GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/mdalml-rooi-maskers-3.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Rooi Maskers

— Hoofstuk 3 —

Rooi Maskers

Nie een van die twee vegtendes het wapens by hulle nie. Die Luiperdman staan nog vir ’n oomblik doodstil en dan sien hy hoe ’n derde gestalte uit die skaduwee van die rotse te voorskyn tree. Hy het ’n lang stok in sy hande. Hy gaan vinnig nader na die twee vuisvegters toe. Die volgende oomblik slaan hy die man wat met sy rug na hom toe staan, teen sy agterkop. Die man sink neer, en bly ’n oomblik stil op die grond lê. Leon kan nie hoor wat die ander twee te sê het nie, maar dit is duidelik dat hulle in ’n ernstige gesprek verkeer. Die een lig sy voet en skop die persoon op die grond toe laasgenoemde pogings aanwend om weer op sy voete te kom.

Die Swart Luiperd aarsel nou geen oomblik meer nie. Hier is mense in die onherbergsame Kaokoveld en hulle is nie om dowe neute hier nie! Daar voor hom het hy nou net gesien hoe twee forsgeboude mans soos verwoede diere teen mekaar veg. Al het hy niks gehoor wat hulle te sê gehad het nie, kon hy uit hulle hele houding sien dat tierende, dierlike emosies hoogty vier.

Soos ’n wildsbok spring Leon van die rotspunt af en draf na sy perd toe. Hy wip rats in die saal en fluister aan sy katte, ‘Kom julle, of ek ry sonder julle! Hier is moeilikheid in die Kaokoveld. Kom!’

Hy gee Donker spore en die perd skiet vorentoe en vleg weldra sy pad deur die bome en die struikgewas. Sag in die aandstilte kan Leon die gedruis van ’n waterval hoor. Die geluide van die nag smelt so ineen dat die een nie van die ander onderskei kan word nie. Grommend spring die twee dikgevrete luiperds agter hom aan.

Net vir ’n klein endjie is die bosse so dig dat Leon laag op die rug van sy perd moet buk om nie deur die oorhangende takke afgeraap te word nie. Hy pyl reguit op die poort af.

Die maan gooi bleek vlekke tussen die bosse in. Bo van die tafelagtige berge af huil-lag gestreepte wolwe en daar is die gedempte gebrul van bergleeus. ’n Enkele oomblik is die harde trompetgeluid van ’n aap hoorbaar. Maar die Luiperdman is gewoon aan hierdie geluide van die oerwoud en vinnig stryk hy aan.

Die bome word al minder – nog net hier en daar ’n doringstruik. Voor hom sien hy nou die opvlammende vuur wat half onder ’n oorhangende krans gemaak is. Die donker sandsteenrotse lê voor hom, in lae opgestapel tot ’n hoogte van ’n 500 voet.

Die Swart Luiperd is nou geen honderd tree van die mense daar by die vuur nie. Nou staan daar drie manne in die spelende lig van die vlamme.

Leon besef dat hy baie versigtig moet wees. Dit is maanlig en hulle kan hom maklik hier op die gelyk sandwêreld bespeur. Daar is net enkele doringbome en rotsstukke tussen hom en die vuur waaragter hy kan skuil.

Hy spring dus vinnig van Donker se rug af, en lei die perd onder die skaduwee van ’n groterige doringboom in. Hy beveel sy luiperds om by die perd te bly en dan spring die Luiperdman weer vorentoe.

’n Oomblik lank staan hy agter ’n rots en verken die wêreld. Die drie manne by die vuur is in ernstige gesprek gewikkel. ’n Man lê op die sand naby die ander drie, en Leon sien dat hy nog half bedwelmd is. Dit lyk of bloed van sy gesig afstroom en stadig in die droë sand insypel. Enkele woorde van die man by die vuur dring tot Leon deur.

‘Ek sê jou, die Masker sal nie hierdie ding duld nie – as hy weet, sal hy hom doodmaak en vir ons ook as ons nie nou rapporteer en hierdie ellendeling vermorsel nie.’

