GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/kdnrdl-gesloopte-lugkastele-4.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Gesloopte Lugkastele

― HOOFSTUK 4 ―

Vyfuur breek uiteindelik op hierdie Donderdag aan en dis tyd om huis toe te gaan. Puntenerig loop ek die kantore deur en maak seker dat alle deure en vensters sekuur toe is, met die vertikale blindings toegetrek en die lugreëlaars af. Alles is reg en gesluit en die alarm is aan en nou vat ek weer die paadjie na my kar toe in die parkeerarea. By die hysbak staan Anette vir my en wag en haak haar arm by myne in terwyl ons afgaan na ons motors. Sy skimp dat sy honger is maar nie lus het om kos te gaan maak nie. Ek nooi haar om by ons te kom eet en sy aanvaar ook dadelik en voeg by dat sy Boggom en Voetsek, soos sy my twee seuns sommer noem, geweldig mis.

Onder in die parkeerarea stap sy na haar Volkswagen Polo toe. Dis ’n oulike luikrugmotortjie wat sy op haar vyf-en-twintigste verjaardag vir haar aangeskaf het en ek dink dit pas by ’n jong ongetroude dametjie soos sy. Weereens groet ons sekuriteitswag met die mooi wit tande ons by die hek baie vriendelik en sê, ‘Have a nice evening, sir!’

Die verkeer lyk effens rustiger as vanoggend se gejaagdheid en ek dink so by myself dat die mense nou te moeg gewerk is om kwaad te word.

Die volgende oomblik val ’n ding op my en ek skrik my amper uit die kar uit! Ek kyk mooi en toe sien ek hoe my ou vriend Pieter in sy groot Toyota Land Cruiser-stasiewa sit en hop soos hy lag, want hy is die ou wat my met ’n pakkie Simba-skyfies deur my motor se oop sondak gegooi het. Die verkeer begin net weer in sy baan beweeg, en ek wys vir hom ’n vriendskaplike vuis by die sondak uit terwyl ons lekker daaroor lag. Naby die huis begin die verkeer afneem en binne ’n paar oogwinke staan ek voor die huis en wag dat die elektroniesbeheerde hek en motorhuisdeur oopskuif.

Gelukkig is daar niks wat verdag lyk nie en ’n mens kan wonder waaroor al die bohaai oor misdaad gaan? Baie gou gryp die kinders se skril stemmetjies egter my aandag vas. Hulle weet nie wie om eerste te groet nie, Pappa of Nettie, soos hulle my suster noem.

Net toe kom stap Suzie om die hoek om my te kom groet en skielik verhelder my dag en lyk enige iets anders niksseggend.

Behalwe dat haar hare nou veel korter is as die dag toe ons getrou het, is sy vir my nog net so mooi soos toe ek my ring aan haar vinger gesit het. Terwyl ek haar ’n ordentlike soen gee, knip Anette dit kort met haar opmerking dat ons ons moet gedra voor die kinders.

Terwyl Suzie en Anette oor ditjies en datjies gesels hardloop ek gou by die trappe op en by die badkamer in. Daarna kom ek weer terug in die kombuis om my Mocha Java op te eis en te sien of daar nie miskien vir my ’n koekie is om te aas nie. Nogal onskuldig vra Suzie waarna ek soek en ek sê ewe onskuldig dat ek maar net rondkyk. Sy sê dat hier nie meer koekies is nie.

Ek kyk vir Anette en sê, ‘Dan beweer julle vroumense dat ons mans koudbloedig is!’

Ons lag nog lekker daaroor totdat ek in ’n oomblik van briljantheid onthou waar Suzie die kinders se koekies bêre. Toe ek met doelgerigtheid omdraai, sê Suzie en Anette gelyk, ‘Daar gaan die kinders se koekies!’

