GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/rcxgql/1/

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Lang Henning en die Perdesmous

— Hoofstuk 1 —

Boet kyk half hartseer by die krans af waar Lang Henning so pas die laaste sak gouderts uitgeskud het.

‘Ons kon dit verkoop het,’ sê hy, maar Henning skud sy kop.

‘Dan moes ons verduidelik waar ons dit gekry het en dit sou net weer ’n stormloop veroorsaak het, soos laas. Glo my, dis die beste manier, hierdie goud het nou genoeg moeilikheid gegee.’

‘As jy so sê.’ Boet klink nie oortuig nie, maar vra dan, ‘Waarheen nou?’

‘Ek dog ons gaan Nelie se saal by jou Nama-meisie haal. Wat is haar naam nou weer?’

‘Klara. En sy’s nie my meisie nie. Nelie is.’

‘Nou goed, maar dis ook partykeer moeilik om tred te hou met jou liefdeslewe,’ spot Henning. ‘In elk geval, terwyl ons nou Basjan se pakperd geleen het vir die goud, het ek gedink ons vat haar sommer saam om jou saal te gaan kry.’

‘Hoekom?’

‘Omdat jy al hoe lank neul daaroor.’

‘Nee, ek bedoel hoekom het ons ’n pakperd nodig.’

‘Hoe wil jy dan die saal dra? Op jou kop?’

‘O, ek sien. Jy’s reg.’

‘Soos gewoonlik,’ sê Henning. ‘Gaan ons soontoe?’

As enigste antwoord klim Boet op sy perd en fluit vir sy hond om te kom.

 · · ·

Hulle vat koers ooswaarts, oor die Oranje in die rigting van Namakwaland, waar Boet ’n tydjie terug verdwaal het. Die saal wat hy geleen het, het hy verloor nadat die perd van dors gevrek het en die saal agtergelaat is deur die Nama-familie wat Boet bewusteloos gevind en saam met hulle gevat het.

Omdat hulle nie haastig is nie, is dit eers na ’n week dat Lang Henning een laatmiddag vir Boet die rante van Namakwaland uitwys.

‘Herken jy die plek?’ vra hy.

Boet skud sy kop.

‘Glad nie. Ek dink ek het van ’n ander rigting af gekom.’

Henning bekyk aandagtig die wêreld.

‘Julle was op pad Kenhardt toe, dan nie?’

‘Dis wat hulle gesê het.’

‘Dan moes dit verderop gewees het. Hou maar jou oë oop en sê my as dit begin bekend lyk.’

Hulle ry aan totdat Boet skielik sy perd intrek. Hulle is omtrent ’n myl van ’n klomp koppe af en Boet wys met sy hand.

‘Kyk daar!’

Henning trek sy perd tot langs Boet s’n.

‘Wat is dit?’

‘Perde. Ek het ’n hele trop perde daar gesien, hulle is nou agter die kop in. Wie s’n sou dit wees?’

‘Is jy seker dit was nie bokke nie?’

Maar daarvan wil Boet niks hoor nie.

‘Ek sê jou dit was perde, as jy nie so gesit en slaap het nie sou jy hulle ook gesien het. Gaan ons kyk?’

‘Nou goed,’ sê Henning en gee sy perd spore. Die pakperd aan die leisel kom agterna.

Soos hulle die koppe nader, sien hulle hoe ’n trop perde aan die beweeg gaan en op volle vaart weg van hulle af galop.

‘Sien jy nou?’ roep Boet opgewonde en sit hulle agterna sonder om nog verder te dink.

Dit is ’n trop van omtrent twintig en hulle word gelei deur die mooiste perd wat Boet in sy lewe nog gesien het. Dis ’n blink voshings met rooi stert en maanhare wat wegstaan in die wind van sy wilde vlug. Van die ander perde is merries met vullens wat sukkel om by te bly op hul lang onhandige bene. Hulle volg die hings blindelings waar hy hulle weglei van die gevaar af.

Henning roep vir Boet om stil te hou en toe hy teensinnig gehoorsaam, sê hy, ‘Dis nie hoe mens perde vang nie.’

‘Hoe dan? Hulle sal wegkom en ek wil daardie hings hê.’

‘Jy sal hom nie ingehardloop kry nie. Onthou hy het nie ’n ruiter op sy rug nie en hy is baie vinniger. Buitendien, hoe weet jy hulle behoort nie aan iemand nie?’

