GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/omxgcx-gif-vir-die-hart-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Gif vir die Hart

— Hoofstuk 1 —

Geluide uit die Nag

’n Snerpende windjie skuur van die vlakte se kant aan. Aan die gesigseinder vlam so af en toe weerligte op. Alfred Neethling staan nou al langer as ’n uur voor die oop venster. Die bries waai die fyn gordyne telkens lastig teen sy wang aan. Dan stoot hy hulle maar net opsy en tuur weer in die kloof af tot waar sy oog die vaal van die woestynwêreld sien. Daar brand ’n vae onrus in hom vannag. Dit is seker al lank ná middernag. Uit ’n ander vertrek hoor hy die diep gesnork van ’n slapende. Dit is Koen Neethling, Alfred se vader, wat soos altyd diep en rustig en vas slaap asof die wêreld hom geensins hinder nie, asof hy al die jare nog nooit moeg geword het om hier eensaam in die voue van die Korannaberge te leef nie.

In al die jare wat Alfred hier saam met sy vader in die houthuisie langs die droë rivierbedding werk en woon, het hy nog nooit die ligte van donderweer soos vanaand gesien nie. Daar êrens oor die woestyn in die land van die Duitsers tussen die talryke mikaklippe sous dit seker vannag. As Alfred die lug diep in sy longe intrek, verbeel hy hom selfs dat hy die reuk van verkwikkende druppels op die dorre aarde ruik.

Die vlammende weerligte maak sy gedagtes nog meer verwarrend en dit is asof dit die knaende onrus in hom aanhelp. Hy is al moeg en sat vir hierdie omgewing. Hy het al soveel dae in die afgelope tyd by sy vader aangehou dat hulle heeltemal boswaarts moet trek om weer die beskawing te bereik. Van kindsbeen af klop sy hart warm om eendag ’n beesplaas te besit êrens in die omstreke van die verre Kuruman wat hy nog nooit gesien het nie, maar waarvan hy altyd gedroom het. Maar daar is net een ding waaraan Koen Neethling dink: Goud! Goud! En nog weer goud! Wanneer die fonteinwater geel en rooi onder die swart granietrots uitborrel, dan juig sy ou vader. Daardie geel kleur beteken vir hom skatte, rykdom, mag, en hoe meer hy van hierdie goudstof uit die water uit suiwer, hoe meer wil hy daarvan hê. Sodra die môrester in die ooste opgeklim het, moet Alfred vir Sieraad opsaal en met agt tabaksakkies vol goudstof oor die eindelose woestynwêreld, met sy eensame kameeldoringbome, voortworstel na die grens van Duits-Suidwes-Afrika. Hierdie soort werk ken Alfred al so goed. Dit is elke tweede week se ding. Dan is dit maar vir Sieraad opsaal, tussen die klowe deur trippel, die warm sand van die Kalahari-woestyn binne. En dan oor ’n paar dae kom hy in Rietfontein aan, die woestyndorpie op die grens van Duits-Suidwes. Daar gaan hy maar gewoonweg na die hotel toe en as die hotelbaas hom sien, is dit die ene vriendelikheid en toegeneentheid. Dan laai hy maar net die kosbare goudstof in die hotelbaas se kantoor af, draai so ’n rukkie in die klein stofbesaaide dorpie rond, doen die nodige inkopies en bestyg dan maar weer vir Sieraad om terug te gaan na die hut in die berge.

Hierdie soort lewe begin vir Alfred eentonig te raak. ’n Paar weke gelede het hy sy een-en-twintigste jaar bereik en hy voel vannag meer as ooit tevore dat die vertes na hom roep. Hy wat Alfred is, is nie gebore om hier so stil te sit en weg te kwyn tussen die rotse en sandvlaktes nie. Vir ’n jong man soos hy is daar onbekende dinge wat roep, is daar ’n swerwerslus wat nou reeds sterker deur sy are vloei.

