GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/mhpdcq-die-mensvreters-van-tsawo-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Die Mensvreters van Tsawo

— Hoofstuk 1 —

Die Kluisenaar

Die riete langs die waterkant word stadig weggedruk; ’n verrimpelde, maar harige hand, kom tevoorskyn. Dan loer ’n gesig met ’n deurmekaar bos baard tussen die riete deur na die kabbelende rivierwater.

Dit is ’n ouerige man; hy is in vodde geklee. In sy regterhand waarop die blou are duidelik lê, hou hy ’n blikemmertjie. ’n Paar klein maar wakker oë hou die krokodille noukeurig dop wat aan die oorkant van die rivier in ’n oop kol in die riete lê en bak. Dan sak hy ligvoets die wal af, tot by die water. Hy buk en skep die emmertjie vlugtig vol. Skaars raak die emmertjie met ’n metaalagtige klank die stroom of die reusagtige reptiele aan die oorkant is die ene belangstelling. ’n Paar het, met hulle anders lompe postuur, die water reeds vinnig ingeseil en afgepyl reg op die beroering wat hulle ore en oë daar anderkant opgevang het.

Maar die harige, vodderige mensfiguur is weer te gou. Hy staan alweer hoog tussen die riete op die wal. Hy ken hierdie skurwe duiwels baie goed. Al die jare alleen in die bosse het hom gebrei en hom die sintuie van ’n dier gegee.

Nou sluip-loop hy met sy emmertjie water deur die riete. Onder die hoë bome langs het hy al self ’n paadjie oopgetrap. Hy gaan teen die helling van die berg uit, reg op ’n steil krans af.

Half-verskuil tussen die varings gaap die donker opening van ’n grot. Die opening is net groot genoeg om ’n man na binne te laat sonder dat hy hoef te buk.

Binne is die grot taamlik ruim. Daar agter, in die verste hoek, is ’n paar kaalgevrete bene van wildsbokke. Hier en daar staan ’n paar lendelam kassies. Naby die opening knetter ’n vuur. Die geur van vars wildsvleis vul die lug. In die dak van die grot is ’n ysterhaak waaraan die helfte van ’n bosbok hang. Die verrimpelde, beaarde hand sit die emmertjie water ook op die vuur.

Die broek wat hy aan het, was lank gelede van sterk kakie. Die hemp het hy van bosbokvelle gemaak, hier en daar is dit al in repe geskeur. Hy staar met betraande oë in die vuur, lig sy kop en laat sy blik gaan oor die landskap wat in die oggendstrale van die son rustig lê.

’n Glimlag plooi skielik om sy mond. Hy het nege jaar lank gesoek, nege jaar lank ’n kluisenaarslewe gelei, en nou eindelik is sy taak volbring.

Die ‘Kluisenaar van die Blouberge’ word hy genoem deur die paar inwoners in die Oos-Afrikaanse dorpie, sowat 120 myl van sy grottuiste af. Hy kom af en toe by die klein dorpie in die ruie bosse aan, maar nie bedags nie. As dit donker word sluip hy deur die strate na die winkeltjie waar hy ’n Duitser opklop en sy ammunisie vir sowat twee maande, en miskien ’n bietjie kruideniersware koop, want om heeldag net wildsvleis te eet word tog te eentonig. In ruil vir hierdie goedere, gooi hy die swaar bondel wildsvelle voor die agterstoep van die winkeltjie neer, en stryk weer soos ’n spook deur die verlate stofstraatjies na ’n plekkie net buitekant die dorpie, waar sy muilesel en karretjie wag.

Maar hy ry nie dadelik nie. ’n Groot vuur verdryf die ondiere wat dit naby sy skuilplek waag. Só wag hy tot die môre-ure.

Voordat hy by sy grotskuiling kom, moet hy nog ’n nag in die bosse slaap. Veertien myl van sy tuiste af span hy sy muilkarretjie uit. Verder kan geen rytuig kom nie, want die bosse is te ruig en die berghange te klipperig. Die ou muil gaan rem-rem verder.

Paul Verhoef het die veld en die eensaamheid van die donker grot leer liefkry. Selfs die bietjie gewerskaf van mense in die dorpie, myle van hom af, wek by hom iets onaangenaams.

Maar Paul Verhoef woon nie hier nie, afgeslote van die wêreld, omdat hy dit verkies nie. Hy is nie ’n soort mal kluisenaar-kunstenaar soos die weinige mense wat hom al gesien het meen nie, maar Paul Verhoef woon hier in kluisenaarseensaamheid omdat hy ’n geheim het om te ontdek en ’n geheim om te bewaar.

