GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/qevdux/1/

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Krisis op Skerpioendraai

— Hoofstuk 1 —

‘Dis mooi hier,’ merk Lang Henning op, ‘darem maar lekker as die Karoo so groen is. En so stil.’

‘Dis hoe ek daarvan hou,’ stem Boet saam, ‘stil en vreedsaam.’

Sy woorde is nog nie koud nie of ’n skoot knal en die koeël skop stof op voor die hoewe van Henning se perd.

‘Gee pad!’ Henning spring uit die saal van die steierende perd en val plat op die grond. Die waarskuwing was egter nie eers nodig nie, want Boet het klaar vir Duncan omgeruk en dié laat waai sommer vanself na die naaste beskutting, ’n digte struikgewas op die kant van die spruit waarlangs hulle gery het. Daar gekom gehoorsaam hy teensinnig toe hy tot stilstand getrek word en Boet gly haastig van sy rug af sodat hy homself ’n so klein as moontlike teiken kan maak tussen die takke.

Enkele sekondes lank gebeur niks nie en Henning begin versigtig orent kom. Toe hy halfpad op sy hurke is, kom ’n stem van ’n ent verder weg uit ’n ruigte bome.

‘Bly net waar julle is, nie ’n tree nie of julle is dood,’ waarsku dit.

Henning staan op en bêre die rewolwer wat asof vanself in sy hand beland het. Dis beslis nie struikrowers soos hy gevrees het nie, want dié verspil nie tyd met praatjies en waarskuwings nie. Wie dit is wat geskiet het, weet hy nog nie, maar lewensgevaar is daar waarskynlik nie by nie.

‘Kom uit, jy met die geelperd,’ beveel die stem nou.

Daar is ’n beweging in die bosse en Boet kom huiwerig tevoorskyn, hande in die lug.

‘Moenie skiet nie, ek is ongewapen,’ sê hy vir alle sekerheid. Hy stap tot by Henning wat skuins na hom kyk.

‘Sit af jou hande,’ sis hy, ‘niemand gaan skiet nie.’

‘Dis wat jy sê, ek wil dit eers van hom hoor,’ en Boet beduie met sy kop na die ruigtes waaruit ’n man tevoorskyn kom. Hy is te voet en dra ’n groot geweer slaggereed in sy hande, maar afgesien daarvan lyk hy soos enige ander plaasboer, kompleet met velskoene, molvel onderbaadjie en slaprandhoed. Iemand met wie mens houtgerus sou wil koffie drink as hy nie so ’n gemene trek op sy bebaarde gesig gehad het nie. Die nekhare op Boet se hond rys en Henning voel ook so. Onwillekeurig bal hy sy vuiste.

‘Hoekom skiet jy op ons?’ vra hy. ‘Jy kon ons verongeluk het.’

‘As ek dit wou doen, sou jy nie nou hier gestaan het nie,’ antwoord die man smalend. ‘Ek sou raak geskiet het.’

‘Wie is jy?’ wil Henning weet. Die ander beduie met sy geweer om seker te maak dat Henning dit sien.

‘Ek is die een wat vrae stel hier,’ sê hy, ‘en as ek nie van die antwoorde hou nie, bars julle.’ Hy gluur hulle aan om krag by sy woorde te sit en gaan dan voort, ‘Het die ander julle gestuur?’

Henning skud sy kop en dwing sy vingers om te ontspan.

‘Jy het dit glad mis, Neef,’ sê hy. ‘Ek was nog nooit in hierdie geweste nie, en is deur niemand gestuur nie.’

‘Ek glo jou nie, maar ek sal menslik wees en julle nie op ’n hoop vrekskiet nie. Klim op jul perde en kry koers terug na waar julle vandaan kom en gaan sê vir Smit ons is reg vir hom.’

‘Het jy ’n naam sodat ek darem die boodskap ordentlik kan oordra?’ vra Henning.

‘Sien! Ek was reg!’ bars die ander uit. ‘Jy kom van hom af om op ons te spioen! As ek my sonde nie ontsien nie — toe, skoert!’ En hy kom dreigend nader, geweer reg om te skiet.