Hy sou al lankal die wapad gekies het in ’n oostelike rigting, maar dit is net Koen Neethling wat hom hier hou. Koen, ’n kortgeboude, fris mannetjie van in die vyftig, is met hierdie plek getroud. Hier by die waterbronne in die berge waar die goudstof uit die dieptes van die aarde uit opspoel, kry ’n mens hom nie weg nie. Alfred bereken dat sy vader teen hierdie tyd etlike duisende ponde in die bank moet hê, maar nog is sy goudhonger nie gestil nie. Soms kom dit vir Alfred voor asof sy vader nie meer heeltemal normaal kan dink nie, asof hy hom nie juis steur aan die klinkende munt wat hierdie goudstof hom in die sak bring nie, maar dit is asof die geel kleur van daardie kosbare stof hom as ’t ware gehipnotiseer het. Alfred het al baie keer gekyk na die uitdrukking op die gelaat van sy vader wanneer die water met daardie vuil, geel kleur onder die rots uitsypel. En dan het hy baie keer ’n ligte skok deur sy liggaam voel gaan wanneer hy diep in die gulsige, gierige oë van die ou man kyk.

Alfred weet dat hy vannag geen oog sal toemaak nie. Hy skuif die gordyne effens opsy en leun dan met sy gesig na buite. Die woestynwind waai al sterker en die weerlig aan die westerkim speel aanhoudend, byna soos die ligte van kanonne wat agter die horison opskiet. So skerp is dit soms dat Alfred se gelaat oomblikke lank baie duidelik sigbaar is. Sy lippe is ietwat ferm opmekaar gedruk en die ligte bruin oë is wyd gerek soos dié van ’n seun wat heerlik staan en dagdroom. Die woestynbries waai sy ligbruin hare telkens oor sy voorkop en dan stoot hy dit agteroor met sy regterhand – ’n heeltemal onbewuste handeling.

Nog steeds diep in gedagte versonke trek Alfred die rewolwer uit die leerskede aan sy regtersy. Hy bestudeer dit aandagtig, draai dit om en om. Die loop van die rewolwer is taamlik lank; dis ’n ·476-kaliber Enfield. Stadig maak Alfred die magasyn oop. Ses patrone lê netjies daarin. Ineens dink Alfred terug aan die geskiedenis van hierdie rewolwer wat hy al soveel jare in die holster aan sy sy dra. Hierdie rewolwer is so onafskeidbaar van Alfred se persoon, soos sy perd Sieraad en die lang jagmes aan sy linkersy. Etlike jare gelede het Alfred Neethling hier by die oop venster gestaan soos nou en toe het hy in die kloof afgetuur na die woestynvlaktes waar aasvoëls met swaar, swart vlerke laag oor die aarde gesirkel het. In ’n kits het Alfred sy verkyker, van die rak naby sy bed gaan haal en toe die wêreld, daar waar die honger aasvoëls draai, bespied. Dit het vir hom gelyk asof hy deur die lens ’n opgesaalde perd beken het, en op die grondvlak by die perd was ’n swart stippel op die anders vaal woestyn vir hom sigbaar. Dit was toe dat hy dadelik vir Sieraad bestyg het en in die rigting van die perd en die onheilspellende, draaiende aasvoëls gejaag het. Alfred Neethling was betyds om die aasvoëls te verjaag. Die perd was moeg en dors en het inmekaar gesak langs sy baas net voordat Sieraad en Alfred op hulle afgekom het. ’n Paar treë van die moeë perd af het ’n ruiter gelê. Hy was hoedloos en sy vel was sere gebrand deur die ongenadige woestynson. Toe Alfred oor die vreemde man buk, kon hy dadelik vasstel dat die persoon dood is. Dit was ’n jongerige man, en Alfred kon nooit uitvind wie die persoon is en waarvandaan hy gekom het nie. Dae lank het die jong seun gewonder wat hierdie man die woestyn ingelok het. Hy het sy drome vrye teuels gegee en dikwels gewonder of dit ook nie die reuk van goud was wat hom die ongenadige leegtes laat opsoek het nie. Baie keer het hy ook gedink dat dit miskien ’n moordenaar was wat hierdie gebied binne gevlug het. Maar later het hy hom nie meer daaraan gesteur nie, want die woestyn is ’n snaakse wêreld. Hy eis sy slagoffers dag ná dag en dag ná dag lê vreemde nuwe geraamtes bleek onder die stekende sonlig op die woestynvlaktes en brand en niemand weet ooit wie hulle was en wat hulle nagejaag het nie, en die môre as jy opstaan en die woestyn binne ry om ’n bok vir die pot te skiet, dan lê die geraamtes maar daar asof hulle al lankal deel van hierdie onsimpatieke woestyn is.

