GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/hbiyvf-mandjies-word-boontjies-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Mandjies word Boontjies

— Hoofstuk 1 —

‘En daar lê hy,’ sê Dommie terwyl sy afkyk op Roy. ‘Jy wou mos so grootpraat, sien jy nou?’

‘Nee wag,’ keer Tessa, ‘laat ons eers hoor of hy seergekry het. Het jy seergekry?’

Roy tel sy kop op en wil nog kla, toe begin hy lag dat hy vir eers skaars ’n woord kan uitkry.

‘Hahaha! Nee, maar ek het lekker plaas gekoop, nè? Wie het nou van ou Rollie verwag dat hy my sou afsmyt!’

Hy kom op sy voete en vee die stof van hom af terwyl hy met sy ander hand Rollie se teuels vat waar die ponie hom van ’n kant af staan en beskou. Hy klim weer in die saal en laat Rollie omdraai.

‘Gaan jy tog nie weer probeer nie?’ vra Anneke. ‘Dis hopeloos te hoog vir hom, hy gaan weer stop.’

Roy bekyk die hindernis wat hulle van ’n boomstomp en bosse gebou het en antwoord, ‘Nee wat, dis sommer ’n maklike jomp — ’

‘Steg,’ sê Tessa.

Haar ma het gesê dat jomp, hul eie woord vir die Engelse jump, in Afrikaans gaps beteken en voorgestel hulle noem dit eerder ‘stegge’, want die resies waar ruiters dwarsoor die veld galop en oor hindernisse spring word mos hoeka heg-en-stegwedrenne genoem. ’n Steg, het sy gesê, is daardie trappies wat oor heinings gebou word sodat die drade nie verniel as mense oorklim nie. Roy wou weet hoekom noem hulle dit dan nie hegge nie en Anneke het verduidelik dat ’n heg ’n heining van spesiale struike is.

‘Mens bou hom nie, jy plant hom,’ het sy gesê.

‘Ja ja, ek weet teen hierdie tyd,’ antwoord Roy nou ongeduldig, ‘maar as julle almal eerste gaan sal Rollie agternakom. Toe, wie?’

‘Vergeet maar van my,’ sê Ruan suur. ‘Kuif het klaar besluit nie in sy leeftyd nie.’

‘Ek sal eerste gaan,’ besluit Anneke. ‘Dommie, dink jy Star sal spring?’

‘Ek weet nie, sy’s in ’n bui, maar ek gaan probeer.’

‘Ek ook,’ sê Tessa. ‘Sneeu is nie bang nie.’

‘Nee, nie nadat hy ’n uur gestaan en snork het nie,’ spot Ruan, maar Tessa sê, ‘Ag, jy’s net jaloers omdat Kuifkop nie eers naby wil gaan nie.’

‘Nou toe kom, ons het die ding gebou, ons moet hom spring,’ en Anneke vat vir Dapper ’n ent weg om ’n lang aanloop te kry. Die ander volg, en Ruan trek agter Roy in omdat hy in die stilligheid glo dat sy geelperd tog die ander se hopelik goeie voorbeeld gaan volg.

Anneke draai Dapper na die hindernis toe en sit hom eers in ’n stadige kortgalop. Dan gee sy vet en soos blits vlieg die wit perdjie oor. Dommie doen dieselfde en Star spring sonder moeite, gevolg deur Tessa en Sneeuvoet met Rollie op sy hakke. Roy skree hard, ‘Jiehaa!’ en onder dié aanmoediging spring die klein ponie dat sy pens omtrent die stomp skuur. Vir Kuifkop is dit egter net een te veel en hy swenk so skerp weg dat Ruan sy maanhare gryp en met alle mag klou om nie af te val nie.

‘Kon jy nie jou bek hou nie?’ raas hy sommer bo-oor die hindernis met Roy toe hy weer reg in die saal sit en Kuifkop tot stilstand gebring het. ‘Hy sou gespring het as jy nie soos ’n idioot tekere gegaan het nie!’

