GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/kkcwcc/1/

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Lang Henning en die Bruidskat

— Hoofstuk 1 —

Hoewel dit dof is en die lyne gesmeer, is die portret onmiskenbaar dié van ’n priester uit die baie ou tyd. Hy het ’n bruin rok met lang moue en ’n skouermantel aan en in sy opgehewe hand hou hy ’n kruis. Om sy middel is ’n tou waaraan ’n rosekrans hang. Onderaan die prent is ’n banier met woorde en die jaartal 1584.

‘Ek het gedink hy is Spaans oor daardie donker gelaatstrekke en die baardjie, dis mos maar hoe hulle gelyk het, maar eintlik was hy Portugees,’ sê Lang Henning.

Hy en Boet is in die pastorie op Verlatendal. Die prent het langs ’n massiewe staankapstok aan ’n muur in die gang gehang, waar Henning dit afgehaal en na die lig toe gevat het sodat hulle beter kan sien.

‘En dis nie ’n kosbare kunswerk uit iemand se versameling nie,’ gaan hy voort. ‘Mens kan sommer sien dis geteken deur een wat nie juis veel talent het nie.’ Hy skud meewarig sy kop.

‘En?’ wil Boet weet toe Henning te lank na sy sin stilbly.

‘Toe het ek in die Kaap ’n ou joernaal gevind wat praat van ’n verborge plek en die sleutel na iets kosbaars wat hierdie man versteek het. Dis hoekom ons hier is.’

‘Dis nie wat jy vir my gesê het nie. Jy’t gesê Stefan is net die regte een om solank na die resiesperd te kyk totdat Nelie weer by die huis is. Ek weet niks van prente en joernale en versteekte skatte nie.’

Henning trek sy skouers op.

‘Bysaak,’ sê hy. ‘Ons wou in elk geval kom hoor of Stefan en Martie al getroud is, dan nie?’

‘Ja, en nou wil Meester nie sy toestemming gee omdat hy nie ’n bruidskat vir Martie het nie,’ bedink Boet bekommerd.

‘Presies,’ verklaar Henning tevrede. ‘Sien jy nou?’

Boet skud sy kop, en sy stem het ’n onwillige klank toe hy sê, ‘Eers sê jy my ons moet die resiesperd hiernatoe bring. Toe sleep jy my saam na ’n ou prent in die pastorie, praat van joernale wat jy in die Kaap gekry het en nou gaan dit kamma oor Stefan en Martie se troue. Wat is nou eintlik die waarheid?’

‘Dit was een joernaal, nie joernale nie,’ help Henning hom reg. ‘Hierdie priester s’n. Ek het die prent gesien toe ek die slag met Abbot hier gebly het en gewonder daaroor, en terwyl ons nou tog in die Kaap was het ek in die biblioteek gaan soek en ’n ou joernaal gevind wat betrekking het op die skildery. Ongelukkig wou hulle nie hê dat ek dit saamvat nie, toe skryf ek neer wat ek gedink het belangrik is. Kyk, hier is dit — ’

Lang Henning haal ’n paar papiere uit sy sak en stryk dit glad op sy arm. Boet kyk daarna en skud dan sy kop. Henning se handskrif is nie juis leesbaar nie.

‘Dit lyk asof ’n langpootspinnekop in die ink geval en daar geloop het,’ vel hy sy oordeel.

‘Ek was haastig en dis ’n lang storie. Wil jy dit hoor?’

‘Vertel maar net eers kortliks, net dat ek darem weet waaroor dit gaan.’