Twintig jaar gelede, toe Paul Verhoef se vader nog geleef het, het die vurige begeerte om die geheim te ontdek by hom vlam gevat. Sy vader was ’n grootwildjagter. Eendag het hy die bosse ingegaan met twee agterryers. Nie een van hulle het ooit weer lewendig teruggekeer nie. Na ’n week het Paul Verhoef op sy beurt die bosse ingegaan om sy vader te soek. Naby hierdie grot het hy hom aangetref – half opgevreet deur die leeus. En dit was nie al nie. In sy regterhand het hy ’n handvol skitterende juwele krampagtig vasgehou. Veelkleurig en asemrowend mooi was die edelstene. Paul het dit nog in sy besit. Die lyk het op sy gesig gelê. Vasgedruk onder sy ander hand was ’n briefie:

My oë het iets ongeloofliks, iets legendaries, aanskou. Ek skryf hierdie paar woorde omdat ek ’n voorgevoel het dat ek nooit weer uit hierdie bosse sal kom nie. Ek het ’n stad ontdek, ’n verlore stad van juwele. My twee agterryers het agtergebly. My oë het nog nooit so iets aanskou nie – juwele in ’n diep gat onder ’n boom – robyne, opale, diamante, saffiere. Ek het met gulsige hande daarvan opgeraap. My agterryers ook, maar hulle is –

Paul Verhoef haal weer die verkreukelde vuil papiertjie tevoorskyn. Die woorde is teen hierdie tyd nouliks leesbaar. Maar hy ken dit van buite. Die briefie het stomp afgesluit. Naby die lyk het hy ’n bebloede dolk opgetel. Tussen die leeuspore, om die lyk, was diep-uitgetrapte kaalvoetspore, groot kaalvoetspore.

Die ‘Kluisenaar van die Bosse’ het sy geheim aan een mens toevertrou, ’n Afrikanerboer wat hul gesin altyd goedgesind was. Die boer het hom egter nooit daaraan gesteur nie. Maar nou sal hy. Die vodderige figuur gaan na die lendelam kassie in die een hoek van die grot. Hy haal ’n wit papier daaruit. Hy glimlag weer, die glimlag van ’n ontsielde kranksinnige. Hier is die kaart. Nou sal hulle hul pad na die verlore stad van juwele maklik kry. Paul Verhoef weet nou dat sy vader nie aan sinsbegogeling gely het nie. Dat die stad van juwele wel bestaan – die verlore stad diep in die hart van die oerwoud. Hy, Paul Verhoef, het dit met sy eie oë aanskou. Sy vader se geheim is nou sy geheim.

Die Verlore Stad van Juwele! Dit lê êrens in die onbegaanbare, ondeurdringbare oerwoud, in die bosdieptes waar geen mens nog ooit gekom het nie, geen blanke mens nie, behalwe hy, Paul Verhoef, en sy vader.

Na nege jaar van vergeefse gesoek, het hy gister eindelik afgekom op die verlore stad, diep verskuil tussen verwronge oerwoudreuse, oordek met bobbejaantoue en rankplante, en bewaak deur – reuse, swart reuse!

Hy het versteen gaan staan en agter een van die dikste bome geskuil. Daar voor hom was ’n beeld wat hom herinner het aan die sfinkse van Egipte. Net so koud en afskrikwekkend, so asof dit half-dier half-mens is, het die gedaante tussen die ruigtes uitgetroon. Neus, oë en ore kon ’n mens nouliks onderskei. Die rankplante het dit toegegroei. ’n Groot gespikkelde kat het met een grommende sprong op die kop van die beeld beland. Toe het ’n byna menslike geluid deur die oerwoud weerklink. Paul Verhoef se hart het in sy keel gebons. Hy het gesien hoedat die tier ’n groot bobbejaan in sy kloue vasvat, maar toe het hy sy oë geknip.

Dit was asof hy gehipnotiseer was. Op die muur van een van die bouvalle wat gelyk het na ’n kasteel, het ’n gespierde swart gedaante groot en vierkantig verskyn. ’n Assegaai in sy hand het vlymend skerp geblink in die sonlig wat plek-plek deur die blaredak dring. Die volgende oomblik het dit swiepend deur die lug getrek en tussen die blaaie van die tier geland.

Op daardie oomblik het die vluginstink Paul Verhoef oormeester. Hy het omgedraai in sy spore, maar toe weer vasgesteek. Geen vyf treë voor hom nie, het daar iets tussen die bosse geblink – juwele, rondgestrooi asof iemand dit daarin alle haas neergegooi het. Dit het geskitter in die sonlig. Daar het ’n tweestryd in sy binneste ontstaan. Die drang om nader te hardloop ongeag die gevare wat daar voor mag skuil, het hom amper oorweldig, maar die koue geheimsinnige vrees wat die hele toneel omvou het hom genoop om haastig die bosse te verlaat terug na die veiligheid van sy grottuiste.

