GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/nnpfgh-wind-oor-haar-graf-2.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Wind oor Haar Graf

— Hoofstuk 2 —

Die Gesteelde Soen

Elma Murray en haar vader staan op die ruim voorstoep van hul woning op hul puik beesplaas, Glorie. Oom Jim Murray is nie vanoggend op sy stukke nie. Hy het sy breërandhoed eenkant toe gegooi en vee reeds sweet van sy verrimpelde voorhoof af. Sy hare lê yl op sy kop en die baie Duitse bier wat hy drink, veral in die somer, het hom al ’n kalbasmagie besorg, iets waarop hy nogal trots is.

Hy drink stadig aan die koppie koffie wat sy dogter reeds ’n halfuur gelede vir hom hier na die stoep toe gebring het.

Voor hulle is die Rooiberge, maar kyk oom Jim verder noord, dan dit lyk asof die gebergtes ineens in die sand- en bosse-wêreld insink. Die wêreld word daar skielik plat, met volop stoppelgras en rosyntjiebos – vetmaakkos vir die vee. In hierdie wêreld vrek ’n bok nie, en daar waar die berge in die aarde induik, by Pongo-Pongo, leef bokke en beeste in ’n paradys. Dit is die wêreld waarvan gesê word dat dit ‘’n beeshemel en ’n vrouehel’ is.

‘Pa praat vanoggend niks nie. Pa sit net daar en droom en kyk na die berge.’

‘Ek dink maar net, Elma,’ antwoord die oubaas. Hy kyk sy dogter vas in haar ligbruin oë en sien hoe die oggendson met haar ligbruin haarlokke speel. ‘Ek weet nie meer so seker of Danie de Wet reg is nie. Hy het net vooruitgang in sy brein. Ek gee toe dat dit in belang van die hele land is dat hierdie pad gemaak moet word. Dit sal die veediewe ’n nekslag toedien en die poskoets en transportwaens in staat stel om tot op Rietfontein te gaan. Dit sal beteken dat Ga-Mopedi ’n bank kry en miskien later ’n polisiepos, maar ek wonder tog of dit in hierdie stadium die moeite werd is. Rooi Els word opstandig en dit sal nie baie kos nie of hy het die hele Griekwa-volk tot aan die Molopo aan sy kant. Ek dink soms self dat die boere nie toegelaat moet word om verby Pongo-Pongo te trek nie.

‘Rooi Els is per slot van sake nie so ’n onaardige kêrel nie. ’n Mens moet hom net verstaan. Hy duld net nie dat ons van die Griekwas se grond – en sy eie – neem nie. Enige mens sal opstandig word as sy bestaan bedreig word. Ek en jy en Danie sal hard veg as ons weet dat trekkers besig is om die kring nouer te trek om Glorie en Belofte. Probeer ’n bietjie aan Danie se Belofte raak, dan sal ons sien of hy met gevoude hande sal sit!’

Elma se mond trek op ’n plooi.

‘Hoe lyk dit of Vader begin bang word vir Rooi Els? Niemand wil hom mos van sy grond beroof nie! Die Griekwas kan hul grond behou en hy syne, maar hoekom moet boere verhinder word om plase wat anderkant Pongo-Pongo lê, te koop net so lank as hulle die Molopo as grens erken? Buitendien, die pad deur die berge na Rietfontein is vir ons belangrik. Dit sal meebring dat ons ons beeste aan die Duitsers kan lewer en dalk selfs kan uitvoer.’

Jim Murray sluk die laaste bietjie koffie, staan op en sê, ‘Ek sê jou een ding, Rooi Els is nie iemand om mee te speel nie. Ek ken hom al jare, en hy beskou alles ten noorde van Jansluitrivier, ses myl hiervandaan, as die Griekwas se gebied, en natuurlik syne. Die pad strek alreeds tot naby Pongo-Pongo. Ek het ’n voorgevoel dat daar nog lelike dinge gaan gebeur. Daar gaan bloedvergieting wees as die mense se primitiewe drange eers begin losraak.’

