GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/izraes/0/

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Kamerade van die Draak

— Hoofstuk 1 —

Geheimsinnige Ruiters

Die bosse en klowe weerklink van die bulderende hoefslae wat uit die nag opklink. Skuimbekkend jaag vier perderuiters in dolle vaart in die pad af, tussen die bome deur. Hulle jaag reg op die klein dorpie af wat daar voor hulle aan die kus lê. ’n Paar dowwe kersligte wat nog hier en daar gebrand het in die huisies aan die strand gaan skielik uit. Die mense in die huise vlug angsbevange na hulle kamers. Hulle weet wat hierdie hoewe-gedonder voorspel. Hulle leef etlike maande al in hierdie angs en onsekerheid. Daardie hoewe-gedreun voorspel onheil. Dit laat die moeders in die huise ineenkrimp van vrees, en die mans beangs wag op hulle lot.

Dit is die geheimsinnige ruiters wat weer hulle tol kom opeis – ruiters wat uit die bosse en die klowe soos spookgestaltes opskiet.

Oor die hoofstraat galop die vier donker gestaltes. Die perde proes en kom skielik kopspelend voor die enigste poskantoor tot stilstand. Rewolwerskote knal. So stel hierdie geheimsinnige ruiters die inwoners van hulle teenwoordigheid in kennis.

Drie van die swart gestaltes spring rats uit die saals en hardloop die stoeptrap op na die poskantoor. Nog ’n paar rewolwerskote weerklink dof en ver uit die berge. Weldra swaai die deur van die poskantoor oop, en haastig dra die skaduwees hulle buit na hulle ongeduldig wagtende perde.

Dan skiet die drie gestaltes weer af op die enigste proviandwinkel aan die oorkant van die straat. ’n Lig flits in die winkeltjie.

Die winkelier vrees hierdie geheimsinnige ruiters meer as die dood. Met mening neem hy agter die lessenaar plaas. Sy geweer is in gereedheid en dodelik op die deur van die winkel gemik. Harde skoppe klap teen die deur.

Die slot knars en die deur swaai oop. Op dieselfde oomblik knal ’n skoot. Die ou man het geen kans om die haan van sy geweer te trek nie. Een van die moordenaars het hom reeds deur die venster gesien en trek op hom los. Hy sak agter die toonbank inmekaar.

In die lamplig verskyn drie figure geklee in swart mantels, met swart breërandhoede op hulle koppe. Elkeen het ’n pikswart masker op. Sonder ’n woord begin hulle die rakke deursnuffel. Al die ammunisie wat hulle in die hande kan kry, ook eetware, word na buite gedra.

Soos swart aasvoëls sak hulle weer toe op die winkeltjie net toe ’n verskrikte vrou uit die agterste vertrekke die winkel binnekom. Haar gelaat is doodsbleek. Sy is nog jonk, maar die spore van swaarkry is duidelik op haar gesig te lees. Sy sien haar vader agter die lessenaar in ’n plas bloed en vergeet die gevaar waarin sy verkeer.

Sy beheers haar vrees en raap die geweer langs hom op en mik na die voorste forse gestalte. Slegs ’n uitjouende, smalende gelag kom van die kant van die swart gestalte af.

Voordat sy tot verhaal kan kom, gryp hy haar in ’n dodelike greep en sleep haar by die deur uit.

Sy probeer die hand van haar mond af wegdruk en slaag byna daarin. Haar noodgeroep klink ’n enkele oomblik hol deur die verlate dorpie.

Uit ’n huisie skuins aan die oorkant antwoord iemand op haar geroep. Hy hardloop soos ’n waansinnige deur die strate. Sy tande is opmekaar gekners. Hy het lankal gevrees dat die swart monsters sy nooi sou ontvoer. Hulle het reeds ’n hele paar ander vroue in hulle vuil moordenaarskloue opgeneem. Almal vrees hierdie ruiters uit die berge van nêrens, maar vanaand snel die jongman met mening op hulle af.

Die wagtende swart ruiter sien die naderende figuur. Hy gee sy perd spore. Sy swart mantel wapper in die wind, ’n onheilspellende figuur soos hy sit op sy perd. Hy stuur sy ros reg op die stormende seun af, haal ’n kort seekoei-sweep te voorskyn en byt op sy tande. Met ’n gerunnik pluk hy sy perd by die seun in. Die ros kap ’n oomblik hoog in die lug met sy voorpote. Die sweep deurklief die lug en kom met klaphoue op die seun se lyf te lande. Die geweld van die houe vel hom neer. Die seekoei-sweep sny diep snye in sy lyf.

Die seun probeer orent kom, maar sterk hande het hom reeds soos ’n meelsak op die perd gelig. Die dapper seun gee ’n enkele kreun en lê bewusteloos voor die ruiter op die perd se skof.