Henning klim tydsaam op sy perd en sê, ‘Kom, laat ons ry,’ vir Boet wat al lankal in die saal is. Dié talm nie ’n oomblik nie, maar gee sy perd spore en laat vat in ’n rigting, met Henning al gou op sy hakke. Agter hulle knal ’n skoot om hulle vinniger weg te help.

Na ’n hele ent trek Boet sy perd op ’n draf en toe Henning langs hom ry vra hy, ‘Waarheen nou?’

‘Miershoop toe. Ek wil by oom Koos gaan uitvind wat hier aan die gang is.’

‘Ken jy dan mense hier?’ vra Boet verbaas. ‘Jy’t niks gesê nie — ’

‘Ag, ons ry mos maar net en toe kom ons toevallig in hierdie geweste,’ sê Henning ontwykend.

‘Wie se geweste?’ dring Boet aan.

‘Oom Koos Miershoop-hulle en die Kritzingers s’n.’

‘En ek hoor nou eers van hulle. Wie is die Kritzingers?’

‘Van Skerpioendraai, waar daardie baard-aap gedink het hy’s baas.’

’n Ruk ry hulle in stilte aan, toe sê Boet, ‘Dit was darem ’n lelike ou, nè?’

Henning knik sy kop.

‘Ja, dit lyk asof hy gesigte getrek het en toe slaan die horlosie.’

‘En toe?’

‘Toe bly staan dit so. Weet jy dit nie?’

‘Nee, waar ek grootgeword het was daar nie sulke horlosies nie.’

‘O, ek sien. Nou ja, dis in elk geval wat gebeur as jy probeer snaaks wees.’

‘Ek dink nie hy wou eintlik snaaks wees nie,’ sê Boet nadat hy daaroor nagedink het.

‘Nee, hy wou ons net die skrik op die lyf jaag.’

‘Hy het vir my,’ erken Boet.

‘Ek was self nie te gerus nie,’ gee Henning toe, ‘totdat ek besef het dit was nie spesifiek op ons gemik nie.’

‘Hoe kon jy dit weet? Enigeen wat ’n geweer so ronddra is van plan om te skiet wie voorkom,’ stry Boet.

‘Nee, ek dink eerder hy het iemand anders verwag en as ek moes raai sou ek sê dat dit dan anders sou verloop het.’

Boet antwoord nie, maar toe Henning later sê hy gaan eers stilhou en koffie maak, praat hy verder asof daar geen onderbreking was nie.

‘Hoekom?’

‘Hoekom wat?’ vra Henning terwyl hy ’n vlammetjie in ’n paar takkies aanblaas.

‘Hoekom sou dit anders verloop het?’

’n Oomblik lank antwoord Henning nie, totdat die droë houtjies vlamgevat en hy die ketel met koffiewater op twee groot klippe langsaan gebalanseer het. Toe sê hy, ‘Ek weet nie. Al wat ek kon uitmaak was dat dit te doen het met ander mense wat moeilikheid soek met dié wat daar op Skerpioendraai sit en ek hoop oom Koos Miershoop sal ons kan vertel wat aangaan.’

‘Of ons kan net aanry,’ stel Boet hoopvol voor.

‘Ek is nie lus om weer in die middel van ’n skietery te beland nie.’

Henning kyk hom verbaas aan. ‘Wanneer was jy so danig in ’n skietgeveg betrokke?’ wil hy weet.

‘Al baie, jy weet net nie,’ gooi Boet terug, ‘en wat van nou net?’

Henning lag, maar antwoord nie. Na ’n rukkie sê Boet, ‘Nou ja, seker ook nie so baie nie, maar mense het darem al op my geskiet hoor, en ek hou niks daarvan nie.’

‘Ek ook nie,’ gee Henning toe. Toe die water begin kook gooi hy ’n lepelvol gemaalde koffiebone in die ketel en ’n kooltjie van die vuur om die moer te laat sak. Boet gee solank die bekers aan en toe hulle na ’n rukkie sit en drink vra Boet, ‘Hoekom ry ons nie sommer net aan Miershoop toe nie? Gaan ons nie daar vir koffie en kos genooi word nie?’