Elma sit haar koppie neer.

‘Ek is daarvan oortuig dat Danie nie alleen in belang van ons boere optree nie, maar ook in belang van die Griekwas. Rooi Els moet op sy plek gesit word. Hy dink hy kan oral koning kraai. Hoeveel jagters is nie al deur hom voorgekeer nie? Daar is nou die dag weer een doodgeskiet. Rooi Els wil ’n skrikbewind bewerkstellig. Vader moet hom daar by Die Groot Dors, ou Frans Siebritz se hotel op Ga-Mopedi, sien. Daar maak en breek hy. Hy het my belowe dat hy my nog sal vastrek en met geweld sal soen. Hy is ’n bees … ’

‘Ja, ja … toegegee Rooi Els is ’n bietjie ru en onbeskof, maar onthou, hy het wees grootgeword. Ek weet dat hy baie van jou hou; miskien wys hy dit maar net op ’n verkeerde, lomp manier.’

‘Vader tree vandag sowaar vir Rooi Els in die bresse.’

Maar Jim Murray kry nie geleentheid om sy dogter hierop te antwoord nie. Skielik sien hy ’n stoffie agter die hoogtetjie, ’n paar honderd treë voor hom, opslaan. Die volgende oomblik is die maanhare van Danie se skimmelperd sigbaar.

Ou Jim gryp sy verkyker en in ’n oogwenk is dit voor sy oë.

‘Wie is dit, Vader?’ vra die meisie en kom teenaan haar vader staan.

‘Dit is Danie. Ja, dit is hy … enne hy het ’n meisie by hom. Sy … ja, sy lyk bewusteloos. O, hier begin dit.’

Elma kan die skimmelperd nou duidelik met die blote oog sien.

‘Ek wonder wat is gaande,’ sê sy opgewonde, maar haar vader gee haar geen antwoord nie. ‘Hy is baie haastig. Ek wonder … ’ maar verder praat sy nie, want sy kan al die haastige geklap van Dwarrel se hoewe hoor.

Sy hardloop vinnig na die hekkie toe.

Vlak by Elma kom die perd tot stilstand.

‘Wat is aan die gang, Danie?’ vra sy en kyk na die bewustelose meisie.

‘Help my om haar in die huis te kry, Elma. Moontlik sal ons ’n geneesheer op Ga-Mopedi moet gaan haal. Ek dink sy het van haar perd afgeval.’

Net een blik na die bleek gelaat, en Elma se hart bons vinniger. Sy het nog maar twee of drie keer met hierdie meisie gepraat, maar dit was in elke geval nooit aangenaam nie. Sy is ’n klein tierwyfie wat eendag voor ’n klomp mense haar neusie gelig het toe Rooi Els haar aan Elma voorgestel het.

Magda begin effens roer en kreun toe Danie haar op die bed in die voorkamer neerlê. Half onwillig, maar darem haastig, trek Elma die meisie se skoene uit. Die volgende oomblik kom oom Jim aangestorm met ’n skottel warm water en ’n handdoek oor sy skouer.

‘Hier is iets aan die gang. Magda Fourie kom byna nooit in hierdie buurt nie, behalwe as dit saam met Rooi Els is. Is hy nie in die buurt nie?’

Danie werskaf met die meisie. Hy vee haar gesig met ’n nat lap af.

‘Ek het hom nêrens gesien nie. Ek het haar in die sandsloot naby die nuwe pad opgetel. Ek wonder wat sy daar gesoek het.’

‘Natuurlik kom spioeneer, Danie,’ sê Elma vinnig.

Die meisie kreun weer en maak haar oë oop. ’n Paar oomblikke kyk sy verwonderd na die plafon en dan rig sy haar blik op Danie. Sy beskou hom van kop tot tone. Dan kyk sy na Elma, en dan na ou Jim.

