GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/lvftpz-die-fantastiese-rowwe-dodelike-uhm-rykamp-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Die Fantastiese, Rowwe, Dodelike, Uhm … Rykamp!

― Hoofstuk 1 ―

Die skouterrein waar die perdrykamp gehou gaan word, is al die ene bedrywigheid toe die vragmotor met die Poniehoewe-ponies daar aankom. Sleepstalle staan die wêreld vol en orals loop kinders met saals op die arm en tooms oor die skouer, skynbaar onseker van waarheen hulle op pad is.

“Ek sal maar daar by die stalle parkeer,” sê Anneke se pa, wat die vragmotor bestuur, vir Ruan wat saam met hom ry. “Iemand sal wel weet wat aangaan.”

Agter hulle hou die Samuelse se motor stil en drie ander lede van die Poniehoewe-Klub, Tessa, Anneke en Dommie, klim uit. Roy, die vyfde en jongste lid van die klub, het nie saamgekom nie, want, het hy gesê, die kamp is vir skouspring en dressuur en dis nie oor Rollie dit nie kan doen nie, maar hy wat Roy is hou nie daarvan nie. Hy wil trouens bly sodat hy kan rodeo leer by ’n Amerikaanse vriend van sy pa, wat die langnaweek kom kuier.1

Die soektog na iemand wat weet wat aangaan is pure verniet en op die ou end stop hulle die ponies in vier stalle langs mekaar in een van die rye wat gewoonlik die skoudiere huisves. Iemand wys hulle een ’n entjie verder met ’n vol deur wat kan toesluit, en daarin pak hulle perdekos, lusernbale, saals en tooms, en hul tasse met klere. Ook hul matrasse en slaapsakke word tydelik daar gebêre. Anneke se pa gee sommer vir hulle die hangslot van die vragmotor se gereedskapkis, sodat alles darem veilig is.

Nadat die twee pa’s gery het en hulle op hul eie is, gaan soek hulle blyplek. Daar is twee groot sale vir tentoonstellings en daarin word die ruiters gehuisves, seuns in die een en meisies in die ander. Hulle stap soontoe om te gaan verken, maar voordat hulle daar is, word hul aandag getrek deur ’n nuwe aankomeling.

Al vier staan stil en kyk na die donkergroen motor met ’n blinkwit sleepstal op tou, wat by die stallekompleks parkeer. Ruan se mond hang oop.

“Dís nou ’n SUV!” prewel hy met ontsag.

“’n SNV,” help Tessa hom reg. “Sportnutsvoertuig.” Tessa se ma is ’n Afrikaans-onnie en daarom weet sy sulke goed.

“Selfde ding,” verseker Ruan haar. “’n Range Rover Evoque … mense, dis klás daardie.”

“En ons lyk asof ons niks gewoond is nie,” sê Dommie, maar is self nuuskierig om te sien wat uit so ’n duur motor kom.

Die bestuurder klim uit en loop vinnig om die motor na die agterste sitplek se deur. Hy het ’n swart uniform aan en ’n plat pet op.

“’n Sjofer!” giggel Dommie.

Toe die bestuurder die deur oopgemaak het, klim ’n meisie uit en kyk om haar. Sy het ’n spierwit rybroek aan, ’n ligblou hemp en suède kamaste met blinkertjies op. Sy lyk soos ’n advertensie vir gesonde buitelewe, as dit nie was vir …

“Sy’s vet!” sê Ruan.

“Plomp,” sê Anneke.

“Mollig,” sê Dommie.

“Goedbedek,” sê Tessa, wat nog laas Asterix en Obelix gelees het.

“Ek wonder hoe lyk haar perd, moet seker ’n Shire of iets wees,” reken Anneke.

“Moenie katterig wees nie,” betig Tessa haar.

Die bestuurder en nog iemand wat uit die sleepstal se voorste deurtjie klim – “Tot ’n stalkneg,” lewer Ruan kommentaar – stap na die agterkant van die wa en laat die loopplank neer. Die kneg klim in en na ’n paar oomblikke word ’n perd se agterstewe sigbaar wat in trurat na buite kom. Toe die hele perd op die grond staan, vasgehou deur die stalkneg, tel die bestuurder die loopplank op en maak toe. Daarna haal hy bagasie uit die motor en pak dit op ’n hoop.