Op dieselfde wyse het Alfred hom nie baie langer moeg gemaak met die gedagtes aan die vreemde man wat van dors hier in die woestyn omgekom het nie. Hy was weldra meer geïnteresseerd in die rewolwer wat hy by die dooie man gekry het, en sedertdien het daardie vuurwapen sy maat geword. Die jonge Alfred het leer skiet en hy het leer raak skiet!

Wanneer hy met die tabaksakkies vol goudstof oor die woestyn trek, het die rewolwer in die holster aan sy regterheup heen en weer geswaai. Weldra was Alfred en sy vinnige rewolwer bekend in die wêreld om Rietfontein, selfs tot ver weg oor die grens op Aroab en Naribis. Die woestynjapie soos hulle hom genoem het, het ’n gedugte kêrel geword wanneer tweegevegte voorval. Deur sommiges is Alfred selfs gevrees. En vandag is daar feitlik geeneen meer wat daar op Rietfontein met Alfred skoor soek nie.

Opeens is dit asof Alfred uit sy mymering geruk word. Vlak by die houthuis kraai ’n hoenderhaan lankgerek en luid. Selfs die eggo’s van de kraaigeluid klink ’n paar sekondes daarna uit die klowe terug. ’n Paar oomblikke later hoor Alfred ook die gerunnik van Sieraad in die stal digby en dit is asof hy ineens weet dat selfs sy perd in hierdie nag onrustig is soos sy baas.

Alfred verlaat die venster en gaan terug na sy bed toe. Hy gaan op die rand daarvan sit, versamel dan die tabaksakkies vol goudstof van ’n tafeltjie naby hom en begin dit in sy sakke steek. Hy dink dit sal beter wees dat hy sommer onmiddellik in die pad val; teen sonop kan hy al baie ver trek en Rietfontein lê goed tien uur te perd hiervandaan af. Dit is altyd beter om in die nag te ry, want die woestynson kan bedags bitterlik warm word.

Die bed kraak as Alfred sy liggaam daarvan oplig en na ’n hoek toe stap waar sy geweer staan. Hy swaai dit vinnig oor sy skouer, vee sy hare reg en stap dan weer venster se kant toe. Hy tuur lank na buite; op na die sterre wat maar net deur enkele vlieswolkies hier en daar versluier word. Die berge lê grou links en regs van hom af, en ook die vlaktes voor hom. Rats swaai hy oor die vensterbank. Maar skielik is dit asof sy gestalte op die vensterbank versteen. Êrens uit die nag kom daar geluide – geluide waaraan hy nie gewoond is nie. Dit was nie die sagte, klaende geluide van ’n hiëna nie, ook nie dié van ’n bromvoël wat teen die rotse in sy slaap gesteur is nie. Dit was die gerunnik van ’n perd. En plotseling het Alfred geweet dat dit nie Sieraad was nie. Daar is nog net een ander perd in hierdie omgewing om die houthuisie waar die Neethlings woon, en dit is ou Koen se perd. Gewis en seker weet Alfred egter ook dat daardie gerunnik nie afkomstig is van sy vader se perd nie. Dié wei gewoonlik hierdie tyd van die nag sommer hier vlak om die huis, meestal in die sandsloot. Vanweë die baie luiperds wat in die omgewing boer, is dit nie veilig vir ’n perd om dit ver van die huis af te waag nie. En hierdie gerunnik kom van ver. Dit het vir Alfred geklink asof dit etlike honderde treë in die kloof op is, daar van die rosyntjiebosse se kant af wat so welig teen die hang van die berg groei.

