GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/lenres-moordenaar-in-wit-4.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Moordenaar in Wit

— Hoofstuk 4 —

Drankwalms en Kruit

Dit moes Henning nie gesê het nie! Danie sien dat Herklaas Spies se gesig rooi word van woede. Hy bal sy groot vuiste en Danie verwag dat hy enige oomblik gaan slaan. Henning staan egter ewe ongeërg voor hom. Danie ken daardie houding van sy vriend baie goed. Henning se hande hang slap langs hom, maar daardie houding neem hy gewoonlik in as hy oorgehaal is. Danie weet dat wanneer die bonkige Spies gaan slaan, Henning hom gaan verras.

‘Jou armsalige luis!’ skree Herklaas Spies dit uit. ‘Jy is te vrek sleg om jou eie grond te koop, nou kom palm jy in wat aan ons behoort.’

Al antwoord wat die skreeuende Herklaas kry is ’n grinnik van Henning. Hy is besig om hom uit te tart.

‘Maar moker hom, Herklaas!’ donder ’n stem daar van die deur se kant af. Groot en rond vertoon ’n man in die deur. Hy staan die hele deur vol, en sy arms hang bak langs sy sye. Hy lyk ’n bees van ’n kêrel soos hy daar in die deur staan. ’n Wilde bos hare laat hom na ’n woesteling lyk. Die ogies is klein en laat Danie aan dié van ’n vark dink. Stadig swem ’n beeld terug na hom – daardie onduidelike beeld van die persoon wat hom daar by die rots teen die berg byna doodgemoker het!

Nou staan die man met sy bene wyd uitmekaar en sy oë brand op Danie. Dié kyk hom vas in die oë. Dit is duidelik dat die reusman verras is om Danie hier te sien. Byna lomp kom hy nader.

‘Killer, hou jou hande tuis. Ek weet nie waarom Herklaas se hempie so kort is nie. Dit is die mense wat op Belofte kom intrek – ’ Dit is Max Swanevelder en hy gaan half voor die reus staan.

Maar op daardie oomblik het Herklaas Spies losgetrek. Hy wou sy regtervuis vol op Henning se mond plant. Henning was egter oorgehaal vir daardie hou. Hy ruk sy kop vinnig eenkant toe en swaai ’n blitsige hou na Herklaas se ribbes. Die vuis tref met ’n plofgeluid. Herklaas hik en storm dan nader met houe wat sekuur gemik is. Danie kom dadelik agter dat hierdie Herklaas-kêrel bedrewe is met sy vuiste.

Henning retireer vinnig en al wat hy nou doen, is om tree-vir-tree agteruit te staan. Herklaas gee hom geen enkele kans om terug te slaan nie. Henning moet net verdedig en dit doen hy uitstekend. Sy opponent het nog nie een keer daarin geslaag om Henning se gesig raak te slaan nie.

Van pure opgewondenheid of boosaardigheid spring die gesette kroegman op die toonbank en begin met sy arms swaai, ‘Meneer Swanevelder, sit hierdie ding in vadersnaam stop. Hier word nie gebaklei nie. Hierdie vreemde menere moet uit die hotel gegooi word. Dit is hulle wat begin skoor soek het.’

Swanevelder beduie met sy hande dat hy magteloos is om soiets te doen. Die drinkers in die kroeg het almal nader gestaan en hulle vorm nou ’n halfmaan om die twee vegtendes.

Henning staan nou met sy rug teen die muur. Sy vuiste werk blitsvinnig; maar dit is duidelik dat Herklaas swaarder is, harder en sekuurder slaan. Henning sou al lankal platgeslaan gewees het was dit nie vir sy vinnige en ratse keerwerk nie.

Herklaas se regtervuis tref nou vir Henning vir die eerste keer op die kakebeen. Sy kop ruk agteroor en dit stamp teen die muur aan. Voordat Henning kan herstel, volg nog ’n regterhou wat hom bokant die linkeroog tref. Toe Herklaas sy vuis wegtrek, sien Danie dadelik die sny waaruit bloed nou stadig sypel. In hierdie dowwe lig lyk daardie bloedmerk swart.

