GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/owcjka-die-mense-van-die-meer-3.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Die Mense van die Meer

— Hoofstuk 3 —

Die Slymerige Vismanne

Leon skeur deur die riete en die modder tot aan die oewer van die meer. Sy oë trag om die duisternis te deurpriem, maar dit is of daardie ding of wese wat hier in die meer tussen die klowe boer, spoorloos verdwyn het. Die Swart Luiperd hurk laag neer. Voor hom wieg die water asof dit iets lewends is wat sag asemhaal.

Simson en Spikkels skrik toe ’n groot voël digby hulle tussen die riete opfladder en met wydgespreide vlerke die meer oorsteek na die rotse aan die oorkant.

Agter hom roep Sonet en die ander weer hees en gedemp na hom. Die man wat die Swart Luiperd vandag as dood hier langs die waterkant opgetel het, het nou effens tot bedaring gekom. Maar hy praat nog een strook deur en die Luiperdman hoor dat Pienaar aanhoudend verwys na ‘Vismanne.’

Hy besluit om terug te gaan. Hy kan egter nie verstaan hoe hierdie waggelende gedierte aan die kloue van die luiperds kon ontkom het nie. Aan die houding van sy tiers kan hy egter sien dat hulle nie graag langs die waterkant wil vertoef nie. Dit moet dus ’n buitengewoon vreemdsoortige ding wees wat hulle so flussies bevlieg het.

Die Swart Luiperd volg die eend-agtige spore terug na die kamp toe. Toe hy naby die kamp kom, merk hy dat die eendspore regs swenk en weldra is dit vir hom duidelik hoekom die tiers die gedierte of gedrog nie betyds bespeur het nie. Die eend-ding het teen die wind op beweeg en van klip tot klip nadergesluip om die arme Pienaar, wat in ’n diepe beswyming verkeer het, te probeer wegdra. Dit is ’n bestiering dat die arme Pienaar op daardie tydstip geskree het. Die warmte van die vure moes die bloed in sy are weer nuwe lewe gegee en sy verkluimde liggaam opgewarm het. Stadig het die dus lewe teruggevloei.

Sonet staan die Luiperdman met wydgesperde oë en inwag. Sy gryp hom aan die arm en met bewende stem laat sy hoor, ‘Dit is verskriklik, Leon. Ek is nie net meer bang nie, maar amper seker dat ons nie lewend hier sal uitkom nie. Kom hoor wat Pienaar te sê het. Dit is verskriklik. Ons het almal gedink dat hy dood is. Ek dink hy is half-histeries.’

Vinnig loop die twee na die res van die geselskap toe. Venter het nog hout op die vuur gegooi. Die Pigmeë staan angsbevange onder ’n oorhangende rots. Dit is vir die Luiperdman duidelik dat hulle enige oomblik die hasepad kan kies en paniekerig sommer ’n koers inslaan.

Toe een van die Pigmeë die gemaskerde figuur sien, roep hy byna luid uit, ‘Ek het hom gesien, Luiperdman, ek het hom gesien. Dit is ’n ding soos ’n vis, met skubbe aan en die modder van diep uit die meer het aan sy vel gekleef.’

Die ander verstaan dit nie. Strak staar Venter na die meer daar in die donkerte tussen die riete waarvandaan daar nou hoegenaamd geen geluid kom nie. Sonet kleef nog aan die Luiperdman se arm vas, asof sy in hom die enigste beskerming soek.

Pienaar se lippe bewe en hy staan nou al nader na die vuur toe. Hy is nog die ene modder, en bleek, asof hy ’n herrysenis uit die dode is. Pienaar staar met ’n groot mate van angs na die gemaskerde figuur hier voor hom. Daar warrel verwarrende gedagtes deur hom. Die feit dat Sonet egter die gemaskerde figuur aan die arm beet het, verhoed dat hy andermaal, oorheers deur die vluginstink, blindelings wegstorm. Opeens skree-praat Pienaar weer, ‘Ek sal liewer in die hande van die Monga’s val as in die slymerige kloue van daardie eendvoetige, skubberige meer-mense. Julle moet dadelik hier weg. Ons sal deur hulle oorrompel word. Hulle is desperaat van honger. Hulle verslind alles wat voorkom. Die res van die geselskap is in die meerdieptes ingesleur – ’ Hy hou skielik op en met op en neerhygende bors, tuur hy na die Swart Luiperd.

