GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/qqpgpy/1/

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Lang Henning en die Rebelle

— Hoofstuk 1 —

Die dorpie Verlatendal is allesbehalwe dit toe twee ruiters een namiddag daar aankom.

Lang Henning beskou die mensegewoel tussen die tente en waens op die dorpsplein.

‘Lyk soos Nagmaal.’

Maar sy maat het op ’n sendingstasie grootgeword en hy ken van kerksake.

‘Dis nie Nagmaal dié nie,’ sê Boet beslis. ‘Kyk net daar by die hotel.’

Hulle ry in die hoofstraat af en Henning kyk skuins links na die Majestic Hotel se wye stoep, waar mans van alle groottes en ouderdomme vergader is. Almal het glase in die hande geklem, sien hy. En geweers binne onmiddellike bereik. Niemand lyk bra vrolik nie, behalwe twee of drie jong snuiters wat vir die eerste keer saam met die manne drink. Hulle staan en beduie luidrugtig vir mekaar sonder dat die een vir die ander luister.

’n Oomblik verstil die geroesemoes van stemme terwyl die twee vreemdelinge betrag en opgesom word. ’n Ouerige man met ’n ruie baard staan op van sy stoel en tree na die stoeprand, sy hand bevelend in die lug.

Henning stuur sy perd soontoe en hou stil. Hy lig sy hoed effens en groet.

‘Middag Oom, die naam is Henning,’ sê hy en styg af. Sy uitgesteekte hand word egter nie aangevat nie en die man kyk hom onwelwillend aan.

‘Klim maar gerus weer op jou perd — ’ Hy beduie vir Boet, ‘Bly sit jy,’ voordat hy sy sin klaarmaak, ‘ — en ry aan. Ons soek nie mense nie.’

Henning trek sy winkbroue op.

‘Mag ek vra hoekom nie?’ wil hy weet.

‘Nee. Hou jou neus uit ons sake,’ kom die antwoord, ‘dan sal jy ook nie seerkry nie.’

‘Dreig Oom my nou?’ vra Henning sag.

Boet luister en gril. Hy weet dat as Henning daardie stemtoon gebruik, kom daar moeilikheid. Die oom is egter onbewus daarvan en sê kortaf, ‘Ja. Kry jou ry.’ Hy draai om en gaan sit weer op sy stoel, waarvandaan hy Henning stip dophou. Sy een hand vat-vat asof terloops aan die kolf van sy geweer.

Henning staan ’n oomblik stil, som die situasie op. Toe klim hy op sy perd. Op ’n stadige stappie loop die twee perde die dorpie uit.

‘Ek wonder wat gaan daar aan,’ sê Boet toe hulle ’n entjie buite die dorp is.

‘Sal ons uitvind?’ Henning draai na hom toe en daar is ’n effense glimlag om sy mond. Boet trek ’n skewe gesig.

‘Jy vra nog. So ’n onbeskofte ou omie!’

 · · ·

Terwyl hulle ’n paar myl verder kampplek vir die nag soek, kom hulle af op ’n kapwa met ’n gebreekte wiel. Die perd is uitgespan en wei gekniehalter ’n ent verder. Hulle ry nader, maar trek kort by die kar in toe ’n skerp stem beveel, ‘Nie ’n tree verder nie of ek skiet!’

Verras sien hulle ’n jong vrou van agter die kar tevoorskyn kom. Sy is netjies aangetrek in ’n donkergrys romp en wit bloese waaroor ’n swart ferweellyfie net styf genoeg span om Henning se blik ’n paar oomblikke langer vas te hou as wat nodig is om die verskyning te takseer. Hy skat haar so net oor die twintig jaar oud. Haar kappie het agter in haar nek gegly en hoewel die hare eens in ’n netjiese bolla vasgevang moes gewees het, het daar nie veel van oorgebly nie en bruin krulle warrel om haar gesig. Henning merk op dat haar oë groen is soos ’n spinnende katjie s’n en hy sweer daar sal kuiltjies in haar wange wees as sy glimlag. ’n Mooi nooi, gewis. Ongelukkig is daar niks vriendeliks aan die geweerloop wat reguit op sy bors gerig is.

Lang Henning tel sy hande op en hou hulle in ’n beswerende gebaar voor hom.

‘Wa-wag nou, Niggie,’ sê hy. ‘Moenie staan en oorhaastig wees met daardie Mauser nie!’

‘Wat soek julle?’ vra die meisie.

