GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/hmteas-geheime-van-die-porseleinkat-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Geheime van die Porseleinkat

— Hoofstuk 1 —

Dedré sug verlig toe haar rooi vierwieler dit net-net maak tot by die huis. As sy nie om die blok moes ry, om van ou tannie Bettie wat ’n entjie laer af in die straat bly se boerboel weg te kom nie, sou die petrol dit maklik gemaak het tot by die huis. Die boerboel is alewig in die straat en jaag al wat ’n motor of fiets is wat in die straat af ry.

Die skoolvakansie het maar so pas begin en sy is al klaar verveeld. Sy trek haar vingers ’n paar keer deur haar kort windverwaaide rooi hare, draf na die agterplaas en loer oor die heining om te sien of sy nie die buurseun gewaar nie. Dalk kan hy saam met haar gaan swem. Thys, haar ouer boetie in matriek, is fliek toe saam met sy meisie, Jessica, en sy mag nie alleen see toe gaan nie.

‘Thembi, is dit sowaar jy?’ vra Dedré verbaas toe sy die meisie by die buurhuis se agterdeur sien uitkom. Thembi is een van haar skoolvriendinne. ‘Maar wat maak jy hier by tannie Linda-hulle se huis?’

‘Hallo, Dedré!’ groet Thembi vrolik. Sy skud die matjie wat sy in haar hand het klaar uit en kom na die heining toe gestap om met Dedré te gesels. ‘My ma werk mos nou as huishulp hier by die Barnards. Ek het vanoggend saam met haar gekom om haar so ’n bietjie te help om mooi skoon te maak. Mevrou Barnard verjaar, nou hou sy môre groot makietie.’

‘Kom kuier eers so ’n rukkie by my, dan kan ons lekker koue koeldrank hier onder die groot boom langs ons huis sit en drink. Jy is seker al moeg?’

‘Ek kan regtig nie nou nie, Dedré. Ek moet eers gou my ma help om die sitkamer skoon te maak. Dalk kom ek so ’n bietjie later.’

‘Agge, nee man, Thembi, jy het mos nie nodig om jou ma te help om ander mense se huise skoon te maak nie. Buitendien kan tannie Linda mos haar eie huis skoonmaak,’ sê Dedré erg teleurgesteld omdat Thembi nie dadelik by haar wil kom kuier nie.

‘Mevrou Barnard het ’n voltydse werk by die bakkery gekry, dis waarom sy my ma gehuur het om haar huis skoon te maak en vir hulle kos te kook. Die geld wat my ma hier verdien, help haar weer om vir óns te sorg, Dedré. Vakansietye hou ek daarvan om my ma te help, dan kry sy gouer klaar met haar werk. Party dae kom sy eers laat by die huis, dan moet sy nog kosmaak en wasgoed was.’ Thembi sien Dedré is regtig baie teleurgesteld. ‘Ek belowe jou, sodra die sitkamer skoon is, sal ek by jou kom koeldrank drink.’

Dedré gee ’n lang, vervelige sug, ‘Nou goed dan. Ek moet seker nog my kas gaan regpak waaroor my ma so kerm. Dan sien ek jou ’n bietjie later.’

In haar slaapkamer is Dedré alles behalwe lus vir kas regpak. Sy kyk die deurmekaarspulletjie skewemond aan, druk die kasdeure toe, trek haar kamerdeur agter haar op knip. In die gang gryp sy een van die komberse uit die linnekas en glip by die sydeur uit met haar storieboek. Sy het sommer klaar die tuisgemaakte limonade in ’n glasbeker gegooi en gesit in die yskas, die koekies mooi netjies gerangskik in ’n bordjie op die tafel met ’n net daaroor om die lastige vlieë weg te hou. Dis nou nog Thembi wat kortkom. Sy sal maar solank onder die boom gaan lê en lees totdat sy kom.