· · ·

Anette sien hoe ek met ’n totale gebrek aan geesdrif na die amper vegetariese aandete kyk wat my dierbare vroulief besig is om voor te berei van ’n resep uit daai verduiwelse gesondheidstydskrifte. Sy kry my jammer en sê dat sy ons vanaand wil trakteer op pasta van die Italiaanse restaurant net ’n klein entjie verby ons huis. Hulle lewer af, dus hoef niemand nou weer karre uit te trek nie.

Net voordat die kos afgelewer word, lui my selfoon en dit is Karel wat my nooi om Saterdag, die dertigste September, saam te kom na ’n wildveiling op die plaas wat aan syne grens. Dit is daar naby Thabazimbi en sal beteken dat ek nie, soos gewoonlik op ’n Saterdag, laat kan slaap nie, maar dit sal dalk meer ontspannend wees om tussen my portuur manne te wees, daarom aanvaar ek onmiddellik die uitnodiging sonder om dit eers met Suzie te bespreek. Sy en die kinders geniet altyd eenhonderd persent van my aandag, dus sy gee nie om as ek af en toe iets impulsiefs doen nie en hierdie naweek is een van daardie naweke.

Ewe skielik lui die voordeurklokkie en Wollie blaf hier agter my. Ek skrik so groot dat ek amper my halwe koppie koffie op die vloer uitstort en ek skree dat ek hom sommer sal vrekskop. Dis tot groot vermaak van Stéfan en Ruben. Wollie is ’n spierwit maltese poedel en ons is almal baie lief vir hom. Waar die seuns is, daar is Wollie, ’n beter maat vir die kinders kon ons nie kies nie.

Na ons heerlike hoender-fettucini en ’n botteltjie van Ma se ingelegde skroewe-noedelslaai, gaan plak ek my met ’n lekker beker koffie saam met die seuns voor die televisie op die mat neer terwyl Suzie en Anette die kombuis opruim. Ons het nog gekyk hoe Tom vir Jerry jaag, toe’s ek ver weg iewers in droomland. Ek word eers wakker nadat Anette vir Suzie gehelp het om die kinders in die bed te kry en self ook huis toe is. Suzie sê ek moet maar môre-oggend stort, waarop ek antwoord dat sy seker gom gesnuif het as sy dink ek gaan nou stort!

Nadat ek gou my seuns ’n nagsoentjie gegee het, wals ek terug kamer toe, spring in die bed, gee my vrou ’n drukkie en skuif tot teen haar om lekker lepel te lê. Al is dit reeds lente is dit nog koud saans. Met die dat ek teen haar kom lê, sê Suzie in ’n grap, ‘Oe, my liefie,’ maar my teenwoorde is, ‘Nie vanaand nie, skat, ek het ’n hoofpyn!’

Ek word net na twee-uur wakker toe ek Suzie hoor sê, ‘Aag vervlaks!’

Terwyl sy opstaan, vra ek wat fout is en sy sê dat sy vir Wollie buite vergeet het. Onmiddellik vlieg ek op en sê vir die liefde van my lewe dat ek gou vir Wollie sal gaan haal. Die deur was skaars oop of Wollie storm in en spring teen my op.

‘Aai, het my honnie koud gekry?’ gesels ek met die van vreugde oorstelpte hondjie. Terug in die kamer kruip Wollie onder die duvet in die bed, met die elektriese kombers wat op nommer een gestel is.

· · ·

Ek het skaars my oë toegemaak toe die wekker se piep-piep-piep my droom van pers jakarandablomme in die niet laat verdwyn. Onwillig swaai ek my voete uit die bed en vir ’n sekonde of twee wens ek dat ek Wollie was. Ek strompel baie onvas op my voete na die stort in ons badkamer en draai die warm kraan oop, maar daai eerste bietjie koue water skok my wawyd wakker. Toe eers besef ek dat ek met die T-hemp en oefenbroekie waarin ek geslaap het nog aan my in die stort geklim het. Vinnig ruk ek dit van my af en gooi dit bo-oor die deurskynende glas-stortdeur tot in die wasbak, waarop Suzie sê dat sy nou ’n vroegoggend-ontkleedansvertoning kry.

