GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/oeyqne-die-poniehoewe-klub-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Die Poniehoewe-Klub

— Hoofstuk 1 —

Die stalle lyk verlate. Van die deure staan oop en swerms vlieë hou huis in die nat kooigoed wat niemand gepla was om weg te ry na die mishoop toe nie. Die sleepstalle waarin van die perde opgelaai is om hulle na hul nuwe tuistes te vat, het diep spore gelaat in die gras van die vierkant. Hopies mis lê die hele plek vol.

In die groot kamp wei die vyf ponies wat oor is van die trop perde wat nou die dag nog hier rondgeloop het. Elke dan en wan lig een sy kop en runnik na die maats wat verdwyn het, gaan dan maar weer aan om met sy tande die graspolle se sade af te girts as hy geen antwoord kry nie.

Die ponies se mensemaats sit op omgedopte emmers en bekyk triestig die wêreld. Al vyf het rybroeke aan, maar dit lyk nie asof hulle van plan is om op te saal nie, want vyf tooms hang onaangeraak aan hake in die oop stal agter hulle.

Tessa sug.

‘Hoe lank nog voor die stootskrapers kom?’ vra sy, asof sy nie weet nie.

‘Oor minder as drie weke,’ antwoord Ruan en Tessa sê, ‘Dis wat ek gedink het.’

Vir ’n paar oomblikke is dit stil, dan spring die kleinste en jongste van die groepie so vinnig op dat die emmer waarop hy gesit het, omval en ’n ent wegrol. Met ’n skynbaar agtelose voorvinger stoot hy sy hoed van sy voorkop af tot dit windskeef op sy kort plat kuif sit, en frons so kwaai as wat hy kan.

‘A nee a,’ sê hy, ‘gaan ons nou regtigwaar net hier sit en onsself jammerkry? Uit watter stoffasie is ons miskien gemaak? Hè?’

‘Vlees en bloed,’ antwoord Anneke, wie se blonde haarpunte al papnat is soos sy daaraan gesit en suig het uit pure moedeloosheid. ‘Vlees en bloed, Roy. Hierdie is die werklikheid, ons is nie nou in een van jou held se flieks nie.’

Almal weet dat hy sy Internet-tyd spandeer met kyk na stokou Roy Rogers-flieks op YouTube in plaas van om dit vir studie-navorsing te gebruik soos die bedoeling is. In alles probeer hy die akteur na-aap. Toe sy skimpe, en later openlike geneul, vir ’n Amerikaanse Stetson soos die cowboys dra geen vrugte afgewerp het nie, het hy self een geprakseer deur ’n kriekethoed van sy ouer broer vryelik vol verdunde houtlym te smeer en te laat droogword met opgeslane rande en ’n skerp duik in die bol. Hierdie hoed, sweer sy maats, haal hy net af as hy gaan slaap — en dan miskien ook nog nie as mens kyk na hoe verfomfaai die ding lyk. Om die prentjie te voltooi dra hy aan sy gordel ’n holster met ’n kamma-rewolwer wat nes ’n regte een lyk; een van daardie wat ’n hengse knal gee as jy die sneller trek, iets wat hy natuurlik ten strengste verbied is om naby die perde te doen. ’n Tydjie terug het hy besluit sy naam, Gerhardus, pas darem nie lekker by die beeld van wat hy nou is nie en het dit verander na Roy. Sy maats het nie omgegee nie, maar volstrek geweier toe hy sy ponie tot Trigger wou herdoop. Die ronde klein ponie, het hulle besluit, sal nooit iets anders kan wees as Rollie nie, en nou troos hy homself deur aan almal wat wil weet te vertel dat ‘rollie’ cowboy-taal is vir ‘rewolwer’.

Nou vuur Anneke se verwysing na sy held hom nog meer aan om die ander aan te wakker. Manhaftig skop hy na ’n bol mis wat toevallig by sy voet lê om krag by sy volgende woorde te sit. Ongelukkig tref dit in sy vlug vir Dommie, wat tot dusver ingedagte na die ponies gestaar het, en versteurd gryp sy dit en gooi dit na Tessa se kop.

‘Haai, dit was nie eers ek nie!’ verdedig dié haarself, maar tel ’n ander een op uit pure gewoonte. ’n Lekker varse, want so ’n belediging kan nie onvergeld bly nie. Omdat Roy koes, spat die mis op Anneke se wit T-hemp uiteen en toe is die gort gaar. Misbolle, vars en droog, vlieg in alle rigtings soos die vyf mekaar takel en eers toe Ruan oor ’n omgevalle emmer struikel en in sy val vir Tessa en Roy saam grond toe trek, bedaar die geveg. Roy spartel om los te kom, maar Ruan, groter en sterker, hou hom vas.

‘Gee oor, haantjie!’ grom hy en merk tot sy genoeë dat die emmer wat hy omvergeskop het blykbaar daar gesit is om ’n klomp papperige mis te bedek, net mooi gerieflik binne sy bereik.

‘Gee oor!’ herhaal hy en sy hand hang dreigend oor die groen hopie. Roy sien die beweging en sy oë rek soos hy onmiddellik die bedoeling snap. Tog wil hy nie toegee nie en eers nadat Ruan sy gesig en hare met die mis ingevryf het, word hy toegelaat om op te staan.

Vies tel hy sy hoed op en stap na die kraan om sy kop af te spoel, maar lag saam met die ander toe Dommie tevrede sê, ‘Jy wóú my mos gooi, daar het jy dit nou driedubbel terug!’

 · · ·

Toe almal se hande gewas en die emmers opgetel en weer tot sitplekke gemaak is, sê Tessa, ‘Reg, dit was lekker, maar ons is nog nie ’n steek verder nie.’

‘Omdat die lied nie verder gaan, begin ons maar weer van voor af aan,’ resiteer Anneke soos ’n wafferse verhoogkunstenaar.

‘Nee, wag nou, Roy wou mos iets sê voordat hy oorlog verklaar het, dan nie?’ sê Ruan. ‘Komaan jong, as jy ’n plan het, uit daarmee!’

Roy staan weer op, ’n kordate verskynsel met sy nat kop waarop die hare regop begin droog word en sy klere vol groen blertse waaroor sy ma daardie kop sweerlik nog ’n keer gaan was.

‘Ja,’ sê hy, ‘maar al wat ek eintlik bedoel het was dat ons nie moet moed opgee nie. As ons saamstaan sal ons ’n plek kry, ek is seker daarvan.’

‘Hoe? Ons moet oor drie weke hier weg wees, die plek wat aan ons belowe is is so ver uit die dorp en so bebos dat my ma die horries kry as sy net daaraan dink, so gevaarlik is dit, en die Equestrian Centre se stalle is hopeloos te duur vir ons,’ som Anneke die situasie op. ‘My ma-hulle praat reeds van Dapper verkoop — ’ Sy probeer die knop in haar keel wegsluk en begin dan snik toe sy aan die lot van haar dierbare ponie dink.

Dommie en Ruan knik bedruk hul koppe.

‘Ons s’n ook,’ sê hulle altwee gelyk en Ruan se stem breek toe hy byvoeg, ‘Star Samuels en Kuifkop word volgende week geadverteer, tensy ons teen daardie tyd ’n nuwe heenkome gevind het.’