GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/qjnpjw-kriptonietoomblikke-en-ander-kortverhale-18.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Kriptonietoomblikke … en ander kortverhale

― XVIII ―

KRIPTONIETOOMBLIKKE VAN SUPERMAN

Vir Ma-Annatjie.

Party mense noem my gehard. Een het my al selfs Superman genoem. Maar ek redeneer só: met Superman lyk dit nie asof die gevolge van die wilde gebeure waarin hy homself elke dan en wan bevind ’n vreeslike impak op sy bestaan het nie. En ek kan beslis nie dieselfde sê nie. Of kom ons sê dan maar dat ek in my Supermanbestaan baie kriptonietoomblikke het – daardie oomblikke wanneer dinge totaal buite my beheer raak. En ek weer en weer oorleef. Soos nou.

Die beesmis en stof is verstikkend in my neus en longe. Na ’n erge hoesbui traan my oë onbedaarlik, sodat ek ’n slag met my hand oor my gesig vee.

“Is daar dan niemand op hierdie sielsverlate plek wat my kan hoor nie!” gil-skree ek en voel hoe histerie oor my golf. Nog ’n keer probeer ek my gebreekte been versit om te sien of die onbedaarlike pyn nie wil afneem nie.

“Aaah!” kan ek nie die uitroep keer nie. Ja, ek wil skree van die pyn. Hier is geen netjies-geklede dametjies met fladderende ooglede wat my geskok of afkeurend kan aanstaar nie. Geen verpleegstertjie wat oor haar voete sal val om my te hulp te snel as ek dit net sou waag om te kug nie.

Hoe is dit moontlik! Na alles wat ek die afgelope agt maande so bitter ver van my ouerhuis af moes verduur, lê ek weereens hulpeloos. Dié keer in die beeskraal, skaars honderd meter van ons huis af.

Ek het eers gehoor ek het malaria onder lede toe ek na ’n week uit ’n koma bykom. Is ook byna doodgedokter deur ’n goedige non by die klein sendinghospitaaltjie. Was so lank daar, sy het later soos ’n ma vir my geword. Nou nie dat die jonger non soos ’n sussie opgetree het nie. Dit was ’n gevoerdery en gepamperlangery van ’n ander aard toe ek die dag my twee vlootblou oë in daardie klein hospitaalkamertjie oopmaak.

Soos ek hier lê, is ek steeds swak van die nagevolge van die verwaarloosde malaria. Ek is skaars ’n skadu van die forse man wat verlede jaar my eie toekoms in die verre Noorde sou gaan bou het.

Sal ek probeer om op my ongedeerde sy te draai? Ek probeer sukkelend om effens regop te kom, maar die boosaardige bul hoor my geskuifel in die hooi en tuur met brandende oë oor die kraalmuur. Die einste kraalmuur wat die oorsaak van my ellende is. Nie dat ek eintlik enige skuld op die muur kan laai nie.

“Jy is mos jou eie oupa,” sal my pa sê as hy my nou hier moet kry. “Weet mos altyd van beter,” sal die enigste simpatieke klanke uit sy mond wees. Ek het geweet dis onverantwoordelik om alleen rond te loop. Dat my toestand nog ver van bevredigend af is.

Maar ons is hard gebrei vir die lewe. Ek en my drie broers is nie sissies nie. Van hoofpyn of enige ander siekte het ons as kinders nooit geweet nie. Ek kan nie onthou dat ek ’n enkele pil in my grootwordjare gesluk het nie. Baie geval en seergekry ja, maar dit was van die stoeiery onder ons broers. Soos leeuwelpies het ons pa ons die fynere kunsies van selfverdediging geleer, asof ons lewens totaal daarvan sou afhang as volwassenes.

En nou dit. Hier is ek – weer arme, hulpelose Hans. Hoe verpes ek nie my naam nie! Hoekom kon hulle my nie maar net Johan, selfs Hannes genoem het nie! Maar die naam is my ouma se skuld. Sy het met die hele Hansie Slim-ding begin toe ek as kind altyd my eie kop wou volg. En Hansie het dit gebly tot ek klaar was met skool. Daarna is dit verskonend tot Hans verkort. Nie dat dit my beter laat voel het nie.