“Twee koffers en drie tasse,” tel Dommie. Niemand luister nie, want hulle bekyk die perd wat uit die sleepstal gekom het. Veel is daar nie te sien van hom nie, so toegedraai is hy in ’n kombers en beenverbande en selfs sy kop en nek is toe in ’n mus met ore.

“Hy lyk nie baie groot nie,” sê Anneke. “Omtrent soos Dapper.”

Die ander stem saam.

“Sy’s self nie juis groter as ons nie,” stel Tessa vas, en voeg by, “net breër.”

Die bestuurder lyk opgeskeep met die bagasie en kyk na die meisie wat haar egter nie aan hom steur nie. Sy staan nog waar sy uitgeklim het. Niemand anders is meer naby nie, almal is al na die groot sale toe.

Tessa stamp aan Ruan.

“Toe, gaan sê hom waar om te gaan.”

Met Ruan se hulp dra die bestuurder die tasse na die slaapplekke, gevolg deur die meisie. Toe hy terugkom, help Ruan hom die sleepstal afhaak. Die perdekneg, verduidelik die bestuurder, slaap in die woonkompartement, en hy wys hulle die kompakte kamertjie voor in die voertuig. Daar is ’n bed en tot ’n kombuisie en ’n stort, netjies ingepas.

“Nou ja, dankie vir die hulp,” sê hy terwyl hy in die motor klim. Hy wuif terwyl hy wegry, sigbaar verlig om weg te kom.

“Hy hou nie van perde nie,” verduidelik Ruan.

Hulle besluit om ook eers hul slaapplekke reg te kry voordat daar na die ponies omgesien word. Ruan stap alleen na die seunsaal toe.

“Uiteindelik rus en vrede!” spot hy.

Dit lyk nogal asof hy reg is, want toe hy daar kom, is daar net drie ander seuns in die saal. Hulle het klaar hul beddegoed langs mekaar in ’n hoek gesit en nooi Ruan luidrugtig om by hulle aan te sluit. Hul stemme eggo hol in die groot ruimte.

· · ·

In die meisiesaal gaan dit baie vroliker daaraan toe. Maklik twintig meisies van verskillende ouderdomme het hulle al tuisgemaak en tasse, beddegoed en saals lê rond en bont terwyl die eienaars opgeruimd met mekaar kennis maak of ou bekendes groet. Tessa, Anneke en Dommie herken ’n paar gesigte wat hulle al by skoue gesien het en waai geesdriftig oor die geroesemoes heen.

“Hier’s nog plek!” roep iemand.

“Dankie, hou dit vir ons, ons gaan net gou ons goed kry!” beduie Tessa.

Buite wag Ruan al vir hulle.

“Reggekom?” vra Dommie.

“Ja, maar ek wag vir An om oop te sluit.”

“O ja, ek het die sleutel,” onthou Anneke en vis dit uit haar sak.

By die stalle gaan kyk hulle eers of die ponies nog gelukkig is. Hul hooinette is leeg en die wateremmers ook.

“Sal ons hulle nou kos gee of dink julle ons gaan eers ry?” wonder Tessa.

“Ons sal seker eers vanmiddag ry, kom ons gee hulle nog ’n net lusern,” besluit Ruan.

Hulle haak die leë nette af en Anneke sluit die stal oop waarin hulle goed is.

Terwyl hulle besig is om die lusern uit te pluis en in die nette te stop, sê Dommie skielik, “Haai sjuut, luister!”

Die ander spits hul ore en hoor dit nou ook. Iemand huil lang, droewige snikke en dis sommer naby.

“Dis hier agter,” fluister Anneke. “Moet ons gaan kyk?”

“Seker iemand wat huis toe verlang,” sê Ruan sag. “Los liewer.”

Maar Tessa is klaar by die deur uit.

“Kom, julle,” sê sy.

Hulle stap om na die stalle se agterkant en gewaar iemand wat ineengekrimp teen die muur staan.

“Dis die ryk meisie van die SUV,” sê Anneke verbaas. “Wat het sý om oor te huil?”

Tessa is al by haar en sit haar hand op die skokkende skouer.

“Wat’s verkeerd?”