Sy wil opstaan, maar Danie druk haar weer op die kussings terug.

‘Nie so haastig nie, Juffrou Magda. Jy het seer geval. Hoe het dit gekom?’

Sy lek oor haar lippe en stryk haar hare reg.

‘Die perd het geskrik … eers toe die dinamiet ontplof het, en toe vir die seuntjies met die bokke. Hy het met my weggehardloop. Ek hoop nie my perd is … ’

‘Ek het jou perd glad nie gesien nie, Juffrou. Hy moet seker nog in die veld wees. Het jy nie êrens seer nie?’

Elma byt op haar lippe. Hierdie wilde vroumens is mooi; daardie sproete om haar neus, die spierwit tande wat vertoon as sy lag, en die blonde hare wat nou los oor die spierwit kussingsloop lê, is genoeg om enige mansmens op hol te jaag!

‘Rus so ’n oomblik, Juffrou Fourie. Jy het natuurlik baie groot geskrik. Wil jy miskien ’n bietjie brandewyn hê?’ vra Elma vriendelik.

Magda kyk vir Elma vas in haar oë. Sy sien die meisie se groot oë en lang oogwimpers, haar gekartelde bruin hare wat sierlik oor haar skouers op die oulike pers tabberd lê, en voel skielik weer die jaloesie in haar opwel.

Ja, hier is daardie onredelike jaloesie weer. Dit is die vroumens van wie Rooi Els so baie hou, maar wat buite sy bereik is. Magda weet dat sy skraler gebou is as hierdie Elma Murray, en het nog altyd onbewus daardie aantreklike, mollige liggaamsbou van Elma begeer.

‘Nee, dankie. Ek … ek dink ek het net op my kop geval,’ antwoord Magda vinnig. Dan rig sy haar orent en staan die volgende oomblik tussen Elma en Danie. ‘Dit is net my kop wat seer is.’

‘Laat ek vir jou ’n koppie sterk koffie inskink, Magda,’ bied oom Jim aan en stryk sommer deur na die kombuis toe.

Magda staan effens nader aan Danie, kyk op in sy gesig en glimlag.

‘Ek dink die geskud van die perd het my reggeruk. As jy my nie gekry het nie, sou die son my doodgebrand het,’ kom dit naïef.

‘Ek is bly dat ek op jou afgekom het, Magda, as ek jou so mag noem. Almal in Ga-Mopedi ken jou maar op daardie naam.

‘Heeltemal in orde.’

Daar heers ’n rukkie stilte. Vlak by die kamervenster begin ’n sonbesie kras. Magda kyk deur die venster en sien hoe die son reeds op die berge sidder. Terwyl die drie nog so staan, kom ’n dowwe gedreun tot hul ore, byna soos die veraf gedreun van die weer. Maar Danie weet dadelik dat oom Nils Anderson en Hans Stols besig is om die rotse voor die padwerkers los te skiet met ladings dinamiet.

Opeens kyk Magda na Danie.

‘Noudat ek daardie gedreun hoor, val dit my by … ’

Sy breek skielik af en draai haar na Elma toe. ’n Oomblik staar sy diep in Elma se bruin oë, asof sy haar opsom. ‘Ek … ek wil met meneer De Wet praat. Dit is dringend, daarom is ek hier.’

Elma is dadelik op haar perdjie.

‘Gaan voort, ek keer jou nie,’ kom dit bitsig.

‘Ek wil hom graag vertroulik spreek.’

Om Elma se mond verskyn daar ’n sarkastiese glimlag.

‘Rooi Els het jou seker gestuur.’

Magda vou haar arms oor haar bors. Haar oë blits. Dié meisiemens soek sowaar skoor! Maar dan bedwing sy haar humeur en sê ewe kalm, ‘Nee, inteendeel, hy wou nie hê dat ek hierheen moet kom nie. Ek het hom gesmeek om my toe te laat … ’

Sy hou weer skielik op en draai haar rug op Elma.