Verbeel ek my … ? Is dit wensdenkery of hoor ek werklik voetstappe in die grondpad wat tien meter van die kraal af verbygaan? My dilemma is groot. Ek het pas vanmiddag na ete vir Marie by ons huis verby sien stap. En sy is selfs mooier as wat sy ooit op skool was. Met my ou stowwerige broek en hemp aan het ek gemaak of ek haar nie raaksien nie en my stilweg voorgeneem om later in ’n netjieser gewaad by haar te gaan kuier.

As dit nou Marie is beter ek doodstil lê, selfs al vergaan ek van die pyn. Só wil ek sowaar nie deur daardie bekoorlike koringgroen oë van haar gesien word nie!

Ek lig my kop ’n aks, ook nie te veel nie. Die voetstappe is skielik heelwat dowwer en dit kan net een ding beteken: die persoon loop tussen die lusern deur. Op pad hierheen. Ek gooi my arm hulpeloos oor my oë en wens dat die kraal op hierdie oomblik wil oopskeur en my met koeie en al insluk. Dis Marie. Ek weet dit nog voordat ek haar sien. Die reuk van blomme het haar nog altyd omgewe.

’n Skraal, goedversorgde hand word na die boonste paal van die kraal uitgesteek. Dalk as ek nie beweeg nie …

“Maar my wêreld, Hansie, wat doen jy op jou rug hier in die kraal!”

Ek bewonder die uitspansel, kom die sarkastiese gedagte deur die pynnewels en vernedering by my op, maar hierdie is Marie. En vir Marie sê niemand so iets nie. Hansie, skryn dit deur my stukkende gemoed! Ek is steeds net Hansie vir haar!

“Marie, jy moet hulp kry, asseblief!” kreun ek dit deur saamgeklemde kake uit.

“Maar wat het gebeur?” wil sy eers haar vroulike nuuskierigheid bevredig.

“Die bul … ek het die bees kom kosgee … vergeet van die befoeterde bul … hy’t op my afgestorm, toe spring ek … en haak agter die kraalmuur. Dink … dink my been is gebreek!” kry ek dit net-net uit. Kort duskant flou word sien ek hoe wit haar gelaat word en sy iets sê, maar ek dink ek het verkeerd gehoor.

“Ek sal iemand gaan roep, my liefling!”

Met geslote oë wonder ek of mens jou so iets kan verbeel. ’n Woord so mooi en betekenisvol kan hoor net omdat jy in so ’n verskriklike toestand is.

Dit voel of ’n uur kom en gaan voordat my drie broers met onnatuurlike bleek gesigte oor die kraalmuur klouter om hul ouboet te kom red.

“Wat het gebeur!” roep Dirk uit, maar ek voel hoe my tong aan my verhemelte bly vasklou. Asof dit van ver af kom, hoor ek Marie se besorgde stem my verduideliking van vroeër aan hulle oordra. Selfs deur my pynnewels sien ek hoe Dirk, Kallie en Bertus haar bewonderend aankyk. En onverklaarbaar lê en vererg ek my vir hulle. Selfs in my erge pyn besef ek dat ek beslis nie wil hê dat hulle só na haar moet kyk nie. Nie hulle nie en definitief geen ander man nie!

Ek is wel baie skraler as ’n jaar gelede, maar ’n man van my lengte mét ’n gebreekte been en al, dra jy nie sommer só nie. Selfs nie al is my broers drie sterk lummels met bultende spiere nie.

“Kry iets om my op te dra … en sê vir Ma sy moet die ambulans laat kom … sal nie in die kar kan sit nie … ” Het ek dit werklik gesê of is dit iets wat ek slegs gedink het?

“Kry iets om hom op te dra en laat kom die ambulans,” kom Marie se helder stem na my toe, asof sy my presiese gedagtes kan lees. “Ek sal by hom bly totdat julle terug is,” klink die vertroostende woorde saggies hier langs my met my pyndeurdrenkte linkerbeen.

“Die mooiste mens wat ek ken … nog altyd geweet ek gaan met jou trou … ” Het ek dit gesê of gedink? Aan die sagtheid in Marie se oë, wil-wil ek glo dat ek, imbesiel wat ek is, in my allerswakste kriptonietoomblik pas my hart aan haar ontbloot het.