‘Hulle lyk sommer wild,’ sê Boet.

‘Dis nie ’n wonder nie. Enige perd sal wild lyk as jy soos ’n wafferse Tartaar agter hulle aanjaag,’ is Henning se mening.

‘Wat is ’n Tartaar?’ wil Boet weet.

‘Ek sal jou later vertel. Kom ons gaan kyk of ons kan sien waarheen daardie perde is, maar hou jou hond by jou dat hy hulle nie agterna sit nie.’

Hulle sit die perde in ’n gelykmatige kortgalop wat vinnig die myle verslind en kort voor lank sien hulle die stofwolk waar die trop stilgehou het om te kyk of die gevaar verby is. Henning trek sy perd op ’n draf en ’n rukkie later hou hy stil, ’n ent van die trop af. Die voshings se kop is hoog in die lug soos hy die drie vreemde perde betrag.

‘Wat ’n pragdier!’ sê Henning amper onhoorbaar.

‘Stamboek!’ beaam Boet. ‘Ek wil hom hê.’

‘Jy’t so gesê, ja. Is Duncan nie meer goed genoeg nie?’

‘Natuurlik!’ Boet klop sy geelperd liefdevol op die nek. ‘Maar onthou ek het Nelie se perd verloor, ek skuld haar een.’

‘Dan moet ons maar hoop dat hy nie aan iemand behoort nie,’ sê Henning.

‘Jy ken mos almal hier in die Karoo, weet jy nie of hier perdeboere in die omgewing is nie? Dalk ’n neef van jou?’

Henning skud sy kop.

‘Nee, die mense wat ek ken het almal skaapplase. Maar onthou ons is nou so te sê in Namakwaland nè, ek kom maar selde hiernatoe.’

‘Wel, hulle lyk vir my maar wild,’ besluit Boet. ‘Ek gaan daardie hings vir my vang.’

‘En dalk opgehang word vir ’n perdedief,’ sê Henning. ‘Nee, ek stel voor ons probeer uitvind wie se plaas hierdie is. Dalk sal hulle die perd aan jou verkoop, maar net vat gaan ons dit beslis nie.’

‘Is seker so,’ moet Boet toegee. ‘Waar gaan ons uitvind?’

‘Ons sal maar moet rondry tot ons by ’n plaashuis uitkom en vra.’

‘Is hier dan nie dorpe nie?’ wil Boet verbaas weet.

‘Nie juis nie,’ antwoord Henning. ‘So ver ek weet is dit net Nababeep en Springbokfontein, by die kopermyne en dis baie ver.’

‘Noudat jy dit sê, ek het ook lanklaas ’n plaashuis gesien,’ merk Boet nadenkend op. ‘Laas ook, toe ek teruggekom het. Hoekom dink jy is dit so?’

‘Ek weet nie, miskien omdat die Namas van vroegste tye af hier gebly het,’ veronderstel Henning. ‘Toe was daar nie meer plek vir ander mense nie.’

Na ’n laaste blik op die voshings en sy trop trek Boet sy perd se kop om en sê, ‘Nou toe, kom ons gaan soek.’

‘Ek het eintlik gedink ons kan vanaand hier kamp en kyk waarheen is die perde op pad,’ sê Henning. ‘Miskien word hulle op ’n plek gevoer.’

Hulle ry ’n entjie terug tot by ’n lekker groot kameeldoringboom wat sommer hout vir ’n vuur sal verskaf en saal af. Die perde word gekniehalter sodat hulle kan wei, maar darem nie kan hardloop as hulle dit in hul koppe kry om by die wilde trop aan te sluit nie.

 · · ·

Die nag is donker en die vuur is ekstra opgepak sodat dit lekker lig gee. Eenkant toe is kole geskraap waarop die vleis wat hulle saamgebring het braai dat die vet so sis soos dit spat en op ’n paar klippe is die koffieketel staangemaak om te kook.

Boet sug tevrede terwyl hy behaaglik teen die boomstam leun en in die vlamme kyk. Sy hond lê langs hom en slaap, pens vol van die haas wat hy vroeër die aand gevang het.

‘Dis darem maar ’n lekker lewe wat ons het,’ sê hy.

Lang Henning, wat gehurk by die vuur sit en die vleis dophou, vra, ‘Verlang jy nie partykeer terug na jou plaas nie?’