Môre as die son die ooste rooi doop, sal hy oppak en dorp toe gaan en Pieter Beukes, die ryk boer, oorreed om ’n ekspedisie na die Verlore Stad van Juwele te stuur.

Vir baie hier in die omtrek, nee, vir almal, die Swahili en al die ander stamme in hierdie deel van Afrika, is die Verlore Stad niks meer as ’n ou legende nie.

Paul Verhoef slaap die nag onrustig en voel telkens in sy verslete broeksak of die kaart wat hy self geteken het, nog daar is.

Teen vieruur staan hy op.

Sy hart klop vinniger van opgewondenheid toe hy die dorpie, soos ’n mikroskopiese nietigheid tussen die ruie bosse en bome, nader. Hy wag onder dieselfde groot koorsboom waar hy soveel jare op die donkerte gewag het, met sy groot geheim in sy sak.

Om agtuur kan hy nie meer wag nie. Soos ’n dief sluip die vodderrige kluisenaar die donker in.

Snaaks –

Hy gaan staan. Dit lyk of die dorpie vanaand besonder bedrywig is. Hy gaan staan voor die enigste hotelkroeg, in hierdie tropiese bedompigheid. Hy hoor die mense daarbinne baljaar en lag. Het hulle iets om oor bly te wees? Hy het. Dis nou al nege jaar lank dat hy gereeld die swaaideure van hierdie kroeg verbystap, sonder om binne te gaan, want die groot geheim wat hy wou ontdek, het soos ’n vuur in sy binneste gebrand. Maar nou talm hy. Sal hy nie die sweet gaan afspoel met ’n bietjie bier nie? Maar sy vodde?

Hy voel weer in sy sak. Daar is die dokument nog. Sy bebaarde gesig loer triomfantelik om die deur. Die kroeg staan vol mense. Hulle sal wonder watter landloper hier inkom, maar hy voel vanaand groter as ’n koning.

Hy herken Pieter Beukes dadelik. Wat sou hy vanaand hier soek, wonder Paul. Hy is nie ’n persoon wat gewoonlik die kroeg besoek nie.

Paul Verhoef, toiingrig maar met ’n stralende gesig, stap pylreguit na sy maat – die een wat weet waarom hy so lank in die bosse gebly het. Sy hand soek-soek na die papier waarop hy die roete geteken het – die roete na rykdom, na rus, na weelde.

Maar Pieter Beukes maak asof hy hom nie raaksien nie. Hy kyk anderpad. Verhoef laat hom egter nie keer nie.

‘Pieter, ek het eindelik die pad gekry – ek het eindelik op die skatte afgekom,’ fluister hy aan Beukes, ’n man met ’n mooi versorgde bokbaardjie, gespierde arms, en flitsende blou oë.

‘Sjuut, Paul! Bly stil, en gaan om vadersnaam dadelik na buite voordat hulle jou sien.’

Hy aarsel oorbluf, maar die ander persone wat daar om die kroegtafel saamgedrom staan, het hom reeds gesien. In ’n oomblik het die bromstemme geswyg. Hulle kyk almal na hom.

Iemand merk op, ‘Is dit nie die kluisenaar, die mal kluisenaar van wie julle so flussies gepraat het nie?’

’n Kort verpotte mannetjie, die Duitser wat altyd Paul se velle neem in ruil vir ammunisie sê, ‘Ja, dit is hy.’

’n Groot man met ’n weglê-snor en ’n harde uitdrukking op die gesig, sit sy glas bier voor hom op die toonbank neer en nader die verskrikte Paul Verhoef met kragtige tred.

‘Ek verstaan u is bereid om ons inligting te verskaf in verband met die stad, die verlore stad in die oerwoud.’

’n Naamlose vrees oorweldig Paul Verhoef. Hoe weet hulle van die stad? Almal het dan gemeen dat die plek net in legendes bestaan.

Na al die jare se soek is sy senuwees skoon afgetakel. ’n Oomblik lank is hy skoon van stryk gebring. Was al die jare van worsteling, van ontbering in die eensaamheid, al die jare waarin hy soveel gevare van die oerwoud getrotseer het, vergeefs? Hy trek sy asem diep in. Nooit sal hy iets aan hulle verklap nie. Krampagtig klou hy die papier vas waarop die roete geteken is. Sy klein ogies rek groot.