GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/owuzlz-ek-kom-vannag-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Ek Kom Vannag!

— Hoofstuk 1 —

Donker Vloedwaters

Die waters van die rivier is vannag soos ’n groot reus wat onrustig slaap, soos ’n monster wat worstel met vreesdrome. Daar is die luide geklots van water teen die rotsagtige walle aan, byna soos die spattende branders van die see. Van vroeg af al, lank voordat die son agter die horison verdwyn het, bulder die rivier voort, maal dit om die klein eilandjie waarop daar ongeveer twintig mense in tente woon.

Voor een van die grootste tente kletter ’n vuur. ’n Paar mans sit op stompe om die vlamme geskaar. Party kyk diep en aandagtig in die gloeiende kole; ander praat binnensmonds en fluisterend met mekaar. Om hulle heen lê die bosse van die eiland.

Met sy rug teen ’n rots aan geleun, is een van die manne besig om sag en eentonig op ’n mondfluitjie te speel. Dit is ’n ou-ou bekende lied, maar daar is weinig van die ander wat die woorde ken. Daar is egter enkeles wat poog om die wysie saam te neurie.

Die opflikkerende vlamme teken lig- en skaduwee-patroontjies op die gelaat van die persoon wat die fluitjie hanteer. Hy staar na die sterre bokant hom terwyl hy die musiek voorttower. Daar is diep groewe op sy voorhoof; sy blonde hare hang los en deurmekaar. Telkens stryk hy met lang vingers daaroor om dit effens reg te stoot. Dan gaan hy maar weer voort met sy musiek en sy drome – en met sy gedagtes, wat vanaand die ene verwarring is.

Dit is nie koud nie. Inteendeel, die windjie bied vanaand welkome verkwikking. Dit is sommer gewoonte om saans tot taamlik laat in die gesellige atmosfeer van die vlamme te sit en te dink.

Ren Cillié haal die mondfluitjie uit sy mond. Hy klop dit teen die palm van sy regterhand uit, vee met die agterkant van sy hand die vog van sy lippe af en beweeg dan nader aan die lig van die vlamme. Daar word nie vanaand veel gesels nie.

’n Entjie van die groepie mans om die vuur staan drie persone in uniform. Die geweers oor hul skouers is duidelik sigbaar. ’n Enkele oomblik lank kyk Ren in die gewapende manne se rigting.

Reeds tien jaar lank sit hy op hierdie eiland met wraakgedagtes wat onverminderd bly kolk binne-in hom; nog nooit het die wraaklus verminder nie, nooit het die gedagtes aan weerwraak hom verlaat nie. Inteendeel, dit het hom al nagte lank uit die slaap gehou. In die koue winteraande en gedurende die lang somernagte, wanneer dit te bedompig is om aan die slaap te raak, het hy sy wraakplanne oor en oor lê en bedink. Hoeveel keer in hierdie tien jaar het hy nie al die man wat hy so intens haat, doodgefolter nie!

Ja, dink Ren Cillié, wraaklus wat nie gekoel kan word nie, maak seer, dit pynig aanhoudend, dit maak ’n mens rusteloos; immer-rusteloos, soos die bruisende waters wat vanaand om die walle van die rivier bulder.

Van die dag af dat hulle hom onskuldig hier op die eiland saam met ander wetsoortreders en misdadigers kom instop het, het hy geweet dat sy wraakgedagtes nie van hom sal wyk nie. Veral die wete dat die man wat vir die dood van Leonora Maree verantwoordelik is, nog op vrye voete verkeer, was ’n vretende kanker aan sy siel. Dit het hom veel meer gepynig as die wete dat hy vir die res van sy lewe hier ingekerker sal wees, en dit vir ’n misdaad wat hy nie gepleeg het nie.

Deur sy wraaklus daartoe aangedryf het hy reeds twee keer probeer ontsnap, maar hy het nie daarin geslaag nie, en dit het hom nog verder gebrandmerk as ’n opperste skurk wat goed dopgehou moet word. Trouens, hulle hou hom fyner dopg as enige van die ander gevangenes.

Sedert enkele weke gelede het hy egter die duidelike voorgevoel dat die dag van wraakneming nou voorhande is. Nie meer rank nie, dan sal hy die moord op Leonora kan wreek, sal hy Casper Duvenage kan opspoor en met hom afreken.

