GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/qargxp/0/

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Die Galg in die Oerwoud

— Hoofstuk 1 —

Wit Kopbene

Voor in die bosse gewaar die Swart Luiperd ’n beweging. Hy ruk die toom styf en sy perd, Donker, steek vierspoor vas, ore gespits. Die Luiperdman se twee tiermaats, Spikkels en Simson, val instinkmatig plat en kwispel hul sterte.

Agter sy swart luiperdmasker flikker Leon se oë. Hy klim haastig van Donker se rug af. Hier, in die hartjie van die Kaokoveld in Suidwes-Afrika, het hy nie mense verwag nie.

Geruisloos soos ’n kat sluip hy vinnig nader en van agter ’n groot boomstam, skurf en basserig, bespeur hy tot sy verbasing twee mense – groot, blonde manne. Die sweet tap van hul gesigte af, want dit is laat in die middag en die bosgebied bak in versengende hitte.

Die Swart Luiperd spits sy ore toe hy hoor dat die twee manne mekaar in Afrikaans aanspreek. Die grootste van die twee – hy lyk vir die Luiperdman baie bekend – vra, ‘Hoeveel het ons hierdie keer, Lafras?’

‘Ek weet nie presies nie; maar dit is genoeg om die troon van die Wit Koningin pragtig te versier.’

‘Gaan kyk dan!’ beveel die eerste.

Die Swart Luiperd kan nie help om die trek van verwronge wreedheid in die man se gelaat raak te sien nie.

Lafras stap na ’n groot koffer wat daar eenkant naby twee muile lê. Hy maak dit oop en die volgende oomblik trek die Luiperdman sy asem diep in en sy hele liggaam bewe.

Die man het die kopbeen van ’n mens uit die trommel tevoorskyn gehaal.

‘Hier is vyf, Brutus.’

’n Koue rilling skiet langs die ruggraat van die Swart Luiperd af toe hy die naam Brutus hoor. Dit blits deur sy brein. Die hele Suid-Afrika ken daardie naam en sidder by die gedagte aan een van die grootste moordenaars en onmense wat die land nog ooit geken het. Op sy plaas in Noord-Transvaal het hy van Brutus gelees. Reeds ’n jaar lank teister dié vandaal die land. Byna elke vrou, in watter uithoek van die land, gaan saans met ’n kloppende hart en benoude vrees slaap. Brutus is ’n vroue-moordenaar, ’n moordenaar wat doodmaak sonder motief. Hy besoek nooit dieselfde dorp of stad nie en in die afgelope jaar moes vier stede in die land reeds onder sy kloue deurloop. Brutus, die maniak, was vroeër in die tronk, maar hy het ontsnap en sedertdien het die afkopmoorde begin. Sy slagoffers word sonder hoofde deur die polisie aangetref.

Die Swart Luiperd ril by die gedagte aan soveel koelbloedige, barbaarse wreedheid. Hy waag nog ’n tree nader. ’n Takkie kraak onder sy veerkragtige tred en blitsvinnig kyk Brutus op, maar die Luiperdman het reeds agter ’n boom weggekoets. Van waar hy staan, sien hy die pistool in die hand van die moordenaar.

Hy wil nog meer van die gesprek van die twee manne opvang. Wie is die Wit Koningin? wonder hy. En wat soek Brutus hier, in die onherbergsame dele van Afrika, myle en myle ver van die terrein van sy gruwelike moorde af?

‘Ons moet aanstryk, Lafras. Die son sak vinnig. Ons moet voor sononder by die Verlore Paradys wees,’ praat Brutus weer.

Die Swart Luiperd frons. Dit is juis waarom hy, die Luiperdman, saam met sy maats na hierdie dele gekom het op ’n avontuurreis en op soek na die Verlore Paradys in hierdie onherbergsame dele, waar nog geen mens sy voete gesit het nie.

En dan het hy gedink die Verlore Paradys is sommer ’n produk van die verbeeldingrykheid van die mense!

Toe Brutus orent kom, val die Swart Luiperd vinnig plat. Die twee manne is besig om hul bagasie op die rug van ’n derde muil, wat Leon nie van waar hy staan kan sien nie, te pak.

Vlugvoetig sluip die Swart Luiperd terug na sy drie maats. In ’n kits is hy op die rug van sy getroue ros. Hy klop die dier op die beswete nek, ‘Donker, daar is werk vir ons. Ons moet die grootste moordenaar van ons tyd, breek of bars, aan die gereg uitlewer.’

Die hand wat die leisels vashou, is gespierd. Die swart hemp span styf oor sy bonkige arm. Hy ruk die toom styf en pronkend vleg die swart perd deur die bosse. Die twee gespikkelde katte volg kort op die perd se hakke. Hul tonge hang lank uit want die son skroei genadeloos neer.

