GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/otxdvn-die-eiland-van-die-blou-duiwels-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Die Eiland van die Blou Duiwels

— Hoofstuk 1 —

Gevaar uit die Dieptes

’n Rustigheid het oor die ganse oerwoud toegesak. Die son het sy laaste strale aan die aarde onttrek – die dagdiere begin reeds die veiligheid van hul skuilplekke opsoek. Daar is nog net ’n paar boskraaie wat in die hoë boomtoppe aan die sketter is, maar ook hulle sal weldra swyg en die oerwoud sal in ’n doodse stilte gehul wees. Die roofdiere sal dan uit hul lêplekke te voorskyn kom en hul jagtogte begin.

Die Swart Luiperd en sy maats het ’n stywe skof agter die rug. Dae aaneen trek hulle al oor die bulte en deur die bosse, onderweg na die Ooskus van Suid-Afrika. Daar is nog een begeerte by Leon Fouché, alias die Swart Luiperd, wat nog altyd onbevredigd gebly het – en dit is om oor die groot waters te vaar na onbekende lande en onontdekte eilande. Weliswaar het hy eenkeer al hierdie ervaring gehad, maar dit is nie genoeg vir hom nie. Nou, terwyl hy in die half-skemerte voortry, dink hy aan sy oom se woorde, ‘Man, bly hier op die plaas, hier is genoeg avontuur. En die hemel weet waarom jy nie trou nie!’

‘Nee, Oom, ek vrees die plaas is ’n bietjie mak vir my,’ het Leon lakoniek geantwoord en die volgende oggend op sy lang tog vertrek.

Leon klop sy ryperd op die nek, en Donker runnik. Die perd moet al baie moeg wees en die twee tiers is glad nie meer op hul gemak nie. Hulle grom diep uit hul buike, en die Swart Luiperd besef dat sy twee gespikkelde maats seker al baie dors en honger moet wees. En wanneer hulle honger word, is hulle moeilik beheerbaar al is hulle die makste tiers ter wêreld.

‘Nou gaan ons blaastyd kry, Spikkels en Simson!’ spreek die Swart Luiperd die twee ongeduldige tiers aan. Die luiperds kyk op na hul gemaskerde baas en kwispel hul sterte. Leon hou langs ’n breë stroom stil; ’n helder, kronkelende rivier hier in die oerwoud, omsoom met hoë bome en ritselende riete.

Die Swart Luiperd spring haastig van sy perd af. Hy het nie eens nodig om die dier na die water te lei nie; byna net so vinnig soos die twee mak luiperds, boesemvriende van die Luiperdman, loop hy die water storm. Gulsig slurp die diere die koel vog op. Donker staan kniediep in die water.

Die Swart Luiperd glimlag agter sy masker en val plat op sy maag; gretig, soos sy diere-maats, suig hy die water in. Dit is heerlik en verkoelend na die lang, warm dag.

’n Paar groot visse wat langs die wal onder die uitgroeiende boomwortels tussen paddaslym lê en wieg het, duikel vinnig die dieptes in toe Donker die stroom verder ingaan. Dit is asof hierdie helder waters vir hom te aanloklik is na die snikhete dag wat agter die rug is.

Opeens is daar ’n geraas in die riete oorkant die stroompie. Donker staan haastig troei, en die katte sak vinnig plat net waar hulle lê en suip. Die Swart Luiperd kom egter vinnig orent, en soos blits is die boog wat oor sy rug hang, uit en met sy regterhand gryp hy ’n pyl uit die pylekoker wat half onderkant sy linkerskouer hang.

Tussen die riete deur seil ’n tamaai krokodil die water in. Donker runnik senuweeagtig toe hy sien dat hy in doodsgevaar verkeer. Dit sal onmoontlik vir hom wees om betyds uit te kom voordat daardie dodelike kake hom vasgryp en die diep waters insleur. Hy staan reeds half lyf in die stroom.

Voordat die skurwe dier egter behoorlik die diep water in is, swiep ’n pyl uit Leon se boog en tref die koning van die waters op die skurwe, uitbultende ooglid. Die pyl bly daar in die horingagtige pantser sit, want daar was geweldige krag agter. Dit dring egter nie so diep in dat dit hom uit aksie stel nie.

Die krokodil swaai verwoed om en maak sy bek wyd oop, asof om na die pynigende ding in sy kop te wil hap. En dit is net waarvoor Leon gewag het.