‘Jy is te haastig, Salie, glad te haastig! Wat sal dit help om hom dood te maak? Ons moet nou eers meer inligting uit hom skud – dan kan ons hom na die Masker neem en vertel wat ons uitgevind het – ’

‘As ek my sin het, skiet ek hom nou dood,’ sê een van die mans en die Swart Luiperd sien hoe hy met ’n vuil sakdoek die bloed van sy neus af veeg. Leon weet dat dit die man is met wie die ongelukkige persoon op die grond so flussies geveg het.

Die Swart Luiperd is skielik die ene belangstelling; vinnig buk hy en hardloop sowat vyftien treë nader, dan duik hy agter ’n doringboom in. Na ’n ruk sluip hy verder in ’n halfmaan om die vuur. Hy is nou regoor die drie manne en sien dat hulle aanstaltes maak om dieper onder die oorhangende krans in te gaan. Vir die eerste keer merk die Swart Luiperd op dat hulle rooi maskers oor hul oë het. Binne-in Leon is dit onstuimig van opgewondenheid. Hy weet dat hy in hierdie dorre streek avontuur gaan hê.

Die Luiperdman is nou ongeveer twintig treë ten weste van die brandende houtstompe. Hy is teenaan die tafelbergagtige rant. Die rotse skiet steil die hemelruim in, en daar is geen plantegroei, gras of bobbejaantou met behulp waarvan mens hoër kan klim nie, maar die Luiperdman wil hier op en dan wil hy tot reg bokant die drie geheimsinnige mense beweeg. Uit die hoek van sy oog sien hy nou ook ’n drietal perde.

Rats en vinnig spring Leon na ’n stuk rotspunt. Hy vang dit met albei hande vas en trek hom omhoog. Hy skop teen die sandsteen vas en weldra staan hy met albei voete op die uitstaande rotspunt. Die rotse strek nou skuins na boontoe en soos die bergbewoners van hierdie dele, klouter hy hande-viervoet verder. Telkens gly hy, maar dan skop hy weer vas in die sagte sandsteen en klouter hoër. Dit is weliswaar net die bobbejane wat die Luiperdman hierdie toertjie sal nadoen.

Die Swart Luiperd is eindelik op die hoogste toppie. Die maan skyn helder en Leon is verbaas om bo-op die rant plantegroei aan te tref. Dit lyk soos ’n tuin, met gras en laaggroeiende bossies. Daar is moepelbosse en die wind wat nou van die rivier se kant af opsteek, raas daardeur.

Vinnig sluip hy bo-op die plato in die rigting van die vuur en die holkrans waar die gemaskerde manne skuil. Om hom lê die bos- en sandvlaktes, duidelik in die maanskyn. Hy kyk onwillekeurig in die rigting van sy diere, maar die diep skaduwees van die bome verskuil hulle vir die oog.

Leon sak effens laer-af en die stemme van die mense kom nou weer tot sy ore, al duideliker hoe nader hy beweeg. Opeens duik hy agter ’n moepelbos weg. Daar is die vuur onder hom en die persoon daar langsaan beweeg nou. Die Swart Luiperd sien dat hy ligte hare het en die bloed is hard aan sy gesig. Hy beweeg weer en kreun en die Swart Luiperd kan raai dat hy die ander drie manne skelm dophou.

Leon loer versigtig oor die rand van die afgrond. Hy is ongeveer twintig treë bokant die gemaskerde manne. Hulle staan nie heeltemal onderkant die oorhangende krans nie, maar ’n endjie in die maanlig, sodat Leon hulle mooi kan sien. Dit is groot manne, al drie oor die ses voet en sterk gebou. Elkeen dra ’n rewolwer in ’n holster aan sy linkersy. Leon sien geen wapens by die man langs die vuur nie.