Nog ’n enkele keer slaag die meisie daarin om ’n onderdrukte gil deur die strate te stuur. Dan dawer die ganse dorp weer van die hoefslae wat verdwyn. Met groot, vreesagtige oë luister die inwoners na die verdwynende perdepote.

Niemand sê ’n woord nie.

Na ’n rukkie kom ’n paar mans verskrik uit hulle huise en staar die nag in. Hulle weet, en almal weet, dat die swart smokkelaars, gewetenlose slawehandelaars, weer die dorpie besoek het. ’n Mens weet nooit wanneer om hulle te verwag nie. As hulle daardie hoewe-gedreun hoor spons hul harte inmekaar. Die inwoners vrees hierdie geheimsinnige ruiters soos die bonatuurlike.

Hierdie skrikbewind wat hulle dorpie enige maande gelede getref het, het hulle bygeloof weer laat sterker word. Hulle weet nie waarvandaan hierdie swart spoke kom nie.

’n Paar mans waag dit nou om uit te kom in die sanderige strate. Baie ver en dof klink die hoefslae uit die nag. Vroue en huilende kinders storm na die poskantoortjie en die winkel.

Skielik is dit of die bloed in die are van die ongelukkige, verskrikte groepie stol. In ’n nekbrekende vaart pyl ’n groot swart hings van die strand se kant op hulle af.

Vuurvonke spat onder die perd se hoewe uit. ’n Benoude angs laat die vroue gil.

‘Die swart monsters het teruggekom! Vlug!’

Maar met ’n swiepende vaart jaag ’n snaakse ding binne die volgende paar sekondes by die verskriktes verby.

Die mans gaap die ruiter agterna. Hy sit fier en swart op sy glimmende swart hings se rug. Albei is so swart soos die nag om hulle. Dit is of dit ’n spookperd kan wees – noudat hy by hulle verby is, is dit net die hoefslae wat gehoor word en die vuurvonke wat tussen die klippe onder die perdepote uitblits. Die bygelowige oë van die groepie daar by die winkel het genoeg gesien. Hulle gaan opgewonde aan die praat.

Byna almal het die figuur op die perd met ’n oogwenk gesien –

Dis ’n man, maar ook nie ’n man nie, ’n man met die kop van ’n roofdier, ’n luiperd.

Hulle gaan haastig, vreesbevange maar nuuskierig, in hulle huise terug. Enkele vertoef nog by die hekkies.

· · ·

Die Swart Luiperd spoor Donker aan. Hy lê vooroor en fluister deur sy luiperdmasker aanmoedigende woorde in die regop ore van die dier. Dit is of sy perd, Donker, oor die bosse heen seil en met lang kragtige hale tussen die bome en rotse deur kronkel.

Die Luiperdman het die hele plundertoneel waargeneem vanuit die vuurtoring op die strook land wat die see inskiet. Hy kon nie vinnig genoeg daar wegkom nie.

Hy voel die trilling van sy getroue Donker se spiere onder hom. Die pad kronkel tussen die bome deur.

Dit is vir hom of die hoefslae hier voor hom duideliker word. Hy lê plat op die rug van sy perd. Donker het vanaand vleuels gekry. Stadig maar seker haal hy die geheimsinnige ruiters met swart mantels en swart breërandhoede in.

Die pad word steiler. Voor die Swart Luiperd tussen die donker bosse, doem ’n hoë berg op. Die rotse word meer en die bome minder.

Die Luiperdman se hand gly na die saalboom. In ’n kits is sy vangtou in sy hande. Hy loer tussen Donker se ore deur en swaai die tou in sy hande. Vaagweg kan hy die vier ruiters uitmaak. Die stowwe staan soos hulle oor die oneffe bergpad jaag.

Skielik doem ’n donker figuur op reg voor Leon in die pad. Hy sien dadelik dat dit een van die geheimsinnige rowers is. Hulle het agtergekom dat hulle agtervolg word.

In ’n oogwenk sien die Luiperdman iets blinkerigs in die hand van die ruiter. Donker snel voort met ’n krakende vaart. Links van die Luiperdman, ’n entjie voor die inwagtende dood, verrys ’n boom.

Die volgende handeling verloop werktuiglik. Met ’n vinnige sprong vorentoe, gryp die Swart Luiperd die oorhangende tak. Donker snel voort. Hy besef nie dadelik dat sy baas sy rug verlaat het nie.

Agter sy masker knip die manteldraer sy oë. Die swart ros snel ruiterloos op hom af, en tog kon hy ’n oomblik gelede sweer dat daar ’n man op sy rug sit. Hy hou sy rewolwer omhoog, maar verbaas laat hy dit sak. In ’n wilde vaart swiep Donker by hom verby, besef dat sy baas agtergebly het, en swenk links tussen ’n paar bome in.