’n Tweede pyl klief deur die lug. Dit word voortgedryf deur elke ons krag wat die Swart Luiperd se stewige boog, tot die uiterste toe gespan, daaraan kon gee. Die skerp punt sak diep agter in die krokodil se keel weg. Water spat na alle kante soos die skurwe waterbewoner, waarvan die bek soos ’n slagyster toegeslaan het, met sy stert rondklap. Bloed borrel bokant die watervlak uit toe die skurwe kop na onder toe wegsak.

Donker is nou in staat om die wal te bereik. Die Swart Luiperd gryp sy perd aan die toom vas en kalmeer hom. Hy sien ook nou elders ’n beweging in die riete, en ook op ’n derde en ’n vierde plek, en toe besef hy dat die plek vervuil is van krokodille.

Die Swart Luiperd staan aandagtig na die toneel voor hom en kyk. Daar is twee onmiddellike probleme wat hom in die gesig staar. Die eerste is hoe hy en sy diere oor die breë stroom sal kan gaan sonder om deur krokodille aangeval te word. Aanvanklik het hy gemeen hulle sal moet deurswem, maar dit is nou onmoontlik. Die ander vraagstuk is waar op dees aarde hulle in hierdie ruigtes van boomreuse aan die Ooskus gaan oornag en die nodige kos kry om die knaende honger in alvier te stil?

Tussen die hoë bome aan die anderkant groei hoë gras. Dit lyk vir Leon of dit eetbare gras vir die perd is, maar wat van sy twee ongeduldige, gespikkelde maats? Hulle sal geen tree verder gaan as hul mage nie baie gou volgestop word nie.

Maar buig of bars, hulle moet deur hierdie rivier! ’n Oomblik staan die Swart Luiperd in bepeinsing. Die telegram wat hy ontvang het, het gelui dat hy ’n sekere Coen Nols by die hawe moet ontmoet – en die afspraak is vir môre.

Hierdie Coen Nols is ’n matroos duisend, het Leon se oom vertel, maar hy weet nie of die man vertrou kan word nie. Hy is ’n veteraan van die Groot Oorlog.

‘’n Gedugte vent,’ het Leon se oom die man beskryf, ‘frisgebou en onverskrokke. Hy sal ’n man sommer baie gou keelaf sny. Waaroor wil jy saam met Coen Nols op hierdie see-ekspedisie gaan? Ek ken die kalant. Hy voer weer snaakse dinge in die skild – ’

Maar hierdie woorde het Leon nog meer nuuskierig gemaak om die man self te ontmoet. Leon het ’n telegram om meer besonderhede gestuur. Hierop het hy ’n brief van Coen Nols ontvang wat baie duister en vaag is.

Dit was ’n krabbelrige, byna onleesbare handskrif. Die brief lui:

Ek het al verskeie kere van jou dade ver neem – ek kan jou nie vertel wat die see-ekspedisie alles sal behels nie, maar vir jou sal dit seer sekerlik meer as interessant wees. Ek moet my manne vir hierdie avontuur uitsoek. En die eerste het ek dadelik aan jou gedink, want by die Noord-Transvalers en elders is jy byna legendaries. Dit is ’n gevaarlike toer, maar as ons slaag om te kom waar ons wil wees, sal jy ryklik beloon word.

Oor drie weke vertrek ons na die Eiland van die Blou Duiwels – waar skatte opgestapel is wat die hele Suidelike-Afrika sou kon koop –

Hierdie briefskrywer het geweet hoe om Leon te lok. Die Swart Luiperd het besluit om die lang afstand saam met sy diere-maats te onderneem – en môre is die dag van hul ontmoeting! Nols het gesê dat hy hom teen sonop by ’n klip-murasie baie naby die hawe-dorp sal ontmoet; dit is net links van die pad.

Soos die Swart Luiperd nou daar staan en nadink, hunker hy om te weet wat presies gaande is. Die Eiland van die Blou Duiwels! Wat op aarde sou dit beteken, of is dit werklik die naam van ’n eiland? Niks sal die Swart Luiperd keer nie – selfs nie die skurwe krokodille nie – om vanaand nog hierdie rivier oor te steek.

