GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/ltxfdl/1/

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Lang Henning en die Skaapdiewe

— Hoofstuk 1 —

‘Gaan ons spesifiek iewers heen?’ vra Boet.

Lang Henning het van die pad afgedraai en hulle ry nou deur die bossieveld, skynbaar sonder koers of rigting.

‘Maak dit saak?’ wil Henning weet en Boet dink ’n oomblik na.

‘Nie juis nie,’ sê hy dan, ‘maar ons moet tog een of ander tyd by die Gariep uitkom sodat ons my geweer kan gaan soek. Of het jy vergeet daarvan?’

Wapensmokkelaars het Boet se geweer wat hy van sy pa geërf het, gesteel en vermoedelik verkoop aan die boewebendes wat in die eilande van die Gariep skuil. Omdat dieselfde bendes sy hele familie vermoor het, het Boet wraak gesweer en wil met Henning se hulp die moordenaars aan die pen laat ry.

‘Nee,’ sê Henning nou, ‘ek het nie vergeet nie en ons is nog steeds op pad soontoe. Maar ek het ’n neef wat hier rond bly en ek het gedink ons gaan eers ’n bietjie daar kuier.’

‘Waarmee boer hy?’

‘Skaap, jy behoort tuis te voel.’

Boet sug.

‘Ja, seker,’ sê hy, maar klink glad nie seker nie.

Na ’n ent se ry sien hulle in die verte die bome van ’n opstal en Henning gee sy perd spore sodat hulle weldra op die plaaswerf aankom. Die witgekalkte huis lê en bak in die middagson en net ’n paar hoenders beweeg waar hulle skrop in die sand onder ’n groot doringboom. Dis doodstil, behalwe vir die gezoem van ’n paar brommers wat om ’n amper leë watertrog rondvlieg. Henning en Boet ry tot agter die huis waar hulle by die oop kombuisdeur stilhou. Ook uit die huis kom nie ’n geluid nie.

‘Dit lyk nie hier is mense nie,’ sê Boet verbaas.

‘Miskien slaap hulle,’ antwoord Henning.

Maar op daardie oomblik kom iemand aangehardloop vanaf die arbeiders se hutte. Hy steek vas by Henning-hulle en steek sy hand uit.

‘Maggies Henning, sowaar jy, dis nou ’n verrassing! En jy kom asof jy geroep is, klim af, Neef, klim af!’

Laggend spring Henning van sy perd en skud die ander se hand.

‘Ek het gereken ek kom kyk weer ’n slag hoe gaan dit,’ sê hy. ‘Jan, dit is Boet, Boet, dis Jan Terblans,’ stel hy hulle voor en gaan in een asem voort, ‘Waar is almal?’

Die drie stap in kombuis toe terwyl Jan verduidelik.

‘Pa-hulle is by die werksmense, een van die ska’wagters is geskiet en — ’

‘Geskiet?’ val Henning hom in die rede. ‘Deur wie?’

Jan frons vervaarlik.

‘Die vervlakste skaapdiewe, wie anders? Geen mens is jou lewe meer seker nie vandat hulle hul intrek hier kom neem het.’

‘Sou jy sê dis ’n georganiseerde bende?’

‘Beslis. En goed bewapen ook, ons s’n is al die derde ska’wagter om geskiet te word. Ons het al gedink om die troppe nader aan die opstal te laat wei sodat ons hulle darem beter kan beskerm.’

‘Dit sal maar moeilik gaan, dan nie?’ veronderstel Henning. ‘Skape het mos baie veld nodig.’

‘Ongelukkig, ja. Dis hoekom ek bly is jy is hier en Boet ook, dan kan ons hulle ’n slag agternasit. Wat sê julle, is dit reg so?’

‘Natuurlik,’ sê Henning onmiddellik en Boet knik ook. Vir skaapdiewe het hy nie tyd nie.

‘Gaaf,’ sê Jan, ‘dan is dit ek en Pa en julle twee en Hans en Arrie en Sakkie en Hennie, dis agt van ons. Behoort genoeg te wees. Het julle wapens?’

‘’n Geweer en twee rewolwers, Boet kan sommer een daarvan gebruik.’

Op daardie oomblik kom die ander in en word daar eers gegroet terwyl Boet se hond buite stywebeen-stywebeen kennis maak met die werfhonde wat saamgekom het. Uiteindelik roep oom Kobus almal tot orde en tant Miemie verklaar dat sy eers gaan koffie maak.