’n Entjie voor hulle troon ’n groot woudreus oor die toppe van die ander bome heen. Dit is die Swart Luiperd se mikpunt. Met ’n blitsvinnige handbeweging het hy die vangtou van die saalboom afgehaal en die volgende oomblik swiep dit deur die lug en kronkel om een van die takke van die woudreus. Dan raap hy hom op en swaai deur die lug en kom rats op een van die oorhangende takke te lande. Soos ’n bobbejaan klouter hy haastig hoër. ’n Apie wat bo in die boom teen die sterk strale van die middagson kom skuil het, spring sketterend en verskrik na ’n ander tak toe hy die snaakse ding in die boom sien opklouter. Die luiperdgesig lyk afskrikwekkend.

Die Swart Luiperd klouter so hoog soos hy kan. Dan tuur hy oor die swartgroen bosse heen. Ongeveer vyftig treë van hom af vleg die twee moordenaars, Brutus en Lafras, op hul muile deur die bosse. Hulle hou hul gewere in gereedheid, want roofdiere is hier volop.

Die Luiperdman balanseer hom op die tak en soos blits haal hy die boog agter sy rug af, pas ’n pyl daarin en steek dit deur ’n papiertjie waarop hy met sy houtskoolpotlood iets gekrabbel het. Die gespierde hande laat die boog styf span; ’n fluitgeluid volg soos van ’n windswael wat die lug deurklief, en die pyl klap netjies teen ’n boomstam tussen die twee ruiters vas. Die voorste muil gee een snork en spring soos ’n besetene weg. Brutus val amper agteroor, maar klou betyds vas. Die leisels is uit sy hande geruk. Die muil skeur teen dolle vaart met hom deur die bosse en struikgewas, en die hardvogtige moordenaar moet hou vir al wat hy werd is.

Lafras het daarin geslaag om sy muil in te hou. Hy het eers gedink om die rydier ook maar teuels te gee en rieme agter Brutus aan neer te lê, maar daar is hul pak-esel, met die kosbare geskenke aan die Wit Koningin en ook al hul proviand. Hy kyk na die pyl wat nog sidderend in die stam vassit. Dit het gevaarlik naby sy kop verby gewoer. Hy hou sy geweer in gereedheid. Brutus en hy is die enigste mense wat nog ooit hierdie gebied betree het, wat die geheim van die Verlore Paradys opgelos het. Hy het nog nooit pylskieters hier raakgeloop nie. Hy is bang om van sy rydier af te klim. Daar het ’n onnatuurlike stilte toegesak. Lafras se hart klop vinniger.

Hy sien die briefie aan die punt van die pyl liggies in die wind wapper. Hy wat soveel moorde in die beskawing saam met Brutus gepleeg het, moet hom inspan om af te klim. Hy draai egter nie sy rug op die bosse waaruit die pyl te voorskyn gekom het nie. Hy loop agteruit en pluk die pyl dan vinnig uit die boomstam. Hy het die papiertjie in sy hand en sy blou, naby-mekaargeleë oë, trek op skrefies. Hy lees:

Julle moordenaars van onskuldige mense, julle brute maniakke. Hierdie keer sal julle nie die galg vryspring nie.

Die Swart Luiperd.

Lafras word skielik bang, benoud bang. Onder die naamtekening is iets soos die klou van ’n luiperd geteken. Hy weet dat Brutus sy muil nie gou onder beheer sal kan bring nie. Voor hom in die bosse grom ’n luiperd. Lafras voel hoe sy gesig en hande yskoud word. Hy wip vorentoe om op die rug van die muil te spring en weg te jaag, want sy hare het orent gaan staan en hy het ’n gevoel gekry dat hy met iets bo-natuurliks te doen het, maar –

Die volgende oomblik kronkel die Swart Luiperd se vangtou deur die lug en vleg om die middel van die moordenaar. Hy probeer dit met sy hand vasvat en van hom af wegdruk, maar die Luiperdman ruk die tou reeds styf en met ’n hik slaan Lafras op die grond neer. Sy rydier skrik, snork en slaan sommer ’n rigting deur die bosse in, gevolg deur die pakdier wat as gevolg van sy swaar vrag waggelend tussen die bome deurskuur.

Verward probeer Lafras orent kom; hy slaag daarin en hy voel skielik dat die tou om sy middel loskom, maar ’n oomlik daarna bespeur hy ’n beweging uit die hoek van sy oog. ’n Swart gedaante storm op hom af en voordat hy hom nog self kan verweer, tref ’n hou hom onder die kakebeen. Hy steier agteruit. Sy oë rek groot. Hy kyk in die luiperdgesig van Leon vas. Hy wil gil, maar dit sterf op sy lippe as nog ’n hou hom teen die slaap tref. Stadig swik hy grond toe, maar maak sy oë oop. Daar is verbystering en vrees in te lees. Hy bring die agterkant van sy hand swak na sy voorhoof.