Die Luiperdman soek al langs die rivier op na ’n geskikte plek waar die water nie so diep is nie, om oor te kom. Die riete is ruig. Die Swart Luiperd loop voor, dan Spikkels, die wyfie-tier, dan Donker en op die perd se hakke volg Simson – nou protesterend omdat sy gemaskerde baas nie rus kry nie, en omdat hy brand van die honger.

Simson sien ’n paar rietbokke aan die oorkantse wal, en sy mond water. Was dit nie vir die gevaarlike skurwe skepsels nie, sou hy die rivier sommer probeer oorsteek het om hulle in die hande te kry. Die Luiperdman soek egter baie geduldig na ’n deurkomplek.

Leon steek skielik vas. Hier voor hom het hy iets gewaar. Dit is ’n groot houtvlot wat in die stroom lê. Dit lê egter vas aan die oorkantse wal.

Vlugtig kyk die Swart Luiperd om hom rond; agter hom grom een van sy tiers. Hy het miskien al waargeneem wat die Swart Luiperd nog nie opgemerk het nie. Nou eers sien die Luiperdman dat daar tussen die bosse deur ’n breë voetpaadjie na die plek toe lei waar die vlot lê. Hier moet dus mense wees. Op sy pad hierheen is hy gewaarsku dat in hierdie buurt nog stamme woon wat baie veglustig is. Die Swart Luiperd het egter nie verwag om hulle al hier teen te kom nie.

Die Luiperdman staan verskuil agter ’n digte bos om die wêreld eers te verken. Agter het sy tiers reeds neergesak aarde toe en Donker, gewoond aan hierdie soort lewe, staan ook doodstil en wag. Dit is of alvier aandagtig luister. Vir Leon was dit of hy in die verte stemme hoor, maar weldra besef hy dat dit maar die nouliks hoorbare gemurmel van water in die verte is wat oor kranse afstort.

Dit word al laat; donker, lang skaduwees kruip uit die bosse nader. Dit word koel en ’n snerpende luggie huiwer oor die landskap.

Die Swart Luiperd staan nog ’n oomblik en nadink, toe beweeg hy vinnig na sy perd toe en haal die een vangtou van die saalboom af. Hy gebied sy maats om hul skuilplek in die lang gras te behou en stap nader na die kant van die waterstroom toe.

Hy staan nou in die groot voetpad. Hy kyk ’n paar keer weer om hom rond, en die volgende oomblik swaai hy die tou bokant sy kop. Hy mik na ’n oorhangende droë boomtak aan die oorkant van die rivier. Die tou swiep met ’n boog deur die lug; anderkant kronkel dit om die boomtak. Die Luiperdman klim ’n ent teen ’n boomstam op aan die duskant, ruk die tou styf, en dan met een stewige, kragtige skopbeweging swaai hy oor na die anderkant toe. Aan die oorkantse oewer kom hy netjies op sy twee bene te lande.

Sonder verwyl los hy die tou en hardloop na die kant van die water toe. Donker, Simson en Spikkels het reeds in die rigting van die voetpaadjie beweeg.

Die Swart Luiperd neem een van die twee groot pale waarmee die mense waarskynlik die vlot na die oorkant toe druk, in sy hand vas. Hy druk die punt van die paal teen die wal aan. Een harde stoot en die vlot beweeg stadig na die oorkant toe.

Weldra stamp dit teen die wal aan waar die twee katte grommend en stertkwispelend die hele gedoente staan en aanskou, asof hulle weet dat hulle met hierdie ding na die ander oewer sal kan gaan.

Die Swart Luiperd spring vinnig van die vlot af en terwyl hy die vlot teen die oewer vashou, gebied hy, ‘Kom, Donker, vorentoe, my ou perd!’

Die perd huiwer, kap met sy voorpote in die half klammerige grond, proes en runnik baie saggies – ’n teken vir Leon dat sy rydier bang is om die vlot te betree. ’n Tweede bevel van die Swart Luiperd laat Donker egter nadertree sodat Leon in staat is om die toom beet te kry en die dier stadig van die vaste grond af op die vlot te lei. Dit sak dieper in die water in.

Een enkele ‘Kom, Simson! Kom, Spikkels!’ en die twee diere altyd so watersku, spring half aarselend aan weerskante van Donker op die vlot.

Die gespikkelde katte kyk met angsbevange oë na die rimpelende waters waaroor die vlot seil. Spikkels wil weer terug spring op die oewer, maar agter die masker klink die stem van die Swart Luiperd hol-bevelend. Die wyfie-luiperd kap met haar pote in die lug asof sy die Luiperdman wil afweer, maar gaan lê die volgende oomblik plat op haar maag met haar kop op haar pote.