‘Nou maar goed,’ sê Henning, ‘hier’s dit in ’n neutedop. Lank gelede was daar oorkant die Limpopo-rivier, waar vandag Matabeleland is — ’ en toe Boet sy mond oopmaak om iets te sê, keer hy met, ‘ek sal jou dit later op ’n kaart wys. Ewentwel, daar was die ryk van Monomotapa, ’n baie magtige opperhoof. In sestienhonderd-en-soveel het ’n paar Portugese priesters vanuit Mosambiek al met die Zambezi-rivier langs soontoe gereis om hom en sy mense te gaan bekeer en een van hulle, vader Gonçalo, was volgens wat hier geskryf is, baie suksesvol en het die hoofman en dié se ma gedoop. Ongelukkig het die Monomotapa in sy paleis ’n paar Mohammedaanse More as towenaars aangehou, wat jaloers was op die priesters en vir hom gesê het dat die vader eintlik ’n toordokter was wat gekom het om te keer dat dit reën en om dan die hoofman self dood te maak. Dié het hulle geglo en die priester laat vermoor. Een van die geselskap het gevlug en na baie ontberings hier in die Karoo beland. Ek kon nie alles lees nie, want die meeste van die bladsye was gevlek — ’

‘Met bloed?’ vra Boet belangstellend.

‘Ek glo nie, dit het meer gelyk soos plantsap wat nie lekker wou skryf nie. In elk geval, blykbaar het hy die kruis van die ou priester saamgevat en die hele tyd by hom gedra. Dit staan hier dat dit van goud gemaak was en vol kosbare edelstene beplak, en dat hy dit weggesteek het toe hy voel hy gaan nie meer lank leef nie. Die plek, sê hy, is aangedui op hierdie prent.’

‘Hoekom is dit hier en die boek is in die Kaap?’ wonder Boet.

‘Daar was ’n nota by die joernaal wat gesê het dat dit ’n tydjie terug ingebring is deur ’n sendeling wat dit by een van sy gemeentelede gekry het en toe ek nou daar kom en vra of hulle iets weet van ’n Spaanse priester wat dalk een of ander tyd in die Karoo was, het die bibliotekaris onthou daarvan, net gesê hy was Portugees, nie Spaans nie. Hulle het nie geweet daar is ’n skildery ook nie en het gevra of ek dit vir hulle in die hande sou kon kry. Ek wens darem ek het geweet hoe dit hier in die pastorie beland het.’

Boet het oorgeleun om te lees wat op die banier staan. Die letters is geklad, maar met moeite kan hy die woorde uitmaak: Montanha da Morte.

‘Wat beteken dit?’ vra hy.

Henning trek sy skouers op en skud sy kop.

‘Letterlik vertaal berg van die dood, maar hoekom, sal ek ook nie weet nie. Miskien is dit hierdie kol agter hom, maar dit lyk nie juis vir my na ’n berg nie.’

Boet kyk ook aandagtig en stem dan saam.

‘Kan dalk ’n klomp klippe wees, maar beslis nie ’n berg nie. Wat is jou plan?’

‘Daardie kruis sal net die regte bruidskat vir Martie wees en dus gaan ons die sendeling soek wat die boek Kaap toe gevat het. Miskien weet meester Benade van ’n missie hier naby.’

‘Stefan het hier grootgeword, as daar ’n berg is met so ’n naam behoort hy te weet,’ voeg Boet by.

‘Ons wys dit vir hom, dalk herken hy dit,’ stem Henning saam.

Hy gaan hang die prent weer aan die muur, maar die tou breek skielik en Henning vang dit net betyds voor dit op die vloer val. Hy sit die prent skuins teen die muur, bedink hom dan en skuif dit agter die kapstok in.

‘So ja, nou kan dit niks oorkom nie,’ sê hy terwyl hulle uitstap.

By die tuinhekkie staan ’n ou man, hy lyk amper soos ’n kluisenaar met ’n lang wit baard en verflenterde klere en ’n pap hoed wat meeste van sy gesig verberg. Hy buig nog krommer as wat hy al is en raak met ’n bewerige hand aan sy hoed, terwyl hy met ’n yl stem groet.

‘Goeiemôre, seurs,’ klink dit eerbiedig van onder die hoed se rand vandaan.

Henning bekyk hom aandagtig, groet dan terug en stap aan. Toe hulle ’n entjie weg is, sê hy, ‘Snaaks, ek is seker ek het hom nog nie vantevore hier gesien nie en tog wil-wil hy bekend lyk. Wat dink jy?’