‘Mag ek jou alleen spreek, Danie de Wet? Ek kan jou verseker dit is in belang van ons almal.’

‘Wel, ja, Juffrou … Elma, verskoon ons … ’

Elma draai vinnig om om uit te stap, maar Danie vat haar sag aan haar arm.

‘Jy hoef nie die kamer te verlaat nie, Elma. Ek en Magda sal stalle toe stap.’

‘Seker.’

’n Oomblik staar Magda weer diep in Elma se oë. Daar kom ’n glimlag om haar mond, asof dit haar genoeë verskaf dat Danie haar versoek toestaan.

Sy skuur by Elma verby. Die twee meisies is feitlik ewe lank.

Danie en Magda loop tot by die stalle, sowat ’n honderd treë van die agterdeur af. Dit is lekker koel daar.

‘Wat is dit, Magda?’ vra Danie kortaf.

‘Dit is oor die padbouery.’

‘Wat van die padbouery?’

‘Jy weet natuurlik dat Rooi Els briesend daaroor is en dat honderde Griekwas maklik tot onbesonne dinge kan oorgaan, nè?’

Danie vererg hom dadelik. Hy stryk sy hare agteroor en staan dan hand in die sy. ’n Oomblik dink Magda daaraan dat hoewel Rooi Els en hierdie man se voorkoms en liggaamsbou so verskil, hulle tog ewe ongenaakbaar is. Hul vasberadenheid laat haar soms dink aan skone astrantheid. Hierdie De Wet is maklik twee duim korter as Rooie. Hy lyk ook meer beskaaf as die ruwe, ongetemde Els. Sy hare is altyd mooi gekam en sy blou oë is kalm, vriendelik en opgeruimd. Rooie se bruines is weer byna senuweeagtig, want hulle vertolk elke emosie wat in sy binneste spook.

‘Kyk, Magda, sê my reguit. Het Els jou hierheen gestuur? Weet hy dat jy hierheen gekom het, of is daar ’n set? Praat die waarheid.’

Die meisie trek haar asem diep in en haar bors swel.

‘Ek is nie ’n leuenaar nie, De Wet. As jy wil luister, luister, maar as jy geen rede wil verstaan nie, sê my vooraf. Jy en Rooie is ewe teen die stroom op, ewe onverbiddelik. Die moeilikheid is dat jy jouself te belangrik ag. Jy wil, soos Rooie, alles maak en breek. Moet ek praat, of nie?’

Danie steek sy hande in sy broeksakke.

‘Jy is ’n rissie! Jy kan praat, ja, maar voor jy begin moet jy my twee vrae beantwoord.’

‘Goed, ek sal jou voorwaardes respekteer. Ek hoop jy sal dan later meer ontvanklik wees vir my woorde. Els weet dat ek hier is, maar hy het my nie gestuur nie. Daar is geen set nie. Ek wil net probeer verhoed dat daar op groot skaal bloed vergiet word. Hierdie spanning het nou breekpunt bereik. Iemand moet nou sy verstand gebruik en die ergste probeer verhoed. Jy weet self wat gebeur as hierdie woestynmense se selfbeheersing onklaar raak!’

‘Is dit ’n bedekte bedreiging?’

‘Danie de Wet, jy stel alewig vrae! Luister nou ’n slag sonder om ’n mens in die rede te val! Rooie is teen die padbouery gekant. Hy sê dit is net ’n manier om hom en die Griekwas van hul grond af te jaag, om hulle oor die Molopo te stoot. Hy is nie van plan om sy grond prys te gee nie. Jy, aan die anderkant, wil nie jou pad prysgee nie … ’

‘Maar, my hemel, vroumens! Dit strek tot almal se voordeel. Ek wil hê dat hierdie dele bewoon moet raak. Aan wie verkoop Rooi Els en die Griekwas hul beeste nou? Hulle verkoop hulle aan die Bamangwato, of verloor hulle wanneer die stropers hul kuddes kom steel. Daardie beeste word na die Duitsers deurgesmokkel om hul vleishonger te stil, ook dié van Europa en van die duisende matrose wat die hawens in Duits-Suidwes aandoen. Kan Els dit nie begryp nie. Is sy verstandjie so klein?’