Alfred klouter weer terug in die vertrek, swaai sy geweer van sy skouer af en gooi dit met ’n enkele beweging op die bed agter hom neer. Nou luister hy intens en aandagtig. Sy oor vang elke geluidjie op: dit is die geproes van Sieraad in die stal; die haan wat sy vlerke klap – om weer te kraai; ’n enkele rooijakkals wat tussen die swart rotse huilend verkondig dat die honger knaag. Origens is dit die wind wat deur die blare van enkele bome om die huis raas en ’n kriekie wat êrens in die kamer verskuil saggies kras, asof hy ontsag het vir die man wie se snorkgeluide nou minder luid in die vertrek langsaan opklink.

Miskien het hy hom dit verbeel; dalk was dit glad nie die gerunnik van ’n perd nie. Alfred wil net aanstaltes maak om die geweer weer oor sy skouer te swaai en na buite te klouter, toe die geluid weer kom. Dit klink nou sommer baie naby, daar êrens in die diep sloot wat van hier af donker vertoon. Ineens hoor Alfred ook die ligte tred van perdehoewe op die sagte sand. Plotseling is sy hele liggaam gespanne; onwillekeurig sak sy hand stadig af na die kolf van sy rewolwer. Dit is gewis en seker meer as een perd wat hier in aantog is. In baie jare was hier geen mense nie en dit is asof Alfred skielik intuïtief aanvoel dat gevaar aan die kom is. Met watter bedoelings kan mense met perde die ongenadigheid van die woestyn trotseer om in die nag hierheen te kom? En dat daar mense by hierdie perde is, is gewis en seker.

Skielik hou daardie sagte gekras van hoewe in die sand op. Etlike minute lank is selfs die haan stil en die jakkals huil nie meer nie; die wind het vergeet om deur die blare te raas. Dit voel vir Alfred asof daar persone in die donker vlek daar voor hom wag; asof oë in die rigting van die huis tuur om vas te stel of die inwoners slaap.

Alfred se oë brand op die skadukol, maar daar is geen enkele beweging of geluid nie. Die snorkgeluide van sy vader kom sagter, reëlmatiger. Sy oë kry al seer van die stip kyk en hy neem sy blik vir ’n oomblik van die donker kol af weg en tuur na die flitsende horison.

Op daardie stadium groei ’n gestalte vinnig uit die skadukol op. Dit is ’n man met ’n breërandhoed op sy kop en twee swaaiende vuurwapens aan sy heupe. Dit sien Alfred in ’n oogwenk; asof die man sommer hier digby hom staan, en dan kom daar nog ’n skaduwee uit die donker kol te voorskyn – dan nog een. Drie persone staan ongeveer vyftig treë van Alfred af in die lig van die sterre. Al drie het breërandhoede op hul koppe, hulle is sonder baadjies en hulle hempmoue is hoog opgerol.

Vir ’n oomblik is dit asof Alfred se gedagtes in verwarring verkeer. Hier het drie gestaltes uit die nag uit opgedoem, die gestaltes van mense – mense wat in geen jare hier tussen die berge gesien is nie – en daar staan hulle tot die tande toe gewapen. Die grootste van die drie het reeds een van sy vuurwapens uit sy leerskede getrek en hy beweeg nou stadig vorentoe. Die ander twee staan blykbaar nog en beraadslaag.