 · · ·

Heelwat later sit die twee meisies onder die koelteboom elkeen met ’n lang glas yskoue limonade en die bordjie koekies tussen hulle.

‘Thembi, as jy een wens kon kry, wat sommer net so met die klap van jou vingers waar word, waarvoor sou jy gewens het?’ vra Dedré toe hulle glase leeg is en dit amper tyd is vir Thembi om haar ma weer te gaan help.

‘’n Regte huis met baksteenmure en ’n stewige dak wat warm is in die winter en lekker koel in die somer en wat nie lek as dit reën, of wegwaai as die wind waai nie. Dit hoef nie eens so ’n lekker fancy huis soos joune te wees nie.’

‘Noem jy dít fancy? Ons huis is nie die helfte so mooi soos tannie Linda-hulle se huis óf die dubbelverdieping hier oorkant die straat nie.’

‘Jy weet nie wat dit is om te sukkel nie, Dedré. My pa is dood toe ek vyf was. Ek, my ma, my twee sussies en twee boeties bly in ’n klein sinkhuisie in een van die plakkerskampe. Ons het glad nie eens ’n toilet in ons huisie nie. Water vir alledaagse gebruik moet ons in kanne aandra wat ons by ’n kraan ’n hele entjie van ons huis af volmaak.’

‘Jammer, Thembi. Ons is nou al so lank vriendinne, maar ek het regtig nie geweet nie.’ Dedré bloos bloedrooi van verleentheid.

‘Moenie sleg voel nie. Dis mos nie jou skuld nie. Maar sê nou eers vir my, waarvoor sou jý gewens het?’

‘Ek wil baie graag so oulik en so mooi soos my broer se meisie, Jessica, wees.’

‘En hoe lyk hierdie Jessica-meisiekind van wie jy praat?’ vra Thembi nuuskierig.

‘Sy het lang swart hare met die mooiste blou oë en sy is baie sexy gebou. Glad nie so plat soos ek nie,’ antwoord Dedré met duidelike bewondering in haar stem.

Thembi kyk na Dedré se skraal lyf en skud haar kop. ‘Ek kan jou glad nie indink met lang, swart hare nie en jou lyf pas by jou. Ek hou van jou nes jy is.’

‘Thembi, kom jy? Die dag stap aan en ons het nog baie werk!’ roep Thembi se ma van die huis langsaan se agterdeur af.

‘Ek kom, Même! Ek moet nou gaan, Dedré. As ons vroeg genoeg klaarkry kom maak ek dalk netnou weer ’n draai voordat ons huis toe gaan,’ antwoord Thembi terug en groet Dedré sommer met dieselfde asem.

Teleurgesteld omdat Thembi so gou al weer moes loop, staan Dedré traag van die kombers af op. Sy tel die twee leë glase en die bordjie op, stap kombuis toe, sit dit op die kombuistafel neer. Met die storieboek onder haar arm stap sy ingedagte kamer toe. Sy kan dit nou nog nie glo dat sy al so lank vriende is met Thembi en dat sy nooit eens geweet het dat sy in ’n plakkerskamp bly nie.

In die gang voor haar kamer loop sy trompop in haar ma vas.

‘Mag ek weet wat nou weer besig is om in jou kop te broei dat jy my nie eens raaksien nie?’ spot Lizé en skud haar kop. Die kinders het ook elke dag ander nukke en giere. ‘Wie is die meisietjie wat saam met jou gesit en koeldrank drink het?’

‘Ag, dis sommer Thembi, een van my skoolvriendinnetjies, Mamma. Haar ma werk vir tannie Linda.’

‘Nou ja, toe. Ek hoop jy het al jou kas reggepak, want ek sien jou kamer is nog maar nét so deurmekaar. Bring so ’n bietjie vanoggend se koffiebeker kombuis toe, dit staan nog steeds op jou bedkassie. Die miere is al besig om dit weg te dra. Dis seker waarheen my blou en geel beker ook is. Maak tog asseblief jou bed op en tel óp die goed wat die hele vloer vol lê! Jy’s ’n meisiekind, maar jou kamer lyk altyd of ’n orkaan dit getref het. Wat help dit ek en tannie Chrissie het so baie moeite gedoen om dit mooi te maak.’