‘Miskien onthou jy hom van toe ons laas hier was,’ antwoord Boet. ‘Hy lyk stokhoring oud, dus moes hy toe ook al op die dorp gewees het.’

‘Miskien,’ gee Henning toe, ‘maar ek sal tog vir Stefan vra wie is dit. Hy het beslis vir ons gestaan en wag.’

‘Ag nee, jy soek nou spoke waar daar nie is nie,’ lag Boet. ‘Ek dink hy het sommer maar net ’n bietjie uitgerus. So ’n ou man kan mos seker nie ver aaneen stap nie.’

Henning kyk om en sien dat die ou man hulle agternastaar. Vir ’n oomblik is die gesig duidelik te sien, maar toe hy Henning se blik op hom voel laat sak die ou man sy kop sodat die hoed dit weer bedek.

Henning frons terwyl hy verder stap.

‘Ek weet darem nie, hy lyk bekend,’ sê hy, ‘maar as ons mekaar ken, hoekom sê hy nie so nie?’

Boet antwoord nie, maar draai half om sodat hy weer kan kyk. Die man is weg. ’n Lae grom trek sy aandag en vir die eerste keer merk hy dat sy hond se hare regop staan en die lippe weggetrek is van spierwit tande. Die dier kyk stip in die rigting waarheen die ou man so skielik verdwyn het.

’n Ongemaklike gevoel kom oor Boet, maar hy probeer dit verjaag deur ligweg te sê, ‘Dit lyk asof die hond met jou saamstem, Henning. Hy het glad te vinnig verdwyn vir so ’n ou man, dit moes ’n spook gewees het.’

Die ou man is egter vergete nog voordat hulle terug is by meester Benade se huis. Van ver af al sien hulle Martie aangehardloop kom en dis duidelik dat sy ontsteld is. Hulle versnel die pas en weldra bereik Martie hulle.

‘Dankie tog julle is hier,’ sê sy uitasem en staan ’n oomblik stil met haar hand op haar hygende bors.

‘Wat is verkeerd?’ wil Henning bekommerd weet terwyl hy haar aan altwee arms nader trek.

‘Pa — ’ kry Martie dit uit en dis duidelik dat sy na aan trane is.

‘Het daar iets met hom gebeur? Is hy siek?’

Martie skud haar kop en sê hortend met ’n bewerige stemmetjie, ‘Hy dreig om vir Stefan weg te jaag dat hy nooit weer naby my mag kom nie!’

Toe kan sy die waterlanders nie meer keer nie en sy snik haar hartseer teen Henning se hemp uit. Henning hou haar hulpeloos vas en dis Boet wat die stilte verbreek.

‘Hoekom?’ vra hy.

Dit duur ’n rukkie voor Martie voldoende bedaar om te verduidelik. Sy staan terug uit Henning se omhelsing en vee haar betraande gesig af met haar hande.

‘Jammer julle, ek het nie bedoel om so ’n spektakel van myself te maak nie.’ Sy snik nog een keer en gaan dan voort, ‘Stefan het weer vir Pa kom vra of ons mag trou en gesê dat ’n bruidskat nie vir hom saak maak nie, maar Pa wou nog steeds nie hoor nie. Toe kry hulle woorde en op die ou end — ’ Martie se stem verdwyn en Henning hou weer sy arms uit om haar vas te hou. Sy ruk haarself egter reg en kyk hulle woordeloos aan.

‘Toemaar,’ sê Boet, ‘Henning sal ’n plan maak. Kom ons gaan huis toe en dan drink ons eers koffie.’

Nou kan Martie nie help om te glimlag nie.

‘Jy dink alles word reggemaak met ’n plan en ’n beker koffie,’ spot sy goedig. ‘Nou toe, kom ons kyk.’

Sy haak alkante in by Henning en Boet en haar gesig lyk al klaar ’n bietjie minder verdrietig. Wie weet, miskien is daar tog ’n plan te maak en is alles nog nie verlore nie. As Pa net nie so outyds was nie, deesdae bekommer niemand hom mos meer oor ’n bruidskat nie!