‘Moenie beledigend wees nie, Danie de Wet. Ek gee toe dat Rooie dit behoort in te sien, maar hy bly agterdogtig. Daar is twee boere wat alreeds hul intrek op grond anderkant Jansluit geneem het. Hulle het elk ’n groot stuk grond ingepalm. Rooie verwag dat ander boere hul voorbeeld sal volg. Gee my net die versekering dat jy en die boere sal erken dat die grond anderkant Pongo-Pongo, die stuk tussen die Jansluitrivier en die Molopo, die Griekwas se gebied sal bly en dat die boere nie daardie dele sal opkoop nie. Laat net die vrees dat sy land ingepalm sal word, by Rooie verdwyn, dan sal alle vyandigheid op ’n end wees.’

Danie krap aan sy ken.

‘Dit is ’n redelike eis. Ek het nie belang by die grond tussen die riviere wat jy genoem het nie, maar dit is nie in my mag om mense te verhoed om daar grond te beset nie. Dit is grond wat deur die regering uitgegee word. Hulle het almal die reg gegee om grond daar te koop, natuurlik teen ’n appel en ’n ei. Ek kan hulle dus nie daar uithou nie.’

‘Goed, Danie. Nou kan jy Rooie se vrees insien. Jy kan dit nou beter verstaan. Kan jy nou ook begryp waarom hy dit haat dat jy moet voortgaan met jou padbouery? As die pad eers daar is, stroom die mense die gebied binne. Hulle sien die rosyntjieboswêreld en die oop grond en palm dit in, totdat die Griekwas later heeltemal afgedruk word van hul grond en uitgestoot word tot oor die Molopo om saam met die Bamangwato in ellende te gaan leef!’

Danie dink weer na. Rooi Els se vrees is nie ongegrond nie, sy agterdog ook nie.

‘Daar steek heelwat in jou woorde, Magda. Jy het jou saak verbasend helder gestel. Ek het dit eerlik nie verwag van ’n dogtertjie soos jy wat hier in die wildheid van die Kalahari grootgeword het nie.’

Magda ruk haar kop orent.

‘Ek is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie, al lyk my sproetgesig soos ’n kalkoeneier! Maar, Danie, kan jy nie die boere anderkant Jansluitrivier oorreed om terug te kom nie? Toe, asseblief!’

‘Magda, vertel my ’n geheimpie. Doen jy hierdie praatwerk om Rooi Els se guns te wen omdat jy hom … liefhet, of doen jy dit in die belang van vrede, om bloedvergieting en geweld te voorkom?’

Sy glimlag, en vir die eerste keer lyk sy vir Danie de Wet mooi. Haar hare is so sag dat hy byna nie die drang kan weerstaan om dit te streel nie.

‘Ek moes nou woedend geword het, Danie, maar ek gaan nie. Daar is twee dryfvere vir hierdie houding van my … jy het albei genoem.’

‘So … dan het jy so ’n ruwe … so ’n astrante, ongemanierde bullebak soos Rooi Els lief?’

Die glimlag om Magda se mond verdwyn. Haar regterhand glip op, dit klap eintlik soos sy Danie op die wang tref.

‘Jou bees! Rooie het maar net ru grootgeword. Hy doen maar net wat julle almal doen. Hier is geen wet nie … of, altans, die wet kom nooit hier nie. Almal, jy ook, is dit eens dat die vuurwapen hier die wet is. Jagters van Kuruman het al in die Griekwas se gebied tot Boesmans geskiet! Jy … ’

Sy wou hom weer klap, maar hy gryp albei haar polse vas.

