GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/plaziy-kloue-van-die-valk-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Kloue van die Valk

— Hoofstuk 1 —

Dood uit die Boom

In die skaduwees van ’n groot, alleenstaande olienhoutboom hou die Swart Luiperd sy perd in. Dit is in die laat-namiddag en die boom gooi ’n lang skaduwee na agter toe.

Die Swart Luiperd bevind hom op ’n plato en ver onderkant hom strek die wêreld van sy jeug voor hom uit. Hy trek die luggie wat onder uit die diep klowe na hom aangewasem kom, in sy neusgate op en ’n bly gevoel neem van hom besit. Hy kyk na die plooigebergtes ten suide van hom, die majestueuse berge, groen en begroei met bome en plante, die skerpaf rotse, en die diep, koel klowe met hul ruigtes en bome wat teenaanmekaar groei. Dit is of hy die aangename koelte van daardie klowe van hier af kan voel.

Links van hom af, waar ’n paar misbanke opkruip agter die gesigseinder uit, moet Colesberg geleë wees. Hy is weer in die omgewing waar hy as kind groot geword het – waar hy jakkalse gejag het en bosduiwe met die slingervel voorgelê het.

Onwillekeurig plooi daar ’n glimlag om Leon se mondhoeke agter die masker. Drie dae lank trek hy en Donker nou al deur die berge en klowe na hierdie oord toe, en hier is hulle! Daar ver tussen die berge deur slinger die silwerstreep van ’n rivier. En die Luiperdman se kennersoog merk dat die rivier aan die afkom is. Die water is vuil en troebel en hy kan stukke stompe op die rivier sien afspoel. In die suide pak die wolke nog saam en hy sien hoe die reën daar waar die rivier sy oorsprong het, nog vaal neersif soos ’n swaar gordyn.

‘Ja, Donker,’ praat die Luiperdman met sy perd. ‘Jy ken nie hierdie wêreld nie, maar nou sal jy hom leer ken. Hier is nou vir jou perde in hierdie wêreld, Donker, my ou perd.’

Donker proes asof hy elke woord van sy baas verstaan. Die sweet lê blink op die dier se pikswart vel – ’n slank geboude dier, gespierd en lewendig.

Weer vorm daar ’n glimlag om Leon Fouché se mondhoeke.

‘Ja, Donker, hier gaan jy jou druiwe dalk teenkom wat spoed betref. Hier is renperde duisend, ou vriend!’

Al antwoord wat Donker daarop het, is om met sy kop te speel en met sy versorgde stert die lastige vlieë weg te waai, asof hy wil sê, ‘Moenie my probeer bang praat nie. Ons sal wel sien!’

Opeens vang die Swart Luiperd se oog iets wat daar ver onderkant hom in die diep kloof beweeg. Vinnig spring hy van sy perd se rug af en klouter op ’n hoë rots in die skaduwees van die olienhoutboom. Daar sien hy die beweging weer.

Ja, dit is meer as een persoon. Hoewel hulle in die skaduwee van ’n oorhangende rots versamel het, kan hy hul beweging gade slaan. Sy oë trek nou agter die luiperdmasker. Ja, daar staan vier mans onder ’n jong stinkhoutboom en aan ’n oorhangende tak – nee, dit kan nie wees nie! Sy oë bedrieg hom dalk.

Maar die volgende oomblik is die Swart Luiperd seker. Die vier mans is op hul perde en ’n vyfde hang aan ’n oorhangende boomtak met iets soos ’n tou om sy nek. Aan hul handelinge lyk dit of die viertal onder die boom lag.

‘Ek het nie geweet dat hulle mense hier helderoordag ophang nie, Donker. Kom!’ en die volgende oomblik spring die Swart Luiperd van die rots af en in ’n kits is hy op die rug van sy perd. Hy laat die perd vinnig regs swenk en gaan die berg al in die vou af wat regs van die kruin na benede loop. Laer af word die hang begroei met bome van allerlei soorte, maar olienhoutbome is volop.

Die Swart Luiperd sak vinnig af en dit lyk asof die uitgeputte Donker wil struikel – die klippe rol onder die perd se hoewe uit, maar die dier weet dat hy vinnig moet aandruk. Sy baas het iets gesien. ’n Paar keer waag die Luiperdman dit selfs om sy perd teen die gevaarlike skuinste te laat draf.

Nog etlike oomblikke en hy het die helfte van die afstand na die manne onder die stinkhoutboom afgelê. ’n Paar bosbokke vlug skielik voor die Luiperdman uit en op daardie oomblik hoor hy hoe iemand skree, ‘Trek die tou styf, Giel! Laat hy vrek! Hy wil mos sy neus in ander mense se sake steek!’