Die geheimsinnige ruiter kry nie ’n kans om tot verhaal te kom nie. Met ’n venynige fluitgeluid omslurp die Swart Luiperd se vangtou sy lyf en kronkel die hand met die wapen netjies teen sy lyf vas. Verskrik trek die vandalis die skoot af. Die koeël klap voor hom teen die grond. Dit weerklink luid deur die nagstilte hier teen die berg.

’n Enkele ruk daar van die boom se kant af en die Luiperdman bring die ruiter hikkend op die grond neer. Net ’n paar oomblikke en die Swart Luiperd staan oor sy slagoffer. ’n Kragtige vuishou teen die kakebeen maak ’n einde aan die breedgeskouerde man met die mantel se geroep om hulp. ’n Oomblik tas hy half-bedwelmd rond met sy een hand wat hy intussen uit die tou bevry het, in ’n poging om sy teenstander beet te kry.

Die Swart Luiperd klop die ruiter se perd met sy hand op die boud en verskrik snel die perd agter die ander geheimsinnige plunderaars en ontvoerders aan.

Vlugtig woel hy sy slagoffer stewig vas, en sleep hom onsag na die naaste bome, waar Donker kopspelend op hom wag asof hy die speletjie heerlik staan en geniet.

Hy gooi die swaar man langs Donker neer. Die man skud sy kop heen en weer en probeer orentkom.

‘Wie die ongeluk is jy miskien? Jy sal met die dood hiervoor boet, vermetel – ’

‘Ek is die Swart Luiperd. Ek het gekom om ’n einde te maak aan julle plundertogte, moorde en julle onmenslikheid hier op die eiland.’

Met dié woorde gryp hy die geheimsinnige man met staalvingers voor die bors en trek hom op. Vir ’n oomblik staar die twee mekaar aan. Leon sien die trek van verbasing om die mondhoeke van die man.

Hy staan maklik twee duim hoër as die Swart Luiperd. Die Luiperdman ruk die masker van sy gevangene se gesig af. Hy staar in twee donker, naby mekaar geleë oë.

Die manteldraer uit nog geen woord nie. Die parmantige houding van hierdie vreemde gemaskerde man kan hy nie heeltemal begryp nie.

‘Wie van julle vier togadraers het vanaand die winkelier geskiet?’

Die man hier voor hom kom tot verhaal.

‘Dit het niks met jou uit te waai nie. Ons doen wat ons wil. Niemand sal die Draak se manne keer nie of hulle planne dwarsboom nie. My makkers sal netnou weer hier wees. Hulle sal my kom soek, en dan maak ons jou vel-af!’

‘Jy sal tenminste nie kan help met die vel-afmakery nie, want teen die tyd wat hulle hier kom sal jy self al bokveld toe wees,’ antwoord Leon bitsig.

Die man met die swart mantel byt op sy lippe.

‘Jy hou jou lyf kapokhaantjie noudat ek hier vasgebind staan, nè? Maak my los dat ek kort proses van jou kan maak!’

Die Swart Luiperd bekyk die man van kop tot tone. Die maan loer effens agter die hoë berge aan hulle rugkant uit. Voor op die swart breërandhoed van die man pryk die kopbeen van ’n mens. Dis waarskynlik daarop uitgeborduur. Op iedereen van die breë maar kort moue van die mantel staan die afgryslike kop van ’n draak, met krom kloue en lekkende tong. Dit blink fosforagtig in die maanlig.

Die Swart Luiperd slaan geen ag op die man se dreigement nie.

‘Slaag julle met hierdie tekens daarin om ’n skrikbewind oor hierdie arme onskuldige en bygelowige mense te voer?’

‘Ons is die Ruiters van die Draak, het ek gesê, Mannetjie! Ons stuit vir niemand nie. As jy vanaand my lewe neem sal joune, en minstens die hele dorp s’n, daarvoor vergoed. Vra aan die inwoners wat van die mense word wat ons opponeer. Vra hulle hoeveel het gesterf toe hulle verlede maand een van ons ruiters neergeskiet het? Twaalf jong manne is na die berge ontvoer. In ’n groot donker kloof is hulle in aanwesigheid van baie vroue van die dorp aan die bewakers van die geheim van die Draak geoffer. Jy sal daardie bewakers met hulle gloeiende oë en skerp slagtande ook nog van aangesig tot aangesig ontmoet.’

Die volgende oomblik koets Leon vinnig. Die man met die mantel het sy regterhand bevry. Die hou swiep skadeloos oor die hoof van die Luiperdman. Die man swaai en verloor byna se balans. Die Luiperdman is by en voordat die manteldraer sy ewewig herwin, tref ’n hou hom tussen die oë. Hy is egter taai en tot die Luiperdman se ontsteltenis pluk hy ’n lang swaard uit ’n skede, half verberg onder sy mantel.

Die strale van die maan flits op die wapen en met ’n verwoede gesis deur sy tande swaai hy die dodelike lem fluitend deur die lug.