‘Kan ons afklim?’ vra Henning en voeg die daad by die woord voor sy kan antwoord. Hy dink nie regtig sy sal skiet nie. Boet styg ook af, versigtiger, met sy oë op die geweer. Tot sy verbasing sak die meisie egter skielik in die gras neer. Die geweer val op haar skoot en sy bedek haar gesig met haar hande. Aan haar rukkende skouers is duidelik te sien dat sy huil.

Henning verstar op die plek. ’n Geweer is een ding, trane ’n glad ander! Raadop kyk hy vir Boet.

‘Doen iets,’ pleit hy.

Hoewel Boet baie jonger is as Henning, is hy as kind aangeneem deur die mag der menigte families by ’n sendingstasie en het grootgeword met so baie sussies om hom dat hy sonder ontsag is vir vroulike liste. Trane boesem hom geen vrees in nie. Kordaat gaan hy nader en staan voor die snikkende jong vrou. Hy kyk af op haar, voel dan aan dat haar verdriet eg is en nie net ’n slimstreek om die oorhand in ’n netelige situasie te kry nie. Hy sak op sy hurke en neem vir die wis en die onwis die geweer van haar af.

‘Moenie huil nie,’ sê hy. ‘Ons sal die wiel vir Tan—, ek bedoel Niggie, regmaak.’

Die meisie lig haar gesig en kyk hom met nat vreesbevange oë aan. Dan lyk dit of sy oop seunsgesig en warm donker blik haar tog gerusstel en sy sug hortend. Met albei hande vee sy die hare uit haar gesig.

‘Dis nie oor die kar nie,’ verduidelik sy. ‘Ek dog julle is een van die — een van hulle. En ek kon nie wegkom nie.’ Sy byt op haar onderlip. ‘Julle is vreemd hier, julle sal nie verstaan nie. Ry liewer aan.’

Henning het nou ook op sy hurke by hulle kom sit en, noudat die gevaar van ’n volgende huilbui blykbaar afgeweer is, gooi hy sy stuiwer in die armbeurs.

‘Ons was in die dorp en daar het iemand dit ook al gesê,’ vertel hy haar. ‘En ek sal ry, maar nie voordat ek weet wat aangaan nie.’

‘Presies,’ beaam Boet.

Die meisie skud haar kop.

‘Dis gevaarlik hier. Ek het gaan hulp soek, en toe gebeur dit — ’ Sy beduie na die kruppel kapkar. ‘Wat ek nou moet maak sal ek ook nie weet nie,’ voeg sy moedeloos by en Henning sien tot sy ontsteltenis dat die trane weer opdam in haar groen katjiesoë.

‘Nee wat,’ sê hy haastig, ‘dit kan nie so erg wees nie. Vertrou ons net, dalk kan ons help.’

Sy kyk hom vertwyfeld aan en aarsel. Dan kom sy blykbaar tot ’n besluit.

‘Verlatendal is in opstand,’ sê sy. ‘Die boere is kwaad vir die regering omdat hulle geen beskerming kry teen die rampokkers wat hul skaap steel nie en nou rebelleer hulle. Die polisiekonstabels is in die tronk toegesluit.’ Sy snuif en vee haar neus aan haar mou af. ‘My pa ook.’

‘Hoekom jou pa ook?’ wil Henning weet.

‘Hulle het hom aangesê om ’n petisie op te stel vir die goewerneur omdat hy die enigste een is wat kan Engels skryf. Wat ordentlik kan skryf.’ Toe Henning haar vraend aankyk, verduidelik sy, ‘Hy is die skoolmeester hier.’

‘Aha,’ verstaan Henning. ‘Maar hoe het jy weggekom? Hulle moes tog geraai het jy gaan hulp soek.’

‘Hulle’t goed genoeg geweet ek gaan nie ver kom nie,’ sê sy. ‘Dis hulle wat die wiel laat breek het.’

Henning staan op en bekyk die kar. Hy vat aan die as en bevoel die speke van die gebreekte wiel.

‘Gesaag,’ bevestig hy, ‘een klip in die pad en alles breek morsaf.’

‘Sien?’ sê die meisie. ‘Hulle is ernstig. Ek kon maklik dood verongeluk het.’

‘Hoe lank is jy nou al hier?’ vra Henning.

‘Van vanoggend vroeg af, ek het eers hier gebly sodat hulle my nie moet sien terugkom nie. Hulle’t ook nie eers moeite gedoen om te kom kyk wat van my geword het nie,’ voeg sy bitter by.

‘Dis lelik,’ stem Henning saam. Hy staan op. ‘Boet, dis so te sê donker, ons moet maar hier kamp opslaan, dan kan ons môre die niggie help dat sy op pad kom.’