‘Ja, Ma!’

Dedré druk die deur vies toe agter haar ma toe sy uitloop. Waarom kan haar ma haar nie net uitlos sodat sy in haar kamer kan maak soos sy lus kry nie? As die miere haar saam met die beker wil wegdra omdat hulle agter die suikerlaag onder in die beker aan is, is dit mos haar saak. As sy haar hele kas omdop opsoek na haar gunsteling toppie, is dit óók mos haar saak. En sy hou van ’n deurmekaar bed! Dan het sy nie nodig om elke aand die deken met die lae en lae valletjies en strikkies en die onnodige kussinkies wat net vir die mooi op die bed lê, af te haal nie. Omdat haar ma en tannie Chrissie, dis nou haar ma se jonger sussie, van valletjies en strikkies hou, is dit glad nie te sê sy, wat Dedré van Rensburg heet, moet ook daarvan hou nie. As a matter of fact, hulle het haar nooit eens gevrá of sy daarvan sal hou nie. Toe sy een middag van die skool af kom, was dit klaar gedoen. Natuurlik hou sy soos alle meisies van meisiesgoed, maar al hiérdie valletjies en goeters is darem wraggies oordoen.

Sy gaan sit op die bed en kyk om haar rond. Die kamer lýk nogal woes. Suikermiere marsjeer in gelid in twee kronkelrye by mekaar verby oor die vloer, op teen haar bedkassie se poot, oor haar bedkassie tot binne in die beker en weer aan die anderkant af. Die een ry kom en die ander ry gaan. Dit lyk behoorlik asof hulle die takie so soen-soen afhandel. Die valletjiesdeken lê opgefrommel op die riempie­stoel in die een hoek van die kamer, van die kussinkies lê op die vloer. In ’n poging om haar kas die vorige dag reg te pak, het sy die klere wat sy nie meer dra nie in ’n hopie voor die kas op die vloer gegooi. Daarna het sy die lus vir kas regpak verloor en die res van die klere sommer weer net so in die kas teruggebondel. Die vloer lê besaai met tydskrifte waaruit sy prente geskeur het ― sy en haar skoolvriendinne het plakboeke begin van hulle gunsteling sangers en filmsterre.

Met ’n diep sug val Dedré agteroor op die deurmekaarbed. Sy kyk in die spieël en draai droomverlore ’n rooi krul om haar vinger en verbeel haar dit is ’n pragtige swart lok. Sy vorm ’n koelronde o met haar mond en wonder hoe sy met sulke verleidelike rooi lippies soos Jessica s’n sal lyk.

Skielik wonder sy hoe sy sal lyk in die rooi bikini wat sy skelmpies ’n tydjie gelede by die strandwinkeltjie hier om die hoek gekoop het? Sy spring op en begin soek in haar kaslaaie rond vir die rooi bikini. Uiteindelik kry sy dit onder haar bed, tesame met haar ma se blou en geel beker wat vermis word, ’n paar vuil skoolsokkies en nog ’n paar ander artikels wat al lank opsoek was.

Voor jy kan sê mes is sy uit haar T-hemp en denim en in die rooi bikini. Teleurgesteld kyk sy na haar strykplanklyfie in die spieël. Dit sit nog net dieselfde aan haar soos ’n paar weke gelede toe sy dit gekoop het. Dis juis omdat Jessica so goed lyk in ’n bikini dat Dedré presies dieselfde een gekoop het, maar Jessica het die lyf vir ’n bikini, sy nie!