‘Ek sê jou,’ hoor Leon een van die manne sê – ’n persoon met ’n dikkerige gesig, met ’n bruin broek en kakiehemp aan. Sy moue is opgerol en hy staan breed voor die ander twee. ‘Ek sê julle dit is hy wat Manus vermoor het – ek ken daardie blinkes wat hy by hom het. Dit is die wat Manus by hom gehad het. Hy is ’n moordenaar en ’n spioen – hy is hierheen gestuur om dop te hou – ’

‘Ek stry nie, Salie, dit is my ook duidelik dat hy Manus gevang en doodgemaak het en die diamante by hom afgeneem het, maar as hy ’n spioen is, moet ons eers uitvind of hy maats het. Hy sal nie alleen gekom het om ons uit te ruik nie.’

‘Gee my ’n kans om hom vrek te maak,’ brom die man wat aangespreek word as Salie. Hy druk sy breërandhoed stywer op sy kop, en staan met sy rug na die half bedwelmde man by die vuur.

Daar kom nou meer beweging van die vuur se kant af en die Swart Luiperd sien hoe die bloedbesmeerde man hom op sy elmboë lig – dan kyk hy vervaard na die donker bosse waaruit Leon so flussies gekom het. Dit is vir die Luiperdman duidelik dat die man vreesbevange is en dat hy planne beraam om te vlug. Die kanse dat hy sal wegkom, is egter baie skraal.

Die Luiperdman se hand is by die hef van sy gevaarlike jagmes.

Die man by die vuur kom skielik orent – dan kyk hy wild rond, merk dat nie een van die drie hom sien nie, en hardloop dan sommer blindweg deur die maanlig. Hy wil net agter ’n doringstruik induik, toe die groot Salie hom bespeur. ‘Daar gaan hy!’ skree hy luid, en hy pluk sy rewolwer uit.

Salie vuur op die vlugteling, maar dit is mis, en een van sy makkers gryp sy arm vas en skree op hom om nie te skiet nie.

Salie snel nou by die vlammende vuur verby, agter die vlugteling aan. Hy vloek so ver as hy gaan en die ander twee volg hom.

Die vlugteling word verbouereerd. Hy sien dat die bosse nog ver is, en swenk skielik terug na die sandsteenrant toe. Geen dertig treë van die vuur af nie, trek die swaar Salie hom plat. Vuiste klap en Leon sien hoe die bloed opnuut uit die vlugtende se neus en mond spuit. Salie gryp die man aan die keel en druk sy gesig die volgende oomblik in die sand. Die man spartel en skop en nou kan die Swart Luiperd sien wat Salie se plan is. Hy wil die man versmoor.

Salie se slagoffer gil benoud, maar die wreedaard druk sy kop nog dieper in die sand weg.

Blitsvinnig is Leon se boog in sy hande. ’n Pyl word die volgende oomblik deur die maanlignag gestuur. Dit swiep rakelings oor die vuur asof dit ’n koeël uit ’n geweer is.

Niemand sien die pyl nie nie, voordat dit Salie se hoed netjies van sy kop aflig nie. Die fluitgeluid laat Salie verskrik opkyk. ’n Paar treë van hom af lê sy hoed met ’n pyl daardeur.

Salie gee net een knoop en los die man wat al byna sy asem kwyt is. ‘Boesmans!’ skree hy en staan haastig na die kranse se kant toe.

In ’n oogwenk sien sy maats die pyl en draai ook haastig om om skuiling te soek. Hulle laat die ongelukkige man net daar lê waar Salie hom gelaat het.

Leon se boog span weer styf.

Die drie mans is nog nie vyf treë van hul slagoffer af nie, of weer swiep ’n pyl deur die lug. Dit steek geen tree voor die drie gemaskerdes in die sand vas nie – dit bewe onheilspellend en bring die drietal tot ’n skielike stilstand.

Salie gryp sy rewolwer en kyk op na die kranse.

Die Swart Luiperd sien aan die manne se reaksies dat hulle al vantevore met die Boesmans en hul pyle te doen gekry het.