Donker spring skielik vorentoe toe hy vir ’n bosbok skrik wat hier feitlik onder sy voete opspring. Hy snork en toe is die mans daar onderkant hulle in die kloof skielik stil. Leon hou Donker in.

‘Wie is daar? Pedro, is dit jy?’ roep iemand en die klowe dra sy stem ver teen die hange van die berge op.

Die Swart Luiperd weet nie of hy moet antwoord nie. ’n Doodse stilte heers daar onder by die stinkhoutboom. Net bo teen die kranse blaf enkele bobbejane en ’n mengelmoes van voëlstemme klink uit die ruigtes op.

‘Wie is daar?’ kom dit weer luid.

Die Swart Luiperd kyk om hom rond en sonder aarseling gaan hy die volgende oomblik met sy voete op die perd se rug staan. Hy spring en vang ’n oorhangende tak van ’n reuse olienhoutboom vas. Vinnig trek hy homself na bo. Dan spring hy na ’n volgende tak en swaai dieper tussen die ruigtes in.

‘Jy het verkeerd gehoor, Koert. Daar is niks daar bo nie. Dit kan nie Pedro wees nie. Trek styf die tou dat die man wurg, Giel. Dit is al laat en ons moet die Valk met sononder ontmoet. Maak gou!’

Iemand gaan aan die soebat, ‘Asseblief, moet my nie op so ’n wrede wyse om die lewe bring nie!’

‘Hou jou mond, handlanger van Wiekus Roos. Jy het ons agtervolg. Dit is nou dae al dat jy agter ons aanlê. Jy is ’n betaalde spioen en agent van die ryk Wiekus Roos.’

Die man skree dit byna uit, maar Leon kan nie die eienaar van daardie stem sien nie. In die mik van die olienhoutboom vertoef hy ’n paar sekondes; dan vang hy weer ’n tak bokant hom vas en swaai sy liggaam deur die blare en takke en vang die punt van die boom net langsaan vas, asof hy ’n geoefende aap is. ’n Paar blouapies wat daar in die koeltes rondgeluier het, spring verskrik weg sonder om ’n geluid te uiter.

’n Oomblik lank is die oë van die vier mans daar in die kloof weer op die plek gerig waar hulle die beweging sien. Dit is of ’n groot ding of dier hoog deur die takke swaai.

‘Magtig,’ skree ’n kort gesette mannetjie. ‘Dit moet ’n reuse ding daardie wees, Koert, ’n bobbejaan of ’n ding!’

‘Bepaal jou aandag by jou werk,’ hoor Leon Koert terugsnou.

Versigtig kom die Swart Luiperd orent. Sy voete skop vas teen die gladde boom. Terwyl hy met die een hand vashou, druk hy die blare met die ander hand opsy. Deur die blaregordyn kan hy nou die toneel hier voor hom sien. Die vier mans sit op hul perde. Een van hulle, waarskynlik Giel, hou ’n tou vas wat oor ’n tak van die stinkhoutboom gegooi is; aan die ander end van die tou hang ’n man, spartelend. Met albei sy hande hou hy die tou om sy nek vas sodat dit nie te styf om sy strot trek nie. Dit is egter vir die Luiperdman duidelik dat die arme skepsel dit nie meer lank sal kan verduur nie. Op die gesig van die grootste van die viertal onder die boom is daar ’n sataniese glimlag te bespeur. Hy gluur na die man aan die tou wat enige oomblik sy laaste asem sal uitblaas, sodra Giel vinnig aan die tou ruk.

Roggelend smeek die man weer – ’n mens kan glad nie hoor wat hy sê nie en sy asem fluit.

‘Trek, Giel!’ beveel die groot man weer. Hy het ’n swart bosbaard wat vuil en onversorgd daar uitsien.

Op daardie oomblik spring die Luiperdman in ’n kits na ’n gemakliker posisie tussen die bome. Hy land in die mik van die aangrensende olienhouttak wat groter is as die vorige.

Blitsvinnig gaan hy te werk. Met die boog in sy hande, pas hy die volgende oomblik een van sy gifpyle. Te laat besef hy dat hy liewer een van die ander pyle met geen gif aan die punt nie, moes neem, maar daar is nie nou tyd te verspil nie. Hy moet skiet, of anders is die ongelukkige handlanger van Roos, soos die baardman hom genoem het, daarmee heen.

Daardie naam Roos klink vir Leon alte bekend.

Giel trek die tou styf en die man spartel en roggel afgryslik.

Die Luiperdman se boog span. Dit maak ’n swiepgeluid toe die boogsnaar gelos word en pylreguit trek die dodelike wapen oor ’n afstand van veertig treë. Dit klap die volgende oomblik soos dit deur die bo-arm van Giel sny.

Die man uiter ’n gil en opeens los hy die tou en gryp na die pyl wat bewend in sy spiere steek. Die perd waarop hy sit, snork en gee eenkant toe pad. Met ’n swaar plof kom die liggaam van die ongelukkige man onder die stinkhoutboom neer.