Die Swart Luiperd tel hom op. Lafras voel die bulterige spiere van die Luiperdman teen sy liggaam aan. Leon dra hom die bosse in, gooi hom onder die groot boomreus neer en begin sy voete en sy hande stewig met die vangtou vas te wikkel. Die ander ent van die tou word oor ’n oorhangende tak gegooi.

‘Wie is jy? En wat het ek aan jou gedoen dat jy my so moet aanrand?’

‘Jy het gesien wie ek is,’ kom dit met nadruk en vasberade van die Swart Luiperd af. ‘Jy is die handlanger-moordenaar van Brutus. En ek gaan nou die geheim van die Wit Koningin by jou uitwurg. Ek wil weet waarom julle die duiwelse moorde op vroue pleeg en dan hul kopbene hier na die Kaokoveld bring. Ek het gehoor wat julle gesê het.’

Lafras se oë is bang-vragend op die Swart Luiperd gerig, maar hy probeer hom dapper voordoen.

‘Wie jy ookal is, Brutus sal weer terugkom en dan sal jy sterf en ook jou kopbeen sal na die Wit Koningin geneem word.’

‘Wie is die Wit Koningin?’ kom die Swart Luiperd se vraag.

Lafras lag met ’n tikkie histerie in sy stem.

‘Hoekom maak jy jou nie liewer uit die voete nie, of wil jy graag dat die roofdiere jou stoflike oorskot hier in die onbekende verslind?’

Die Swart Luiperd antwoord nie op die dreigement nie. Hy vat die ent van die tou net stewig in sy hande vas en hyskraan die moordenaar teen die boom op – kop omlaag.

Lafras spartel wanhopig. Hy voel hoe die warm bloed na sy kop toe vloei. Hy word half duiselig.

‘Wat gaan jy aanvang?’ kom dit benoud van hom.

‘Ek gaan jou hier aan die boom laat hang, net hoog genoeg sodat die leeus jou stuk vir stuk kan verslind.’

Daardie hol stem agter die masker klink beslis en Lafras begin stoei, maar hy is magteloos.

Die Swart Luiperd stap doodluiters weg. Die handlanger van Brutus besef dat hy dit nie meer baie lank sal kan uithou nie. Hy draai sy kop in die rigting van die Luiperdman en trek sy asem die volgende oomblik vinnig in. Wat hy nou sien, gaan sy verstand te bowe. Sy aanrander is besig om die groot kop van ’n gespikkelde kat te streel. Die geel tande van Simson word vertoon en dit lyk asof hy baie lus is vir die man wat daar kop na onder hang. Spikkels staan ook nader, asof sy ook graag geliefkoos wil word.

‘Moenie weggaan nie – e – Swart Luiperd, kom terug en maak my los. Ek sweer dat dit nie ek is wat verantwoordelik is vir Brutus se wrede moorde nie. Ek gaan nie eers saam met hom na sy slagoffers toe nie. Ek het nog nooit een moord saam met hom gepleeg nie. Ek sweer dit. Ek help hom maar net later om die goed te vervoer hierheen,’ kom die woorde ylend van Lafras se lippe.

Die swart gestalte van die Luiperdman staan nader. Hy sien hoe vuurrooi die wange van die misdadiger is, hoe hy wanhopig oor sy lippe lek.

‘O, so,’ laat die Swart Luiperd sarkasties hoor. ‘En hoe help jy hom?’

‘Maak my net los, dan sal ek jou alles vertel – ek – ek – ’

Dit lyk of die man enige oomblik sy bewussyn gaan verloor. Sy vasgebinde hande val slap half oor sy gesig.

Vinnig maak die Swart Luiperd die ent van die tou wat hy aan ’n nabystaande boom gekoppel het, los en stadig laat hy die liggaam na benede sak. Lafras se liggaam val slap op die grond neer. Die Luiperdman skiet ’n handvol fonteinwater in sy gesig. Dit het die gewenste uitwerking. Lafras maak sy oë oop. Sy bors gaan vinnig op en neer.

‘Toe, praat – praat gou of hierdie keer hang jy vir goed!’

Lafras lek sy lippe.

‘Al wat ek doen, ek help met die finale proses deur die menskoppe te kook totdat die vleis los val van die skedel – ’

Hy steek skielik vas. In die hele houding van die gemaskerde man voor hom kan hy sien dat die Luiperdman sy woede met alle mag probeer bedwing.