Ek weet nie of sy met my praat of nie, maar ’n sagte hand wat gereeld liggies oor my voorkop vee soos skoenlappervlerke kan tog nie net my verbeelding wees nie.

Met geen benul van tyd nie, hoor ek later ’n raserige prosessie wat in aantog is. Marie roer hier langs my en my oë gaan oop. Haar hand is stewig in myne.

“Hulle is hier. Met julle agterdeur.” Wat sy sê, maak op hierdie oomblik vir my geen sin nie. En ek gee op hierdie oomblik nie om of hulle hier is met die kerk se deur nie. As die pyn net kan stop!

“Pyn … ” kry ek deur kurkdroë lippe deur.

Marie se oë laat dink my aan ’n verskrikte babakatjie s’n. Haar dilemma is skielik vir my glashelder. Sy wil my help, maar sy wil nie van my af padgee nie.

“Pyn … ” speel ek dié keer doelbewus op haar gevoel, want ek besef met ’n vaste wete dat sy sal terugkom na my toe.

So rats soos altyd, spring sy daar weg om pynpille te gaan soek. Intussen tel my drie broers my al sukkelende en baie versigtig op ’n klipharde oppervlak. Is dit regtig ons agterdeur?

Gelukkig kom Pa ook kopskuddend en mompelend by en dra hulle my terug huis toe. Dis ’n stadige optog. Voel kompleet asof ek na my ewige rusplek gedra word. Maar die fel pyn in my been en Ma se onophoudelike vrae en verwyte, verseker my dat ek nog baie lewendig is.

“Geen pil … nêrens … niemand het pynpille nie!” kom Marie uitasem aangehardloop. “Ma het niks, tant Kobie het niks, oom Gertjie het niks … ”

“En myne is op,” onderbreek Ma haar met die harde realiteit van ’n klein nedersettinkie.

“Dalk sal die ambulansmense iets vir die pyn hê … ” voeg Marie vertroostend naby my oor by.

Oomblikke lank buk sy oor my en is dit asof haar groen oë tot binne-in my verstand kan kyk, voordat sy regop kom en met haar vinger na die pad se kant toe beduie.

“Die ambulans!” sê sy die mooiste twee woorde wat ek nou wil hoor.

Die ambulansmanne is besonder haastig en ek wonder of daar ’n rugbywedstryd is wat hulle wil gaan kyk. Of dalk is hulle self besig om te oefen vir ’n rugbywedstryd, gaan die gedagte onsamehangend deur my kop terwyl ek onsag op ’n draagbaar oorgetel en hardhandig agterin die voertuig gelaai word.

“Mag ek asseblief agter by hom sit,” kom dit pleitend van Marie. Nou wys my die man wat vir daardie mooi gesiggie kan nee sê. Suutjies klouter sy tot langs my en wanneer haar hand myne vasvat, kom lê daar ’n rustigheid in my, ten spyte daarvan dat ek ons herontmoeting soveel anders voorgestel het.

’n Goeie halfuur later verseker ’n geskuttery agter in die ambulans my dat ons in die hoofstraat van my geliefde ou dorpie is. Die een slaggat op die ander laat my op my tande kners om nie voor Marie uit te roep van die pyn nie. Sy bespaar my ’n lang rits sondige woorde, waaroor ek op hierdie stadium nie kan besluit of ek spyt of dankbaar is nie.

’n Skrale halwe kilometer vanaf die hospitaal voel ek hoe die ambulans knersend remme aanslaan. ’n Sekonde of wat later skeur die aardige geluid van metaal teen metaal deur die lug. Byna rol ek van die smal draagbaar af tot op Marie se skoot en is ek amper spyt toe my lange lyf weer terugrol.

“Wat het gebeur!” roep ek uit, nie seker of my liggaam nog enige verdere skokke kan absorbeer nie. Marie leun oor my in die beknopte ruimte om deur die klein getinte ruitjie te loer en ek wens begeerlik dat sy vir ewig so wil bly staan. Maar sy sak geskok terug in haar sitplek, heeltemal onbewus van my uiters onbetaamlike wense en selfs witter as vroeër (was dit vandag?) by die kraalmuur.

“Ons het in ’n Volla vasgery of ’n Volla in ons,” sê sy deur geskokte lippe.