‘Net vir jou, my lief, net vir jou,’ is al antwoord waaraan ek kan dink.

Ons daaglikse roetine begin en ek dink dat daar nogal ’n gevoel van vastigheid is wanneer ’n mens presies weet wat die volgende stap is en dus met redelike sekerheid kan voorspel wat gaan gebeur.

· · ·

So tref ek weereens spitsverkeer wat my wegvoer in drome van Suzie, maar ek dink ook aan twee of drie sake by die werk wat nou op kritieke stadia begin sloer, want die Hoë Hof sluit mos vir Desember en sit eers weer laat in Januarie. Te gou na my sin draai ek by die parkeerarea se toegangshek by die kantoor in, kry my gebruiklike groet van die hekwag, salueer hom en ry tot by my persoonlike parkeerplek. Ek klim versigtig uit en kyk waar Anette is, want sy gaan my nie weer soos gister vang nie. Ek stap flink tot by die hysbak, maar net so om haar te sien inry by die hoofhek, en ’n duiweltjie fluister in my oor dat ek haar moet skrikmaak. Ek gaan staan om die hoekie op pad na die hysbak. Toe sy verbystap skree ek, ‘HALLO!’

’n Verskrikte Anette gil so hard dat ons hekwag aangehardloop kom terwyl hy roep, ‘Hau mam, I’m coming!’

Die verligting is duidelik op sy gesig te sien toe hy om die draai kom en my en Anette in ’n onbedaarlike lagbui aantref. Dit is Vrydag, en met die vooruitsig van die naweek klink ons vroegoggendgebed vroliker, die koffie smaak beter en die kantoor lyk ook geselliger.

· · ·

Net na middagete lui my selfoon en ek weet onmiddellik dat dit Suzie is, omdat die luitoon aan haar nommer toegewys is. Sy klink sommer siek en vol griep toe ek optel.

Sy het met Anette reëlings getref om die kinders na werk by die kleuterskool op te laai en na haar woonstel te neem sodat hulle nie by haar aansteek en ook siek word nie. Dit is net ’n grap toe ek my bes probeer om verleidelik te klink en vra of sy enige planne vir ons gemaak het.

‘Jou gat, my skat,’ kom die antwoord van Suzie, ‘ek is hondsiek.’

Ek stel voor om Vicks Medinite vir haar by die apteek te kry en saam te bring huis toe, waarop sy sê, ‘Dankie, Bokkie, maar ek het gekry.’

Dis nou medisyne daai waaraan ek al van my kinderdae af glo.

· · ·

Op pad huis toe bel Karel en bevestig dat hy my die volgende oggend teen twee-uur kom oplaai sodat ons na die wildveiling daar naby Thabazimbi kan gaan.

‘Suzie is so siek soos ’n hond,’ sê ek vir hom, waarop hy lag en sê ek moenie vir Suzie snags in die tuin rondjaag nie, maar hy stel my gou gerus dat vroue taai is en nie so pieperig soos mans as hulle griep het nie.

By die huis jaag ek Suzie terug bed toe en maak gou vir haar roosterbrood en ’n koppie kitssop, daardie lekker dik hoender-en-groentegeur. Ek het die seldsame geleentheid behoorlik benut om ongesonde kitskos van die restaurant net om die hoek te bestel, en my keuse van ’n kaloriebom was ’n ‘De Luxe Dagwood’ met ’n porsie aartappelskyfies. Nadat ek dit geëet en afgesluk het met ’n koppie Mocha Java, stap ek by die trappe op en gaan lê by my vrou.

Sy kom skuif tot teen my en vra dat ek haar vashou, en ’n vraag flits deur my kop, Wat as dit die laaste keer is dat ons so kan lê of as dit my laaste ete was?

Ek lag vir myself en berispe my terselfdertyd.