‘Ek glo so, maar ek wil eers kyk of iemand ons soontoe volg.’

Nou eers bemerk Boet dat die plek wat Henning uitgesoek het om stil te hou moeilik te sien is vanaf die pad wat deur die jare uitgery is tussen die twee plase, maar tog krimp hy onwillekeurig ineen by die gedagte aan ’n sluiper agter hulle aan. Henning sien dit en sê, ‘Toemaar, die beste is maar om jou hond dop te hou, hy sal ons waarsku.’ Hy wys na die hond wat houtgerus ’n entjie van die vuur af die wêreld lê en beskou.

‘Ek is nie bang nie,’ brom Boet, ‘net versigtig.’

‘Baie slim,’ stem Henning in, maar voeg moedswillig by, ‘Liewer blo Jan as do Jan, of hoe sê ek.’

Boet maak asof hy dit nie hoor nie en streel ingedagte sy hond se kop. Dan skiet hy die koffiemoer uit sy beker en staan op.

‘Hoe ver nog na daardie Molshoop?’ vra hy nors.

‘Miershoop,’ help Henning hom reg. ‘Nog omtrent so ’n halfuur se ry. Hoekom so haastig?’

‘Ek wil ry en klaarkry, want ek sien jy maak jou alweer reg om jou neus in ander mense se sake te steek. Ek weet nie hoekom jy nie ’n slag rus vir jou siel kan kry nie.’

Lang Henning kyk Boet verbaas aan.

‘Is dit wat jy dink, dat ek inmeng waar ek nie gevra word nie?’ sê hy en daar is ’n gevaarlike klank in sy stem.

‘Ja. Soms. Meeste van die tyd.’ Boet ignoreer die onweerswolke op Henning se gesig en staan op om sy perd se buikgord vas te trek. Henning gooi die res van die koffie uit en bind die ketel by die pakkasie aan sy saal. Sonder ’n woord klim hy op en vat koers, padlangs. Boet volg hom op ’n afstand nadat hy seker gemaak het daar is niemand wat hulle volg nie. Die hond draf gemaklik agterna.

Skielik begin Boet lag en spoor sy perd aan tot langs Henning s’n.

‘Lekker uitgevang, nè? Jy het gedink ek is ernstig, stry?’ roep hy vermakerig.

Henning kyk hom fronsend aan en vra dan, ‘Jy dink dus nie regtig so nie?’

‘Natuurlik nie, ek weet mos teen hierdie tyd van al jou neefs wat jou soek sodra hulle probleme het. Ek wou jou maar net terugkry oor die bangjan-storie.’

Nou lag Henning ook en sê berouvol, ‘Toemaar, ek het ook maar net gespot.’

‘Mens spot nie met dood en onheil nie,’ betig Boet skielik ernstig en Henning belowe om dit nooit weer te doen nie. Tevrede ry hulle kameraadskaplik aan totdat hoë bome by ’n opstal daar ver voor hulle in sig kom.

‘Is dit die plek?’ vra Boet.

‘Ja, dis Miershoop daardie, die Labuschagnes se plaas,’ antwoord Henning. Hy druk sy perd in ’n galop en Boet volg sodat hulle die laaste ent resies jaag, een wat gemaklik deur Henning se perd gewen word. Hy kom in ’n stofwolk tot stilstand en Henning spring uit die saal. Met lang treë stap hy na die kombuisdeur, wat effens oopstaan. Hy weet nie wat hy verwag om te sien nie, maar die toneeltjie voor hom laat hom verbaas in sy spore vassteek.

Die kombuistafel is gedek vir middagete en die kos reeds opgeskep en geurig op die borde. Maar in plaas van messe en vurke in die mense se hande is daar geweerlope wat sekuur op die deur gerig is met die ronde swart gaatjies reg om koeëls in die twee besoekers se rigting te spoeg.

‘Goeiste!’ kom dit benoud van Boet hier skuins agter hom, ‘ek dog jy sê dis jou vriende.’ Asof vanself gaan sy hande in die lug en vir die tweede keer in ’n kort tydjie roep hy, ‘Moenie skiet nie!’

‘Bedaar,’ paai Henning en stap oor die drumpel na binne.