Nou kom Leon weer orent en met die lang paal in sy hand stoot hy die vlot weer na die anderkant toe. Die spiere bult onder sy hemp. Die waterstroom draai die vlot effens skeef, maar Leon slaag daarin om die vlot op sy regte koers te hou.

Eindelik stamp die vlot teen die oorkantse wal. Donker laat nie hierdie keer op ’n bevel wag nie. Hy is bly dat hulle eindelik die oorkantse wal gehaal het. Runnikend gaan hy die bosse in, maar gaan steek dan skielik vas en rem terug. Voor hom het hy ’n geritsel gehoor.

Aan die houding van die twee gespikkeldes is dit vir die Luiperdman ook duidelik dat daar onraad is. Skuil daar iemand in die bosse voor hulle?

Die Swart Luiperd kyk vinnig af na die paadjie waarin hy staan. Daar lê die voetspore van mense nog vars. Met lang hale spring die twee luiperds agter ’n paar rotsblokke in. Op dieselfde oomblik kras daar weer iets in die ruigtes, en die volgende oomblik moet Leon laag buk om ’n werp-assegaai te ontduik. Daar volg ’n geskree en die gekraak van droë takke onder aanstormende voete.

Blitsvinnig duik die Luiperdman agter ’n klomp bossies in, waar hy maar yl beskut is. In ’n oogwenk is daar ’n pyl in sy boog. Twee-drie assegaaie val baie naby die plek waar die twee tiers hulle skuilhou. Nog ’n assegaai val tussen die bosse in waar Leon wegkruip. Dit is baie duidelik dat die aanvallers weet waar hy ingehardloop het.

Twintig treë voor die Swart Luiperd in die paadjie bars ’n viertal krygers skielik uit. Hulle storm huiwerend. Hulle het reeds van netnou af die snaakse kreatuur met die kop van ’n luiperd gesien.

‘Hy is ’n bose gees,’ hoor Leon die voorste uitroep in die taal wat die mense hierlangs besig en wat Leon al goed ken. Die kryger skree nog verder bevele uit.

Nou besef die Luiperdman dat daar opgetree moet word. Een van die mans draai om en hardloop in die rigting van Donker. Hy mik ’n hou, maar die assegaai verlaat nie sy hand nie – ’n pyl sing deur die lug daar van Leon se kant af en tref die kryger tussen sy twee blaaie. Soos ’n os wat ’n doodskoot uit ’n geweer gekry het, slaan ny neer. Die ander drie het dit egter nie gesien nie, en maak dit benoud vir die twee luiperds. Spikkels raap haar op, skoon paniekbevange, en grommend storm sy op ’n beter skuiling af.

Die Swart Luiperd kom dit dadelik agter dat daar nog aanvallers in die ruigtes skuil, want die assegaaie kom met tussenposes uit daardie rigting, en dit kom met mening.

Tot sy verligting merk die Swart Luiperd hoe Simpson ook die hasepad kies. Die knopkieries en ’n paar assegaaie wat na hom gewerp word val skadeloos agter hom.

Dit is of die veglustige skepsels met opset eers die tiers verjaag het. Die assegaaigooiers wat nog daar in die bosse skuil, swyg nou. Die drie wat reeds te voorskyn getree het, het knopkieries en skildvelle in die hande, maar een van hulle is besig om ’n paar van die assegaaie op die grond bymekaar te maak.

Aldrie kom nou nader – duidelik nog met ’n mate van onsekerheid en huiwering. Byna geruislose voetstappe is ook uit die bosse ongeveer twintig treë van Leon waar te neem. Die aanvallers is besig om hom te omsingel.

Die Swart Luiperd sien tot sy verligting dat die tou wat hy netnou om die naaste boom van die waterkant geslinger het, hier vlak by hom lê. Toe hulle met die vlot oorgekom het, het hy die ander punt in ’n bondel op die vlot neergewerp. As hy die tou in die kande kan kry, kan hy wegswaai van hierdie gevaarpunt af en dalk in die digte blare van die boom skuiling soek.

Met ’n wilde geskree storm die voorste drie krygers op sy skuiling af, met swaaiende knopkieries en skildvelle in die hande.