GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/jdfnvh-machinatie-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Machinatie

— HOOFSTUK 1 —

Krytwit in die gesig staar Elize na die reghoekige stukkie papier in haar bewende linkerhand. Haar regterhand, wat oor haar mond geslaan is, kan nie die kreun wat van diep uit haar kom, smoor nie. Sy leun vorentoe in haar stoel voor die lessenaar waar meneer Human, verbonde aan die versekeringsmaatskappy, sit. Die ontsteltenis en vrae is duidelik in haar oë leesbaar.

“Is dit wat ’n mens se lewe werd is?” kreun sy die woorde uit. “Drie miljoen? Drie miljoen rand vir ’n jong man wat nog op die drumpel van sy lewe gestaan het?”

Die oë wat op haar rus versag by die aanskoue van soveel verdriet, en hy skraap sy keel. Nog nooit het hy iemand gesien wat só weerloos, só gebroke is nie.

Haar kop beweeg heen en weer. “Ek het nie eers geweet hy het ’n lewenspolis nie.”

“U het dit nie geweet nie? Volgens die inligting in die lêer het u man kort voor julle huwelik die polisse kom uitneem. Hy het u lewe ook verseker vir dieselfde bedrag.”

Haar oë rek. “Hy het wat? Maar hy het my niks daarvan vertel nie!”

Hy dink aan die verslae in die omslag voor hom. Sy oë vernou en hy kyk skielik aandagtiger na haar. Hoe kon sy nie daarvan geweet het nie? Sal ’n man wat sy aanstaande lief het en op trou staan haar nie vertel van so ’n belangrike stap nie? Kan dit wees dat dit wat hy hier aanskou net vertoon is? ’n Uitmuntende stukkie toneelspel?

Die koerante was vir meer as ’n week vol van die ramp. Nege mense het vir die dag op ’n boot gaan diepsee-visvang. Sowat sewe seemyl van die strand af was daar ’n ontploffing op die boot. Soekgeselskappe is uitgestuur. Van hiérdie vrou se man was daar geen spoor nie. Sy lyk is nooit gevind nie. Daar is nooit vasgestel wat die ontploffing veroorsaak het nie, aangesien die boot aan flarde geruk en die stukke versprei en onhaalbaar gesink het.

Hy skraap sy keel en sy stem is saaklik: “Mevrou Adendorf, drie miljoen rand is die som waarvoor u man sy lewe verseker het en die hof het nou ’n ‘vermoede van dood’-bevel toegestaan, dus betaal ons dit uit.” Weer vernou sy oë. “Wou u meer gehad het?”

“Liewe aarde, Meneer! Hoe kan u daar sit en kibbel oor bedrae? Wat moet ek met hierdie geld,” en sy swaai die tjek voor haar deur die lug, “maak? Dit kan nie sy lewe terugkoop nie. Ek wil nie geld hê nie. Ek wil my man terughê! As ek geweet het dat dit is waarvoor u my hierheen laat kom het, het ek nooit opgedaag nie.” Die trane, gemeng met grimering, stroom oor haar wange en laat swart strepe agter. “Vir ’n jaar nou al sukkel ek om weer die reste van my lewe op te tel, maar alles bly leeg en sonder sin.”

Hy kyk haar ongelowig aan. Het hy reg gehoor? Het sy gesê dat sy nie in die geld belangstel nie? Waarheid, of weereens toneelspel? Hy haal sy skouers op.

“As ek ’n voorstel kan maak, belê die geld vir ’n jaar of selfs langer. Dit sal u tyd gee om eers deeglik te besin oor wat om daarmee te maak.”

Haar oë rus vir ’n paar oomblikke op die tjek. “Ja, ja, natuurlik, ek sal dit doen, dankie.” Sy klad met ’n snesie oor haar gesig en staan op.

Ook hy kom regop. “Teken net eers hier om ontvangs van die tjek te erken voordat u gaan, asseblief.”

Woordeloos buk sy vooroor, neem die pen wat hy na haar uithou en bring haar handtekening aan waar hy aandui. Toe sy klaar is, stap hy om die lessenaar. Hy steek sy hand uit.

“Weereens, ek is baie jammer oor u verlies, Mevrou.”

“Dankie, totsiens,” sê sy sag, en verlaat die kantoor kop onderstebo met ’n groot donkerbril wat sy opsit.

Vir ’n paar oomblikke staan hy stil en staar ingedagte na die deur waardeur die jong vrou pas gestap het. Sy wysvinger tik-tik op sy lippe. Dan beweeg hy stadig terug na sy stoel, sak daarin. Hy leun terug terwyl hy sy hande agter sy kop saamvou. Sy bruin oë dwaal peinsend deur die venster, maar hy sien nie die verkeer buite raak nie.

Hy het al geleer om nooit daardie stemmetjie, daardie ekstra sintuig, te ignoreer nie, dus ook nie nou nie. Daarom kom hy tot ’n besluit, leun vorentoe en tel die gehoorstuk van sy foon op. Hy skakel ’n nommer en wag.

“Vorster,” kom die kortaf antwoord.

“Ruan! Derreck hier. Hoe gaan dit, ou maat?”

“Jy pla. Ek’s besig.”