Die meisie skrik op en stop verward die helfte van ’n sjokoladestafie in haar mond. Tessa sien nou dat die grond rondom haar voete besaai is met papieromhulsels van alle kleure en geure, en die meisie se mond en wange bruin gesmeer is van die sjokolade. Voordat sy nog klaar gekou en gesluk het, sê sy, “Gee pad. Los my,” en probeer Tessa se hand afskud.

Die ander drie is nou ook by en die meisie soek uitkomkans.

“Los my uit,” sê sy weer.

“Hoekom huil jy?” vra Anneke. “Voel jy siek?”

“Sal my nie verbaas nie,” mompel Ruan onderlangs en kyk veelseggend na die sjokoladefest se oorblyfsels op die grond.

“Nee, ek is nie siek nie. Gaan net weg, asseblief!”

“Nie voordat jy ons gesê het wat verkeerd is nie,” hou Anneke aan.

Die meisie gee nog ’n paar na-snikke en sê dan, “Ek wil nie op hierdie mislike kamp wees nie, goed? Is jy nou tevrede?”

Dis nie ’n antwoord wat hulle verwag het nie.

“Hoekom nie?” wil Tessa weet.

“Sommer nie.”

“Ag, moenie kinderagtig wees nie. Natuurlik is daar ’n rede en miskien kan ons help.”

Die meisie aarsel, weeg blykbaar die betroubaarheid van die vier maats op, en neem ’n besluit.

“Ek kan nie perdry nie,” sê sy.

“Maar hierdie is vir gevorderde ruiters, het jy nie geweet nie?”

Die meisie knik miserabel haar kop.

“Ja, en dis wat ek veronderstel is om te wees. Net, ek is nie.”

“Is dit dan nie jou perd wat julle afgelaai het nie?” vra Tessa.

“Ja, maar ek kan hom nie ry nie. Ek is doodbang vir hom.”

“Ek dink ons moet iewers gaan sit, dan vertel jy vir ons die hele storie,” sê Anneke, en gehoorsaam laat die meisie haar na die toesluitstal van die Poniehoewers lei. Ruan bly eers agter om die papiere op te tel.

  1. Lees RODEO ROLLIE! vir dáárdie avontuur. [terug]

― HOOFSTUK 2 ―

“Reg,” sê Tessa toe almal styf ingeryg hul sit gekry het op die bale lusern. “Ek is Tessa, en op die ry af is Dommie, Anneke en Ruan. Wat is jou naam?”

“Medila.”

“En jou perd s’n?” vra Anneke.

Medila trek haar skouers op.

“Ek weet nie.” Toe sy die geskokte gesigte sien wat haar aankyk, voeg sy by, “Hy het ’n onuitspreekbare Arabiese naam. Jackson noem hom sommer Azzie, dit is soiets.”

“Wie’s Jackson?” wil Ruan weet.

“My lyfwag. Hy hou van perde en hy sorg vir hom.”

“Jou lyfwag?” sê-vra Ruan, tegelyk met Anneke se, “’n Arabierperd?”

“Wag nou, ouens,” sê Tessa. “Medila, wat ons graag wil weet is hoekom jy op ’n perdrykamp is terwyl jy nie kan ry nie en – ”

“En hoekom jy so baie lekkers eet – ” val Dommie haar in die rede en word op haar beurt onderbreek deur Anneke, “En hoekom jy nie eers weet wat jou perd se naam is nie.”

“Vir wat? Wat wil julle van my hê?” vra Medila agterdogtig.

“Ons wil weet hoe ons jou kan help,” antwoord Tessa. “Ons wil niks hê nie, net help as ons kan.”

“Maar as jy nie wil nie, is dit ook goed.” Dis duidelik dat Ruan nie eintlik belangstel in die vreemde meisiekind se probleme nie. “Dis netnou etenstyd en daarna begin die eerste lesse, ons moet gou maak.”

Medila se oë rek wyd oop.

“Vanmiddag al?”

“Ja, ons wil mos so gou as moontlik begin.”

“Ek kan nie,” sê sy met ’n bang stemmetjie.

“Vertel ons hoekom nie,” sê Tessa en sit haar arm om die bewende meisie. “Dalk kan ons help.”

“Julle sal nie verstaan nie.” Die trane sit vlak en sal enige oomblik weer begin stroom, vrees Tessa.

