GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/mwrqlh-die-lokvink-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Die Lokvink

― Hoofstuk 1 ―

Johan se oë gaan oop, maar die totale afwesigheid aan opgewondenheid doen afbreuk aan hierdie, voorheen fantastiese, oomblik vir hom. Asof sy kan aanvoel dat hy na haar gesig staar, maak Suzie ook haar oë oop en na wat soos minute voel, kyk hy skielik weg na die kamerdeur. Dis asof iets hom sê om te vlug, maar waarvan en waarheen?

Wat altyd vir hom ’n vreugdevolle oomblik was, is nou niks meer as ’n oproep vir hom om sy lewenslange vonnis in die donker kelders van sy gesloopte lugkastele te hervat nie. Tesame met die ernstige psigiese skade van sy ongeluk en nou nog sy suster se dood, beweeg hy onwetend gevaarlik naby aan die afgrond van ’n algehele senuwee-ineenstorting.

Suzie kan voel hoe die ys om sy hart dreig om hulle van mekaar weg te skeur en daarom gryp sy Johan se lyf styf vas, ’n lyf wat nou weens sy gedwonge onderaktiewe leefstyl nie meer so ferm soos drie en ’n half jaar gelede is nie. Dit was net voordat die sloping van hulle lugkastele ’n skielike aanvang geneem het met sy en Karel se motorongeluk.

· · ·

Later daardie oggend daag hy en Suzie tien minute vroeër as hulle afspraak met dokter Peter Neill by sy spreekkamers by Wilgers-hospitaal op. Die hospitaal is ’n belangrike baken in Johan se lewe, want dis die eerste plek wat hy leer ken het nadat hy uit sy koma herstel het en waar hy as ’t ware gebore is.

Vandag is egter geen wandeling op die paaie van herinneringe nie. Dis ’n feit wat sommer gou duidelik word.

“Ek kan dit nie meer vat nie,” prewel Suzie deur haar sigbaar aangeplakte glimlag, asof sy Johan teen haar woorde wil beskerm. dokter Neill toon geen emosie daarop nie en vra Johan om te vertel hoe hy voel.

Sy antwoord ontketen een van die ergste woede-uitbarstings ooit na sy ongeluk.

Met groot oë en bultende are op sy nek probeer hy om die hartseer te verskree wat dreig om hom van binne te verskeur, en verloor alle beheer oor sy morele ingetoënheid.

“Ju-e amma ê ju-e ve-taan! Ju-e ve-taan ni! Ê i ni, ê wa ’n pokki-ee, nou hê ê nie een ’n anoo nie en my utter i doo, y doo. Nie een Gô gee mee om nie, wa my ko i mal, hy fokke mal! Ê an nie een mee ha’loo nie!”1

Van moegheid val hy plotseling terug in die stoel.

As ek harder kon praat, sou ek dit uitgil, want dit voel asof niemand my hoor of na my luister nie! Ek is kwaad, nee, woedend, omdat ek praat en praat sonder dat iemand verstaan! Almal kyk my met verstomde gesigte aan en ek haat dit, weet niemand dan dat my toekoms vernietig is nie! Hoe kan hulle nie hoor wat ek sê nie, ek hoor dan alles duidelik.

Sy uitbarsting laat Suzie se trane vir die hoeveelste keer hierdie afgelope paar maande uit haar oë stroom, maar sy probeer haar bes om vir sy onthalwe sterk te wees. Sy sit haar arms om sy nek, maar hy stamp haar weg en skree hardop, “Lô my ui!”

Hartverskeurd storm Suzie by die spreekkamer uit, maar gelukkig besef een van die sekretaresses, ’n deeltydse student, onmiddellik wat aan die gebeur is en drafstap vinnig agter haar aan.

“Suzie, wag vir my,” sê Bernice net-net hoorbaar vir die ontstelde Suzie.

“Ek kan nie meer nie, Bernice,” sê sy. “Hy praat nie meer met my nie, hy gil en skree gedurig op my, hy dink dis net hy wat swaarkry. Ek dra ook aan sy hartseer, ek het ook ’n suster verloor. Ek huil saam met hom!”

Bernice dink ’n oomblik na oor wat om te antwoord. In haar opinie is die sinvolste ding om te sê, “Hy sien op na jou, hy sal net heftig optree teenoor mense wat vir hom belangrik is.”

“Hoe kan jy dit sê, ek voel dat hy my blameer en elke dag ’n bietjie meer haat!”

Bernice antwoord haar met die logiesste verduideliking waaraan sy kan dink.

“Pas uitgebroeide hoenderkuikens neem die eerste lewende wese wat hulle sien aan as hul mamma, die een wat altyd daar is. Dis hoe dit met breinbeseerdes is as hulle uit hul koma’s kom. Jy was die eerste mens met wie Johan ’n interaktiewe verbinding gevorm het en vir hom is jy sy ‘mamma’ en ‘beskermer’.”

Dit maak dit nie minder seer om elke dag die teiken van sy woede-uitbarstings te wees nie, is egter die blywende gedagte in Suzie se gemoed.

“Teen wat moet ek hom beskerm, Bernice?”

Die akademiese kennis wat sy tot nou op universiteit gekry het, kom tot sy reg in die woorde waarmee sy baie beslis vir Suzie sê, “Daar is ’n rangorde in die natuur en ongelukkig word mense nie daarvan gespaar nie. Johan se beseerde brein plaas hom op ’n laer psigiese trappie as iemand wat nie deur breinbeserings geraak word nie. Tel daarby nog sy suster se dood, sy enigste kontak ná sy ongeluk met die regswese waarvoor hy so lief is, en jy begin ’n idee kry van hoe verlore hy moet voel. Jy is sy enigste houvas op die lewe.”

Haar woorde laat Suzie skielik skuldig voel omdat sy jaloers was as Anette Johan se gesig laat straal het wanneer hulle oor regsake gesels. Meer as ooit besef sy dat daar tog iets in sy geheue vassteek, dat wie en wat hy voorheen was steeds ’n invloed het op sy verwerking van sy breinbesering. Sy persoonlikheid het nie heeltemal verlore geraak nie, maar sy weet ook dat daar faktore is wat sy kennis en goeie oordeel in homself vaskeer.

  1. “Julle almal sê julle verstaan! Julle verstaan niks! Ek is niks, ek was ’n prokureur, nou het ek nie eens ’n kantoor nie en my suster is dood, sy’s dood. Nie eens God gee meer om nie, want my kop is mal, hy’s fokken mal! Ek kan nie eens meer hardloop nie!” [terug]