In die afgelope paar weke het hy planne beraam, het hy diep in die nag lê en rondrol, lê en dink. Vandat die rivier begin afkom het, was die wagte op die eiland minder waaksaam. So na middernag dut hulle al drie gewoonlik in. Hulle weet dat nie een van die geharde misdadigers wat hier op Kanoneiland hul straf moet uitdien, pogings sal aanwend om deur so ’n onstuimige rivier te swem nie.

Ren staan op, en ’n enkele oomblik rus sy bruin oë weer op die wagte wat met hul rûe na die vuur toe staan. Sy hempsmoue is hoog opgerol en vertoon sy gespierde arms. Danksy die swaar werk wat hulle hier op die eiland moet doen, het hy sy ou kragte behou, selfs nuwe kragte gewen.

Een van die mans om die vuur mompel binnensmonds, ‘Ek sê, ou Ren, speel vir ons nog ’n wysie, asseblief.’

Ren hoor hom egter nie. Die lig van die vuur vertoon ’n paar sweetdruppels wat nou stadig van tussen sy hare uit oor sy voorkop biggel. Dit is skielik asof hy baie warmer kry; sy gedagtes is ineens ’n verskriklike maalstroom. Dit is asof hy plotseling voel dat sy kans om te ontsnap vannag daar is.

Ja, hy het reeds besluit; vannag as die wagte slaap, as die ander misdadigers en moordenaars om die vuur of in hul tente opgekrul lê, sal hy afsluip na die rivier toe; hy sal die malende waters aandurf en hy sal nie dink aan die dood nie. Hy sal net dink aan sy weerwraak wat so heerlik sal wees. Miskien kom hy nooit weer uit die rivier nie. Dalk sal sy liggaam afgesleur word tot by die waterval waar hy ru na benede geslinger sal word om hom onder teen die rotse te pletter te val. Maar dit sal immers verkiesliker wees as om langer hier ingehok te sit en voortdurend die pyn te moet verduur van ’n wraaklus wat nie gekoel kan word nie.

Ren hoor nie hoe ’n paar ander tronkvoëls hom gretig vra om musiek te verskaf nie. Dit is elke aand se ding hierdie, maar dit is asof hulle vanaand gulsiger as gewoonlik is om die musiek in te drink, al is dit nie eens by benadering hoogstaande musiek nie.

Hy draai skielik om en loop in die rigting van sy tent. Die ander staar hom agterna en ’n ouerige man, wie se hare al grys is, spu ’n streep pruimtabak tussen die gloeiende kole en laat dan hoor, ‘Daardie man raak nog van sy kop af. Kry hom tog so jammer. Hy is die kluts kwyt en hy is nog so jonk. Maar so moet ’n mens boet as jy ’n ander se lewe neem. Ek hoor mos,’ gaan hy voort, asof hy iets aan die manne om hom sê wat hulle nog nooit gehoor het nie, ‘dat hy sy nooi vermoor het. Dit is verskriklik! En nou moet hy boet; en die Voorsienigheid straf hom nog verder deur toe te laat dat sy kop elke dag al hoe meer draai. Ja-nee, ek het nie eens ’n moord gepleeg nie, en hier sit ek.’

Die spreker vee met sy hand oor sy hare en weer blits ’n geel streep deur sy tande na die vuur toe.

Met ’n slaperige stem antwoord ’n breedgeskouerde man die oubaas, ‘Maar Ren sê mos dat hy nie so iets gedoen het nie, hy sê mos dit was nie hy nie.’ Hierdie woorde kom dralerig oor die gevangene se lippe, asof hy reeds effens begin insluimer het.

Opeens tree een van die wagte nader en skree ’n bevel uit, onderwyl ’n ander een skril op ’n fluitjie blaas. ‘Slapenstyd! Kom, julle! Dit is al laat!’

Traag staan die groepie manne van hul sit- en lêplekke op. Stram litte kraak, en dan beweeg hulle skoorvoetend in die rigting van die verslete matrasse in die tente.

Ren Cillié het hom reeds op sy rug op die matras uitgestrek. Sy hande is albei onder sy hoof ingevou, sy oë staar strak na die tentdak en sy ore luister na die wilde, onstuimige lied van die rivier.

Besonder traag sleep die minute verby; en eentonig bruis die rivier voort. Enkele gevangenes se asemhaling is reeds diep. Hier digby Ren is een besig om snorkgeluide te uiter.