Herklaas wil nou klaarspeel met Henning. Hy moker hom in sy maag; in sy sye en teen sy gesig; dit lyk asof Henning nie meer in staat is om te keer nie.

Danie sien nou tot sy ontsteltenis dat die agtelose Max Swanevelder die vuisgeveg blykbaar geniet. Hy reken die man ken tog seker al die mense in die kroeg en dit sou dus vir hom maklik gewees het om hierdie ongelyke stryd stop te sit. Daar is egter ’n uitdrukking op sy gesig asof elke hou van Herklaas wat tref, hom met genot vervul. Swanevelder se mondhoeke lê eintlik skeef van sadistiese genot.

Danie staan opgewonde nader. Hy sien dat sy maat se gesig al die ene bloed is, maar nog kom daardie genadelose mokerhoue die een na die ander.

‘Staan weg daar, jou plakker!’ skree die reus en toe Danie omswaai, sien hy dat die logge vent sy vuiste reeds gebal het. Hy tree ook sommer nader, net asof hy van plan is om Danie summier te lyf te gaan.

Danie kyk na Max Swanevelder.

Swanevelder spring vinnig voor die reus in. ‘Moenie, Killer. Die mense het pas hier aangekom. Dit is nie goeie maniere nie.’

‘Toe maar,’ snou Killer vir Swanevelder toe, ‘ek sal nie aan hom raak nie. Laat hy net opsy staan sodat Herklaas daardie vent goed kan uitlooi. Ellendige plakkers moet op hul plek gesit word.’

Danie kyk ’n slag na die vegtendes. Henning het sy tweede wind gekry. Hy ontduik ’n vinnige regterhou van Herklaas en dié slaan ongenadiglik teen die muur vas. Hy uiter ’n gil. Sy kneukels is nerfaf. Net vir ’n oomblik gryp hy met sy linkerhand na sy beseerde vuis.

Van hierdie geleentheid maak Henning ten volle gebruik. Hy skiet van die muur af weg en sy linkervuis word blitsvinnig uitgestoot. Dit tref Herklaas tussen die oë en sy kop ruk agteroor. Nog voordat hy besef wat gaande is, blits ’n regtervuis weer vorentoe. Dit tref die verblufte Herklaas op die punt van sy kakebeen. Hy struikel, maar Henning is nou op hom. Nog ’n linker- en ’n regterhou word vorentoe geswaai. Albei tref die ken.

Die geweld van hierdie treffers ontneem Herklaas sy ewewig. Die volgende oomblik gryp hy na Henning – hy gryp egter lug en stort neer. Dit dreun soos hy met die grond kennis maak.

Henning kan hom nooit by so ’n geleentheid bedwing nie. Hy storm vorentoe om op Herklaas se ribbekas te spring, maar dit is blykbaar die oomblik waarop Killer gewag het. Verbasend vinnig spring hy vorentoe, en dan sien Danie daardie yslike vuis vorentoe skiet. Dit tref Henning teen die kant van die kop, net op die harde been langs sy oor.

Henning brul soos ’n os en val grond toe. Hy kom voor Danie se voete te lande.

Danie kners op sy tande. Killer storm vorentoe. Swanevelder skree, ‘Bedwing jou, Killer McKenzie! Ons wil nie kindermoord aanskou nie.’

Maar Killer se vet gesig is vertrek van bloedlus. Hy trek sy voet terug en net toe Henning wil opstaan, skop hy hom in die ribbes.

Dit was vir Danie te veel. Hy spring oor sy maat se liggaam en toe hy anderkant grondvat, vlakvoor die reus, blits sy linkervuis vorentoe. Die kneukels word in die wangvet van Killer McKenzie weggebêre; en nog voordat daardie swaar voorarms opgeruk kan word om te keer, kom Danie se regtervuis ongenadiglik op een van daardie varkogies te lande. Dit laat die swaargewig ’n tree agteruit staan.