Almal se oë is skielik op hulle maat gerig en die langste van die klomp pluk ’n rewolwer te voorskyn en tuur in die rigting van waar die pyl gekom het.

Giel se oë is groot van vrees toe hy die pyl uittrek. ‘Wat – wat – wat beteken dit, Kramer?’ Met vrees-oë kyk hy na die bebaarde met die rewolwer in sy hand. ‘Hoekom – hoekom sou die Valk – ’

‘Die Valk se skutters sal nie so iets doen nie, Giel. Hou jou smoel. Dit is – dit moet ander Boesmans wees?’ en met dié woorde los hy twee vinnige skote in die rigting waar Leon hom bevind. Die koeëls fluit egter skadeloos verby die Luiperdman.

Die Swart Luiperd sit doodstil en hy sien dat die liggaam van die persoon wat netnou so na aan sy dood was begin roer.

‘Kêrels, daar is wragtie Boesmans daarbo. Dit kan nie die Valk se werk wees nie,’ antwoord ’n kortgeboude mannetjie angsbevange. Hy het ’n lang weglê snor wat lyk asof dit te swaar vir sy lip is. ‘Maar, deksels, Kramer, hoekom sal die Boesmans so iets doen?’

‘Kêrels, wat praat julle van Boesmans. Hier is mos – hemel, nee, die pyl het bo uit die bome gekom. Sien julle iets – soek skuiling manne! Hier is iets snaaks aan die gang!’

Die Swart Luiperd sit doodstil tussen die blare bo in die boom en hy sien hoe die slagoffer, Wiekus Roos se handlanger, met die tou nog om sy nek, stadig orent kom, waggelend, en begin swak met die toue peuter.

Intussen kom die donkerte vinnig aan. Die lig word onseker dof en die skaduwees rek langer.

‘As daar weer ’n beweging in die bome is, skiet,’ beveel die man wat aangespreek word as Kramer.

‘’n Boesman sal tog nie boomklim nie,’ stribbel Koert teen.

‘Wie sê dit is Boesmans?’ kom dit weer van Kramer af.

‘Dan moet dit die Valk wees,’ kreun Giel.

Kramer en die ander kyk vinnig na Giel. Hy kantel in die saal, en gly dan met kop teen die bors af. Slap vou sy liggaam ineen. Die mamba-gif, vermeng met die bossie sappies en op tipiese Boesmansresep voorberei, het sy dodelike werk vinnig gedoen.

Een oomblik lyk dit asof Giel weer orent sal kom, maar dan sak hy doodsbleek ineen en die Luiperdman voel nou skuldig.

Etlike oomblikke staar Kramer, Koert en Bêrend, die ander man, ’n skraal jongkêreltjie wat skoongeskeer is, na hul stuiptrekkende maat.

Toe flits die vraag deur Leon: Wie is die Valk? Het hy, Leon Fouché, hom hier teen die een of ander misdadigersbende vasgeloop? Hoekom wou hulle daardie man wat nou regop staan en om hom heen kyk, asof hy wil ontvlug, soos barbare ophang? Hulle het hom ’n spioen van Wiekus Roos genoem en hulle het gepraat van die Valk. Giel het in sy laaste oomblikke die Valk as sy moontlike moordenaar genoem.

Die drietal beweeg nie, maar eindelik praat Kramer weer, ‘Ons moet daardie onsigbare pylskut in die hande kry.’

‘Hoe?’ vra Bêrend en sy perd trippel en snork asof die dier ’n onsigbare vyand gewaar.

Plotseling sien Koert hoe hulle gevangene stadig probeer wegsluip. In ’n kits het hy alle gevaar vergeet en met sy peits in sy hand druk hy sy spore in die perd se ribbes. Die dier snork vorentoe en die volgende oomblik swiep die sweep neer op die man wat probeer ontvlug. Die gevangene slaan op die grond neer en weer slaan die gesette Koert hom.

Byna werktuiglik is daar weer ’n pyl, hierdie keer ’n giflose, in Leon se boog. Dit span, word gelos en die pyl fluit deur die lug. Dit gaan bo-oor Koert se hoof, sodat die man sy kop vinnig terugruk en hy byna van sy perd afval.

Teen ’n boomstam agter Koert sny die pyl diep in die bas van ’n olienhoutboom in. Dit bewe onheilspellend en al drie sien dit raak.

‘Skiet, kêrels!’ kom die bevel van Kramer af en Bêrend, wat meer waaghalsig is, storm die hoogtetjie op en weldra verdwyn hy tussen die bome wat in die klein klofie groei.

Hy is nou buite die Swart Luiperd se gesigsveld en die moontlikheid is nie uitgesluit dat hy vir Donker sal teenkom nie, en dan is die gort gaar.

