugspieëling aan, Leon. Bly liewer.’

Maar hy het nie, en hier lê hy nou op die warm sand, met die droë vingers van die dood wat aan sy strot gryp! Die Swart Luiperd rol om in die warm sand – die woestyn-wind waai dor en lui laag oor die duine; dit voel asof sy liggaam uitdroog. Simson gee iets soos ’n knaende kreun en hy staar steeds met ’n soort verwyt na sy tweebeenmaat.

Die Luiperdman strompel orent. Hy sukkel oor die duine ’n end verder. Hy hou sy hand oor sy oë om die verblindende lig van die sidderende sonstrale uit sy kykers te hou.

Spikkels en Simson kom traag agterna en die hongerknae laat hulle ’n paar kort brulletjies los.

Verlate en doods en uittartend lê die sandsee voor die Luiperdman.

En dan val hy opeens plat, byna instinktief soos ’n dier wat gevaar ruik of bespeur.

’n Endjie van hom af, agter ’n akasia – ’n boom wat hier in die woestyn soos ’n hurkende mens vertoon – was daar ’n beweging. Eers was dit asof dit die akasia is wat beweeg het.

Met brandende oë kyk die Luiperdman na die woestynboom. Flou gebied hy na agter, ‘Plat, Donker!’

Asof hy dood neerslaan, rol die perd op die warm sand neer en lê stil.

Spikkels en Simson het daardie beweging agter die skrale akasiaboom ook reeds bespeur. Stertkwispelend lê hulle vlak agter hulle tweebeenmaat.

Die Luiperdman se pyl en boog is in ’n oogwink in sy hande.

Opeens beweeg iets andermaal agter die woestynboom – geklee in geel soos die duine is ’n figuur ’n oomblik sigbaar, en die volgende oomblik val ’n pyl klappend in die warm sand voor die Luiperdman neer.

Dadelik herken Leon daardie pyl. Dit behoort aan die gevreesde Toearegs, die moordenaars van die Sahara-woestyn.

Opeens volg ’n kreet links van Leon, en dan sien hy hoe twee bruin-geel gestaltes soos geeste wat uit die warm sand opkruip, opspring en met gespanne boë na hom mik.