GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/qksdrr-dressuur-vir-dommie-7.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Dressuur vir Dommie

— Hoofstuk 7 —

Anneke begin danig verveeld raak van niksdoen, maar elke keer as sy probeer om haar arm uit die slingerverband te haal, kreun sy van die pyn.

‘Jy werk op my senuwees,’ sê Tessa toe Anneke vir die hoeveelste keer kla dat sy wens haar skouer is nou gesond. ‘Ek hoop rêrig nie jy gaan nog twee weke so aanhou nie.’

‘Ja, maar Dapper is al heel reg en Dok sê sy skouer binne-in makeer niks, ek sou hom al kon ry as dit nie vir hierdie simpel skouer van mý was nie.’

‘Wel, jy’t geleer om met een hand fiets te ry, klim op Dapper en doen dieselfde.’

Anneke se mond val oop.

‘Ek het nooit daaraan gedink nie!’ sê sy. Sy stamp Tessa met die vuis van pure opgewondenheid. ‘Dankie, jou slim ding!’

‘Plesier!’ antwoord Tessa met mening. ‘Maar jy beter dit eers met Mildred uitklaar, hoor.’

‘Ek sal!’ Anneke hardloop reeds na die huis toe, agternagekyk deur Dommie wat net uit die skuurtjie kom met ’n halter vir Boontjies.

‘Waarheen is sy so haastig op pad?’

‘Gaan vra of sy vir Dapper mag ry.’

‘Met een hand?’

‘Jap.’

‘Sy’s mal.’

Tessa trek haar skouers op.

‘Sy ry tog haar fiets.’

‘Ja, maar moenie vra hoe nie, ons bly omtrent bo-op haar om te keer as sy skeef gaan. ’n Perd is darem iets heel anders.’

‘Dapper is mak genoeg, hy lol nie sommer nie,’ reken Tessa. ‘Ons kyk maar wat sê Mildred.’

Lank hoef hulle nie te wag nie, toe kom Anneke terug en op haar gesig is die antwoord duidelik te sien.

‘Sy’s só geméén!’ huil sy amper toe sy by hulle is.

‘Jy mag nie,’ raai Tessa.

Anneke skud haar kop.

‘Dis nie eers wat sy gesê het nie. Sy’t gesê net as my ma toestemming gee, en dit terwyl sy baie goed weet Ma sal nee sê.’

‘Nou ja, jy kan kies. Óf jy jok vir Mildred, óf jy jok vir jou ma, óf jy wag tot jou skouer reg is, maar besluit, en hou op om ons mal te maak met jou gekla!’

Anneke se oë rek.

‘Is dít wat jy van my dink?’

Dommie probeer nog paai, maar Tessa maak haar stil.

‘Kyk An, ons is jammer jy het van Dapper afgeval en jou skouer gebreek, maar dit was ’n ongeluk ― ’

‘Dit was Roy se skuld!’ val Anneke haar woedend in die rede.

‘Ja, dit was sy skuld en jy weet hoe Mildred hom gestraf het ― ’

‘Asof dit my nou gaan help dat hy ses maande lank nie met sy rewolwer aan mag ry nie,’ sê Anneke suur.

‘Nee, maar vir hom is dit ’n helse straf en dit sal hopelik voorkom dat dit ooit weer gebeur. Wees dus nou maar geduldig en oor twee weke mag jy weer ry.’

‘Maar ek kan nie oefen vir die skou nie!’

‘En Mildred sal jou nie laat ry sonder oefen nie, want sy is bang Philippe gaan sê sy is nie ’n instrukteur se agterkant nie. Eintlik is dit miskien die beste dat sy net op Dommie konsentreer.’

‘Ek sou met jou ruil as ek kon, An,’ verseker Dommie haar.

‘Ag, ek weet, dis maar net dat ek ook so graag wou gery het. Ek is jammer ek is so ’n pyn.’ Anneke probeer glimlag. ‘Vergewe?’

‘Nauurlik!’ sê al twee gelyk, dankbaar dat die vrede herstel is, en Dommie voeg by, ‘Daar is so baie met die spring waarmee jy my kan help, sal jy?’

Nou is dit Anneke se beurt om ‘Natuurlik!’ te sê.

‘Jy kan vir Dapper kry as jy wil oefen.’

Maar Dommie antwoord, ‘Nee dankie, ek sal graag later, maar nou moet ek nog vir Boontjies leer ken. Hy is heel anders as Star ― ’ sy sluk sigbaar aan ’n knop in haar keel toe sy die naam sê, en maak vinnig klaar, ‘maar hy’s nie ’n sleg poon nie.’

 · · ·

Anneke en Elsa sit en kyk hoe die ponies in die arena nuwe dinge moet doen.

‘Julle kan nou al ’n mooi reguit lyn ry,’ sê Mildred, ‘dus gaan ons nou sirkels maak.’

‘Dis hoekom ons die arena gebou het,’ merk Ruan op.

‘Reg. Die kort sy is twintig meter en die lange veertig meter, dus moet die sirkel wat julle ry aan al twee lang kante, een kort kant en die X in die middel raak. Dis ’n ronde kring, nie ’n eier nie. Ruan, lei die ander.’

Ruan probeer hard. Hy begin by X en ry na die lang heining, dan na die korte, die oorkantste lange en terug na X, met die ander drie wat agter hom aantou.

Mildred bly ’n rukkie stil voordat sy sê, ‘Wel, die raakpunte was daar.’

Sy beduie dat almal in die ander helfte van die arena moet gaan staan.

‘Behalwe jy, Ruan. Kom hier.’

‘Hoekom altyd ek?’ protesteer hy.

‘Omdat ek, snaaks genoeg, hoop het vir Kuifkop. Hy het potensiaal en ek en jy gaan dit uitbring.’