Salie los twee rewolwerskote in die rigting waaruit die pyl gekom het – dit fluit skadeloos oor Leon se kop. Leon lag hard agter sy masker, ’n uitdagende gelag, en Salie en sy maats hoor dit.

Salie laat sak sy rewolwer, en val die volgende oomblik plat en Leon kry weer groot lag vir die mans se handelwyse. Hy is nou nog ’n makliker teiken.

‘Dolf, Tom, ek sê vir julle dit is nie Boesmans nie! Ek het iemand hoor lag – dit is nie Boesmans nie – ’

Dolf, ’n lang, skraal man met lang arms, skraap ’n bietjie moed bymekaar en skree, ‘Kom uit daar, jou sluiper, of ons slag jou af!’

Tot hul verbasing kom ’n hol stem tot hulle terug, ‘Ek kan aldrie van julle doodskiet soos julle daar op die sand lê; gooi jul rewolwers op die grond neer, staan op en steek jul hande in die lug!’

Nie een van hulle gehoorsaam egter nie. Hulle staar oorbluf na mekaar. Die man wat daar bo van die kranse af praat, praat met ’n snaakse gesag-inboesemende stem – hy praat in hulle taal – en hy skiet met ’n pyl en boog – dit kan nie ’n spioen wees van die Suidwes-polisie nie – dit – Salie se kop draai en hy verwag ’n antwoord van sy twee makkers, maar hulle is ook skoon uit die veld geslaan.

‘Ek tel drie,’ kom Leon se kragtige stem weer hol-klinkend agter die masker uit, ‘en as julle nog nie op jul voete is met jul hande in die lug nie, julle vuurwapens op die grond nie, sal ek julle moet afmaai!’

‘Wie is jy?’ bulder Salie dit uit, maar sy stem is onseker.

Die Swart Luiperd antwoord hom nie, maar stadig loer hy om die moepelbos. Sy tierkop word sigbaar, donker en afskrikwekkend in die bleek strale van die volmaan.

Salie sien dit die eerste, en sy mond val oop. Hy wil sy rewolwer weer omhoog bring en blindelings vuur, maar Leon se pyl fluit weer toe dit die boog verlaat en ’n gedeelte van ’n sekonde daarna klap dit teen die staal van die rewolwerloop. Salie se vuurwapen spat teen die sand; terselfdertyd spring hy opsy en tuur vreesbevange na die pyl wat ’n endjie van sy vuurwapen af lê.

Die Swart Luiperd steek sy luiperdkop verder agter die moepelbos uit en nou sien die ander twee ook die grynsende swart luiperdkop. Die lang, skraal Dolf se oë peul byna uit sy oogkaste, en hy stoot die woorde hard uit, sodat Leon dit daar twintig treë van hulle af, ook kan hoor, ‘’n Swart Luiperd, maar – maar – ek het nie geweet dat die Kaokoveld het sulke goeters nie – ’

Salie word waansinnig van woede en vrees. Hy besef dat die ander hom nog altyd vir ’n onverskrokke man aangesien het, iemand wat altyd wen, en hy durf nie nou soos ’n bang mens voor hulle optree nie. Maar hierdie ding agter die moepelbos bokant hom laat ’n beklemmende gevoel in hom opstyg – dit lyk – maar hy kon sweer dat hy daardie pyle reg vanuit die rigting van die moepelbos sien aanseil het.

Hy skree onseker, ‘Moenie nog praat nie, Dolf, skiet die ding voor hy spring.’

Agter die moepelbos lag Leon weer en hy grom soos ’n luiperd. Salie buk om sy rewolwer weer op te raap, maar dan kom die hol-gebiedende stem van Leon weer agter die masker uit. Dit klink asof hy in ’n leë kamer praat en dit verskaf ’n eienaardige spookagtige, klank aan sy stem.

‘Staan doodstil, Salie!’ beveel hy en Salie verstyf, nog in ’n half gebukkende houding.