“Probeer,” moedig sy aan.

“Ek kan nie ry nie, ek was nog nooit eers op my perd se rug nie, en ja, ek kan dink julle wil weet wat soek ek hier, maar dis oor my ma-hulle dink ek is so goed want dit is wat Jackson en my instrukteur haar vertel – ”

“Jy’t ’n instrukteur?” vra Ruan.

“Wat jou rylesse gee?” verwonder Anneke haar.

“Ja, maar sien, ek ry nie regtig nie, Jackson doen. En die instrukteur het belowe hy sal nie sê nie want … ”

Dis ’n oomblik stil, toe sê Tessa, “Jy’t hom omgekoop?”

Medila knik haar kop.

“Dit was al wat ek kon doen. Dis mos nie verkeerd nie.”

“Waar kry jy so baie geld?” vra Ruan nuuskierig.

“My sakgeld. Ek wou vir Jackson ook betaal, maar hy wil nie hê nie, hy sê dis vir hom lekker om die perd te ry.” Sy gril asof dit ’n ondenkbare gedagte is.

“Nou hoe lyk die perd nou eintlik?” vra Anneke. “Ons het gesien toe julle hom aflaai, maar hy was te toegedraai.”

“Het julle my afgeloer?” wil Medila skielik vyandig weet.

“Natuurlik nie, jy sal jou wat verbeel,” snip Dommie, maar Tessa vra, “Word jy agtervolg of iets? Dat jy ’n lyfwag en so moet hê?”

“Mens weet nooit,” is al wat Medila antwoord.

“Toe, vertel van die perd,” dring Anneke aan.

“Dis ’n pérd, wat is nou so wonderlik daaraan? My pa sê dis ’n arabierperd, hy’t hom present gekry by ’n sjeik in Saoedi-Arabië en saamgebring hiernatoe en toe besluit my ma dit sal haar goed laat lyk as haar dogter rondloop in ryklere met allerhande bling.” Medila trek ’n gesig, maar haar stem is bitter. “Julle moet my helm sien!”

“Wanneer was dit?” vra Tessa.

“Omtrent ’n jaar gelede.”

Skielik verstaan Tessa.

“Is dit hoekom jy so baie lekkers eet?”

Medila antwoord nie, trek net haar skouers op.

“Hoe lyk hy? Hierdie Azzie-perd?” hou Anneke vol.

“Soos ’n perd. Bruin,” sê Medila onwillig.

“Kan ons hom gaan sien?”

“Seker, as jy verby Jackson kan kom.”

“Waar’s Jackson dan nou?” vra Ruan.

“Hy sal hier rond wees om my op te pas.”

“So nou word ons ook dopgehou?”

“Hy moet altyd weet waar ek is,” verduidelik Medila. “Hy sal met julle kom kennis maak sodra hy kans kry.”

“Ek hou niks daarvan nie,” brom Dommie, maar Medila sê, “Dis sy werk.”

“Waar gaan hy slaap, op die drumpel van die saal?” spot Ruan.

“Hy het mos sy bed in die sleepstal,” sê Tessa, “en Medila slaap saam met ons. Nè, Med?”

“Ek wil liewer huis toe gaan. Ek voel siek,” probeer dié, maar Anneke sê, “Daar moet ’n manier wees sodat almal dink jy ry, anders kom jy in die moeilikheid by jou ma. Hoe lyk dit, ouens, koppe bymekaar?”

“Die Poniehoewe-Klub se dinkskrum aan die werk!” sê Tessa.

Die tydelike stilte word verbreek deur die gekraak van ’n sjokoladestafiepapier en ’n oomblik later die geluid van tande wat kou. Hulle kyk peinsend na Medila.

“Ek wonder hoe werk die lesse,” sê Anneke.

“Die een outjie waar ek slaap was al vantevore hier en hy sê ons word in groepe ingedeel wat dan om die beurt goed moet doen,” antwoord Ruan.

“Kan ons self kies in watter groep ons wil wees?”

“Ja, hy sê so. Ek het gevra, want ek wou weet of ons vier bymekaar kan wees.”

Tessa dink na en klik dan haar vingers.

“Ek weet! Ons in een groep en Medila in ’n ander, en as haar groep dan moet ry, ruil een van ons om sonder dat iemand sien en ry in haar plek. Hoe klink dit?”