‘Maar Ma, dan word die spoor koud,’ maak Arrie beswaar maar die tante wil niks hoor nie.

‘Dis ’n groot trop skaap en hulle sal nie te vinnig kan beweeg nie,’ sê sy. ‘Hulle maak staat daarop dat ons nie weet daarvan nie — ’

‘En ons sou ook nie as dit nie was dat hulle vir Klaas net gewond en nie doodgeskiet het nie,’ val oom Kobus by.

‘Hoe gaan dit met hom?’ vra Jan.

‘Nee, hy sal regkom,’ sê tant Miemie. ‘Sanna kyk nou na hom, maar sy sal al haar dae hê om hom in die kooi te hou, want hy wil net agterna.’

‘Ja, hy sal dit nie lig opvat dat iemand sy trop roof nie,’ reken Jan. ‘Maar hy’s gelukkiger as die ander twee.’

‘Hoekom?’ wil Boet weet.

‘Hulle is dood,’ sê Jan somber. ‘Die vuilgoed skiet om dood te maak want hulle wil nie hê dat gebeur wat nou gebeur het nie.’

‘Klaas sê hy’t gemaak of hy dood is,’ vertel tant Miemie, ‘dis hoekom hulle hom gelos het en toe hulle weg is het hy huis toe gehardloop so gewond soos hy was.’

‘Ma, wanneer is die koffie reg?’ wil een van die seuns ongeduldig weet.

‘Nou-nou. Laat Henning eers vertel wat alles hy gedoen het vandat hy laas hier was. En waar Boet vandaan kom.’

‘Ai toggie, hier sit ons tot laatnag vanaand,’ kreun Jan en Henning lag.

‘Toemaar, dis gou vertel,’ troos hy, ‘ek was maar hier in die rondte, niks eintlik om te vertel nie. Die ou swerwerslewe is mos maar sonder gebeurlikhede.’

Boet kyk hom verstom aan, maar voordat hy kan protesteer, sê tant Miemie, ‘Ja, ook hoog tyd dat jy ’n slag vrou vat en jou lê loop kry. Jy raak gans te oud om so los te leef. En jy Boet?’ keer sy haar na Boet, ‘wil jy ook jou hele lewe soos hy rond-niksnut sonder vastigheid?’

Boet skud sy kop.

‘Nee Tante, ek het ’n plaas en ’n meisie by Beaufort.’

‘Vertel bietjie?’

En terwyl hulle koffie drink word die tante se nuuskierigheid darem bevredig. Uiteindelik sê oom Kobus, ‘Nou toe, kom ons gaan kyk of ons ’n spoor kan kry. Vrou, het jy padkos vir ons om saam te vat?’

‘Hoe lank gaan julle wegbly?’ wil sy weet, maar oom Kobus is nie seker nie.

‘Miskien tot môre, miskien langer,’ sê hy. ‘Sit maar genoeg in, net vir die gebeurlikheid. En seuns, genoeg ammunisie vir ’n klein oorloggie, ek dink hierdie bende is sterk bewapen en sal nie skroom om te skiet nie.’

Terwyl tant Miemie saalsakke volpak met beskuit en biltong, koffie en ’n bottel dikgekookte melk met suiker, gaan die mans die wapentuig na. Henning gee vir Boet een van sy rewolwers.

‘So ja, nou sal ons sien hoeveel jy nog weet van wat ek jou geleer het,’ sê hy. Boet hou die wapen ongemaklik vas. Hoewel Henning hom ’n hele paar lesse gegee het, was hy nie ’n baie geesdriftige leerder nie.

‘Die moeilikheid met skiet,’ het hy eendag gesê, ‘is die mense wat terugskiet.’ Ook nou bring die twee dooie wagters min gemoedsrus, maar hy hou sy bedenkinge vir homself.

‘Bly net weg van voor my af,’ is al wat hy sê terwyl hy die rewolwer in sy saalsak bêre.

Al gou is almal reg en op pad na die veepos waar die oorval plaasgevind het. Dis maar omtrent ’n kwartier se harde ry van die opstal af en dis nog vroegmiddag toe hulle daar aankom. Die pos bestaan uit ’n groot klipkraal en ’n hut vir die skaapwagter. Dis verlate en net ’n kombers wat eenkant teen die kraalmuur gewaai het is getuie van die amperse treurspel wat hom hier afgespeel het.