Maar die niggie het ander planne.

‘As julle my belowe om by Fraserburg aan te ry en die magistraat daar te vertel wat hier aan die gang is, dan gaan ek terug dorp toe. Ek wil by my pa wees,’ sê sy.

Henning skud sy kop.

‘Ons is weggejaag uit Verlatendal, rede genoeg om te bly. Miskien kan ons nog iets aan die saak doen voor dinge handuit ruk.’

‘Nou dan bly ek ook,’ sê die meisie vasberade. ‘Ek ken die dorp, ek sal julle kan help.’

‘Akkoord. Terloops, my naam is Henning,’ stel hy homself voor, ‘en dit is Boet.’

Boet steek sy hand uit. ‘Jakobus Johannes Delport,’ sê hy.

Vir die eerste keer glimlag die meisie en Henning sien dat sy inderdaad kuiltjies in haar wange het. Sy skud blad.

‘Aangename kennis. Ek is Martie Benade,’ sê sy.

 · · ·

By die laaste daglig ondersoek Henning die skade aan die kapkar en kom tot die gevolgtrekking dat hy sonder ’n goed-toegeruste werkswinkel min sal kan uitrig.

‘Dit sal beter wees as jy maar vereers die perd net so ry,’ reken hy. ‘Jy kan solank my saal kry.’

‘Ek ry sommer bloots,’ sê Martie. ‘Ek wil net die tuig saamvat dat dit nie gesteel word nie.’

Hulle kry die perde reg en nie hoe lank nie, toe kan hulle Verlatendal in die skemerte sien lê. Vanaf ’n lae rantjie kyk die drie ruiters af op die eerste liggies wat in die dorp verskyn.

‘Is daar ’n agterpad in?’ vra Henning. ‘Ek dink nie ek wil nou eers weer verby die hotel ry nie.’

Martie beduie.

‘Daar agter die rivier langs kom ’n mens by die Sendingkerk. Dan is daar ’n oop stuk veld en die skool en ons huis is net ’n klein entjie verder,’ sê sy.

‘Hoe oop is die stuk veld?’ wil Henning weet.

‘Daar sal niemand wees nie,’ stel sy hom gerus. ‘Dis net ’n klomp bokke wat daar wei.’

Henning bekyk die terrein en sê dan, ‘Goed, ons gaan so langs.’

Ongesiens sak hulle af na die rivierloop, verby die kerk en tussen die slapende bokke deur tot by die skool.

‘Hier is stalle agter die huis,’ sê Martie en weldra is die perde afgesaal en versorg, uit die gesig van moontlike nuuskieriges.

‘Gaan ons wegkruip?’ vra Boet teleurgesteld toe hulle vinnig by die kombuis ingaan en Henning die deur agter hom toetrek. Henning skud sy kop.

‘Nee, maar ek wil eers my planne agtermekaar kry voor hulle my ook in die tronk stop,’ sê hy.

Martie se gesig betrek.

‘My pa — ’ begin sy, maar Henning keer benoud toe hy sien hoe haar oë nat raak.

‘Nee, wag nou,’ sê hy, ‘dis nie wat ek bedoel nie. Natuurlik sal ek my nie laat vang nie, ek het mos gesê ons sal jou pa daar uitkry!’

Maar Martie wil nie getroos wees nie. Terug in haar eie huis, kom die realiteit weer soos ’n donker wolk oor haar en sy gaan sit skielik kragteloos by die kombuistafel. Haar groen oë swem in trane toe sy sê, ‘Ek het julle nie die ergste vertel nie.’

‘Wat?’ vra Henning. ‘Wat kan erger wees as dat jou pa in die tronk sit? Hoewel ek nog steeds nie weet hoekom nie,’ voeg hy by.

Martie laat sak haar kop op haar arms en sy begin snik. Hulpeloos kyk Henning toe en dis Boet wat naderstaan en haar aan die skouer vat. Martie tel haar kop op en gryp sy hand.

‘Hulle’t gesê hulle gaan hom — ’ Sy sluk haar trane uit die pad. ‘Hulle gaan hom teregstel! Hulle sê glo hy het hoogverraad gepleeg teenoor die dorp.’

Henning se oë rek toe hy haar woorde hoor. Hy bly ’n oomblik stil en dink na. Toe gaan sit hy regoor haar by die tafel en stoot sy hand binne haar bereik. Sy los vir Boet en plaas haar hand gewillig in Henning s’n. Sy vingers sluit gerusstellend om hare.

‘Dit sal nie gebeur nie,’ verseker hy haar.