Flip die kamerskoonmakery! Wie wil nou die hele oggend in ’n bedompige, deurmekaarkamer opgehok wees as die sonnetjie so lekker skyn buite. Ek gaan my bikini eers inwy, dis mos waarvoor ek hom gekoop het. Ma sal wel later vandag die kamer so ’n bietjie kom regtrek voordat Pa huis toe kom, dink sy. Sy gryp ’n strandhanddoek uit die linnekas in die gang, sien verlig dat haar ma besig is in die kombuis, en hardloop by die skuifdeure uit wat na die swembad in die agterplaas lei.

’n Hand gryp haar van agter af aan die boarm. ‘Hokaai, juffroutjie. Waar dink jy gaan jy heen?’

‘Thys, wanneer het julle teruggekom? En waar is Jessica?’ vra Dedré met die hoop om haar boetie se aandag weg te lei van die rooi bikini af. Dis die eerste keer dat sy dit waag om met die bikini in die openbaar te verskyn. Sy gooi die groot bont strandhanddoek oop op die gras en gaan sit daarop. Thys neem in elk geval nooit notisie hoe sy lyk nie.

‘Nou net op jou eerste vraag en huis toe op jou tweede vraag. Wat het jy met die quadbike aangevang dat dit so vol modder is? Pa gaan jou basvelle aftrek as hy netnou huis toe kom. Dit staan nog steeds in die driveway.’

‘Die petrol is op.’

‘Nou gaan maak dan die ding skoon en gaan bêre dit as jy nie verder gaan ry nie.’

‘Jy’s nie my baas nie,’ antwoord sy parmantig. ‘Buitendien het Pa gesê hy sal nog petrol saambring as hy huis toe kom. Ek gaan beslis nie die swaar ding agtertoe stoot om hom af te spoel en dan al die pad weer terugstoot om dit in die garage te bêre nie.’

‘Suit yourself! Dis in elk geval jou velle wat gaan waai. Pa kan sommer bo-oor die ding ry vir al wat ek omgee, dan is dit minder bekommernis vir ons almal. Jy gaan nog jou nek breek met daai damn quadbike.’

Dedré gaan lê op haar rug met haar hande onder haar kop gevou. Sy klap Thys teen sy been. ‘Jy staan in my son. Ek wil ’n bietjie tan.’

Asof Thys sy sussie nou vir die eerste keer regtig raaksien gly sy oë geamuseerd oor haar lyf. ‘En dié rooi bikini?’ Hy proeslag spottend agter sy bakhand. ‘Jy moet eers grootword, my ou kleinsussie. Jou twee ou rosyntjies versuip behoorlik in daai toppie.’

‘Ag, gaan vang ’n haan, man!’ Dedré spring op en hardloop verontwaardig terug kamer toe. Wag maar! Almal gaan nog sien hoe mooi gaan ek wees wanneer ek die dag groot is, troos sy haarself.

Die eerste ding in haar kamer wat sy sien, is haar beeld in die spieël en sy sug. Waarom pla haar voorkoms haar skielik so die laaste tyd? Sy is tog nou maar eers veertien. Sy bekyk haarself deeglik van alle kante af in die spieël. Baie meisies van haar ouderdom het net soos sy nog skaars boesems.

Sy vryf oor haar hare. ‘Wat my eintlik pla is my hare,’ praat sy met haar beeld in die spieël. ‘My hare is te krullerig en ek haat rooi hare!’ Sy haal haar brille af en rek haar oë groot. ‘En my oë. Hoekom het ek my pa se groen oë gekry en nie my ma se bloues nie?’ Sy vryf oor die klein wipneusie van die een wangbeen na die ander een. ‘Om nie eens van die sproete te praat nie. Ek wens ek is net so mooi soos Jessica,’ wens sy weer net soos vanoggend toe sy en Thembi gesit en koeldrank drink het.

Dedré val agteroor op haar deurmekaarbed, draai op haar sy en krul haarself op in ’n bondeltjie.