‘In jou drome!’ roep Roy terug. ‘Gee pad voor dat ek kan terugkom!’

‘Wag,’ keer Tessa, ‘nes laas, dit het gewerk en ons doen dit dieselfde. Anneke, jy voor en Roy laaste. Ruan, staan bietjie opsy daar?’

Onwillig stuur Ruan sy poon eenkant toe en staan en kyk hoe die ander een-een oor die hindernis spring.

‘Wat kan ons nog bou?’ vra Roy. ‘’n Sloot sal lekker wees, maar dan moet dit eers reën.’

‘Iets om af te spring,’ stel Anneke voor. ‘Kom ons gaan kyk daardie ou stellasie in die ander kamp.’

‘Daar waar hulle vroeër beeste in trokke gelaai het?’ vra Dommie. ‘Is dit nog heel?’

‘Ja wat, dis teerpale, hulle sal nog reg wees. Kom ons gaan kyk,’ en Anneke laat Dapper draf in die rigting van die boonste kamp. Die ander volg, met Ruan in die agterhoede want, sê hy gelate, hoewel hy nie gaan spring nie, is dit tog maar weer hy wat die ding sal moet regmaak as daar reggemaak moet word.

‘Haai siestog,’ spot Tessa en Dommie voeg by, ‘Jy sal jou wat verbeel, ons kan goed klaarkom sonder jou.’

‘O ja? En wie het nogal gister jou fiets se pap band reggemaak? Hè?’

‘Ma het gesê jy moet,’ antwoord Dommie. ‘Ek sou dit self ook kon gedoen het.’

‘Onthou dit vir volgende keer,’ dreig Ruan en druk vir Kuifkop in die sye sodat hy vorentoe skiet en in volle galop voor die ander uitgaan. Dié laat nie op hulle wag nie, en dit word ’n wedloop wie eerste by die boonste kamp aankom. Rollie is soos gewoonlik heel laaste, maar Roy gee nie om nie, want hy ontdek ’n uitgespoelde slootjie en in die hardloop laat hy die ponie bo-oor spring.

‘Het julle gesien?’ skree hy so hard dat die ander omdraai en vinnig naderkom.

‘Wat is dit?’

Roy draai die ponie om en Rollie spring weer oor. Roy gee sy maanhare ’n goedkeurende plukkie.

‘Gebore kampioen,’ sê hy trots.

Die ander bekyk die vlak slootjie, en nie een het die hart om vir Roy te sê dat ’n méns nie twee keer sal dink om daaroor te stap nie.

Tessa knik dus instemmend haar kop.

‘Sneeu sal dit nie spring nie,’ gee sy haar mening en Anneke beaam dat ook Dapper maar moeilik sal kry om daaroor te gaan. Dommie reken Star snork al net by die aanskoue daarvan. Net Ruan bly stil.

‘Spot julle?’ wil Roy argwanend weet.

‘Nee, natuurlik nie,’ sê Tessa en Roy gee toe dat dit nou nie ’n wafferse donga is nie, maar Rollie het nie eers een sekonde gehuiwer nie. En dat dít is waaroor dit gaan, daaroor stem almal saam.

Die stellasie wat hulle kom inspekteer is ’n gangetjie toegespan met jakkalsdraad, wat oplei na ’n ingehokte platform op die hoogte van ’n trok se laaidek. Vir die eerste keer bekyk hulle dit aandagtig en sien dat Anneke reg was. Dit is gebou van dik teerpale en net ’n paar van die dwarspale het met verloop van tyd losgeraak waar dit met spykers vasgesit was.

‘As ons dit gaan gebruik moet ons al die spykers met boute vervang,’ sê Ruan vakkundig.

‘Hoekom?’ Roy is gretig om te begin en wil nie nog wag vir reparasies nie.

‘’n Mens gebruik nie spykers waar perde is nie, die goed raak te maklik los as hulle daarteen stamp. Jy wil nie hê Rollie moet ’n sesduimspyker in sy boud kry nie, wil jy?’

Roy gril sommer hardop.