Vinnig vee Alfred sy hare agteroor. Dit is asof hy nie sy oë kan glo nie. Slaap hy? Droom hy? Nee, daar hoor hy hulle praat. Iemand maan die voorste persoon om versigtig te wees. En dan beweeg al drie nader, tot minder as vyf-en-twintig treë van die oop venster af waar Alfred in die duisternis wag. Hy hoor die fluisterende stem van een van die persone, ‘Versigtig nou, manne. Ons het ver gekom om hierdie onderneming aan te durf, en dit mag nie misluk nie. Onthou net ou Koen het ’n seun, en die knaap is vurig en bitsig met die ysters. Ek sal omgaan na die voordeur toe en julle twee moet die agterdeure bestorm hier vlak voor julle. Probeer geluidloos na binne toe gaan, ek glo nie die deure is gesluit nie. Probeer albei die manne daar binne in hulle slaap betrap en bind die jongman so gou moontlik stewig vas. Moet teen elke prys nie doodskiet nie, behalwe as julle sien dinge loop verkeerd. Onthou, ons wil vir ou Koen lewendig hê sodat hy vir ons kan vertel waar die plek is waar die water die goudstof vir hom aandra. Ek kan nie sien waarom een man met al hierdie rykdomme moet sit nie. Ou Koen het hierdie skatte lank genoeg vir homself gehou en lank genoeg was ons te bang om hom te probeer dwarsboom. Die natuur het die goudstof nie net vir hom gemaak nie. Buitendien het hy die geheim uit iemand anders uitgewurg en ons kan seer sekerlik dieselfde doen.’

Onwillekeurig beweeg Alfred dieper die donkerte in. Hy haal skaars asem. Sy rewolwer lê reeds in sy regterhand en sy wysvinger krul onheilspellend om die sneller.

Skielik beweeg die gestaltes daar buite. Die een swaai in ’n boog om na die voordeur se kant toe; die ander twee peil gebukkend op die agterdeur af.

Alfred se brein is nie nou meer in verwarring nie. Hy weet nou dat hierdie manne nie met goeie bedoelings hier op hulle in die nag afgekom het nie. Hulle is goudsoekers; mense wat hunker na rykdomme wat hulle nie kan gebruik nie, net soos sy vader. Met gekromde arendskloue wil hulle die geld nader krap na hulle toe, wetende dat hulle by benadering nie alles kan gebruik nie. Maar van kleins af het Alfred altyd gesê dat die goudstof die mense mal maak, dat hy seker is dat die Korannas gelyk het wanneer hulle meen dat die geel slyk wat uit die aarde opspoel, deur ’n heks getoor is.

Alfred hoor die geknars van skarniere soos die agterdeur na binne oopgedu word. Dan hoor hy ligte voetstappe op die grondvloer in die klein kombuisie. Die wind syg na binne toe die voordeur ook oopgeswaai word. Weldra hoor Alfred ook die geknars van ’n vuurhoutjie en dan bemerk hy die flikkering van ’n vlam in die kamer langsaan waar ou Koen Neethling nog heerlik lê en snork. Hees fluister een van die vreemdelinge, ‘Die seun is seker langsaan.’

Dan is daar die geskuifel van voete wat sluipend in die rigting van Alfred se kamer beweeg. Maar Alfred het reeds blitsvinnig opgetree. In ’n oogwenk is hy deur die venster, en buite waai die wind koud teen sy gesig aan. Hy omklem sy rewolwer stewig, buk dan en hardloop vinnig na die donker doringbosse wat aan die kant van die sandsloot groei. In die skaduwees gaan hurk hy neer en dan bespied hy die wêreld vinnig om hom. In die donker kol aan die oorkant van die sandsloot sien hy nou die gedaantes van drie opgesaalde perde.

Hy wend sy blik weer na die huis waar nou ’n kerslig flikker. Hy hoor iemand duidelik sê, ‘Die oubaas se seun is nie hier nie.’

En op daardie oomblik is daar ’n hees geskree. Dit is duidelik dat Koen Neethling skielik wakker geskrik het. Die geluid van ’n rewolwerskoot val plotseling skerp op Alfred se ore waar hy in die skaduwees skuil.