‘Jy is ’n katwyfie!’ Hy lag. ‘Luister nou mooi. Gaan terug en gaan sê aan jou vriend Rooi Els dat ek my woord gee dat ek alles in my vermoë sal doen om die boere duskant die Jansluitrivier te hou. Daar sal manne wees wat met my saamstem en ons sal aan die regering in die Kaap skryf om sulke trekke stop te sit. Ek sal persoonlik verduidelik dat alle grond oorkant die Jansluit aan die Griekwas behoort. Dit is ’n dure belofte, maar dan moet hy op sy beurt nie die bou van die pad teenstaan nie.’

Ewe skielik lag sy weer. Onverwags leun sy vooroor en slaan haar arms om Danie se nek. Vinnig bring sy haar lippe nader en dit klap soos sy Danie vol op sy mond soen.

Danie druk haar sagkens weg en kyk terselfdertyd om. Daar in die staldeur staan Elma met twee koppies koffie. Die ligte windjie stoot haar hare voor haar oë.

‘As julle mekaar klaar omhels het, kan julle jul koffie neem.’

Danie de Wet word bloedrooi.

‘E … ek … ons het nou net tot ’n vergelyk gekom,’ verduidelik hy.

‘Ek het gesien, Danie. Ek is bly om te sien dat die ooreenkoms met ’n soen gevier is.’

Sy hou die twee koppies koffie na hulle toe uit.

Danie neem albei by haar.

Agter hom lag Magda triomfantlik. Sy voel asof sy ’n groot oorwinning behaal het. Nou eers besef sy dat sy Danie omhels en gesoen het. Maar hy het haar terug gesoen! Magda het Elma nie sien aankom nie. Nou is sy egter bly dat Elma die soen gesien het. Heimlik kry sy lekker oor die ander vrou se verleentheid. Elma wil probeer lag, sy wil voorgee dat dit haar nie raak nie, dat sy dit as verspot beskou, maar alles wat sy sê en doen, is lomp, onvanpas.

‘Is dit nou eintlik waaroor jy Danie so dringend wou spreek?’

Sy lag selfbewus en dit klink glad nie snaaks nie. Nòg Magda, nòg Danie het iets daarop te sê. Danie bloos nog steeds, maar Magda weet dat Elma nog ’n groter gek as Danie voel.

Die duiweltjies staan eensklaps op in die wilde klein sproetgesig.

‘Dit was nie waarvoor ek gekom het nie, maar ek moet sê, dit was die moeite werd. Dit is egter nie die soen en die omhelsing wat so belangrik is nie, Juffrou Elma. Dit is die feit dat ek nou daarvan oortuig is dat die twis en tweedrag, haat en nyd beëindig kan word. Alles hang nou net van Rooie af, maar eintlik moes Danie hom self van hierdie ooreenkoms vertel het, persoonlik. Rooie moet verstaan … ’

Danie oorhandig intussen die koppie aan Magda en die meisie neem dit, maar drink nie dadelik nie.

‘Kyk, Juffrou Magda, ek glo nie dat Rooi Els beskaaf genoeg is om tot ooreenkomste te geraak nie. ’n Mens kan nie met hom mooipraat nie. Hy sal miskien maak asof hy akkoord gaan, maar hy sal nooit woord hou nie!’

Dit is van Elma wat dié uitbarsting kom.

Magda tree vinnig nader. Sy staan nou buitekant die stalle, feitlik in die deur, reg voor Elma, en haar oë blits. Haar tande is styf op mekaar gekners.

‘Dit is mense soos jy wat die twis en haat in hierdie geweste aanjaag! Rooie is geen boef en misdadiger nie. Ek gaan nou na Rooie toe en sal hom oorreed om Danie self te kom spreek. In die teenwoordigheid van ons almal kan Danie en hy hierdie ooreenkoms op papier beklink … ’

‘Jy maak asof Rooi Els ’n soort koning is,’ kom dit bitsig van Elma af.