‘Nee,’ antwoord Boet, ‘nie juis nie. Ek weet nie so mooi of ek sal aard as skaapboer nie. Miskien later, as ek so oud soos jy is. Sou jy wil boer?’

‘Nee dankie,’ keer Henning. ‘Heeldag op die stoep sit en koffie drink is vir my meer ’n nagmerrie as ’n droom.’

‘Vir my ook,’ erken Boet. ‘Dis lekker vir ’n rukkie, maar dan raak dit vervelig.’

‘Wat van Nelie?’

‘Wat van haar?’

‘As julle getroud is sal jy tog seker nie van haar verwag om alleen die plaas op te pas nie.’

‘Nee, seker nie,’ moet Boet toegee, ‘en saamry met ons sal sy waarskynlik ook nie wil nie.’

‘Dis nie in ’n vroumens se aard nie,’ stem Henning saam.

‘Miskien moet ek dan maar liewer nie trou nie. Wat dink jy?’

‘Wag nog ’n paar jaar en besluit dan,’ raai Henning aan en Boet knik tevrede sy kop.

‘Dit sal die beste wees. Is die vleis al gaar?’

Henning deel die vleis op twee blikborde terwyl Boet ’n paar dik snye brood met vet smeer.

‘Dis die laaste van die brood,’ sê hy spytig. ‘Van môre af is dit weer net askoek.’

‘Toemaar, miskien kom ons by ’n plaas uit en dan kry ons weer. Die tantes stop ons mos altyd vol as hulle net jou gesig sien.’

‘Kan ek help as ek honger lyk? Ek groei nog, hulle weet dit.’

Hulle eet in stilte, te besig met kou om te gesels. Skielik tel die hond sy kop op en grom die donkerte in.

‘Wat is dit?’ vra Boet terwyl hy haastig sy kos afsluk. Die hond staan op en sy rughare rys. Meteens klap ’n skoot en die vonke skiet hoog die lug in soos ’n koeël die vuur tref. ’n Tweede skoot laat spat die ketel dat dit daar trek en op die grond beland sodat al die koffie uitloop.

‘Wat de drommel — ’ kom dit van Henning terwyl hy vervaard opspring. Boet het platgeval met sy arm om die hond se nek sodat dié nie kan storm en doodgeskiet word nie.

‘Bly waar julle is en moenie roer nie! Ek het julle onder skoot!’ klink ’n bevel uit die nagduister.

‘Wat soek jy?’ vra Henning en kyk tersluiks na waar sy saal en geweer op die grond lê.

‘Moenie probeer nie,’ waarsku die stem en Henning besluit om maar liewer te gehoorsaam tot hy weet wat aangaan. Boet gaan sit stadig orent en hou die hond aan die nekvel vas.

In die dowwe lig van die vuur sien hulle ’n figuur naderkom, ’n man wat sy perd lei. Die loop van ’n geweer is dreigend op hulle gerig.

‘Ek dink jy maak ’n fout,’ sê Henning kalm toe die man by hulle is. Hulle sien nou hy is ouerig, met netjiese klere aan en ’n verweerde, songebrande gesig onder ’n breërandhoed. Twee skerp oë betrag hulle aandagtig.

‘Ek sal daaroor besluit,’ is die antwoord. ‘Staan by mekaar en staan stil. Een beweging en ek skiet. En hou daardie hond vas of hy vrek eerste,’ voeg hy waarskuwend by toe die hond dreigend grom.

‘Nou goed,’ sê Henning. ‘Ek sou jou koffie aangebied het terwyl ons gesels, maar jy het ongelukkig ons ketel raakgeskiet.’

‘Moenie probeer grappies maak nie, ek weet wie julle is,’ grom die man en tel sy geweer effens op om sy woorde te benadruk.

‘Dan is jy meer bevoorreg as ons,’ antwoord Henning, ‘want ek weet eerlikwaar nie wie jy is nie. Hoekom soek jy ons?’

‘Dis my perde,’ sê die ander. ‘Ek laat my nie twee keer besteel nie.’

‘Die perde?’ vra Henning verbaas. ‘Daardie trop wilde perde wat hier rondhardloop?’

‘Einste,’ bevestig die man. ‘Dis myne en ek is moeg vir julle wat dink julle kan maak en breek soos julle wil.’

Henning ontspan.

‘Nee wag nou ’n bietjie,’ sê hy. ‘Kom sit, laat ons gesels. Hier is duidelik ’n groot misverstand.’