Sonet tree vorentoe, haar hand voor haar mond, en die Swart Luiperd hoor Venter agter hom sug, ‘O, God, is hulle almal dood – is hulle – ’ maar verder kom hy nie, want Sonet val hom hortend in die rede, ‘Marie de Villiers ook?’

‘Ja – ja,’ kom dit van Pienaar, ‘ek wil hier weg.’

Die Swart Luiperd staan agter Sonet; Pienaar gluur hom aan; daar is iets soos kranksinnigheid in sy oë te lees – glaserige, bloedbelope oë.

‘Wie is hy – wie?’ bulder Pienaar dit uit en wys met ’n bewende vinger na die Luiperdman met die masker. Pienaar se gedagtes warrel en draai; sy liggaam voel verkneus en seer – asof hy reeds in die hel van ’n kranke gees verkeer, asof hy gestaltes, gedrogte en gesigte sien wat werklik nie bestaan nie.

Venter gryp Pienaar aan die hand en Sonet vra pleitend, ‘Moenie so te kere gaan nie, Pienaar! Hierdie is ’n maat, ’n getroue vriend van ons. Hy het maar net ’n masker op. Hy sal ons help om hier uit te kom. Hy is die enigste een wat dit kan doen.’ Haar stem bewe, maar dit is eensklaps of daar ’n soort kalmte oor die ongelukkige Pienaar vaar.

Hy sink langs die opgloeiende vuur neer; bibber, lê ’n rukkie stil en rig hom dan weer orent.

‘Vertel ons wat presies gebeur het, Pienaar,’ laat Venter hoor. In die lig van die flikkerende vlamme is daar duidelik naamlose vrees op sy gelaat te lees. Hy kan dit nie begryp nie, nie verstaan dat die hele geselskap daarmee heen is nie. Ewe-as Sonet is dit vir hom onmoontlik om te verstaan hoe Pienaar nou weer in staat is om te praat, histeries te wees, en netnou nog het hulle hom almal as dood gewaan. Selfs die Swart Luiperd kan dit nie reg verstaan nie.

‘Ek weet nie meer presies nie, maar al wat ek kan onthou, is dat ons ’n bietjie verder op in die kloof, verby die meer, kampeer het. Die eerste nag het ons ’n aaklige geluid gehoor. Dit was so afgryslik – die gesigte van daardie meerbewoners, hul waggelende gang, en die half-vooruitstaande tande. Ek het net gesien hoedat hulle ’n paar van ons manne soos miere toepak. Drie-vier van die slymerige, skubberige gediertes het my beetgepak, en ek dink ek het my bewussyn verloor nog voordat ek enige letsel opgedoen het – daarna weet ek niks. Ek het nog vir laas vir Marie hoor skree en ’n skoot hoor knal. Dis al. Ek is seker die laaste een is die dieptes van die meer ingesleur. Ek weet nie wanneer julle hier aangekom het nie, maar ek het vir die eerste keer weer my bewussyn herwin toe ek daardie modder-asem teen my voel aanblaas en toe het ek gegil – Waar op Gods aarde kom julle vandaan, Venter? Mejuffrou Beukes, ek dag dat die Monga’s julle teen hierdie tyd al afgeslag het.’

Sonet Beukes vertel vinnig, met hortende asemhaling, en met bleek, modderbespatte gesig, luister die dooie man.

‘Ons het gedink jy is dood,’ laat Sonet hoor. ‘Almal het so gedink, en hier staan jy – ’

‘Moet nie vra wat gebeur het nie. Ek dink die vrees en die afgryslike gesig – ’

‘Dit is ’n soort koma waarin jy verval het, Pienaar, ek dink so,’ is Venter se kommentaar, en die Swart Luiperd skud sy kop bevestigend, ‘’n soort skyndood as gevolg van die geweldige skok.’

Pienaar begin weer verward rondkyk, en dan rus sy blik lank op die rondwiegende meerwaters.

‘Daardie vis-mensgediertes kan enigeen miskien in ’n skyndood laat verval. En ek smeek julle dat ons tog weggaan van hierdie verdoemende meer. Julle moet na my luister!’