Die mans klim af en stap rond vir leidrade. Dit blyk al gou dat Boet die beste spoorsnyer is en almal tou agter hom aan om te kyk wat hy sien. Boet geniet die aandag en beduie uitvoerig wat gebeur het.

‘Kyk, hier het die boewe stilgehou, daar was sewe van hulle, te perd — ’

‘Hoe weet jy daar was sewe? Ek sien net ’n klomp deurmekaar perdespore,’ sê oom Kobus ongelowig.

‘Maar elke perd se hoewe lyk anders, kyk, en daar is twee wat ysters aan het,’ antwoord Boet terwyl hy beduie. Die ander kyk en verwonder hulle, behalwe Henning. Dié staan eenkant en lag net.

‘Julle kan hom maar glo, mense, hy is reg,’ sê hy.

‘Die skaapwagter het geslaap,’ gaan Boet voort, ‘en hy het wakker geword toe die skaap uit die kraal gejaag word. Toe hy gaan kyk is hy geskiet, kyk, hier lê die bloed.’ Hy wys hulle ’n donker kol in die sand. ‘Die skaap is in daardie rigting gejaag, die spoor is maklik te volg.’

‘Nou toe, kom ons gaan!’ roep Jan uit en is eerste op sy perd.

Boet lei hulle al langs die pad waar die trop gejaag is en net een keer hou hulle ongeduldig stil om die perde blaaskans te gee. Eers toe die son amper onder is roep Henning halt by ’n stapel rotse.

‘Goeie plek vir ’n kamp of hoe, oom Kobus?’ vra hy en die oom stem saam.

‘Jammer ons het hulle nog nie ingehaal nie,’ sê hy spytig. ‘Hoe ver is hulle nog, Boet?’

‘’n Halwe dag,’ reken Boet. ‘Hulle jaag die trop vinnig.’

‘Vervlaks! Hulle mors my skaap!’ sê oom Kobus woedend. ‘Ek wens ons kon aangaan.’

‘Ek kan nie meer sien nie, Oom,’ maak Boet verskoning en die oom sê, ‘Toemaar, ek verstaan. Kom, afsaal, manne!’

 · · ·

Die nag is donker. Die wind het sterk opgekom en waai geniepsige stofstorms op sodat almal maar vroeg gaan lê in plaas van om die kampvuur te sit en gesels.

Henning het dit goed gedink dat daar wag gestaan word en dit is tydens Boet se beurt dat die aanval kom. Hy het half aan die slaap teen ’n rots geleun gesit toe sy hond skielik opstaan en dreigend grom. Boet tel Henning se geweer op waar dit langs hom lê.

‘Wie’s daar?’ vra hy met ’n gedempte stem om die ander nie eers wakker te maak nie. As antwoord kom ’n sarsie geweervuur uit die nag wat vuurvonke uit die rotse spetter waar die koeëls tref. Boet soek halsoorkop dekking terwyl die ander vervaard opspring en hul wapens gryp. Die aanvallers is ’n hele ent weg en almal het tyd om posisie in te neem agter die naaste skuiling. Lang Henning skop haastig sand oor die laaste kole van die vuur voordat ook hy agter ’n rots induik, ’n rewolwer in die hand.

‘Kalm bly, manne,’ maan oom Kobus. ‘Moenie onnodig skiet nie, wag eers.’

‘Henning, waar’s jy?’ vra Boet benoud.

‘Hier,’ kom Henning se stem uit die donker. ‘Jy’s nie geraak nie, is jy?’

‘Ek weet nie. Ek dink nie so nie.’

‘Sit net stil. Hou jou hond by jou en skiet as jy iets sien.’

Boet streel die hond wat langs hom lê met sy kop hoog in die lug, sy aandag op die vreemdelinge wat hy weet naby is. Skielik spring hy grommend op en Boet gryp hom aan die nekvel om te keer dat hy aanval.

‘Bly hier!’ beveel hy met ’n bewende stem.

‘Wat is dit?’ vra Henning van anderkant af.

‘Die hond hoor iets,’ kry Boet dit uit. ‘Ek dink hulle is op ons!’