‘Nee, dan wag ek liewer tot dit veilig is. Ek sal jou help.’

‘Ek sou so dink,’ is al wat Ruan antwoord.

‘Nou ja,’ som Tessa op, ‘ons het dus nou die Boomstomp, Rollie se Sloot, en die Koeihok. Dis nog nie juis veel van ’n resiesbaan nie, ouens, wat nog?’

‘Moet ons nie maar vir Mildred vra nie?’ wil Dommie weet, maar Tessa sê, ‘Nee, dis mos juis om vir haar te wys ons kan uit ons eie ook iets doen. Ons bou self.’

‘En met óns bedoel jy natuurlik die liewe Ruan,’ is dié se kommentaar, maar hy lyk darem glad nie ontevrede nie. Hy haal ’n notaboekie uit sy saalsak en vroetel rond totdat hy ’n stukkie potlood in die hande kry.

‘Boute en moere,’ lees hy hardop terwyl hy skryf. ‘Enige ander bestellings?’

‘Seker ’n boor?’ sê Roy prakties en Ruan kyk hom uit die hoogte aan.

‘Dit spreek tog vanself,’ sê hy meesmuilend, maar skryf dit nogtans neer. ‘Nog iets?’

‘Kom ons ry rond, dan soek ons geskikte plekke en sien wat nodig is,’ stel Anneke voor. ‘Ek weet ons ken die hele hoewe al van ’n kant af, maar tot nou toe het ons mos net sommer gery.’

Hulle vat koers tussen die bome in, al met ’n grondpaadjie langs.

‘Wat gaan ons maak as ons nou die baan gebou het?’ vra Roy.

‘Dan hou ons ’n kompetisie,’ sê Anneke.

‘Net vir ons?’

‘Nee, ons kan van die Equestrian Centre se kinders ook vra, en dié wat ons ken van laas keer se gimkana.’

‘Wat van Shanu?’

Tessa sug.

‘Ons sal haar moet vra, maar dit gaan net weer ’n gespoggery afgee oor hoe goed Mandjies is.’

‘Ek wil nogal sien hoe spring sy,’ sê Dommie, ‘want rý kan sy nie.’

‘Ja, ek kry die arme Mandjies jammer, ek glo hy is regtig ’n goeie ponie. Mildred sê in Engeland is die Walliese Cobs baie gewild.’

‘Is dit wat hy is?’ vra Roy.

Tessa knik haar kop.

‘Ja, hy is ’n geregistreerde Walliese Cob. Mildred sê hulle is vreeslike tawwe perdjies, vroeër is glo net geteel met dié wat van ’n sekere plek na ’n ander kon draf sonder om moeg te word. Ek het nou die afstand vergeet.’

‘Ek het dit ook gelees,’ sê Anneke, ‘dit was amper sestig kilometer. Opdraand.’

‘Wouw!’ Roy is beïndruk, en voeg amper onmiddellik by, ‘Maar hy’t ’n simpel naam. Glittering Diamond, nogal!’

‘Dis hoekom ons hom Mandjies noem,’ lag Tessa, maar Roy dink dis net so erg.

‘Hoe kan ’n perd nou ’n mandjie wees?’

‘Net so min as wat hy ’n diamant is,’ antwoord Tessa. ‘Maar los nou vir Shanu, ons moet stegge kry om te bou voordat ons ’n kompetisie kan hou.’

‘Ons moet op die meent gaan kyk,’ stel Ruan voor, ‘daar is seker nog meer van die Centre s’n.’

‘Ons gaan mos vanmiddag weer saam met Mildred-hulle soontoe ry,’ sê Tessa, ‘ons moet net probeer om te keer dat tannie Elsa hulle weer sien.’

‘Mildred moet in elk geval ook nie snuf in die neus kry nie, want dan is dit nie meer vir haar ’n verrassing nie,’ sê Anneke.

‘Die plek is groot genoeg, hulle sal nie omgee as ons afdwaal nie,’ reken Tessa, ‘solank ons net nie almal tegelyk verdwyn nie. Kom ons ry eers terug.’