Die Swart Luiperd kan sien dat dit die man die ene erns is, dat hy eintlik bibber en beef by die gedagte dat hulle daar moet oornag. Dit is egter reeds ver na middernag. Hier in die donker kloof is dit bykans onmoontlik om vas te stel of die rooidag al effens aan die breek is.

‘Laat ons maar tot môre hier bly, Pienaar,’ spreek die Luiperdman die tot-die-dood-geskokte man aan. ‘Môre sal ons verder trek, weg van die meer af.’

Dit is egter geensins die Luiperdman se idee nie. Hy wil ten alle koste uitvind wie die vismanne is en hoe hulle lyk. Dit is nou avontuurlus en nuuskierigheid wat hom prikkel.

Onder die oorhangende krans staar die Pigmeë na die Luiperdman en na die hele geselskap. Dit is of elke druppel moed hulle begewe het. Hulle sien dat die Luiperdman stip na hulle staar en dan kom Leon se stem hol-bevelend, ‘My krygers, van wanneer af het julle bloed water geword en julle spiere soos pap? Is julle pyle nie skerp genoeg nie? Het julle julle leeueharte verloor; klop daar nou die swak hart van ’n dassie agter julle ribbes? Kom uit daar!’

Die Luiperdman se bevelstem weerklink deur die klowe. Die dapperste gehoorsaam; stadig, huiwerig.

‘Moenie,’ maan een van dié wat nog skuiling hou onder die rotsskuinste, ‘moenie, daardie manne in die meer is deur die toordokters van die Monga’s gestuur om wraak te neem. Laat ons liewer teruggaan, my broers – ’

Maar die Pigmee het sy sin nog skaars voltooi of weer deurklief Leon se stem die duisternis en laat die nagdiere teen die hange van die gapende rotssteiltes swyg. ‘Julle Pigmeë is sterker en dapperder as die Monga’s, al is julle kleiner van gestalte. Die Monga’s is nie bang vir die mense van die meer nie – want is dit dan nie in die land van die Monga waar ons nou vuurmaak nie. Hulle, die Monga’s, bly hier naby die meer – die meermanne is miskien hul slawe – hulle regeer die meermanne met hul strydbyle, en het julle nie vandag gesien dat julle pyle die strydbyle stomp gemaak het nie?’

Die Swart Luiperd se stem is gesag-inboesemend en geheimsinnig in hierdie donker uur. Een vir een kom die Pigmeë uit. Hulle kom nader na die Luiperdman toe; lê hul wapens voor hom neer en buk laag voor hom. Pienaar se oë peul byna uit hul kaste uit. Vir hom, wat reeds met hierdie wilde, wrede dwergras van die oerwoud kennis gemaak het, is hierdie toneeltjie iets vreemds, fantasties. Hy skud sy kop, vryf met ’n vuil hand oor sy voorhoof om seker te maak dat hy nie nog in ’n afgryslike droomwêreld verkeer nie. Vir Sonet en Venter is hierdie optrede ook vreemd, onverstaanbaar. Maar die Pigmeë se harte het weer dapper geword onder hierdie woorde.

‘Ons gaan nou, terwyl dit nog donker is, na die meer toe, dapper Pigmeë. Ons gaan uitvind watter bose magte die Monga’s hierin die meer aanhou. Maak jul pyle skerp, en sorg dat daar genoeg gif aan is om die slymerige vismanne dood te maak. Ons sal die Monga’s wys, my dappere Pigmeë.’

Die Pigmeë lig hul boë omhoog. ‘Luiperdman, ons is saam met jou – ons voel klein dat ons ’n oomblik lank die Monga-magte gevrees het,’ bulder een van hulle.

Leon wend hom nou na Venter, Pienaar en Sonet. Hulle staan aldrie nou baie naby aan die vuur, en Venter gooi telkens ’n stomp hout in die omhoogknetterende vlamme.

‘Sonet, jy en Venter en Pienaar moet goed luister – ’

‘Asseblief, moet nie dat ons hier bly nie,’ kom dit bars-smekend van Pienaar af. ‘Die goed sal by julle verbysluip, en ons – ’

‘Basta, Pienaar,’ laat die Luiperdman egter hoor. ‘Jy sal sien wat my doel is. Julle moet nie slaap nie. Ek laat Donker by julle agter. Gee Pienaar een van jou geweers, Venter, en laat Sonet die rewolwer gebruik. Hierdie geheim van die vismanne moet opgeklaar word. Ek sal as prooi dien – ’

Toe Leon hierdie woorde uiter, wil Sonet hom vinnig vra om dit nie te doen nie, hom vra wat hy bedoel met sy woorde, maar die Swart Luiperd roep reeds op sy tiers. Die twee spring flink agter die Luiperdman aan.