Jy gaan net na ’n wildveiling toe en jou liefie het net griep, oormôre-aand lê julle weer saam.

· · ·

Kwart oor een op die voordag van die dertigste September maak my siek vrou my met ’n koppie Mocha Java wakker en terwyl ek myself uit die bed stoei om te gaan stort, haal sy vir my ’n blou denim-langbroek, ’n kakie-hemp, my Jeep-baadjie en my Bronx-stewels uit om aan te trek wanneer ek klaar is. Uit die stort uit trek die reuk van spek, varkworsies en eiers my af na die kombuis waar Suzie seker maak dat haar geliefde man welgevoed is vir die rit wat voorlê.

My tande is net geborsel toe iemand voor die huis sy motor se toeter twee keer vinnig druk en direk daarna lui my selfoon. Dit kan net Karel wees.

‘Jis Johna, slaap jy nog?’ vra Karel op sy onmiskenbare en opgewonde manier. ‘Die vis byt al en die bier raak warm, kom jong!’

Suzie staan en wag by die voordeur met my baadjie en my herlaaibare skeermes in die hand. Ek skreeu by die voordeur uit, ‘Ek kom, Karel!’

Suzie klap my op die skouer en berispe my met haar toe neus, ‘Die bure slaap, Bokka man!’

O heng, ek het nooit die seuns gegroet nie, maar Suzie ruk my terug en herinner my daaraan dat die seuns by Anette is. Ek draf gou uit en Karel lag toe hy my vra wat ek nou weer gestaan en doen het?

Skielik word my hart vir ’n oomblik onverklaarbaar seer toe ek omdraai en sien hoe Suzie vir my waai in die lig wat perserig vertoon. My trane kom sit vlak en dis asof ’n engel uit die hemel my wil waarsku dat iets tragies binne ure gaan gebeur, dat dit die laaste keer is dat ek my Lugkasteel verlaat omdat my sprokieslewe tot ’n einde gekom het. My nagmerrie van nou die aand druk weer tussen my gedagtes in, maar ek dwing dit terug, want soos alle prokureurs is ek ’n feitemens wat my nie aan voorgevoelens steur nie. Buitendien raak Karel al effens ongeduldig dat ek moet inklim sodat ons in die pad kan val.

· · ·

Op Thabazimbi gaan ons eers na Karel se ouma waar sy in die ouetehuis bly. Tannie Bettie is ’n baie deftige dame aan wie se hande jy kan sien dat hulle hard in haar lewe gewerk het. Osteoporose het haar skouers al krom getrek, maar sy is nog steeds baie gesteld op haar voorkoms. Ons kuier so lekker tussen die grootmense dat ons skoon van die wildveiling vergeet. Ons staan vinnig op, groet almal hartlik en met ons ore in ons nekke spring ons in die vierwiel-aangedrewe Toyota Hilux en vat die grondpad wat deur die mooi en dig-bebosde groen Bosveld kronkel na die wildplaas toe. Karel ry te vinnig, amper honderd-en-sestig kilometer per uur, maar hy het as plaaskind op grondpaaie leer bestuur en ek het daarom geen probleem om hom as bestuurder te vertrou nie.

Die pad swenk na regs en in die draai begin die bakkie al hoe meer gly. My nagmerrie is besig om waar te word, maar hierdie keer gaan ek nie in koue sweet wakker word nie. In stadige aksie begin die bakkie al hoe nader aan die linkerkantse wal van die pad gly. Die linkerwiele vang die sandwal aan die kant van die pad wat die bakkie moeiteloos soos ’n Matchbox-karretjie al tollende die veld inslinger. Die momentum van my liggaam gooi my soos ’n vrot vel by die linkerdeur se oop venster uit omdat ek nie my veiligheidsgordel aanhet nie, en met die val land ek eerste op my agterkop en linkerskouer. As ek wel my veiligheidsgordel gedra het, sou ek vir seker op slag gesterf het toe die dak aan my kant van die bakkie platgeslaan word.