Selfs in my hulpelose toestand wens ek dat ek haar net kan beskerm teen die wêreld en al die gevare wat elke dag om ons is. Maar vuil en moedeloos loer ek na Marie voordat my oë weer vanself begin toesak.

’n Geruk en gepluk aan die ambulans laat kom my vervaard orent, net om terug te sak terwyl ek kreun van onuithoudbare pyn wat met elke stampie deur my been skiet.

“Wat gaan aan … ?” vra ek deur weerlose lippe en hoop byna koorsagtig sy buk weer oor my om te loer deur die ruitjie, maar alle hoop word deur die breëbors-ambulansman in die kiem gesmoor toe hy die deur oopruk. Die oranjerooi gloed van die son agter hom vertel dat dit niks vroeër as sewenuur in die aand is nie. Hoe laat het ek die bees gaan kosgee? Ek is seker dit was drie-uur vanmiddag. Tensy dit gister was, wonder ek skielik onseker. Dit sal beteken dat Marie die nag langs my deurgebring het op ’n koue ambulansbankie. Die gedagte aan haar hier by my laat my oë weer moeisaam oopskroef.

Dit moet ’n visioen wees. ’n Regte mens is nie naastenby so perfek nie. Marie staan gebukkend oor my, haar gesig vol kommer baie na aan myne. Dit lyk asof sy met my praat, maar ek sien net haar pragtige mond oop en toe gaan. Ek rol my kop heen en weer om dit duidelik te maak dat ek nie verstaan nie, maar my oë bly op haar, bang dat sy sal verdwyn.

Uiteindelik word ek in ’n ander ambulans oorgelaai. Ek kan nie vasstel wat van Marie geword het nie. Ek probeer rondkyk, maar kom agter dat iemand een of ander stut om my nek gesit het, seker voordat hulle my oorgelaai het. ’n Benoudheid, so groot soos die lewe self, stoot in my op. Sê nou … ! Ek wil vir Marie by my hê! Maar niemand hoor die woorde wat ek in my kop uitgil nie.

· · ·

Ek word wakker van die lekkerste slaap en die wondersoetste droom toe ek skielik half verward besef dat ek reg in die onderwerp daarvan vaskyk.

“Ons sal moet trou … ” Dis my skuldige gewete oor die sondige drome wat praat, besef ek. En die eerste sotlike woorde wat ek hardop na my operasie kwytraak. Trane loop onbedaarlik oor Marie se wange.

“Jy was heelnag by my … ” probeer ek myself lomp verduidelik. Dis duidelik, selfs vir my, dat die narkose nog nie uitgewerk is nie. En dis baie frustrerend met die mooiste meisie in die wêreld hier langs my.

Ek moes weer ingesluimer het, want toe ek wakker word, is Marie nie meer daar nie. Dalk het ek maar net gedroom dat sy by die kraal aangekom het? Dat sy die heeltyd langs my was? Dalk … ek sluk teen die teleurstelling. Dalk was sy nooit langs my in die ambulans nie, het sy nooit my hand vasgehou of, omgewe van ’n blommegeur, ’n paar hemelse oomblikke oor my gebuk nie.

“Ek sien jy’s darem weer in een stuk!” kom ’n harde stem van êrens af.

Effe vies dat ek nie tyd het om my teleurstelling behoorlik te verwerk nie, lig ek my kop effens om te sien aan wie die bulderende stem behoort. Oorkant my lê ’n gryskop man. Nee, mannetjie. Die een met die groot stem.

Willoos sak my kop terug en staar ek na die spierwit hospitaalplafon. Ek is so keelvol vir hospitaalkamers! Vir my lewe se kriptonietoomblikke. Vir die sothede wat ek kwytraak in Marie se geselskap. Tensy ek my dit alles verbeel het!

“Nee, Boet, dié sal ek jou sê, ek het gedink jy sal nooit weer loop nie, toe ek jou die eerste keer sien met daai nekstut en bloed oral waar jy kyk!”

Geskok kom ek so regop as moontlik en beskou die groot stuk gips aan my linkerbeen. ’n Paar van my tone steek daaronder uit en ek wikkel hulle een vir een. Met oneindige groot verligting sak ek weereens woordeloos teen die hoë stapel kussings terug.