“Met werk of meisies? Maar ek glo dat dit laasgenoemde is, dus beskikbaar.”

“Beskikbaar vir wat nogal?”

“Ek het vir jou ’n takie.”

“Ag tog, nie alweer nie. Wat is dit hierdie keer? Het iemand jou alweer van jou miljoene probeer beroof?”

“Weet nie, maar wil graag seker maak. Kom maak ’n draai hier in die kantoor sodat ek vir jou die nodige agtergrond kan skilder.”

“Goed, sien jou.” en die foon raak stil in Derreck Human se oor. Hy skud sy kop glimlaggend en plaas die gehoorstuk terug op sy plek. Hy weet dat sy verwysing na meisies sommer woorde was om Ruan se siel uit te trek. Hoekom is die man tog so sinies omtrent die ander geslag? Hy het al probeer uitvind, maar elke keer klap Ruan soos ’n oester toe.

· · ·

Die volgende oggend stap die lang, atletiese Ruan sonder ’n klop of groet Derreck se kantoor binne.

“So, wat pla jou?”

“Môre, Ruan. Hoe gaan dit, Ruan? Sit maar, Ruan. Hoekom so hardekwas, Ruan? Onthou ek is jou brood en botter, Ruan,” terg Derreck.

“Waarvoor ek natuurlik self sorg, want as al daardie skurke daar buite deur my vingers glip kan julle my nie betaal nie,” antwoord Ruan droog, maar die vonkel in sy oë weerspreek sy kamma-botheid.

“Gmf, asof jy hierdie paar sente nodig het! Jy is mos ’n man wat ’n plaas ook geërf het. Man, ek het gister ’n versekeringstjek aan ’n dametjie oorhandig, maar iets het my net skielik laat wonder. Jy onthou mos daardie ramp by die see so twaalf maande gelede. Die koerante was vol daarvan. Agt dood en dan hierdie een ou wat nooit gevind kon word nie.”

Ruan frons. “Ja, ek onthou, maar hoekom dan jou kommer?”

“Die ou wat weg is. Tydens hulle wittebrood nogal. Hy het kort voor hulle huwelik hul albei se lewens verseker vir drie miljoen elk en sy gee voor dat sy niks daarvan geweet het nie. Wil kwansuis ook nie eens die geld hê nie.”

Ruan sit vooroor in sy stoel en stoot sy vingers vinnig deur sy donkerrooi hare, waarvan die kort kuifie, as gevolg van ’n kroontjie voor op die haarlyn, soos ’n waaierafdakkie staan. Sy blou oë vonkel geïnteresseerd.

“Dus jy dink dat daardie ‘ongeluk’ nie ’n ongeluk was nie?”

“Jong, ek weet nie wat om te dink nie. Sê nou maar net dat hierdie man die boot opgeblaas het en dood speel om die versekeringsgeld te bekom. Jy sal in die verslag wat ek jou sal gee, lees dat hy wou hê sy jong bruid moet ook saamgaan, maar sy het toe, net voordat die boot vertrek het, besluit dat sy nie kans sien daarvoor nie. Noudat ek daaraan dink, was dit nie dalk sý wat dit gedoen het nie?”

Ruan glimlag skeef en sak weer terug in sy stoel. “Derreck, ou swaer, jy lees duidelik te veel speurstories.”

“Dit sal mos nie skade doen om net seker te maak nie, sal dit?”

Ruan haal sy skouers op en sy oë verhard. Die lippe sluit vir ’n oomblik opmekaar en die plooi om sy mond spel vasberadenheid. “Nee, dit sal nie. Gee vir my die inligting sodat ek kan sien wat ek kan uitsnuffel.”

Derreck staan op en stap na die staalkabinet in die hoek, sluit dit oop en soek deur die lêers. Hy kom sit in die stoel langs Ruan, maak die lêer oop en hou dit uit na hom.

Ruan lees vinnig maar aandagtig. Dan begin hy aantekeninge maak in ’n klein boekie wat hy uit sy sak haal.

“Ek sien sy is ’n modeontwerpster met haar eie boetiek hier in Pretoria. Wonder hoe gesond haar besigheid is?” Sy lenige liggaam rank uit die stoel terwyl hy die boekie terugsit in sy leerbaadjie se binnesak.

Derreck se oë is vol vraagtekens. “Wat gaan jy doen?”

“Weet nog nie. Sal maar sien. Hoe lank tyd het ek?”

“Ek het aan haar voorgestel dat sy die geld eers moet belê vir ten minste ’n jaar en dit lyk asof sy dit so gaan doen. Tensy die groot lus vir ’n oorsese toer haar skielik beetpak. Dus, doen maar wat jy kan.”

“H’mm, drie miljoen. My kommissie beter genoeg wees, anders hou ek die hele bedrag sommer vir myself!”

Derreck lag uitdagend. “Jy sal dít tog waag!”

Die helderblou oë vonkel ondeund. “Jy kan nooit té seker wees nie, kan jy?”

“Ja, ek ís seker. Daarvoor kuier ek en jy al te lank saam en ken ek jou té goed, ou maat,” groet Derreck Ruan met ’n klop op die skouer terwyl hy sy kop skud.