‘Regtig?’ Ruan lyk skielik asof hy die Lotto gewen het.

‘Regtig. Vir spring het hy nie die hart nie, maar sy konformasie en gange is ideaal vir dressuur ― ’

‘Sy kon― wat?’ vra Ruan.

‘Konformasie. Dit beteken die manier waarop hy gebou is. Kyk ― ’ Mildred stap nader en trek ’n streep met haar vinger op die ponie se skouer, ‘Kyk hoe skuins is sy skouer. Hy sal pragtig kan verleng. En kyk net sy agter­kwart ― ’ Sy stap soontoe en Ruan draai om in die saal om te kan sien, ‘dis pure spiere. Sy spronggewrig is honderd persent en sy bene oor die algemeen sterk en gesond.’

‘Ek dog jy pik altyd op ons omdat jy dink hy’s sommer ’n simpel knol,’ sê Ruan, en onthou dan, ‘Maar hy skrik vir alles, dis tog nie goed nie?’

‘Ek dink baie daarvan kom omdat hy onseker is van homself. Hoe oud is hy?’

‘Omtrent vyf of ses.’

‘En nog nooit geskool nie. Soos hy leer sal hy selfvertroue kry, en minder skrikkerig wees.’

‘Sal hy dan kan spring ook?’ vra Ruan hoopvol.

Mildred skud haar kop.

‘Nee, ek glo nie. Hy hou nie daarvan nie en dit help nie jy dwing hom nie.’

Ruan klop die geel nek en sê tevrede, ‘Dressuur is goed genoeg vir my.’

‘Nou toe, laat ons begin. As jy reguit ry, is die perd ook reguit, dit verstaan julle, nè?’

Almal knik hulle koppe en sê, ‘Ja!’

‘Dus is dit ook maklik om te verstaan dat as mens ’n sirkel ry, die perd se lyf effens gekrom moet wees, saam met die buitekant van die sirkel. Ruan, jy gaan op die regterteuel ry, vanaf X. Draai nou sy kop so dat jy sy binneste oog kan sien. Sit jou binneste been op die buikgord, die buitenste been ágter die buikgord, kontak met jou binneste hand en gee effens met jou buitenste hand. Het jy dit?’

Ruan skud beskaamd sy kop.

‘Wat verstaan jy nie?’

‘Van die teuel en die binneste en buitenste ― ’

‘Ja, ek moes dit besef het. Goed, dink aan ’n sirkel se omtrek. Jy kan dit kloksgewys of anti-kloksgewys ry ― julle weet seker dat horlosies vroeër wysters gehad het in plaas van net syfertjies?’

‘Ons ou staanklok lyk nog steeds so,’ sê Dommie, en Tessa voeg by, ‘Die kerk se toringhorlosie ook.’

Ruan en Roy knik hul koppe.

‘Ons het so een in ons kombuis,’ sê Roy.

‘Soos joune,’ herinner Ruan vir Mildred daaraan.

Mildred lag.

‘Nou ja, ek het seker oordryf, alles is

darem nog nie digitaal nie. In elk geval, julle weet dus wat kloksgewys beteken, dis soos daardie wysters beweeg, anti-kloksgewys is na die ander kant toe. As ek nou sê jy ry op die regterteuel, dan ry jy kloksgewys. Verstaan?’

Almal beaam dat dit vir hulle duidelik is.

‘Die sirkel,’ gaan Mildred voort, ‘het ’n binne- en ’n buitekant met jy en jou ponie op die rand. As ek dus sê jou binnebeen, watter een bedoel ek?’

Almal steek gelyktydig hul hand op.

‘Dominique?’

‘Die regterbeen, want dit is die een aan die binnekant van die sirkel,’ antwoord Dommie.

‘Doodreg. Ruan, kan jy onthou wat ek gesê het?’

‘Nie alles nie,’ gee Ruan toe.

Mildred herhaal die instruksies en gaan dan voort, ‘Jou buitenste been laat die perd nou effens sy boude na regs, dus in die buiging van die sirkel, beweeg terwyl jy hom as ’t ware om jou binnebeen vou. Stap nou aan.’

Ruan bring Kuifkop versigtig in beweging en kry dit reg om ’n min of meer ronde sirkel te ry. Die tweede een is al beter en na nog ’n paar sê Mildred, ‘Draf nou. Moenie skop nie, hou jou bene op hom en druk harder totdat hy draf. Mooi! Vat die teuels ’n bietjie korter. Dis reg, maar hou jou hande stil, onthou op die draf beweeg hy nie sy kop nie.’

Soos Ruan egter op sy hande let, kom hy nie agter dat die sirkel al hoe kleiner word nie, totdat Mildred roep, ‘Gebruik jou binneste been, druk hom bietjie harder sodat hy terugkom op die sirkel!’

Ruan doen dit en is baie in sy skik toe Kuifkop onmiddellik gehoorsaam.

‘Sien? Dis glad nie nodig om te skop nie,’ sê Mildred. ‘Ek hoop julle ander let ook op.’

Sy laat Ruan nog een keer omgaan en sê toe dat die ander ’n kans moet kry.

Tessa kom volgende en Mildred laat haar op die linkerteuel ry sodat hulle aan al twee gewoond raak. Selfs Roy en Rollie maak ’n mooi ronde sirkel na ’n paar vierkante en een eier.

Toe dit Dommie se beurt is, vra Mildred, ‘Kan jy al saalboom steek?’

‘Nog nie eintlik nie, maar ek weet darem wat dit is,’ antwoord Dommie.

‘Dis goed, want jy sal vir die toets moet leer om op die regte diagonaal te ry ― ’ begin Mildred, maar breek haar sin af toe sy die geskokte gesigte sien wat van die ponies se rûe na haar toe afkyk.