Maar dan kom Killer se vuiste in aksie! Sy regtervuis swiep op om Danie teen die kakebeen te tref.

Danie seil egter weg onder daardie swaar arm en vuis. Een-twee keer vreet ’n linker- en ’n regtervuis van Danie die reus in die pensvet. Dit is vinnige en harde houe. Die reus steun, en voordat hy Danie, wat feitlik teenaan sy liggaam is, kan vasvat, spring Danie agtertoe en dan om Killer soos ’n bedrewe bokser.

Killer kners op sy tande. Hy kom met gebalde vuiste nader. Hy steur hom nie aan sy gesig nie. Sy arms staan bak voor sy bors en sy gesig bly ’n lieflike teiken. Danie sien dat Killer se linkeroog goed blou is.

Met ’n oorlogskreet sak Killer toe. Die vuiste swaai vorentoe. Danie het geen moeite om hulle te ontduik nie. Die houe swiep bokant hom verby. Killer is sy ewewig kwyt en Danie maak netjies en sekuur daarvan gebruik. Albei sy vuiste blits vorentoe. Dit kraak as sy regterhou ’n treffer op die wangbeen is en bloed spat toe hy sy regtervuis op Killer se neus plant.

Opeens sien Danie uit die hoek van sy oog dat Henning opstaan en die been net bokant sy wang vryf. Herklaas spring ook skielik op, en voordat Henning hom nog behoorlik kan regruk, sak dié hom toe.

Nou begin die kroeggangers oorverdowend skree en aanmoedig. Die half-dronkes het lanklaas so ’n vuisgeveg te sien gekry en hulle geniet dit nou ten seerste. Hulle het egter geen meegevoel met die twee nuwelinge nie. Die meeste van hierdie drinkebroers is bywoners, werkers en ‘slawe’ op die groot landgoedere van óf Max Swanevelder óf Jim Murray, of hulle woon hier op die klein dorpie en voer ’n sukkelbestaan.

Danie het beweegruimte nodig om uit die kloue van Killer McKenzie te bly. Gelukkig het dié nog nie een maal Danie se gesig raakgeslaan nie. Daarvoor is Danie te rats en glipperig. Danie besef dat as hierdie reus hom egter moet vasvat, dit maar bedroef sal gaan. Die moeilikheid nou is dat Killer hom muur se kant toe dryf. Die drinkers beweeg ook steeds nader en trek die kring al nouer om Danie. Gelukkig is daar niemand anders wat inspring nie, anders sou dit maar beroerd gegaan het met die twee trekkers.

Danie slaag nog elke nou en dan daarin om met ’n vinnige hou Killer se gesig te tref. Die plomperige gesig is al vol kneusplekke en sy oog lyk nou al behoorlik blou en opgeswel. Danie mik ook telkens na sy teenstander se ken, maar dit is asof Killer spesiaal alle moontlike pogings aanwend om te verhoed dat hy nog treffers met sy ken keer. Danie lei daarvan af dat dit waarskynlik Killer McKenzie se kwesplek is. Voorts keer sy teenstander ook veral dat Danie hom nie in die maag pomp nie. Danie besluit dadelik dat dit swakplekkies by Killer is. Doelbewus moker hy nou beurtelings na sy teenstander se ken en sy maag. Dit het die gewenste uitwerking, want die kragtig geboude Killer McKenzie begin agteruit staan.

Danie tree nou vinnig nader en hy swaai ’n blitsige vuishou na sy opponent se slaap. Dit tref en Killer se twee vuiste sak die volgende oomblik effens. Hiervan maak Danie soos weerlig gebruik. Sy regtervuis sny vorentoe. Dit tref die reusman vol onder die kakebeen. Danie se linkervuis kom ook op en sy kneukels sny op dieselfde plek in as sy regtervuis ’n oomblik gelede.