Ren lig hom op sy elmboë en tuur in die donker rond. Weldra raak sy oë gewoond aan die duisternis en sien hy die slapende gestaltes van twee-drie manne. Hulle lê roerloos; na ’n taai dagtaak slaap hierdie tronkvoëls gewoonlik vas.

Sonder enige geluid staan Ren op. ’n Oomblik staan hy roerloos langs sy matras. Hy rek sy litte effens, vee dan sy hare agteroor en stap geruisloos tussen die slapendes deur. Met sy regterhand stoot hy die seil opsy en sluip die volgende oomblik na buite.

Vlugtig kyk hy in alle rigtings. Daar is geen enkele beweging op die eiland te bespeur nie. Ren Cillié se hart klop hoorbaar agter sy ribbekas.

Op ’n matras in die ligkring van die vlamme lê twee van die wagte in hul volle mondering en slaap. ’n Paar treë van hulle, met sy gesig op sy hande, sit die derde wag op ’n stomp hout. Sy geweer lê langs hom op die grond.

Ren bal sy vuiste en voel hoe die spiere op sy voorarms hard word; sy oë is op skrefies, sy lippe effens van mekaar en sy asemhaling onnatuurlik hard en onreëlmatig. Hy buk vinnig, tas in die duisternis rond na ’n klip of ’n slaanding. As hy in hierdie onstuimige nag wil wegkom, sal hy daardie wag op die stomp moet oorrompel en neerslaan sonder dat die ander twee wakker word. Slaag hy daarin, dan is dit nog net die rivier met sy monsterkrag wat tussen hom en die vryheid daarbuite lê. Net ’n rivier in volle vloed tussen hom en sy wraakplanne!

Ren se vingers tas egter geen klip raak nie. Elke môre word die grond rondom die tente skoon gevee. Daar bly dus net een wapen oor – sy vuiste!

Hy was agttien jaar oud toe hy op die eiland aangekom het; uit die hof het hulle hom in ’n histeriese toestand hier aangebring; hy was kranksinnig van woede, haat en wraaklus. Nou is hy reeds agt-en-twintig. Dis nou reeds tien jaar sedert hy laas sy vuiste gebruik het, maar as hy sy vryheid wil hê, as hy vannag wil loskom uit hierdie ingekerkerde hel, sal hy moet slaan om dood te slaan.

Sonder om verder na te dink sluip hy vinnig nader, gaan by die vuur verby en is die volgende oomblik slegs ’n tree van die wag, wat nog steeds met sy hoof vooroor geleun op sy hande sit, af. ’n Geritsel moet Ren se teenwoordigheid verraai het, want skielik lig die wag sy kop op. Op daardie oomblik het Ren se regtervuis egter reeds vinnig vooruit geskiet. Hy voel hoe sy kneukels diep in die vlees op die man se bolip inbyt. Die wag uiter geen geluid nie, maar gryp Ren haastig om sy lyf vas en probeer hom agteruitslinger in die rigting van die gloeiende kole. Ren kners egter op sy tande en bring sy linkervuis vinnig op. Dit tref die wag op die kakebeen. Die man val slap agteroor en, met iets soos ’n snorkgeluid, skop Ren na sy maag. Daar is net ’n nouliks hoorbare kreun en ’n dowwe plofgeluid toe die liggaam langs die vuur neerstort.

Ren kyk nie eens om om te sien of die ander twee wagte wakker geword het nie. In malle vaart hardloop hy in die rigting van die rivier, reg op die plek af waar die malende waters nie so breed vloei nie. Sy liggaam skeur tussen die doringbome deur. Met hygende asem spring hy oor slote en dongas. Hy voel nie hoe die doringtakke hom stukkend krap nie. Sy kakiehemp is reeds feitlik van hom afgeskeur. Maar niks mag Ren vannag stuit nie, nie eens die bruisende, koue water van die rivier nie.

Die nag is so verskriklik donker dat Ren geen duidelike beeld van die voorwerpe voor hom kan kry nie. Dit is asof ’n sesde sintuig hom tussen die rotse en bome deur stuur. Hy ken reeds elke bossie en klip op hierdie eiland, en hy weet dat hy binne enkele sekondes op die wal van die rivier te staan sal kom.

Die gebulder word al harder!