“Werkbaar,” is Anneke se mening. “Dis twee groot groepe en as ons dit vinnig genoeg doen sal niemand agterkom nie.”

“Ons kan beurte vat, dan raak almal deurmekaar, want in ons ryklere lyk ons mos maar baie eners. Behalwe Ruan, natuurlik,” voeg Tessa by.

“Hy kan elke keer die aandag aflei, hy’s goed daarmee,” sê Dommie.

“Halloooo?” Medila het haar sjokolade ingesluk en steek haar hand in die lug. “Het julle nie opgemerk nie?” Sy wys na haar gesig. “Ek is swart.”

“Hmmm, ja, nogal,” sê Tessa, “en die naaste wat ons daaraan het is Dommie.”

“Dit sal nie werk nie,” sê Medila. “Almal sal sien.” Mismoedig haal sy nog ’n sjokolade uit die buidelsak onder haar hemp en begin die papier aftrek net toe Tessa dit gryp.

“Los nou die gevretery!” sê sy ru en gee die lekker vir Anneke. “Hier, eet jy dit, jy’s maer genoeg. Ons gaan hierdie ding regkry of Medila nou wil of nie. Die eer van die Poniehoewe-Klub is op die spel!”

“Wie’s die Poniehoewe-Klub?” vra Medila verdwaas.

“Ons klub waarvan jy tydelik ’n lid is,” antwoord Tessa en die ander stem in met ’n “Hoor, hoor!”

“Hoeveel is die ledegeld?”

“Al die sjokolades wat jy in daardie sak van jou en op ander plekke het en ’n belofte dat jy vir eers geen lekkers meer gaan eet nie,” antwoord Tessa streng.

“Jackson koop dit vir my, hy sal nog bring.”

“Nie nadat ons met hom gesels het nie,” verseker Tessa haar.

“Toe, kom wys ons jou perd,” sê Anneke en staan op. “Ons kan later dink wat ons gaan doen aan jou hippofobie.”

“My wat?”

“Jou vrees vir perde.” Anneke stap uit en die ander volg haar.

Buite gekom sien hulle Jackson teen ’n muur geleun staan, net ’n entjie weg. Hy kyk hulle deur en ontspan toe Medila sê, “Alles reg, Jackson, ons wil net gou na Azzie gaan kyk.”

“Nee, dis reg, Miss Meddie, hy staan hier anderkant.”

Hulle sien die arabierperd se fyn kop by die stal uitsteek en Anneke hardloop nader. Sy groot bruin oë beskou haar nuuskierig toe sy haar hand uitsteek en sy breë voorkop vryf. Hy runnik sag.

“O, maar jy’s mooi!” Anneke draai om na Jackson. “Mag hy uitkom?”

“Ja seker, hy sal daarvan hou. Laat ek net gou ’n halter aansit.”

Jackson gaan die stal binne en kom ’n paar oomblikke later uit met die perd aan ’n leiriem. Die dier is opgewonde en trippel rond met sy kop hoog in die lug en sy stert wat stokstyf regop staan soos ’n vlag.

“Sien julle nou hoe gevaarlik hy is?” sê Medila angstig. Sy skuil half weg agter Tessa. “Mens kan sommer sien hy gaan skop en byt.”

“Onsin!” protesteer Anneke. “Ek is seker hy het ’n pragtige geaardheid. Of hoe?” vra sy vir Jackson wat liefderik die gekromde hals streel.

“So mak soos ’n lammetjie,” verseker hy haar. “En fantasties onder saal.”

Almal bekyk nou die pragtige perd van ’n kant af. Hy is ligbruin en blink soos koper in die sonlig. Sy lang maanhare en stert is swart en hy het een wit voet, agter. Sy kop is soos ’n driehoek, met sterk kakebene en ’n fyn neus met wyd gesperde neusgate. Sy mond knabbel aan Jackson se hempsmou.

“Ek wens ek kon hom ry,” sug Anneke verlangend.

Medila kyk haar ongelowig aan, maar Tessa kry ’n nadenkende uitdrukking op haar gesig.

“Ouens,” sê sy, “ek dink ek het die oplossing!”

“Sê!” klink dit van alle kante, maar net toe kom daar ’n stem oor die interkom wat middagete aankondig.