Killer slaan op die grond neer. Die toeskouers is ineens doodstil. Dit het hulle nie verwag nie en in hul dag des lewens het hulle nog nie iemand gesien wat hierdie berugte bullebak kan neervel nie. Hierdie selfde mense wat nou sien hoedat Danie de Wet, wat baie ligter as sy teenstander is en ook korter, die botoon voer, is daaraan gewoond om te sien hoe Killer McKenzie sy opponent tot ’n pappery moker. Hulle staar Danie verbaas aan en deins effens terug toe daardie blou oë op hulle brand.

Danie vryf die kneukels van sy regterhand. Die hou was so hard dat sy vuis eintlik seergekry het.

Killer kom nie dadelik orent nie, maar skud sy kop en vryf sy kennebak. Sy kop draai en hy voel soos ’n dronke wat deur ’n muil geskop is.

 Danie sien hoedat Henning en Herklaas nog steeds spook. Herklaas word nou moeg en Henning begin stadig die oorhand kry, maar sy gesig is die ene bloed. Dit lyk asof sy oë toegeslaan is.

Danie trek sy broek so effens op en sê uitdagend, ‘As daar enigiemand anders is wat nog moeilikheid wil soek, moet hy nóú soek!’ Dan kyk hy minagtend oor die klompie wat hom sonder ’n woord aanstaar. So ken al Danie se maats hom. Hy slaan nie gou nie, maar as hy eers aan die baklei is, hou hy nie graag op nie, en dan het hy ook geen bang haar op sy kop nie.

Max Swanevelder tree vinnig vorentoe toe hy merk dat Killer weer orent steier. ‘Laat staan die man, Killer. Kom ons gaan huis toe.’

Killer druk hom opsy. Sy oë is blou geslaan, sy bolip is stukkend en die vel is onderkant sy kakebeen afgeskuur deur Danie se yster-kneukels. Bloed sypel in ’n dun stroompie uit sy linkerneusgat, sy hare lê nou eers woes en ordeloos op sy groot kop.

‘Ek laat my nie deur so ’n snuiter neervel nie.’ Hy staar Danie half onbegrypend aan, byna asof hy nie kan glo dat daardie harde houe van hierdie mannetjie afkomstig is nie. Hy wat Killer McKenzie is, het al veel groter en sterker manne as dié snuiter hier voor hom neergeslaan; soms selfs met net een hou aan die slaap gesus. Op die oomblik brand Killer om vorentoe te duik en hierdie vent dood te wurg. Killer se regterhand is ook baie naby die kolf van sy rewolwer wat by die swart holster uitsteek.

 Henning Retief deel nou treffers uit op die kakebeen van sy teenstander, Herklaas Spies. Herklaas staan vinnig terug. Sy oë is so toegeslaan dat hy glad nie meer kan sien nie en hy vee telkens die bloed van sy neus en mond af.

Henning dryf hom tot teenaan die toonbank. En nou wiks hy hom. Daar is woede op Henning se gesig te lees. Sy tande is styf op mekaar gebyt.

Max Swanevelder spring skielik vorentoe. ‘Kan jy nie sien die man is al half dood nie?’ skree hy en gryp Henning aan die arm. ‘Los hom!’

Maar Danie het ook nader getree en met ’n vinnige pluk ruk hy Swanevelder agteruit.

‘Laat staan hom, Swanevelder. Jy kon hierdie geveg gekeer het as jy wou. Pleks daarvan het jy dit aangeblaas. Toe my maat, Henning, so flussies aan die kortste end getrek het, toe het jy geen genade gehad nie. Laat hy hom nou eers klaarmaak.’

Swanevelder se nek swel van woede, maar hy waag dit nie om Danie teen te spreek nie. Hy was nou net ooggetuie van hierdie jongman se ratsheid, durf en mokerhoue. Swanevelder loer tersluiks na Killer, maar laasgenoemde se oë draai net wild in hul kaste.