Leon se hele liggaam sidder. ’n Magtige wraaklus laat hom sy tande kners. Hy onthou nou alles wat hy gelees het. Van mans, vaders en moeders wat by die gereg kom smeek het dat die loslopende maniak gevang moet word; naderhand gedreig het om die polisie-poste te bestorm. Hy onthou die protesbriewe van die publiek aan die polisie – hy weet hoe magteloos hulle gestaan het. En hier het hy een van daardie ongevoelige monsters in sy mag.

‘Praat!’ skree die Swart Luiperd uit.

Lafras aarsel nie langer nie.

‘Die kopbene is ’n – ’n – geskenk aan die Wit Koningin. Brutus – ’

Hy aarsel weer. Die swart hempsmoue van die Luiperdman span styf onder die geweldige sametrekking van sy spiere. Hierdie houding van die vreemd-gemaskerde mens voor hom is genoeg om Lafras te laat voortgaan.

‘Die Wit Koningin is wreed, Brutus is haar – wel, haar hoofman. Die Wit Koningin regeer in die Verlore Paradys.’

‘Waar is die Verlore Paradys?’ kom dit blitsvinnig van die Luiperdman.

‘As ek dit durf sê en die Wit Koningin of Brutus vind dit uit, sal ek ’n wrede dood sterf. Hulle sal my in die Grot van die Verderf gooi. Die mense van die Verlore Paradys is wreed, onbeskryflik wreed, sterk en bloedlustig – ’

‘Waar is die Verlore Paradys?’ herhaal die Luiperdman sy woorde. Hy staan ’n tree vorentoe en kry die ent van die tou beet. ‘Dit is jou laaste kans. Ek gaan jou nou lewendig ophang as jy nie praat nie.’

‘Niemand sal ooit die Verlore Paradys vind nie, en as jy daarin slaag om dit te kry, sal jy sterf. Omdat ek ’n handlanger van Brutus is, vind ek nog ’n bietjie genade in die oë van die allerwreedste vrou wat ek nog ooit gesien het. Voordat ons naby die poorte van die Verlore Paradys kom, word ek deur Brutus geblinddoek.’

‘Jy lieg,’ snou die Swart Luiperdman hom toe, ‘jy lieg.’

‘Dit is die heilige waarheid. As Brutus in die nabyheid moet wees, sal ek vermoor word. Hy sal my doodmaak. Jy sal sien dat ek die waarheid vertel – ’

Lafras kan nie verder kom nie.

Opeens, hier digby hulle, knal ’n rewolwerskoot en ’n koeël suis rakelings bokant die hoof van die Swart Luiperd verby.

‘Dit is Brutus,’ gil Lafras.

Soos ’n besetene kom Brutus uit die bosse tevoorskyn. Hy kners op sy tande en ’n uitdrukking van sataniese moordlus is op sy gelaat te lees.

Hy rig die vuurwapen op sy makker. Die Swart Luiperd spring vorentoe om die wreedaard vas te gryp, maar hy is te laat. Die skoot knal en met ’n enkele, bloedstollende gil sterf Lafras met ’n koeëlwond in sy kop.

Die Luiperdman het egter reeds die bene van Brutus onder hom uitgeduik. Die groot, blonde man klap op die grond neer. Die tweede skoot wat hy aftrek, fluit deur die namiddag. Twee houe van die Swart Luiperd se swaar vuiste tref hom op die bors en op die neus. Dadelik spat bloed in alle rigtings, maar dit is asof ’n demoon Brutus bemeester het en of die krag van ’n duiwel in sy spiere pols. Die Swart Luiperd klap die wapen egter uit sy hande, maar byna op dieselfde oomblik tref ’n hou soos die skop van ’n muil die Luiperdman teen die agterkop. Leon sink effens vooroor, beur weer orent, maar die groot man, wat gewoond is daaraan om konstabels soos houtpoppe neer te vel, gly onder hom uit, vlieg orent en mik ’n gevaarlike skop na die Swart Luiperd se masker-gesig.

Die Swart Luiperd tol egter opsy, kom veerkragtig op sy voete en net toe die moordenaar sy vuurwapen van die grond wil optel, tref twee vuishoue hom in die maag.

’n Oomblik lank is dit asof hy grond toe sak, maar dan swaai hy sy regtervuis met mening na die Swart Luiperd se ribbes. Dit tref. Die Luiperdman syg die volgende oomblik stadig grond toe. Alles word swart voor hom, maar wanhopig klou hy die hande wat na sy keel gryp vas, en saam stort hulle teen die aarde neer – Brutus bo. Die ou sadistiese moordlus knaag weer aan sy siel.