Dit is egter duidelik dat hulle glad nie te gretig is om weer meer se kant toe te beweeg nie. Toe die Luiperdman die riete vat, is die twee luiperds geensins kort op sy hakke nie. Die Pigmeë loop egter dapper in verspreide orde agter Leon aan.

Die modder tussen die riete raas met ’n suigende geluid toe hulle daarop trap. Stadig, tot teenaan die meeroewer, vorder hulle. Die Swart Luiperd fluister sag aan die vier Pigmeë. Soos klein skaduwees sluip hulle weer ’n endjie tussen die riete in. Een vir een van hulle neem stelling in. Van waar hulle skuil, kan hulle vaagweg die gestalte van die Swart Luiperd uitmaak. Hulle sien hoe hy hom tussen ’n paar hoë grasse aan die walkant invroetel. Hy lê roerloos, asof hy dood is. Die Pigmeë frons hul wenkbroue. Hulle besef hoegenaamd nie wat die Luiperdman se plan is nie.

Die twee luiperds het ook tussen die riete stelling ingeneem. Met kwispelende sterte lê hulle na hul gemaskerde meester en kyk. Dit is weer daardie reuk wat na hulle toe aangewalm kom, waarvan hulle nie hou nie. Dit is ’n reuk wat vreemd is aan hul sintuie.

Die Swart Luiperd kon voorlopig met geen mag ter wêreld daarin slaag om die gespikkeldes nader na die wal toe te kry nie.

‘Nou ja,’ dink die Luiperdman onderwyl hy sy liggaam tussen die kranse op die modderigheid aan die kant uittrek, ‘indien hierdie goeters roofdiere is, of skubberige wesens is wat slapendes aanval of dooies, soos aasdiere, behoort ek nie lank te wag nie.’

Die Swart Luiperd kyk op na die hemelruim. Dit is of die sterre flouer word – ’n gewisse aanduiding dat die dag aan die kom is. Hy verbeel hom dat hy reeds voëlgefluit anderkant teen die kranse kan hoor en die geblêr van klipbokke of iets dergeliks. Hy spits sy ore om al die geluide op te vang. Die krieke en padda-gekwaak het reeds opgehou. Af en toe hoor hy ook die stemme van die mense by die kampeervure. Agter hom, egter, waar die Pigmeë en sy gespikkeldes op die loer lê, is dit tjoepstil.

Opeens verneem die Luiperdman ’n beroering in die water van die meer. Dit kan nie baie ver van die oewer af wees nie. Die Swart Luiperd wil egter nie waag om effens van posisie te verander nie. Hy lê asof hy dood is, maar in sy linkerhand het hy sy jagmes in gereedheid.

Die iets in die meer plas nader – dan kom daar ’n geluid soos van opborrelende water, ’n geluid byna soos die sagte, half-onderdrukte gekwaak van ’n padda.

Dan woel die waters digby hom skielik baie en iets ontpop uit die water. In die beter lig van die naderende dag, merk Leon ’n slymerige kop. Die grasse roer en slymerige hande gryp hom aan sy voete beet. Hy steek met sy mes na die vae gestalte, maar soos reuse-visse spring nog twee van die vreemdsoortige goeters uit die water uit. Die Swart Luiperd se liggaam word deur modderige hande omhels.

Blitsvinnig steek die Swart Luiperd na die liggaam wat die naaste aan hom is. Vir ’n siedende oomblik ontwaar hy ’n paddaslymagtige, modderige reuk. Sy mes sny diep in ’n skubagtige liggaam. Daar volg ’n snaakse, byna menslike geluid, duidelik deurdreng met pyn, soos die geluid wat hy vroeër in die aand gehoor het.

Maar nou voel die Swart Luiperd hoe hy stadig deur sterk, klewerige hande die water ingesleep word. Hy roep na die Pigmeë en sy luiperds, maar sy kop verdwyn reeds onder die water –