Danie het nie presies gesien waar Henning sy teenstander met daardie hou getref het nie, maar dit moes ’n bitsige een gewees het, want Herklaas Spies uiter ’n roggelende gekreun, tuimel die volgende oomblik op die vloer neer en bly bewegingloos lê. Die kroegman klouter oor die toonbank met ’n emmer water en giet dit oor Herklaas se bebloede gelaat. Henning staan hom teen die kroegtoonbank en uitrus, terwyl hy die lug vinnig deur sy mond en neus insuig.

En toe gebeur dinge vinnig, en so blitsig was Danie se bewegings dat die toeskouers dit nie behoorlik kon volg nie. Herklaas Spies het langsaam half orent gekom. Danie draai net sy oë weg van die man wat Killer genoem word, toe hy sien hoe Herklaas daarin slaag om plat te sit. Op daardie oomblik draai Henning sy rug op Herklaas om ’n glas bier na sy lippe toe te bring. Dit was die kans waarop die skynbaar bedwelmde Herklaas gewag het. Danie sien hoe die man se hand vinnig na die kolf van sy rewolwer toe skiet. Die gevaarlike vuurwapen is feitlik reeds in sy handpalm toe Danie se regterhand na sy sy toe afskiet. Die volgende oomblik spuug Danie se vuurwapen kruit en lood. ’n Koeël uit Herklaas se rewolwer klap net daarna. Daar is ’n gil en Henning swaai vinnig om, net om te sien hoe Herklaas se rewolwer van hom af wegseil en in die hoek van die kroeg te lande kom. Kruit borrel nog uit Danie se rewolwerloop – en Herklaas lê en kreun op die grond. Hy is besig om sy regterhand aanhoudend te vryf en op sy tande te kners. Die lood uit Danie se wapen het net betyds uit die loop geklap om die beentjies in Herklaas se hand te vergruis.

Slegs twee-drie sekondes het verloop vandat die koeël uit Danie se rewolwer geklap het, toe oom Nils ineens hard gil en ’n waarskuwing uitblaf.

Met Danie se aandag vir ’n oomblik van hom afgetrek, het Killer in beweging gekom. Danie het geraai wat daardie waarskuwing beteken. Hy het juis verwag dat Killer iets sou doen. Blitsig draai Danie om en duik dan sommer sydelings weg. Rakelings kraak die koeël uit Killer se rewolwer bokant sy kop verby. Dit was net betyds, en as Danie nie sommer dadelik eenkant toe geduik het nie, was dit gewis en seker ’n dodelike treffer. Die lood boor ’n gat deur die sagte plank van die kroegtoonbank vlak langs Henning.

Met die val het Danie geskiet. Maar die lood het slegs die hare op Killer se arm geskroei. Voordat hy weer ’n skoot kon afvuur, het Danie se wapen nogmaals gebulder. Maar hierdie keer het hy nie na die gevaarlike Killer gemik nie. Die lood uit sy rewolwer het die olielamp wat van die plafon af neerhang, aan flenters laat spat. Oombliklik is die kroeg in duisternis gehul. ’n Paar rewolwers knal van die deur se kant af en Henning storm van die toonbank af weg.

Danie skree, ‘Henning, kom ons laat vat!’

Danie pyl reguit deur toe. Daar is manne wat om hom swets. Skielik skiet vlamme die lug in. ’n Stuk van die olielamp het agter die toonbank te lande gekom en die spattende paraffien het nou heerlik vlam gevat. ’n Oomblik verblind die opskietende vlamme die oë van die kroeglêers.

Danie is reeds by die deur, en hy weet dat Henning kort agter hom is. Opeens skree Henning, ’n skoot knal en ’n liggaam plof teen die grond neer.

Die volgende oomblik hardloop Danie hom teen ’n liggaam vas. Iemand vloek weer en Danie is daarvan oortuig dat dit Killer McKenzie is. Iets kom met geweld op sy skouerblad neer. Pyn skiet op in sy arm. ’n Sekonde later tref ’n vuis hom teen die voorkop. Sterre skiet voor Danie uit, hy vou inmekaar en is bewus daarvan dat sy liggaam die plankvloer laat tril.