Soos ’n waansinnige steek hy enkele sekondes nadat hy die wag oorrompel het, op die oewer van die rivier vas. Bruisend en kolkend storm en jaag die waters aan sy voete verby. So donker is dit dat Ren nie tot aan die oorkant kan sien nie. Aan die oorkantse oewer is die nag nog swarter as op die plek waar hy nou staan.

Die volgende oomblik raap Ren hom op en soos ’n boog skiet hy deur die lug. ’n Paar treë van die oewer af raak sy liggaam die water. Dadelik is dit asof sterk arms hom gryp en hom afwaarts sleur. Met kragtige hale swem Ren skuins stroom-af. Die vloedwaters voer hom egter vinnig in die rigting van die waterval. Maar in hierdie oomblik hoor Ren nie eens die dreigende gebrul van die vallende waters oor gladde klippe nie. Kragtig skop hy met sy voete, vasberade wring hy sy liggaam – en stadig maak hy vordering.

Enkele kere voel dit vir hom asof sy liggaam afgetrek word na die diep koeltes onder hom. Sy spiere voel reeds moeg en lam en die kolkende waters is ysig koud; dit byt deur sy ledemate, maar Ren beur vasberade voort. Nog tien treë en hy sal die oorkantse wal kan betree. Maar dit is asof die vloedwaters hier kragtiger aan hom trek en ruk.

Skielik druk die water hom ru teen ’n stomp hout vas. Ren gryp vinnig en krampagtig na die voorwerp, omklem die ruwe bas van die hout. Nou word hy in malle vaart stroom-af gevoer. Die stomp is die oorblyfsel van ’n ontwortelde boom wat êrens hoër in die rivier-op deur die waters afgeruk is.

Ren voel ook meteens hoe hy by takke verby dryf; ’n paar daarvan skraap hom deur die gesig en oor die lyf. Nou weet hy dat hy nie ver van die wal af is nie. Sy asem jaag skerp deur sy bors. Hy kan duidelik voel hoe sy kragte vinnig begin afneem, maar hardnekkig klou hy aan die boomstomp vas. Met sy een hand gryp hy na die takke wat telkens geniepsig teen hom slaan. Maar die krag van die meesleurende waters laat hom nie toe om hom met behulp van een van die takke nader na die wal toe te trek nie. Ren gooi egter nie tou op nie.

Enkele treë verder gryp hy met albei hande aan ’n dikkerige tak van ’n wilgerboom. Die stomp ruk onder hom uit, skeur die vel van sy bene af. Dit voel asof Ren se arms van sy liggaam afgeskeur word, so geweldig ruk die water aan sy liggaam. Ren klou egter om lewe en dood. Met bo-menslike kragsinspanning trek hy sy liggaam met die tak stadig na die wal toe.

’n Oomblik later raak sy voete vaste grond. Hy kom op sy hande en voete te lande en kruip uitasem en byna flou van inspanning teen die skuinste van die wal op. Sy klere is natuurlik sopnat en is boonop feitlik aan flenters geskeur. Sy broek klou koud teen sy bene vas. Ook daarin het die takke geniepsige winkelhake geskeur. Uitgeput sak Ren Cillié onder ’n boom neer.

Etlike oomblikke lank lê hy met sy kop op sy voorarms – en ’n paar treë onderkant hom bulder en raas die waters van die Gariep verby.

Dit juig binne-in Ren Cillié; die een gedagte flits deur sy brein, Ek is vry! Ek is nou vry om weerwraak te neem; om die moordenaar van Leonora, die meisie wat ek in my jeugjare so intens bemin het, met sy lewe te laat boet. Die gereg het my, Ren Cillié, onskuldig vir die moord laat boet.

Ja, die getuienis teen hom was immers oorweldigend. Daar was die getuienis van Casper Duvenage – die eintlike moordenaar en die man op wie Ren se wraakgedagtes toegespits is – valse getuienis! Daar was die getuienis van Leonora se vader, Paul Maree; en daar was ook die verdraaide getuienis van hul makker, Lodewyk van Rensburg.

Vinnig staan Ren op. ’n Ligte windjie waai koud en klam teen hom aan. Sy hele liggaam bibber. ’n Hees geskree agter hom laat hom skielik omswaai.

Dan plooi ’n breë glimlag om Ren Cillié se mond. Aan die oorkantse wal op die eiland sien hy ’n paar fakkels wat soos verdwaalde, reuse-vuurvliegies tussen die bosse deur dartel. Die wagte is op sy spoor!