Danie besef dat dinge nou hier verkeerd gaan loop.

‘Sal julle twee vroumense asseblief ophou met twis! Ek het nog nie klaar gepraat met Magda nie … ’

Elma kyk hom skerp aan en rooi kolle van woede verskyn op haar wange. Sy druk haar lippe styf teen mekaar.

‘Wil julle graag weer alleen wees, Danie?’ kom dit vlymskerp van haar. ‘Goed, dan maak ek my maar weer uit die voete.’

Elma swaai vinnig om. So kwaad het Danie haar nog nooit gesien nie. Hy roep haar terug, maar sy loop heupswaaiend weg en verdwyn die huis in. Sy was egter nog nie twee treë van Magda af nie, toe haak Magda af, ‘Baie dankie vir jou besondere gasvryheid, Juffrou Elma. Ek het altyd gehoor dat jy so verfynd is. Maar ek verkies om nie in jou teenwoordigheid te praat nie.’

‘Basta!’ snou Danie haar vinnig toe. ‘Julle vroumense bederf alles.’

‘Watter skuld het ek aan die saak?’

‘Jy het my gesoen! Dit was nie reg nie!’

‘So, dan is sy ook jaloers! Ek is bly. Maar op Ga-Mopedi het sy nie omgegee hoe sy ogies maak vir Rooie nie, toe het sy nie omgegee hoe sy my seermaak nie!’

‘Rooi Els? Maar Elma sal nie na so ’n ruwe mens kyk nie.’

‘Ru … ru! Laat ek jou dit sê, Danie de Wet, voordat jy hier op Belofte aangekom het, het Rooie baie met haar gedans. Hy het haar hier op dieselfde Glorie kom besoek. Ek weet dat sy nie nou meer van hom hou nie. Maar ek is bly dat ek haar kan seermaak, al het ek dit nie bedoel nie. Ek was maar net verheug dat jy bereid is om met Rooie te onderhandel. Moet Rooie jou kom spreek, Danie, of laat ons dit maar so, ek bedoel … ’

‘Nee, dra hierdie boodskap aan hom oor, Magda. Hy moet probeer om my in die hotel op Pongo-Pongo te ontmoet. Ek sal ’n paar boere saambring en dan kan ons die ooreenkoms skriftelik opstel. Ek dink nie die boere sal beswaar hê nie. Dit is beter so.’

‘Goed, ek sal dadelik gaan, maar dit beteken dat ek met dapper en stapper sal moet gaan.’

‘O, ja, ek het vergeet dat jy sonder jou perd hier is. Miskien moet ek jou ’n entjie gaan wegbring. Jou perd is seker nog daar in die buurt van die sandsloot.’

Danie kyk om in die rigting van die agterdeur.

Daar staan oom Jim in die deur.

‘Sy kan my perd leen, Danie. Maar ek dink tog dat dit beter sal wees as jy ’n entjie saamgaan. Soms kan die Griekwas baie astrant word.’

‘Toe maar, die Griekwas sal my geen leed aandoen nie. Hulle het my nog nooit gemolesteer nie.’

Danie gaan weer die stalle binne en enkele oomblikke daarna sit Magda fier op een van Jim Murray se perde. Danie bestyg sy ros ook. Hy het eers in die huis na Elma gaan soek, maar kon haar nêrens vind nie.

‘Laat ons maar ry, Magda. Ek moet gaan kyk hoe hulle met die pad vorder.’

Die twee perde se hoewe dreun oor die klipperige aarde toe hulle die werf verlaat.

By een van die vensters in die melkkamer staan Elma Murray. Sy weet haar handelwyse is soos die van ’n nukkerige kind, maar sy kan haar eenvoudig nie regruk nie. Nou staar sy die twee perderuiters agterna en ’n vreemde gevoel kom in haar op. Sy voel diep verneder en êrens vreet daar iets binne-in haar.

Daardie Magda is ’n katwyfie!