Die Swart Luiperd sal nou gou moet speel. Hierdie bome in die omtrek is nie so hoog soos die bome in die oerwoud van sentraal-Afrika nie en die manne sal hom maklik met die rewolwer van die grond kan afpik. Daarby is die olienhout se blare ook nie so dig nie.

Rats swaai Leon dus van tak tot tak, weer terug na die plek toe waar hy Donker langs ’n groot rotsblok gelaat het.

Net toe hy egter weer beweeg, bars daar twee skote van die kloof af op hom los. Dit weerklink teen die kranse en Kramer skree opgewonde, ‘Daar is iets!’

Die koeël uit een van die manne se vuurwapen fluit onheilspellend naby die Luiperdman verby. Hulle kan slegs ’n beweging in die bome waarneem en weer vuur hulle skote daarop af.

Leon kan die man wat hulle flussies so gemartel het ook nie meer sien nie, maar skat dat hy van die geleentheid gebruikgemaak het om te laat spat.

Die Swart Luiperd hoor nou skielik voetstappe onderkant hom. Hy kyk vinnig af en kan die skraal man met ’n vuurwapen in sy hand onduidelik sien. Die man is te voet en sluip die hoogte hoër op. Dit is egter duidelik dat hy geen benul het waar Leon hom bevind nie.

Tot die Luiperdman se ontsteltenis hoor hy Donker skielik runnik. Met die verwarring wat gevolg het, het die getroue Donker vinnig agter ’n plaat soetdoring gaan skuil. Die jongman, Bêrend, sien egter net die swart hings se kop. Deur die blareversperring is die saal op Donker se rug glad nie sigbaar nie.

Luid en opgewonde roep hy na die ander twee, ‘Kramer! Koert! Kom kyk gou! Hier is ou Wiekus Roos se kosbare swart Russiese hings – en ons lê so lank agter hom.’

Bêrend se stem is oorlaai met opgewondenheid en agter sy masker frons die Luiperdman. Die man se woorde is vir hom nog ’n raaisel. Hy besef egter dat hy vir Donker moes raakgesien het.

‘Wat!’ roep die ander twee uit en die Luiperdman hoor hoe hulle die klein klofie na Bêrend uit storm.

Donker trippel senuweeagtig rond. Dit is duidelik dat die dier verward en verbouereerd is. Sy mensmaat is nêrens te sien nie. En die dier weet instinktief dat sy maat in gevaar verkeer en dan sal hy nooit op die vlug slaan nie, tensy sy baas hom beveel.

Ook die Swart Luiperd is vir ’n oomblik uit die veld geslaan. Hy sien hoe ook die ander twee manne onder hom deurstorm, nou feitlik genees van hul Boesmanvrees. Hulle steek langs Bêrend vas en vir ’n oomblik kan die Swart Luiperd net hulle asemhaling hoor.

Eindelik verbreek Koert die stilte, ‘Hemel, Kramer, wat ’n mooi dier! ’n Hings in die fleur van sy jare. Indien dit die Russiese hings is, sal die Valk ons eenvoudig omhels as ons hom aankeer. ’n Wonderlike dier, kyk die nekspiere – maar dit is nie die hings waarna ons nog altyd soek nie, Kramer. Ewentwel, dis ’n pragperd en maklik eenduisend-tweehonderd pond werd.’

Kramer lag skielik, ‘Is julle gek, kêrels. Kan julle nie sien dat die dier opgesaal is nie? Daar kom hy nou heeltemal agter die bos uit.’

Vlugtige blikke word tussen die drie gewissel. Dit is nie nodig om te praat nie. Hulle weet nou dat hier iemand in die nabyheid is wat met pyl en boog skiet.

‘Ek laat my nie vertel dat ’n plaaswerker so ’n perd besit nie, mense,’ kom dit van Kramer af en hy kyk vlugtig rond.

‘Probeer daardie perd vang, Bêrend!’ beveel Kramer en sy arendsoë kyk nog in die omgewing rond. Sy oë soek in die boomtoppe.

’n Takkie breek skielik onder die Swart Luiperd se gewig in die boom skuins bokant die manne.

Plotseling vang Kramer se oë ’n beweging en dan bespeur hy Leon en hy trek sy asem skielik vinnig in. Sy rewolwer wat hy ’n oomblik gelede omhoog gehou het, gereed om te skiet, laat sak hy vir ’n oomblik. Sy mond gaan oop van verbasing en opeens pak ’n benoude vrees die geharde man beet. Hy kan sy oë byna nie glo nie! Daar in die mik van die boom is ’n ding met die kop van ’n luiperd en die liggaam en bene van ’n mens soos hy.

‘Kêrels, kyk!’ kom dit hees van Kramer.

‘Skiet die ding!’ gil Bêrend.