“Ek was sélf amper bokveld toe!” kom die groot stem, asof ek hom gevra het wat hy makeer. Baie verlig dat my ellende nie so groot is nie, kyk ek met meer belangstelling na oom De Koker, aldus sy naamplaatjie teen die muur bokant sy hospitaalbed.

“Hoe so, oom?” voel ek half verplig om te vra. Aan die manier waarop hy aan sy snor kou, kan sien dat hy homself beswaarlik in toom kan hou oor sy siektetoestand.

“Nee, ek kry toe mos nou die nag hierdie felle pyn in my sy, boet!”

“Ja, oom?”

“En die antie kom jaag met my hospitaal toe. Dokter sê dit was net betyds dat hy my blindederm verwyder het.”

“Dis rof, oom.” Wat anders kan ek nou eintlik sê?

“Jy’t g’n idee nie, boetman! Dokter sit toe die verpestelike ding in ’n bottel versterkwater en kom sit dit nogal hier op my bedkassie dat ek kan sien wat dan vir my pyn verantwoordelik was.” Hy bly melodramaties stil.

“Ja, oom?” moedig ek hom aan.

“Dokter en die nursie was skaars by die deur uit, toe bars die ding hier in die bottel dat die glasskerwe tot teen die dak spat!”

“Haai, oom!” kan ek op daardie oomblik aan niks anders dink om te sê nie.

“Ek sê jou, boet, ek moes lelik koes … ”

Die verpleegster kom binne en skielik droog oom De Koker se storie in ’n erge hoesbui op. Hy gee meer as die deursnee pasiënt sy samewerking as sy bloeddruk en koors gemeet word. Hy is skielik baie weerloos en steun en kreun so af en toe terwyl sy aan hom werk.

“Het oom baie pyn?” vra sy met ’n pieperige stemmetjie terwyl sy haar vinger op sy pols hou.

“O, nursie, ek vergaan van die pyn,” kry hy skaars die woorde uit.

Verbaas lig ek my kop om te sien wat dan so skielik die verslegting in sy toestand meegebring het, maar hy knipoog skelm oor haar skouer vir my. Ek kan nie help om te glimlag nie. Die ou jakkals!

Die volgende oggend wonder ek nog of ek enige besoekers gaan ontvang, aangesien oom De Koker se bed alreeds behoorlik toegestaan word van vriende en familie.

Een vir een kom my broers en ouers die saal binne. Ma dra ’n pakkie in haar hande. Dit gesels en vra uit en al waaraan ek kan dink is Marie. Maar sê nou Marie was nie regtig gister daar nie? Ek is te bang om te vra.

Hulle bly nie baie lank nie. Oom De Koker se mense kuier nog ’n hond uit ’n bos uit. Dan, onverwags, stap Marie in. Sy lyk mooier as ooit. Verbasend genoeg, buk sy oor my en kry ek sowaar ’n klapsoen. Dit ontneem my tydelik van alle taal terwyl ek haar met ’n kurkdroë keel aanstaar.

“Lyk my jy het al klaar vergeet,” sê sy geheimsinnig. Hoe ek ook al delf, ek kan sowaar nie op hierdie oomblik dink waarna sy verwys nie. Glimlaggend skud ek maar net my kop en hoop dat sy my ’n leidraad sal gee. Maar sy kyk blosend na my breë borskas en dan na oom De Koker se gaste asof sy spyt is dat hulle besig is om te groet.

“Marie,” ek hou my hand na haar toe uit. “Wat het ek alles kwytgeraak?” vra ek baie sag.

“Wel, tensy ek my dit verbeel, het jy my gister meer as een keer daaraan herinner dat ons vir mekaar bedoel is en beslis bymekaar hoort … ” Ek kan sien sy wil nog iets byvoeg, maar sy plaas net haar hand in myne.

“Maar dit weet ons twee mos darem lankal,” probeer ek haar die verleentheid spaar.

“Sal jy asseblief die pakkie wat my ma gebring het, vir my aangee?” vra ek so onskuldig en hulpeloos soos ’n pasgebore baba. Ek weet baie goed dat daar net een manier is waarop sy die pakkie kan bykom en dit is as sy bo-oor my op hierdie hoë hospitaalbed strek om dit aan te gee.

En oor haar skouer, knip oom De Koker glimlaggend vir my oog met albei sy duime in die lug.