Hoe de drommel kan die man wat daar êrens saam met ’n luiperdgedierte skuil, weet wat sy naam is? dink hy half oorbluf.

Leon kom nou agter die moepelbos uit en vir die manne daar onder is hy nou duidelik in die maanlig sigbaar. Dolf trek sy asem diep in en Tom los iets soos ’n gruwelike vloekwoord. Salie se mond hang oop. Hy vryf sy oë om seker te maak dat hy nie dalk dinge in hierdie bedrieglike maanlig sien wat blote illusie is nie. Maar nee, daar staan hy in sy volle lengte. Hy sien die swart luiperdkop met die oophangende bek, die slagtande! Hy sien die klein oortjies – maar verder is daardie gestalte ’n man, ’n mens soos hulle hier onder! Hy sien die pyl en die boog in Leon se hande. Die pylpunt is sekuur op sy, Salie, se bors gerig. Sonder dat hy wag op ’n bevel val Tom se rewolwer stadig uit sy hand en Dolf volg sy voorbeeld.

Agter die drie manne met die rooi maskers het die bedwelmde man waggelende orent gekom. Hy staan nader en sy bloedbelope oë peul uit hul oogkaste. Hy kan die hele toedrag van sake nie ook begryp nie. Hy wonder, onderwyl die bloed deur sy are en sy kop jaag en klop, of hy nie dalk yl as gevolg van die baie kophoue wat hy moes verduur nie.

Hy strompel nader, en asof hy hom wil vergewis dat hy nie droom of yl nie, loop hy tot by Salie en bekyk hom; dan rig hy sy blik weer op na die kranse waar daardie vreemdsoortige figuur roerloos staan, met die pyl en boog in sy hande.

Die bebloede man lag – half histeries – en Leon weet dat hy baie foltering en pyn, sowel liggaamlik as geestelik, hier in die eensame Kaokoveld moes verduur. Hy kan dit aan die hele houding van die man bespeur.

‘Wat die Kaokoveld nie oplewer nie! Salie, hulle het my gesê toe ek hierheen gekom het, dat die Kaoko geheime het – diep geheime wat hy bewaar; die Kaoko is vol verrassings, het hulle my gesê, en ek sien dit is so, Salie! Maar dit lyk my daardie dier is aan my kant – ’

Hy breek skielik af, want koud en hol-gebiedend kom die Swart Luiperd se stem weereens, ‘Staak jou histeriese geklets, vreemdeling – en maak daardie rewolwers van jou aanranders bymekaar. Gooi hulle buite hul bereik anderkant die vuur – gou!’

Die man gehoorsaam dadelik en Salie kners op sy tande, maar sê nie ’n woord nie.

Die Swart Luiperd spring vorentoe. Van rots tot rots daal hy al laer en laer, totdat hy op die dak van die oorhangende krans kom. Nou kan die drie gemaskerdes die boog duidelik sien, styf gespan, asof Leon gereed is om die snaar enige tyd te los en daardie skerppuntige pyl af te stuur na een van hulle.

Salie kry ’n plan. Hy is nou seker dat hierdie man wat skielik uit die niks van nêrens verskyn het, teen sy leier, die Masker, veg – soos die ander man hier spioen hy op hulle, op die Maskerbende. Die Swart Luiperd moet nou ’n sprong waag. Hy moet van die rots afspring wat twaalf voet bokant die sand is. As hy grond vat, gaan hy storm, besluit Salie. Die man met die luiperdmasker wat hulle soos ’n primitiewe van die bosse met pyl en boog aanhou, sal sy ewewig moet verloor.

Leon se oë is egter stip op Salie gerig. Hy sien hoe die man se oë in die oogkaste draai en hy weet dat die gemaskerde planne beraam.

Dan spring die Swart Luiperd skielik. Hy kom op sy voete te lande, maar laat die pyl en boog effens sak.

Dan duik Salie die volgende oomblik vorentoe en skree hees, ‘Vat hom, kêrels!’